Soos alle ander politieke partye in Suid-Afrika het die ANC ook ernstig begin werk aan 'n verkiesingsveldtog wat daarop gemik is om kiesers te probeer oortuig om in November 2026 in die plaaslike regeringsverkiesings vir hulle te stem. Ek haal die skitterende politieke kommentator, met 'n goeie dosis satire Simon Lincoln Reader aan in verband met onlangse opmerkings deur 'n senior ANC-leiersfiguur in Gauteng:
“In Johannesburg, the ANC’s deputy chair of Local Government Intervention, Dr Dickson Masemola, pleaded with voters to ‘give the party another chance’. Presumably, after having given the matter some thought, Masemola and his colleagues on the subcommittee decided that the city should be restored to its former glory, and the ANC is the party to do that.”
Dis natuurlik uiters lagwekkende wensdenkery van die ANC se kant. As Masemola dit self glo, is hy myle ver van die werklikheid verwyderd, waarskynlik omdat hy, nes die res van die ANC-leierskap, totaal en al kontak met die werklikheid verloor het. Dis ongelukkig wat gebeur met “leiers” wat vanuit hul luukse huise in welvarende woonbuurte deur sjauffeurs en persoonlike lyfwagte in luukse motors vervoer word na ten volle toegeruste kantore in die beter dele van die stad, met lugversorging en assistente waarvan gewone mense maar net kan droom.
Wie sien nou die slaggate en algemene verval van die groter stedelike gebied raak, veral dié in die townships? Die sjauffeurs ken ook al die langer en beter roetes van die “leier” se huis af kantoor toe en terug. Dis verder as die kortste pad, maar dit maak nie saak nie, want die belastingbetalers hou die petroltenk vol. En indien die ergste gebeur en 'n slaggat 'n band op die beter pad verwoes, is dit ook nie iets om oor te stres nie. Die begeleiers vervang gou die band terwyl gewapende lyfwagte 'n ogie hou oor moontlike misdadigers wat gewoonlik sulke situasies — vir gewone mense — uitbuit om motors te skaak en/of die insittendes te beroof.
Die vernielde band is ook geen rede tot kommer nie, want die belastingbetalers sal finansier dat dit in 'n oogwink vervang word. Gelukkig is verkeersligte wat nie werk nie ook nie veel van 'n probleem nie: die begeleidende voertuig of voertuie sit bloot hul flitsende blou ligte en sirenes aan, en die verkeerskruising maak oop soos die Rooi See vir Moses en sy staf.
Groter ANC-kanonne as Masemola het reeds vroeër as hy die toon begin aangee vir die ANC se verkiesingsretoriek. Die agbare president self, Cyril Ramaphosa, het reeds in Julie 2026 in die Chris Hani-streek van die Oos-Kaap begin om hom na grondvlak te begewe om die ANC se “Volunteers Drive” aan mense op voetsoolvlak te probeer verkoop.
Die gedagte is blykbaar om weer direk met gemeenskappe op grondvlak om te gaan deur eerstens “tekortkominge” (eintlik “mislukkings”, eufemisties gestel!) te erken, soos byvoorbeeld die gebrek aan die verskaffing en instandhouding van basiese dienste — watervoorsiening, elektrisiteitsinfrastruktuur en gebreke ten opsigte van menslike nedersettings, wat waarskynlik verwys na die groeiende tekort aan behoorlike behuising. Oplossings word belowe wat die hoë werkloosheid onder die jeug en geslagsongelykheid sal aanspreek en wat sodoende stabiliteit en plaaslike ekonomiese groei tot gevolg sal hê.
As Masemola se leë uitinge lagwekkend geklink het, wil 'n mens amper op die grond rondrol van die lag oor die agbare president se verbeeldingsvlugte en selfbedrog.
Dalk gaan ek nou oorboord om die ANC se patetiese pogings om die steun van kiesers terug te wen aan die kaak te stel, maar kom ons kyk vir oulaas na die vreeslose ANC-sekretaris-generaal, mnr. #Fearfokkol (soos hy op sosiale media na homself verwys), se “goeie nuus” op 6 Augustus 2026 aan die ANC Soweto Cadres Assembly in die Naledi-saal in Soweto.
Hy kondig die ANC se gereedheid aan om weer aktief met gemeenskappe op grondvlak in wisselwerking te tree. Hy kondig ook aan — totaal in teenstelling met die verkondiging van groter grondvlakbetrokkenheid — dat die sentrale ANC nou oor die leierskap op plaaslike owerheidsvlak vir die komende verkiesings sal besluit.
Ek weet nie of dit 'n erkende of bekende Afrikaanse uitdrukking is nie, maar my oupa sou gesê het: “Bid jou aan!” Ek dink hy het dit gesê wanneer hy van mening was dat iets byna ongelooflik was. Net so ongelooflik is dit vir my dat 'n politieke party terselfdertyd kan sê dat hy weer aan plaaslike gemeenskappe die betrokkenheid op grondvlak gaan gee wat hulle toekom, maar terselfdertyd vir hulle sê dat dit nie sal strek tot hul keuse van die leierskap wat hulle amptelik op munisipale vlak gaan verteenwoordig nie. Weer eens: “Bid jou aan!”
Daar is natuurlik redes vir die ANC se besluit. Onlangse meningsopnames deur die uitstekende Social Research Foundation toon dat die ANC tussen 500 en 1 000 raadslede in die komende verkiesing kan verloor.
Hou in gedagte dat die ANC se patronaatstelsel — die stelsel waarvolgens mense in magsposisies gunste, poste, kontrakte of voordele aan ondersteuners toeken in ruil vir lojaliteit of politieke steun, eerder as op grond van verdienste — nou erg in duie stort as daar soveel minder “pasellas” as voorheen uitgedeel kan word. Dis beslis nie politieke kapitaal wat weer aan mense op grondvlak gegee kan word om oor te besluit nie. Die plaaslike takke van die ANC sal nie weer daarmee vertrou word nie.
Hulle sal net vertrou word om betrokke te wees by oplossings wat die hoë werkloosheid onder die jeug en geslagsongelykheid sal aanspreek en wat sodoende stabiliteit en plaaslike ekonomiese groei tot gevolg sal hê. Ek sukkel om my lag in te hou …
Koppel nou wat hierbo verduidelik is oor die ANC se paniekoptredes op grondvlak aan dit wat op nasionale vlak gebeur. Die nasionale ANC beleef terugslag op terugslag. Die Phala Phala-swaard bly oor hul president se kop hang. Hul groot maatjie en beweerde finansierder, Iran, is in diepe moeilikheid. Aangekondigde beleide wat groot steun onder kiesers moes werf weens hul gewaande populistiese gewildheid, het geflop. Die Nasionale Gesondheidsversekeringskema en Onteiening Sonder Vergoeding bly hersenskimme weens die litigasie daarteen tot by die hoogste hof. BELA word met 'n sagte hand deur 'n DA-minister van basiese onderwys “geïmplementeer”.
Werkloosheid neem nie af nie, want ekonomiese groei bly stagneer weens verkeerde ANC-beleid. Die staat se skuldlas word maand ná maand ondraagliker. Ek het nie eens die belaglike ANC-beleid van “swart ekonomiese bemagtiging” en die vernietigende ekonomiese gevolge daarvan aangespreek nie.
Ek verlaat my hier weer op die insig van gemelde Simon Lincoln Reader, uit dieselfde bron:
“Today, corporations and institutions recruit on race terms and citizens mostly swallow it; on the rare occasion a race-based issue is litigated, the judge will mealy-mouth his or her way through legalities, and almost always show relief with a ‘well-it’s-not-legal-to-discriminate-against-white-people-BUT’. That BUT belongs to the ANC. While something may be illegal, the ANC’s routines have offered pause for consideration. What’s illegal is not always necessarily ‘wrong’.”
As sulke optrede redelike mense nie tot in hul siele walg nie, dan gee ek op.
Ek kan nog vele ander ANC-terugslae byvoeg, maar ek dink ek het my punt gemaak, naamlik: As die mense van Suid-Afrika weer in November 2026 die ANC in groot getalle op plaaslike owerheidsvlak instem, sal die gesegde dat “mense die regerings kry wat hulle verdien” deur en deur as waar bewys word.
Dit sal dan ook makliker wees om te sê: Ons het julle mos gesê — ons langtermynoorlewing in Suid-Afrika is te vinde in groter selfbeskikking vir mense en groeperinge wat regeringsbeheer soos die pes vermy en hul eie ding vir hulself doen.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










