Die beskawing van die derde plek
Wat verlore gaan wanneer die openbare ruimte verdwyn.
Die laaste ruk hoor en lees mens gereeld van kenners uit verskillende denkstrominge wat hulle beroep op allerlei stelle data om die stand van die land te verduidelik en voorspellings te maak. Die wyse waarop die data aangebied word bring die publiek dikwels onder die indruk dat hierdie kenners onskuldige en passiewe draers van koersbepalende inligting is (wat toevallig strook met die agendas van hulle befondsers). Een van die datastelle dui op die enklawefisering van Suid-Afrika, as alternatief teen infrastruktuurverval. Hierdie Estatopie word veral deur die Common Sense platform onder leiding van Frans Cronje voorgestaan. Die ou gesegde kom hier ter sprake dat statistieke soos bikini's is – dit onthul baie, maar die belangrikste bly weggesteek. Hoewel die toename van enklawes oral sigbaar is, sal dit, soos ek gaan betoog, geen volhoubare oplossing vir die land bied nie en in baie opsigte nuwe ongunstige omstandighede skep. Wat word verhul in die verbrokkeling van dorpe en die uitbreiding van komplekse? Dit is waar ek die begrip van die ‘derde plek’ ter sprake wil bring soos deur Ray Oldenburg in sy boek The Great Good Place uiteengesit.
Die naam ‘derde plek’ verwys na 'n verhouding tot twee ander plekke, die huis en die werk. Elkeen van hierdie ruimtes is van kernbelang vir 'n persoon, maar beide ruimtes is ook beperk in die blootstelling wat mens aan die publieke lewe kry. Die derde plek is dan tegelyk 'n tussenruimte tussen die huis en die werk, maar speel 'n belangrike rol in die vorming van 'n openbare lewe. Die literêre kritikus, George Steiner, beweer selfs dat die derde plek een van die vernaamste karaktertrekke van die ‘Idee van die Weste’ is. Moderne derde plekke vind sy oorsprong by die Griekse Agora (die mark) en die Romeinse Forum, en het later vertak na die woongebiede. Griekeland en Italië beskik vandag steeds oor 'n gesonde straatlewe en straatkafees. Derde plekke verteenwoordig dan in moderne gewaad plekke soos kafees, markte, feeste, haarsalonne, kroeë en gimnasiums. Vir Oldenburg verteenwoordig die Franse stadsuitleg die indrukwekkendste voorbeeld van derde plekke: “The Frenchman’s daily life sits firmly on a tripod consisting of home, pigee of work, and another setting where friends are engaged during the midday and evening aperitif hours, if not earlier and later.”
Daar is by die moderne derde plek iets van 'n ontsnapping uit die druk van die ander twee ruimtes, maar dit behou ook elemente van die huislike gevoel, asook die ekonomiese lewe. Die etiket van beide huis en werk is by die derde plek ter sprake. Die derde plek ontkom egter aan die meer voorskriftelike bepalings van beide. Daar is 'n spontaniteit te vinde in die derde plek, wat 'n belangrike rol speel in die vorming van die sedelike lewe van 'n gemeenskap. Hierdie spontaniteit beteken egter nie dat enigiets daar geoorloof word nie. Selfs in 'n plek soos die kroeg word onderskeid getref tussen diegene wat te min geniet, en die wat hulle vergryp, tussen vulgariteit en preutsheid, tussen goeie smaak, fiemies en puntenerigheid. Aanlyn ‘gemeenskappe’ daarenteen, is geneig om groteske en eensydige eggokamers te skep. Mense gaan juis na 'n derde plek om daar te verwyl, in die wete dat die bekende én die onverwagse, vriend en vyand dieselfde doen.
Die Amerikaanse suburbs, wat in die laaste eeu as model en ideaal vir ons plaaslike woonbuurte, veral in die noorde van ons land, gedien het, het volgens Oldenburg 'n belangrike tekortkoming gehad: “What suburbia cries for are the means for people to gather easily, inexpensively, regularly and pleasurably, – a place on the corner, real life alternatives to television”. Die meenthuiskomplekse het egter hierdie fisiese afstand verder uitgebrei en boonop in die binnehuisuitleg weggedoen met die eetkamertafel, want nou word eet gekombineer met televisiekyk. Die televisie word die fokuspunt van die gesinslewe en dien as plaasvervanger vir die publieke ruimte (tele-visie beteken immers om van ver af te sien). Met die gerief van aanlynbestelling word die afstand tussen die ver sien en die produk oorkom sonder dat die verbruiker die winkel hoef te besoek, wat 'n verdere uitskakeling van publieke interaksie bewerkstellig.
'n Supermark en 'n inkopiesentrum waar inkope gedoen is en steeds gedoen word kan egter nie heeltemal gelykgestel word aan 'n derde plek nie. Die inkopiesentrum het 'n dringendheid en winsbejagte doelmatigheid daaraan, terwyl dit grootliks afgesper is van die buitewêreld en die straat. Main Street in New York is vir Oldenburg 'n cast of characters, terwyl daar by die inkopiesentrum 'n “drifting amalgam of nonpersons” aangetref word. Hoewel ons dieselfde mense by laasgenoemde mag raakloop, is die uitleg van die inkopiesentrum dikwels van so 'n aard dat dit nie verwyling (of sloer soos dit by Ontlaer genoem word) aanmoedig nie. Marc Augé beskryf in sy boek oor ‘supermoderniteit’, met die veelseggende titel Non-places hoe ons gedesensiteer raak deur die nuwe uitleg en tegnologie: the habitue of supermarkets, slot machines and credit cards communicates wordlessly, through gestures, with an abstract, unmediated commerce; a world thus surrendered to solitary individuality, to the fleeting, the temporary and ephemeral.
Die antwoord op hierdie toedrag van sake is nie nostalgie na 'n spesifieke gestalte van die derde plek nie, maar om 'n konstante herbedinging daarvan te bedink én te prakseer. Daar is steeds dorpe waarin die belangrike ou geboue as plekke van byeenkoms dien vir locals wat mekaar daar ontmoet vir 'n ontbyt, maar ewe vriendelik die besoeker te woord staan wat na ‘outentieke’ ervarings op soek is. Die leser sal vra waarom outentiek nou juis in parentese gestel moet word. 'n Derde plek is nie outentiek op 'n verstokte manier nie, dit is by uitstek bewus van sy lokaliteit, dit wil sê van sy gemeenskap en sy geskiedenis, maar ook van sy verhouding tot die wêreld ‘daarbuite’, tot ander derde plekke. Dit bly op soek na buite-elemente en tegnologie wat geïnkorporeer kan word op so 'n wyse dat dit sy identiteit kan versterk. Derde plekke moet daarom put uit die verhouding met die plaaslike inwoners en hulle nie vervreem van die produkte wat meermale deur plaaslike inwoners gemaak word ter wille van toeriste se dieper beursies nie. So 'n suiwer toeristiese ingesteldheid gee aanleiding tot verdiepende ongelykheid, wat meeste toeriste afskrik.
Sonder derde plekke word dorpe en stede eenvorming en oninteressant. Min mense wil ander dorpe besoek net om na inkopiesentrums met dieselfde winkels te gaan.
Sonder derde plekke verloor buurte, dorpe en stede 'n belangrike kern van hulle identiteit.
Sonder derde plekke verloor 'n gemeenskap en samelewing die gewilligheid om mekaar in die oë te kyk en sake deur te praat, en om na die stories agter die slagspreuke te luister. Die verdwyning van derde plekke hou daarom volgens Christopher Lasch direk verband met die afname in deelnemende demokrasie.
Demokrasie word begrond in keuse, nie in die fatalisme van data nie. Keuse word ingelig deur die ruimtes waarin mens beweeg, die huis, die skool, die kerk, die werk. Elkeen van hierdie ruimtes bied belangrike perspektief sonder om die geheel te omvat. Die derde plek bied juis die ruimte waarin die relativering en blywende dimensies van plekke in verhouding gebring word in die skerts, die empatie, die redekawel, die uitluister en meelewing van die gemeenskap.
Dr Hercules Boshoff is 'n Medewerker by die Instituut vir Filosofie en die Samelewing, Stellenbosch. Sy nuutste boek Verantwoording is tans beskikbaar by Naledi uitgewers.
Nog artikels deur Dr Hercules Boshoff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.








