Nee, Macpherson, nul vergoeding is wel geen vergoeding
'n Pseudonieme leser neem dooierus op die Minister se wiskunde.
In 'n era waar woorde wêreldwyd dikwels van hul vaste betekenisse begin losraak, het Minister Dean Macpherson onlangs sy eie bydrae gelewer tot die Orwelliaanse relativisme woordeboek. Minister Macpherson sê verlede week by Nampo dat "nul vergoeding is ook 'n vorm van vergoeding".
Hy het homself, klaarblyklik sonder skroom, aangesluit by die post-modernistiese transformasie dissipels vir wie taal 'n speelgrond is en betekenis maar net 'n vloeibare konstruk. Hierdie stelling is verbysterend uit die mond van 'n DA-minister wat veronderstel is om eiendomsreg te beskerm. Die frase “nul vergoeding” is nie neutraal nie. Dit het 'n bepaalde geskiedenis. Dit is die slagspreuk waarmee die ANC en EFF probeer het om die grondwetlike waarborg van eiendomsreg te verswak. Toe hulle die Grondwet nie kon wysig nie, het hulle begin soek na agterdeure soos die Onteieningswet om dieselfde doel te bereik. Wanneer 'n DA-minister nou daardie frase internaliseer, begin mens wonder of die DA nie nou daardie agterdeur vir die ANC oophou nie.
Om te sê nul vergoeding is vergoeding is soos vir 'n vakbondleier om te sê 'n 0% salarisverhoging is 'n verhoging. Of vir die DA om te sê nul stemme is nie geen stemme nie, dis net nul stemme.
Die DA se RNE lede toon onlangs 'n kommerwekkende simpatie en in sommige gevalle nuwe aanvaarding van ANC beleid. John Steenhuisen het self onlangs uitgevaar teen die 59 Suid-Afrikaners wat die agteruitgang van Suid-Afrika gevlug het. En geen tydelike uitstel van 'n BTW verhoging gaan die DA van hierdie duidelike koersafwyking van sy kernbeginsels kan kwytskeld nie.
Maar nie almal in die DA is ewe gretig om ANC-denke te absorbeer nie. Cilliers Brink het kort na Minister Macpherson se onsinnige opmerking gewaarsku dat die Onteieningswet 'n gevaarlike wapen is in die hande van 'n kleptokratiese regering en dat dit 'n slinkse manier bied vir die ANC (en moontlik ’n toekomstige ANC/EFF-koalisie) om die mislukte wysiging van Artikel 25 van die Grondwet deur ander ‘n middel te probeer herleef. So ook het Ian Cameron 'n plasing op sosiale media gesit om teen die Onteieningswet standpunt in te neem.
Brink en Cameron wys dat daar tog nog stemme binne die DA is wat nie deur die ANC se ideologiese besmetting aangesteek het nie. Geordin Hill-Lewis van Kaapstad blyk ook darem in hierdie kamp te wees. Dit blyk eerder dat diegene wat té na aan die ANC op kabinetsvlak die siekte van doublespeak en prinsipiële vervlakking opdoen.
'n Mens kan nie help om te wonder of dit nie weer tyd is vir die DA om deur 'n interne herbesinning te gaan nie, soortgelyk aan die een wat gelei het tot Mmusi Maimane se vertrek. Dit is duidelik dat John Steenhuisen en sy vriende wat hy in die RNE ontplooi het, al hoe meer gemaklik raak met magsdeelname ten koste van die party se oorspronklike waardes en die beginsels waarvoor hulle verkies is.
Wanneer liberale politici begin praat soos hulle teenstanders, het hulle reeds die eerste veldslag verloor. Om te sê “nul vergoeding is ook vergoeding” is om die ANC se semantiese rewolusie te aanvaar. Minister Macpherson moet dus weet dat nul is nie iets nie.
Nul is niks. Nul vergoeding is nie vergoeding nie.
En as sy party dit nie meer weet nie, sal kiesers moet besluit wie nog wel weet wat woorde beteken en wat vryheid werklik kos.
Coert Lewis is ‘n regsgeleerde en skryf onder ‘n skuilnaam.
Nog lesersbriewe:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: