Die lewe boer al hoe meer agteruit met sy varkies. Soms wonder ek of die lewe enigsins nog ’n bacon-happie of twee op hok het.
Dis nou sonder om spek te skiet.
'n Heffingdronk president kondig nou bietjie-dag aan dat twee openbare vakansiedae in sy land 'n naamsverandering ondergaan en in die toekoms onder een slegs een enkele naam gevier sal word. Die sogenaamde “Victory Day” is Amerikaners se nuwe twee dae van oorwinnings vier, want hul president wat met elke besluit ’n presedent vir idiotika skep, is van mening dat Amerikaners veels te min hul eie oorwinnings vier.
Hoekom het hy dit nie maar “Tshwane Day” genoem nie? Seer sekerlik is daar hordes lande regoor die aarbol wat tans nie vir Amerika en sy president ver-Tshwane.
Wat Amerika dan nou eintlik ook aan die res van die wêreld voorstel, is dat 'n geloofs- of tradisionele gedenkdag soos Kersfees op die 25ste én 26ste Desember onder net die een Kers-vaandel gevier kan word. En once in a blue moon kan nou sommer twice in a blue moon plaasvind, daar waar die Golf van Meksiko eens op ’n tyd geleë was.
Wow, wat sou ons lewens werd wees in die afwesigheid van denkwyses sonder weerga van ons Amerikaanse ridders op die heffingperde, nè.
Asof mense wêreldwyd nie alreeds te veel moet hoor hoe hulle die magtigste land met die grootste ekonomie ter wêreld is nie. Hoe hulle skaamteloos en sonder om bloos in 'n blik te druk, na hul land verwys as die leier van die vrye wêreld en die ander afgesaagde koortjie: die mees matigste land ter wêreld. Sjoe, as 'n mens jou eie lof so besing, bly daar beslis mos geen lof vir enige ander land oor nie. En hoeveel wêrelde is daar ook dan nou om terselfdertyd soveel onbetwiste titels te kan behou?
En dan wonder ek altyd: Nou wanneer was daar dan ’n globale kompetisie en wedywering soortgelyk aan die Olimpiese Spele gehou, waar die Amerikaners na afloop van ’n verskeidenheid van uitmergelende veld- en baanbrekers items, met die klatergoue medalje en titel van die magtigste nasie der nasies weggestap het?
Kon SuperSport dan nie die uitsaairegte van daardie sportgebeurtenis bekom nie? So 'n selfopgelegte titel moes seer sekerlikste uit die lug geval het, dat selfs Sky News ook nie kennis daarvan dra nie, en veroorsaak het dat 'n eens magtige nuus-netwerk steeds net stotterend kan sê CNN… say all of us.
Dat sulke oppervlakkige en misplaaste ydelheid soveel invloed op wêreldmarkte kan het, nè. Maggies, as 'n mens so na die Amerikaners se hand-om-eie-beuelblasery moet luister, sou die mensdom lankal reeds tot niet gegaan en by die dinosourussiese WhatsApp-groep aangesluit het, as dit nie vir hulle was nie.
Dit komend van 'n nasie wat meestal nie 'n koeken-clue het van wat in die res van die wêreld aan’t gebeur is nie, maar toegelaat word om soveel mag en invloed onverdiend te besit. Soveel so dat wat ook al hul realiteits-TV-reeks “The Whitehouse” opdis, onomkeerbare nagevolge vir die res van die wêreld kan inhou.
Veels te veel mag in die hande van een nasie wat luidkeels uitbasuin dat hy ’n beleid van Amerika Eerste handhaaf, is veral slegte nuus vir lande op die Afrika-vasteland.
En ons het al ons eerste paar proesels daarvan gehad toe die apprentice van Mar-a-Lago broodnodige befondsing vir MIV/Vigspasiënte in Suid-Afrika en ander Afrika-lande summier gestaak het.
Redes hiervoor is sommer ten aanskoue van almal uit die duim gesuig, sonder die verskaffing van konkrete bewyse om hul aantygings of besluit te kan regverdig. Hier kan 'n mens maar net hoop dat dit nie dieselfde duim is wat iemand soos Stormy Daniels veels te vertroud mee was nie, maar selfs daardie grillende prentjie verander nie die lot van die geraamde 600 000 plus MIV/Vigslyers in Suid-Afrika wie se lewens heel moontlik een van die dae aan 'n made-in-China draadjie gaan hang as die medikasie opdroog.
Maar die arrogante uitdelery van belaglike invoerheffings is besig om die Amerikaanse ekonomie veel nader aan die afgrond, net duskant die oranje verkeerslig, te trek.
Hierdie heffing-beheptheid is ’n taai toffie wat Amerikaanse bande met sy belangrikste en lojaalste vriende al kouend oor die afgrond laat ploeter.
En hoewel daar nie in die openbaar veel anders as 'n diplomatieke gemompel oor onderhandelings en samesprekings gemaak word nie, moet ons nie vir ons laat flous deur Amerika se arrogante verklaring (hoe ironies, die woord, val dit my nou by) dat selfs die magtige China die knie voor sy heffing-troon gaan buig nie.
Ek kry die gevoel dat daar tans agter die mees geslote van deure gesprekke plaasvind waar die liggings en agendas van sulke samekomste met die gesofistikeerdste spyware verskans word. Lande hou hierdie vergaderings onder Harry Potter se mantel van onsigbaarheid, en hul planne behoort reeds fluks aan die prut te wees om hul ekonomiese afhanklikheid van Amerika uiteindelik die nek om te draai.
As daardie onafwendbare dag die lig gesien, wonder ek darem waar en by wie die land van poeiermelk en Winnie the Poo se klein potjie heuning gaan bakhand aanklop om humanitêre hulp…
Eldridge Jason is 'n joernalis en jeugromanskrywer wat al veels te lank na sy sin in Kaapstad bly.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: