Cyril en Seuns in die Withuis: Die Klassestryd oor Risiko
In Gotham Suid-Afrika slaap die elites gelyker as die res.
Wie en Wat word hier verteenwoordig? Die skynbaar onopregte vraag spring op toe ek inskakel vir wat dalk een van die mees belangrike oomblikke in ons land se onlangse geskiedenis kan wees.
Cyril en die Boere se verskyning in die Withuis is op baie maniere letterkundig en teatraal. Dis meer as net Trump TV, 'n skrouende Malema en die sinistere verdowwing van die kantoorligte. Die hoofkarakters uit verskeie nasionale tonele, soos in die meeste groot toneelstukke, is klimakties saam op die verhoog in een bedryf vir Die Afrekening. Of dalk vir 'n antiklimaks. En asof ná 'n bedryf uit van die groot toneelspele oor die eeue, is die gehoor sonder konsensus oor wat die uiteinde nou werklik beteken. Soos Etienne van Heerden in die slot van sy meesterlike “Fusillade” gedig het:
Soldatestewels knars op gruis,
gewere word so flink soos blits gerig,
sekondes en eeue gaan verby…
die skietbevel bly uit.
Maar die letterkundigheid van die oomblik strek verder as die tonele in die Withuis, tot 'n gevatte metafoor vir die maatskaplike eietydse.
Die versameling elites uit die Suid-Afrikaanse politiek, sake- en sportwêreld in daardie Ovaalkantoor verteenwoordig 'n klas mense vir wie die skietbevel sodanig bestuur kan word, dat dit omtrent altyd uitbly. Wat hulle verteenwoordig het, is wat Professor Nils Gilman van UC Berkely in 'n bespreking van die Duitse sosioloog Ulrich Beck se teorieë, die bevoordeeldes van die “risikosamelewing” (Risikogesellschaft oftewel “risk society”) noem.
Die risikosamelewing en sy onvergenoegdes
Beck, aldus Gilman, het in 1992 geteoretiseer dat klasseverskille in die post-Koue Oorlogse globaliserende wêreld 'n kwessie sal wees van diegene wat hulself teen openbare risiko’s kan insuleer, teenoor die res van die samelewing, wat die volle vuishou van risiko’s moet trotseer.
Vir Beck en Gilman is risiko nie beperk tot iets so omvangryk soos klimaatsverandering nie, maar sluit dit die vernietigende gevolge van ekonomiese krisisse in, asook meer plaaslik spesifieke politiek-ekonomiese en maatskaplik-ekonomiese risiko’s soos misdaad, wanbestuur en regeringsbeleid. Die elites van hierdie nuwe klassebedeling het soms relatiewe welvaart in hul guns. Maar selfs belangriker is hul vermoë om beleid en invloed sodanig uit te oefen dat hulle hulself van allerlei risiko’s kan kwytskeld, wat die res van die samelewing dan disproporsioneel moet trotseer.
Gilman, wat Beck se teorie gebruik om die MAGA-populistiese verskynsel in die VSA te ontleed, gebruik die voorbeeld van kleinsake eienaars, vir wie ekonomiese risiko’s wat onoordeelkundig toegedeel word, totaal vernietigend kan wees. Vir 'n plaaslike vervaardiger in 'n kleiner bedryf, kan die risiko’s van ekonomiese beleid wat risiko’s onbillik versprei, bankrotskap inhou. Vir hul werkers, 'n verlies aan brood op die tafel. Vir die gemeenskap, 'n eksistensiële krisis. Maar vir die groter spelers is daar meer beweegruimte, en dikwels goue handdrukke en vergulde valskerms. Aldus Gilman:
“In the corporate world, CEOs who preside over massive failures or ethical breaches often walk away with golden severance packages, their personal wealth untouched by the devastation they leave in their wake. In government, politicians who make disastrous policy decisions or engage in corruption often face little more than a slap on the wrist, retiring to lucrative consulting gigs or media appearances.”
Vir Gilman, wat voorbeelde trek uit die Trump-administrasie se onlangse hantering van hoër opvoedingsinstellings, regsfirmas en vakbonde in sekere sektore, is die MAGA-verskynsel en die sentrale strategie van die Trump-administrasie om die Amerikaanse elite se “risikobestuur infrastruktuur” genadeloos aan te val, as deel van 'n klassestryd om die risiko’s van 'n uiters wisselvallige postliberale wêreldorde as’t ware te “demokratiseer”:
“[MAGA’s strategy] confirms the belief that the ‘elites’ — those with high educational attainment, prestigious titles, and seemingly limitless personal security — are a self-perpetuating class, insulated by their privilege and unaccountable for their actions. The chasm between those who face the direct consequences of a volatile world and those who appear to float above it, unscathed by their own failings, is precisely the new political fault line Beck predicted … MAGA’s rage isn’t ultimately about inequality per se, but about the unequal distribution of consequences.”
Vir Beck en Gilman, soos ek later uitbrei, is dit jammer dat MAGA-populisme wel begraafplaas-gelykheid kies en risiko’s wil herverdeel, eerder as om beskutting teen risiko’s beter te verdeel.
Insigte vir Suid-Afrika
In Suid-Afrika is die verspreiding van risiko sodanig dat die skietbevel vir die meeste mense nie uitbly nie.
Toe ons voorspraakmakers se woorde in die Ovaalplek nog nie koud was nie, moes ons die karige nuus hoor dat die moordsyfer in Suid-Afrika gedaal het. Syfers en persentasies is amper absurd wanneer regerende partypolitieke elites uit die ANC steeds dieselfde mense is wat oor die laaste 30 jaar se slagting toesig gehou het. Dit is skrale troos vir die 22-jarige Juanne September se naastes, wat Saterdagoggend in Addo in die Oos-Kaap doodgesteek is, of die duisende ander slagoffers van daaglikse geweld in Suid-Afrika. September se gemeenskap het hul woede gewreek op die dorp se buitelanders: Op 'n hartseer manier is beide kante van die onluste in Addo die slagoffers van 'n bedeling wat nie in staat is om misdaad vas te vat of immigrasie-verwante arbeidskwessies met groter omsigtigheid te hanteer nie, maar geen wesenlike gevolge vir hierdie risiko-wanbestuur dra nie.
Dit is moeilik, skryf Gilman, om die skeidslyne van die nuwe klasseverdelings in 'n risikosamelewing te bepaal. In die goeie ou dae was dit maklik om ideologiese vereenvoudigings te koppel aan “tasbare, sigbare” materiële belangegroepe, soos die werkersklas en middelklas teenoor gevestigde kapitaalhebbende elites. Volgens Beck se benadering tot klas, is onderlinge solidariteit om meer risiko-regverdige beleid te skep, baie ingewikkeld onder risiko-geleide maatskaplike toestande.
In ons risikosamelewing in Suid-Afrika, wat boonop met 'n lewende geskiedenis van velkleurpolitiek gearseer is, is dit uiters moeilik om sinvol af te baken tussen die risiko-beskuttes en diegene wat risiko-kanonvoer is. 'n Rassige blik op risiko-verdeling skep seker van die mees omstrede beleide. Toe 49 bleekvelliges (merendeels Afrikaners) van die Amerikaanse vlugtelingeprogram gebruik maak, was die Suid-Afrikaanse kommentaarklasse se eerste instink bespotting, en hul tweede om oor Afrikaner- en witvellige welvaart te veralgemeen. Min het gaan dink oor die soort risiko’s wat hierdie mense probeer ontvlug, en of daardie risiko’s “regverdig versprei” of altans behoorlik deur ons veroordelende politieke klas en sake-elites verreken word. En kennelik dui dit, ten spyte van die kontantvloeiprobleme wat die Suid-Afrikaanse media ervaar, op die mate waartoe die perslui ook neig om deel te vorm van 'n baie risiko-bestande afdeling van ons plaaslike intelligentsia (wat omtrent 'n besinning op sy eie werd is).
Relatiewe armoede is dalk 'n beter bepaler van risiko-verdeling, maar wanneer dit by die Suid-Afrikaanse werkersklas kom, raak die prentjie troebel. Tot haar eer het Zingiswa Losi van die vakverbond COSATU tydens die gesprek met Trump gefokus op die uiterste geweld waaraan landelike Suid-Afrikaners uitgelewer is, terwyl sy haar eie kiesafdeling se lot kon bepleit. In Gilman se ontleding van MAGA, is onbillike risiko-verspreiding nie sinoniem met werkersklas-belange nie:
“Industrial unions that protect factory workers, construction crews, and other manual laborers are often viewed sympathetically … they represent risk-mutualization for people who face genuine physical and economic dangers. These unions protect workers who operate heavy machinery, work in hazardous conditions, and whose mistakes can result in serious injury or death. However, public sector unions — particularly those representing teachers, government employees, and other white-collar public servants — are viewed with deep suspicion ... [t]hese unions are perceived as protecting members of the ‘professional-managerial class’ who already enjoy significant job security and whose failures rarely result in immediate, tangible consequences.”
Die Suid-Afrikaanse konteks het ooreenstemmighede met hierdie gedagte, indien met nodige aanpassing daarna gekyk word. Op die keper beskou het georganiseerde arbeid in meeste van ons sektore daarin geslaag om in samewerking met ANC, 'n knus risiko-beskutte loopgraaf vir hulself te beding.
Georganiseerde arbeid, veral in die Suid-Afrikaanse openbare sektor, het deur hul gedrag oor die jare gewys dat die welstand van die staat, die billikheid van ons begroting en die volhoubaarheid van ons fiskale beleid hulle baie min skeel, en dat hervorming met anargie begroet sal word. Deur verder aan te dring op 'n verstokte en onbuigbaar behoudende ingesteldheid oor “hoofletter SEB (Swart Ekonomiese Bemagtiging)”, het politieke gesprekke oor alternatiewe, meer risiko-regverdige “kleinletter swart ekonomiese bemagtigingsbeleid” vir 'n baie lang tyd omtrent heeltemal verboten geraak.
Die beskuldigings van “toondoofheid” vanuit die drieparty-alliansie en simpatiekes uit die kommentaarklasse, toe die DA durf waag het om die kwessie voor die 2019 algemene verkiesing aan te roer, is tekenend van hierdie hebsug rondom risiko-verspreiding in die arbeidsomgewing. In hierdie toksiese samehang het onverantwoordbaarheid en onbevoegdheid tot asemrowende vlakke gedy.
Suid-Afrikaanse landbou-elites is waarskynlik ook nie onskuldig as hul berusting by risiko-beskutte beleidsomgewings bekyk word nie. Hermann Pretorius van die Instituut vir Rasseverhoudinge maak in die Rapport van 25 Mei 2025 die saak uit dat Groot Landbou se paaibeleid ten opsigte van die Onteieningswet 'n stilswyende verraad teen die res van die sektor inhou. In die landboukonteks is dit omtrent 'n voldonge feit dat toepassing van die Onteieningswet op kleinboere, vir wie saaklike sekuriteitstelling oor hul grond 'n kommersiële noodsaak is, ontsaglike risiko’s inhou. Maar hierdie risiko’s hou verby die amptenare wat hulself polities en deur middel van gevestigde korrupte netwerkte, kan beskerm. Die megaboere en groot agri-ondernemings is ook welbeskut: hulle kon lankal reeds begin, aldus Pretorius, om hulself los te maak van 'n sakemodel wat op saaklike sekuriteitstelling oor landbougrond berus. Weens hul skaalvoordele is dit baie meer doenlik as vir die kleiner landbouprodusent.
Om nie eens te praat van die geglinster in die oë indien die monopoliserende moontlikhede wat onteiende kleinboere inhou, in die vooruitsig gestel word nie.
Terug in die Ovaalkantoor
Die tonele voor Trump het wel 'n kinkel in die kabel gehad toe die gesprek noodgedwonge deur die Suid-Afrikaners na die land se misdaadkrisis gestuur is. Hieroor moet 'n mens opmerk dat die Amerikaners na regte hul oë kon rol: Die besoekers kon slegs die volksmoord-narratief hanteer deur middel van ruiterlike erkenning van die misdaadkrisis en dringende smeekbedes vir Amerikaanse hulp. Soos 'n vriend gereeld in ander kontekste opmerk, not good for the brand.
Afgesien hiervan en van die morele ongemak wat gepaard gaan met die wegwuifende “all lives matter”-soort benadering van die Suid-Afrikaners, was daar teen die agtergrond van ons risikosamelewing 'n klein kinkel in die afvaardiging se voordragte. Misdaad is kennelik die risiko waarteen hulle almal welbeskut is. Geeneen van die regeringsamptenare teenwoordig kan kla dat hulle aan misdaad uitgelewer is nie. Cyril self het sover gegaan as om die 49 Afrikanervlugtelinge as “lafaards” uit te kryt by NAMPO, terwyl hy rondwaggel met sy belastingbefondsde lyfwagte en die gedenkteken vir plaasmoorde vermy. Johann Rupert hoef sekerlik nie geweldig baie oor persoonlike veiligheid besorg te wees nie. Hy kon darem in die gees van sy vader se filosofie om na jou honger buurman om te sien, heel tereg groot gewag maak van die ontsaglike bendekrisis op die Kaapse Vlakte, wat die Eerbare Minister Steenhuisen en sy party ietwat onkant gevang het. Die twee gholfers Ernie Els en Retief Goosen is beslis nie tot selfverdediging deur middel van 'n drywerkop beperk nie.
Dit strek die afvaardiging tot eer dat hulle die algemene misdaadkrisis aan die groot klok kon hang. Maar dit sou dwaas wees om uit die oog te verloor dat hierdie mense nie net die voordele van oneweredige risikoverspreiding in Suid-Afrika geniet nie, maar ook geweldige mag geniet om die agenda te stel. Toegegee, die Afrikaanse werkersklas het tydens die Solidariteit afvaardiging se besoek 'n kans gekry, al was dit nou nie aan Trump self nie. Maar vir die gewone Afrikaanse risikodraendes sou dit gaaf wees as iemand voor Cyril, Trump en hul mense kon verduidelik dat ons nie die gelaaide semantiek van “volksmoord” nodig het om die risiko’s wat Afrikaners in die ANC se beleide moet trotseer, te begryp nie.
Hierdie mense het namens ons gaan praat, maar die president en sy amptenare het daar gesit, welwetende dat hulle al lank daarin kon slaag om hulself teen risiko’s - soos die nagevolge van hul beleide en verantwoordbaarheid daarvoor - te beskerm, terwyl die res van ons baie groter aanslae moet trotseer. Ons mag hulle dit nie laat vergeet nie.
'n Solidariteit onder die risikodraende klasse
Verlede Vrydagoggend woon ek 'n begrafnis in die ooste van Johannesburg by. Ek beleef weereens die moedige, stil nederigheid en gasvryheid van die werkersklas Afrikaanse gemeenskap uit hierdie deel van die stad. Mense op wie daar maklik vanuit die gerieflike Afrikaanse buurte van Stellenbosch, Waterkloof en Oranjezicht neergesien word. Ek skrik bietjie toe 'n kerksuster vir 'n begrafnisganger hardop kom waarsku, “Parkeer liefs daar in die omheinde stopplek, hier teen die kerk steel hulle karre”.
My onmiddellike reaksie is om bietjie onthuts dit as 'n gelaaide “hulle” te interpreteer. Totdat 'n vriendelike jong tuinman ook kom waarsku, “hulle” steel karre en die drywer moet verkieslik skuif. Daar is 'n solidariteit in hierdie stukkie wêreld, besef ek, tussen die mense uit die gemeenskap as dit kom by aanhoudende, kankeragtige misdaad. Daardie “hulle” is veel minder oor velkleur as oor 'n gemeenskap se bewustheid van risiko’s wat hulle disproporsioneel moet trotseer, en dikwels nie die hulpbronne voor het nie. Daar was nie 'n sekuriteitswag in sig nie. Daar was net die lojale tuinman met sy graaf. Dit is irrelevant of joernaliste in bourgeois lugverkoelde kantoorparke en politici met blouligbrigades hierdie nuanses verstaan; dit pla hulle gewoon nie wanneer hulle risiko’s gemaklik kan afweer nie.
Na werk die middag ry ek Jan Smuts langs, rigting Randburg, om vir drankies op die oorledene se nagedagtenis aan te sluit. In die spitsverkeer staan ek stil, en ek aanvaar die man wat tik-tik by die venster is 'n pamfletsmous. Hy sê, no sir, maak gou bietjie oop die venster en sy pistool doen die res van die praatwerk. Bietjie onhandige teëstribbeling en 'n dreigement met sy oorgehaalde wapen later, is ek verlos van my selfoon. My aspris stadige poging om my sportsak by te kom om ook maar te oorhandig, koop genoeg tyd om die gaping te neem en weg te jaag. 'n Man met 'n Durbanse aksent en 'n glimmende Porsche Cayenne in die baan langsaan skree-vra beskuldigend, why are you not driving, what happened. Ek sê ek is beroof. Porsche-man vra geamuseerd, but why did you open your window then? Ek is skaars lus om hom te antwoord. Risikobeskutting is 'n baie snaakser ding in hierdie land as wat ons dink.
Jy kan seker met moeite 'n spektrumpie optrek wat mense se mate van risiko blootstelling in hierdie land probeer uitbeeld. Vir my was dit vergelykbaar maklik, dog uiters frustrerend en 'n paar suinige rande later, om die foonverlies reg te stel. Vir Porsche-man mag dit veel makliker wees. Maar daar is risiko’s wat hy beleef wat ek nie noodwendig insien nie. Al wat ek weet is dat ons verskillende herkomste geen perfekte duimreël is vir hoe risiko in Suid-Afrika versprei word nie. In baie opsigte beleef ek en hy as jong, waarskynlik professionele “elite” mans soortgelyke uitdagings weens wanbestuur en swak beleid. Ons het dit denkbaar makliker as vermelde Oos-Randse kerksuster en die tuinman.
Hoop met risiko
In hierdie land met sy boelies en geweldenaars en opgepofte arrogantici is dit soms moeilik om jouself te oortuig om vas te byt.
Hoe hou 'n mens van 'n land (wil ek vir Daniël parafraseer) waar risiko so uiters kompleks dog ooglopend onregverdig versprei word? Met so 'n totale tekort aan gevolge vir skadelike besluite deur regeringslui en out of touch luuksheidsoortuigings onder sommige elites? In die Afrikaanse konteks, hoe hou jy van jou eie Afrikaanse mense as soveel van hulle uiters risiko-beskutte lewens lei, maar die eerstes is om diegene met minder beskutting, af te kraak en van allerlei “on-Suid-Afrikaanse” gedrag te beskuldig?
Die hoop wat Ulrich Beck se teorie van risikosamelewings vir ons voorhou, is dat daar by uitstek ruimte is vir legitieme besware wat aan verskillende risikodraendes in die samelewing spesifiek is.
Ter voorbeeld, ja, Afrikaners van Europese afkoms en Indiese mense geniet dalk die laagste werkloosheidskoerse in Suid-Afrika. Maar selfs onder hulle is daar spesifieke kombinasies van risikodraendheid wat gewoon onregverdig toegedeel word, in vergelyking met diegene wat hulself geriefliker kan beskut. En binne ons Afrikaanse en Indiese bevolkingsgroepe, is daar selfs verdere spesifieke onderafdelings van risiko-toedeling wat eweneens onregverdig is, en wat nie altyd onderling deur hul mede-kultuurgemeenskapslede begryp word nie.
Maar die bepaaldheid van risiko’s wat trotseer word, neem geensins weg van die groter kritiese vrae wat ons saam moet stel oor hoe nasionale beleid risiko’s (en beskutting daarteen) verdeel nie. Ons hoef nie heeltyd plaasgeweld met algemene geweld te kwalifiseer nie, en ons hoef nie lyding weens korrupsie met geskiedkundige ontneming te what-about nie. Hierdie dinge hoort saam onder die hofie van onregverdige verdeling van risiko’s.
Daar is eerder, soos Gilman afsluit, 'n waardige en kollektiewe solidariteit daarin te vinde om die oorhoofse som van spesifieke onregverdige risiko-verdelings te erken.
Om saam te span, in politieke eendrag, teen beleide en gevestigde belange wat risiko-beskutting onregverdig toeëien.
Nog artikels deur Frederik van Dyk:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: