Brief aan President Trump: Afrikaners is hier, ten spyte van uitdagings
OntLaer-leser René van der Vyver skryf dat Afrikaners teëspoed juis trotseer.
Beste president Trump
Dankie dat u lig gewerp het op van die donkerste realiteite in ons pragtige land, Suid-Afrika. Daar is soveel uiteenlopende reaksies daarop, maar ek wil graag as 'n Afrikaner – wat lief is vir die Waarheid en lief is vir my land – 'n gebalanseerde reaksie probeer bied.
Die kernboodskap wat ek graag verwoord vir elkeen wat tans verward is oor wat werklik in Suid-Afrika aangaan, is dié: Dat baie Afrikaners nog bereid is om 'n toekoms in Suid-Afrika te bou, is nie weens die afwesigheid van die uitdagings wat u uitgewys het nie, maar eerder ten spyte daarvan.
Die enigste verklaring wat ek al daarvoor kon vind, behels drie kernfaktore:
Eerstens, Afrikaners se geloof. Afrikaners glo nie net dat God ons om 'n rede in Suid-Afrika geplant het nie, maar ook dat Hy ons hier sal beskerm. Ek haal net een (van baie) liedjies aan, wat juis dit beklemtoon:
“Vrees is ons vyand, so moenie bang wees nie / Wees ʼn wagter vir jou mense / daar’s geen plek vir die duiwel hier / As jy kyk oor jou lande, weet God het dit geleen / sodat jy die volk kan voer / al kom daar stormweer.” (“Hier sal jy boer” deur Appel).
Tweedens, Afrikaners se liefde vir ons land. Afrikaners se voetspore lê al van 1652 af in Suid-Afrika en ons ken geen ander tuiste nie. Dit is met 'n sterk liefde vir die pragtige Skepping in ons land, waarmee ons mense voortgaan om hier te woon en werk (soos Psalm 37:3 lui).
Derdens, Afrikaners se veerkragtigheid. Ons geskiedenis in Suid-Afrika (van 373 jaar) getuig van opstaan na ons platgeslaan is. Afrikaners het 'n gesegde, “ 'n boer maak 'n plan,” en ek het al agtergekom dat Afrikaners nie sonder planmaak kan leef nie. In die kringe wat ek beweeg is die gesindheid van jong Afrikaners dat hulle geleenthede te midde van die uitdagings wil soek, want probleem-oplossing het oor die eeue deel van die Afrikaner se DNS geword.
Ek hoop dat die bogenoemde verklaar waarom Afrikaners ten spyte van die uitdagings in Suid-Afrika 'n toekoms probeer bou. Nou wil ek ook probeer verduidelik dat daar beslis nie 'n afwesigheid van uitdagings in ons land is nie.
Nee, daar is nie tans 'n Afrikaner-volksmoord aan die gang, in die sin daarvan dat plaasmoorde in die land staatsbeleid is nie. Wat wel blyk wettig te wees, is die viering van plaasmoorde. Ek het al op my eie X-plasings oor tragiese plaasmoorde kommentaar gekry wat die moord van 'n jongman vier – bloot omdat hy 'n Afrikaner is. Soos u reeds weet, is dit ook wettig vir die leier van die vierde grootste politieke party in Suid-Afrika, Julius Malema, om plaasmoorde met 'n kreet aan te hits.
Ja, die hoë misdaadsyfer in Suid-Afrika raak almal. Dit sal egter 'n fout wees om plaasmoorde as net nog 'n deel van hierdie algemene probleem te bestempel. Ongelukkig het ons al te veel gesien dat dit meer soos plaasterreur as plaasmoorde lyk – baie wreedaardig, en in sommige gevalle duidelik polities aangedryf. Afrikaners is 'n minderheidsgroep in Suid-Afrika, soveel te meer die Afrikaners wat boer, so die hoë statistieke van plaasmoorde is hierom ook kommerwekkend. U het vir president Ramaphosa die wit kruise langs 'n pad in die provinsie KwaZulu-Natal gewys, wat deel van 'n protes was, en hy het dit nie herken nie.
Ek hoop hy sal die amptelike Witkruis Monument, wat naby aan sy wildsplaas in die Limpopo provinsie is, herken.
Nog 'n kernboodskap wat u dalk nog nie bereik het nie, is die feit dat alhoewel daar nie 'n volskaalse volksmoord in Suid-Afrika aan die gang is nie, is daar wel 'n mate van 'n kultuurvolksmoord aan die gang. Jong Afrikaners is deesdae al hoe meer bang om enigsins trots op hul kultuur te wees. Die algemene gevoel is dat jy gestraf gaan word as jy trots is om 'n Afrikaner te wees.
Daar word dikwels goed vir Afrikaners gesê soos “Go back to Holland” en “You will never be recognised as South African.” In ekstreme gevalle, soos ek ongelukkig al op my eie X-plasings beleef het, sal ook haatspraak heeltemal ongestraf bly, soos dreigemente om aangeval te word.
Die huidige premier van Gauteng het 'n paar jaar terug beklemtoon dat hy nie meer Afrikaanse skole wil sien nie, en tans is die Bela-wet (Wetswysiging op Basiese Onderwyswette) deur die president bekragtig, wat ondermeer die mag van 'n skool om sy taalbeleid te bepaal, effektief alleenlik aan die staat gee. Die openbare universiteite in die land het ook so Afrikaans-onvriendelik, en “decolonising”-vriendelik geword dat 'n splinternuwe privaat, Christelike, Afrikaanse universiteitskampus deur die Solidariteit Beweging tot stand gebring is, naamlik Akademia.
Ek wil ook vra, hoe word 'n mens toegelaat om trots te wees op jou kultuur van probleem-oplossing en planne-maak, as jy juis dié beginsels toepas om met veerkragtigheid 'n besigheid te skep, en dan besef dat jy nie kan oorleef wanneer jy 51% van jou besigheid verniet moet weggee om aan SEB (swart ekonomiese bemagtiging) wetgewing te voldoen nie? Dit voel soos kulturele volksmoord wanneer jy nooit as 'n individu volgens meriete beoordeel word nie, maar oral in jou land eerstens volgens jou velkleur beoordeel word. Van laerskool sportspanne, en universiteitskeuring, tot werksgeleenthede en aansoeke om lenings by die bank, vereis almal om eers te weet wat jou velkleur is, voor jy in aanmerking kan kom.
President Trump, ek vertrou dat jy en jou regering sal aanhou om die waarheid te soek. Ek wens julle sterkte toe om te onderskei tussen die uiteenlopende reaksies van Afrikaners – hetsy van mense wat slegs as slagoffers gesien wil word, of van mense wat al die uitdagings in die land wil ontken. Daar is baie uitdagings en ek erken dit, maar ook erken ek dat ons deur Genade alleen nog 'n lewe hier leef wat die moeite werd is om in die toekoms op voort te bou.
Vriendelike groete,
René van der Vyver
Nog briewe deur OntLaer se lesers:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: