Pieter teen Willie: Wat gesê kon wees
Om dubbele standaarde en blindekolle te erken, verhelder oop debat.
Ek het nie veel erg aan sosiale media debatte nie, veral nie op X nie. Hierdie platforms is die slagpale van die rede.
In daardie opsig is ek nie heeltemal alleen nie; die sosioloog Jonathan Haidt en een van ons gasskrywers vandag, Professor Joseph Heath van die Universiteit van Toronto, blyk soortgelyke sentimente te huldig oor rasionele, redelike debat en gesprekvoering se kanse teen die duistere meganika van die eietydse aandag-gebaseerde ekonomie. Daarom was die onlangse “Twatterbaas” omstredenheid, wat met 'n dramatiese exposé op News24 begin en tot giftige “debatte” op X en elders gelei het oor beweerde doxxing, iets wat my amper ontgaan het.
Daar was egter ook 'n ander rede (vergun my hierdie sytak in die skrywe) en dit is dat ek nie massas vertroue het in die soort joernalistieke waardeaanbod wat News24 aldag op die tafel plaas nie. Die indruk is by my gewek, met News24 se Jan Braai en Wilgenhof nuusdekking vars in gedagte, dat die redaksie daar ten spyte van gereelde uitmuntende ondersoekende joernalistiek om die skandalighede van die ANC-geleide regering oop te vlek, skynbaar geanimeer word deur 'n geloof in 'n soort moralistiese gelykstelling tussen voorvalle van korrupsie en voorvalle van (selfs net beweerde) rassisme. Uiteraard is rassisme en korrupsie beide slegte en anti-sosiale gedragsvorme, wat aan die kaak gestel moet word.
Maar is elke geval van korrupsie noodwendig so moreel laakbaar, nuuswaardig en breedweg betreurenswaardig as elke rassistiese voorval, en omgekeerd?
As jy vanuit die staanspoor gaan dat dít die onderliggende Suid-Afrikaanse ontologie van diskoers is, dan loop jy die gevaar dat jou hele publikasie die geur van ‘n whataboutery-fabriek kry, een wat uitbasuin: “Lees hiér oor 'n lot nare korrupte ANC-politici… maaaaarrrr julle spulletjie bleekvellige Afrikaanse lesers, is julle óók so ontsteld oor hierdie en daardie geval van rassisme?”
'n Ekstreme risiko van hierdie soort subtiele diskursiewe ontologie, meer spesifiek, die geloof dat daar vir elke geval van ANC-impliserende korrupsie ook 'n voorval van wit heerssugtigheid en verwante soorte rassismes iewers moes plaasvind, is dat 'n redaksie genoop kan voel om obskure, onsekere voorvalle te gaan opdiep en insidente groter op te blaas as wat dit in alle redelikheid verdien. Die verdere risiko is dat feitelikheid, billikheid en respek vir privaatheid aan die agterspeen kan begin suig. Of, dat dubbele standaarde uitbroei wat 'n redaksie se voorkeuronderwerpe betref. Ten ergste, dat 'n redaksie so ver gaan as om wanbalanse op die metaforiese balansstaat van “korrupsie versus rassisme verslaggewing” met dun, halfgebakte of selfs aangedikte stories aan te vul om 'n narratiewe “regstelling” te poog. Hierdie is moontlike gedrag, wat ek hoop die Afrikaanse joernalistieke bedryf van bewus kan wees en intern kan bespreek, sodat dit vermy kan word en nie as 'n gewoonte iewers begin vassteek nie.
Voorkoming is beter as 'n poging om te herstel. Of dit nou OntLaer, News24, Daily Maverick of Maroela Media is, hoop ek dat daar weer besin kan word oor die noodsaak om elke bespreekbare voorval op eie feite en meriete te hanteer.
‘n Ontleding: Pieter versus Willie
Terug by die “Rumble in the Randburg”, ook bekend as die groot bekgeveg tussen News24 se Pieter du Toit en die prokureursfirma Hurter Spies Ingelyf se Willie Spies. Die twee het op Maandag 5 Mei vanweek op KykNet se gewilde In Gesprek met die bobaas aanbieder Lourensa Eckhardt verskyn:
Die onderwerp was News24 se ondersoekwerk en gevolglike onlangse artikel wat die identiteit van 'n omstrede en baie gewilde X-rekening, met die handle @twatterbaas, ontmasker het. Ter agtergrond het News24 onder kritiek van mense deurgeloop wat kapsie maak teen die bekendmaking van die rekeninghouer se identiteit. Dit is egter duidelik dat die tegniese punte rondom die reg se beskerming van 'n persoon se privaatheid, aanlyn of andersins, minder van 'n kwelpunt was vir Twatterbaas se ondersteuners, of minstens net 'n makliker verpakbare stuk narratiewe grofgeskut. Vir hulle was die man se optrede oor die jare deur sy uiters gewilde rekening, 'n vorm van nasionale diens aan land en volk: Twatterbaas het inderdaad daarin geslaag om videomateriaal van “Kill the Boer” singery en die uiters hatige en rassistiese spraak deur die minlike Andile Mngxitama, deesdae 'n MKP-LP, blykbaar geweldige traksie onder X-gebruikers te gee, ook in die buiteland.
Dit is waar die News24 verhaal dan ook spoed optel: die aanvoering deur News24 ter regverdiging van die openbaarmaking van Twatterbaas se ware identiteit, is dat húlle inderdaad 'n soort nasionale diens verrig het, deur in die openbare belang iemand te ontmasker wie se gewilde X-plasings selfs onder die aandag van Elon Musk sou kom. Maar dit is die inhoud van die plasings, eerder as wedersydse bewerings en regverdigings van nasionale diens en aansprake op die openbare belang, wat vir my belangriker is.
Tydens die onderhoud het Pieter du Toit op 'n melodramatiese en tog indringende wyse 'n reeks skermskote opgehou, wat inderdaad voorbeelde van kru en rassistiese taal deur die Twatterbaas-rekeninghouer boekstaaf. Du Toit het dit gebruik as voorbeelde om News24 se regverdigings en motiverings te rugsteun: dat 'n enorme X-rekening met skynbare internasionale invloed, wat ook politieke plasings oor Suid-Afrika maak, wat soms ooglopend rassisties kan wees, en boonop selfs die skerm-aandag van Elon Musk lok, verdien om aan Suid-Afrikaners geopenbaar te word. News24 se verdere bewerings van waninligting kan sekerlik geboekstaaf word om as regverdigings te dien, as 'n ou diep genoeg deur die Twatterbaas-rekening soek.
Maar daar is 'n verstaanbare skeptisisme onder baie mense oor die gebruik van hierdie begrip: Dikwels word beskuldigings van “waninligting” geopper as 'n soort debatstopper wanneer twee mense verskil, hoewel dit per definisie nie verwys na 'n redelike interpretasie of 'n bona fide uitleg en oordrag van inligting nie, wat juis die grondslag en selfs middel tot 'n doel in ope debat vorm. Een van Pieter du Toit se aanvoerings van “disinformasie” oor een van die Twatterbaas-plasings, wat met demografie te make het (en kennelik in nare rassistiese taal op X oorgedra is) het moontlik na die feit koue water op gekry. Blykbaar kan die bron van die inligting wat deur Du Toit as disinformasie beskou word, voor die deur van News24 self lê word.
In reaksie het Willie Spies, wat die Twatterbaas-rekeninghouer verteenwoordig, uitgevaar teen News24 se ondersoekpogings, en 'n sentrale vraag aan Du Toit gestel oor waarom soveel ander rassistiese X-rekeninge nie ook deur die nuusblad se joernaliste gejag word nie. Du Toit se aandrang op die belangrikheid van die openbare belang in die Twatterbaas-geval, weens die aandag van die Amerikaners en die reikwydte van die rekening, hou nie heeltemal water nie: Waarom sou plaaslik gewilde X-gebruikers wat rassistiese inhoud oor wit Suid-Afrikaners en Afrikaners plaas, minder van 'n openbare belang vorm as 'n rekeninghouer met buitelandse invloed? Word News24 se subtiele omskrywing van “openbare belang” nie bietjie pasgemaak vir hierdie doeleindes nie? In hierdie opsig het Spies daarin geslaag om beskuldigings teen News24 van dubbele standaardpleging, in die kollig gestel.
Maar Spies kon dit slegs doen deur verby Du Toit se (blykbaar deels) geldige bewerings van waninligting en ooglopende rassisme deur Twatterbaas te praat. Natuurlik het ek simpatie met hom daaroor: As jy iemand se regsverteenwoordiger is, en jy word in die openbaar gekonfronteer (selfs al weet jy reeds) met voorbeelde van jou kliënt se ooglopende growwe rassisme en selfs haatspraak, kan jy nie sommer net toegewings maak nie. Willie was in 'n moeilike posisie.
Jammerlike gevolge
Die jammerte hiervan is dat 'n geleentheid op In Gesprek verbygegaan het om by groter begrip en duidelikheid uit te kom. Die debat het gou verval in 'n aggressiewe “maar wat van”-gesprek oftewel whataboutery, met Du Toit wat vir Spies peper oor sy kliënt se ooglopende rassisme, en Spies wat dit eintlik aan Du Toit stel dat News24 dan X-gebaseerde rassisme teen witmense effektief sou ignoreer of as minder nuuswaardig aanbied. So is daar verby mekaar gepraat.
Dit is wel in die aard van die medium ook so dat In Gesprek se episodes debatvriendelik is. En tydens 'n debat, wat Denzel Washington in 'n bekende ouer film “bloedsport” noem, is dit so dat jou sukses daarvan afhang of jy genadeloos vir die slagare van jou opponent se argumente gryp of nie.
Die episode maak vir goeie en opwindende TV. Maar tog, sou dit nie vir die werklike openbare belang beter wees as die voorstanders en teenstanders van gevalle soos Twatterbaas, eerlike toegewings oor die meer ooglopende swakpunte van hul sake maak nie; daardie punte wat nie wegneem van die sentrale kwessies wat jy probeer bevorder nie?
Hoeveel sal dit wegneem van News24 om, selfs subtiel deur gedragsverandering, te erken dat Spies geldiglik ‘n dubbele standaard uitgewys het in hoe hulle voorvalle van aanlynrassisme hanteer?
En hoeveel sal dit neem van Twatterbaas se grootste groupies om sy ooglopende rassisme en selfs haatspraak as sodanig te erken, en te oorweeg oor hoe vernietigend daardie soort gedrag vir diep en betekenisvolle verhoudinge tussen Suid-Afrikaners kan wees indien dit onbeheers rondsweef?
Miskien sal ons dan by die punt kom waar ons eerlik en onvertroebeld met mekaar oor die beweringe van doxxing, privaatheidskending en dies meer kan praat.
Nog artikels deur Frederik van Dyk:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in:
Maar daar is tog 'n groot verskil tussen 'n rekening wat deur Elon Musk geamplifiseer word en sommer enige ander rassistiese rekening op X. Eersgenoemde kan baie meer skade aanrig.