Die konflik in die Midde-Ooste, wat groot internasionale nuus bly, laat 'n mens onwillekeurig dink aan die mensdom se inherente geneigdheid om vanmeleë af oorlog te voer. Die oorlog in die Midde-Ooste is ook nie die enigste huidige oorlog wat die mensdom aan die praat hou nie. Rusland en Oekraïne is nou reeds geruime tyd in 'n bloedige stryd gewikkel.
Elke oorlog het oorsake waaroor baie geskryf en selfs gedebatteer word, want almal stem nie altyd oor daardie oorsake saam nie — en veral nie oor die party of partye voor wie se deur die skuld vir die oorlog gelê moet word nie.
'n Veel groter vraag oor oorlog is egter of dit inderdaad 'n onafwendbare deel van die mens se psige en/of menslike kultuur en gedrag is.
Dit is 'n vraag wat ek myself afgevra het, waarna ek besluit het om antwoorde daarop te probeer vind. My soektog het laat blyk dat die mensdom tog wel só “bedraad” is dat 'n beduidende en meetbare persentasie van ons oorlogsugtig is. Dit word op tussen 1 en 5 persent van die mensdom beraam, wat nogal ontstellend is wanneer 'n mens uitwerk hoeveel mense uit die wêreldbevolking dit verteenwoordig. Dit laat die stelling dat oorlog inderdaad 'n onafwendbare deel van die mens se bestaan uitmaak, na 'n werklikheid klink, soos die menslike geskiedenis deur alle tydperke heen ons ook leer.
Wie is hierdie mense wat aktief na konflik smag, terwyl die oorgrote meerderheid mense gelukkig 'n diepe, biologiese afkeer daarvan het om ander mense dood te maak?
Hulle kan blykbaar in twee kategorieë ingedeel word: diegene wat oorloë begin en, tweedens, diegene wat graag in oorloë veg.
Eerstens dan die oorlogstigters. Daar word na hulle verwys as die Donker Triade: daardie mense wat hul eie behoeftes wil bevredig, selde omdat hulle self 'n geweer wil opneem en in 'n loopgraaf wil veg, maar eerder ter wille van magsverkryging, die bekom van hulpbronne, 'n historiese nalatenskap (“old differences to settle”) of hul eie ego.
Die eerste been van die triade-brigade is die Machiavellianiste: hulle word gekenmerk deur hul uiterste manipulasievermoë en hul vaardigheid om ander vir eie gewin uit te buit.
Die tweede been van die triade-brigade is die Narsiste, wat gekenmerk word deur grootheidswaan, trots en 'n algehele gebrek aan empatie.
Die derde been van die triade-brigade is die Psigopate, wat bekend is vir hul impulsiwiteit, selfsug en koelbloedigheid.
Omdat mense met bogenoemde eienskappe dikwels meedoënloos en hoogs manipulerend is, is hulle buite verhouding in leierskapsposisies en die politiek verteenwoordig. (Klink dit bekend?) 'n Enkele leier met hierdie eienskappe kan maklik 'n hele land in 'n gees van nasionalistiese geesdrif meesleur om 'n oorlog te begin — en dit het al male sonder tal deur die loop van die menslike geskiedenis gebeur.
Vervolgens kan ons kyk na die sielkundige ingesteldheid van veglustiges wat bevrediging uit die daad van oorlogvoering self put.
Daar word eerstens verwys na Natuurlike Moordenaars, wat nie die sielkundige trauma of morele skade ervaar wat gewoonlik met doodmaak geassosieer word nie. In 'n gevegsone ervaar hulle 'n “combat high” of 'n gevoel van topprestasie, eerder as verlammende vrees of skuldgevoelens. Klinies gesproke klassifiseer hierdie individue dikwels hoog op die spektrum van psigopatie of uiterste sadisme. In vredestyd word hulle dikwels aangetrek tot hoë-adrenalien- en hoërisikoberoepe, maar in oorlogstyd soek hulle dikwels elite-gevegseenhede of huursoldaatgroepe op, waar hul gebrek aan empatie 'n funksionele voordeel word.
Daar is ook plegers van geweld teen vyande wat sodanige geweld as inherent bevredigend, opwindend en genotvol ervaar. Daar word na hulle verwys as Appetitiewe Aggressors. Hulle het nie noodwendig daardie basiese persoonlikheidseienskappe omdat hulle daarmee gebore is nie; dit is eerder 'n sielkundige aanpassing wat mense soms in hoogs stresvolle, langdurige oorlewingsituasies ondergaan. Die brein pas dan aan om geweld as 'n positiewe en opwindende ervaring te beskou, eerder as 'n traumatiese een. Die brein ervaar dit dus as 'n beloning vir die geweld wat teen vyande gepleeg word. Sodra die oorlog egter verby is, sukkel hierdie individue dikwels om weer in 'n vreedsame samelewing te integreer, omdat hulle smag na die intense dopamien- en adrenalienspieke van die gevegte waarby hulle betrokke was.
Individue met 'n biologies verworwe “Kryger-geen” bestaan blykbaar ook. Dit sluit mense in wat ernstige trauma of mishandeling vroeg in hul lewe ervaar het en gevolglik aansienlik meer geneig kan wees om fisieke aggressie te toon, konflik op te soek en later in hul lewe by gewelddadige bendes of bendeagtige militêre faksies aan te sluit.
Ek hoop lesers sal nou, soos ek, beter verstaan wie die oorlogsugtiges onder ons is en om welke redes hulle so is. Dit help dalk net om die donker kant van die mensdom beter te begryp.
Lesers sal dalk ook nou, soos ek, beter in staat wees om “lekepsigiater” te speel en groot name te probeer “analiseer”, vir wat dit werd is. Hier is 'n paar voorstelle: Donald Trump, Pete Hegseth, Vladimir Putin en Benjamin Netanyahu. Lesers kan ander name van hul eie keuse byvoeg. In die Suid-Afrikaanse konteks dalk 'n Julius Malema?
Ek onthou 'n hele paar name uit my dae toe ek die bloedige hostelkonflik van die vroeë 1990’s moes probeer beredder. Ironies genoeg is die meeste van hulle letterlik deur die opposisie geëlimineer. “Live by the sword, die by the sword.”
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










