'n Aantal skrywes het onlangs die lig gesien na aanleiding van Mark Carney se toespraak oor die einde van die sogenaamde “reëlgebaseerde” orde.
Prof. Koos Malan vestig die aandag op die magsbalanse, prof. Pieter Duvenage op herskikkings en Frederik van Dyk op die retoriek wat in omloop is. Elkeen van hierdie bydraes belig belangrike invalshoeke, en daarom is dit belangrik om deeglik ag te slaan op die oogpunte. Dit is duidelik dat die tyd van herbesinning oor die samestelling van wat ookal getel het onder die begrip “wêreldorde” aangebreek het. Hierdie en talle ander bydraes– sommige meer versigtig as ander, dui stadig die koers van 'n pad aan wat nie anders as deur interpretasie bepaal kan word nie.
Prof. Malan wys op die einde van die sogenaamde reëlsgebaseerde orde ten gunste van een wat sterker op die werklikhede op grondvlak gefokus is. Tereg vra hy in watter mate hierdie orde in die eerste plek geskoei was op reëls, eerder as in “reëlings”, grootliks ten gunste van 'n oorheersende party, naamlik die VSA, oor 'n aantal dekades? Matt Kennard se boek, The Racket, bevestig die strategie opsommend: “Imperialism had changed its face, or in fact hidden its face.” Dit was 'n tyd van sagte mag. Indien dit waar is, soos prof. Malan beweer, dat hierdie reëls alleen gegrond was in magsverhoudings (soos ontnugteringsmomente ons dikwels in die geskiedenis wysmaak) sal dit genoeg rede wees om weg te doen met die begrip van internasionale politiek wat rondom 'n stel ooreenkomste handel?
Om die koers te bepaal beteken ook om die oorsprong van die pad na te speur. Die reëlsgebaseerde orde is volgens Robert Gilpin gebaseer op drie post-oorlogse meevallers: Eerstens die dollar as ruilmiddel, tweedens die VSA se ontwikkeling van atoomoorlogvoering en derdens die uitbreiding van die multinasionale korporasie. Gilpin bevestig die verhouding tussen ontwikkeling van die multinasionale maatskappy en Amerikaanse belange in sy werk US Power and the Multinational Corporation: The Political Economy of Foreign Direct Investment:
“[T]he corporations and the United States government have tended to share an overlapping and complementary set of interests.”
Ons moet onthou dat die oorspronklike bedoeling van Adam Smith se bekende begrip van die onsigbare hand een was waarin die maatskappye 'n voorkeur vir plaaslike bo buitelandse arbeid sal koester. Die latere uitleg van die onsigbare hand is dat dit bloot oor die selfsugtige individu handel wat sy of haar behoeftes sonder inagneming van ander bevorder, in hierdie geval die bestuurders van wat later transnasionale maatskappye genoem is. Hierdie bestuurders dra nie meer primêr die belang van hul mede-burgers op die hart nie, maar eerder die “bottom line” van wins en die uitbreiding van korporatiewe belang. Vir 'n aantal dekades was die uitbreiding van korporatiewe belang grootliks belyn met die Amerikaanse uitbreidingsdrif, totdat China die prentjie bederf het.
Die stelsel is stelselmatig deur China deur uitgebuit hoofsaaklik met die verskaffing van goedkoop arbeid. Ons onthou nog hoe die Chinese maatskappye ons tekstielbedryf, en daarmee saam die Proudly South African-beweging so te sê gesink het. Die hoeveelheid Chinese voertuie op ons paaie is 'n meer hedendaagse en opmerklike voorbeeld van die uitdaging wat dit vir maatskappye van ander plekke inhou.
Die samestelling en beleid van die orde, wat nou weens verskeie faktore waarvan ek enkele bespreek het, wankel, en dit is nog onbekend waarmee dit vervang gaan word. Ondertussen poog Trump om 'n kortpad te kies sonder lang verposing om Amerika se posisie in die wêreld te versterk. Dit lyk onwaarskynlik dat die VSA die geografiese reikwydte gaan behou wat dit sedert die einde van die tweede wêreldoorlog gehad het, en daarom probeer dit soveel moontlik mag in die omstreke vestig. Nie alleen hierdie poging nie, maar miskien nog meer die wyse waarop dit aangepak word, laat vraagstukke oor die langtermyn gevolge wat hierdie stappe vir die VSA en die wêreld inhou.
Dit bring ons terug by die vraagstuk wat ons vroeër genoem het, naamlik in watter mate reg bloot 'n uitvloeisel van mag is of behoort te wees?
Filosofie, die Reg en die Werklikheid
Dit verbaas my nie dat prof. Malan hom soos 'n wafferse aanklaer in die hof uitlaat wanneer hy beweer dat filosowe diegene is wat vanuit die hoogtes abstrakte beginsels op die samelewing wil adwing, terwyl dit bekwame regslui (gesuiwer van ideologie) is wat hulle bepaal by wat op voetsoolvlak aangaan nie.
Ek twyfel egter vir geen oomblik dat hy goed weet dat die filosowe wat hy op die getuiebank plaas, Aristoteles, Arendt en Habermas, nie so “onkundig” was wat regsake aanbetref as wat sy betoog beweer nie. Nogtans is dit nodig om kortliks die akkuraatheid van die aantygings, wat die oorbekende anti-intellektualistiese tendense in ons geledere versterk, te weerlê, soos 'n mens trouens die geleentheid kry om in die hof te doen. Afgesien van die oorlewering dat Aristoteles bygedra het tot die boekstawing van die grondwette van 158 Griekse state, was hy ook die leermeester van Aleksander die Grote, wat tersaaklik is vir die aantyging dat hy geen kundige op die terrein van internasionale reg was nie. Aleksander was daarvoor bekend dat hy seggenskap en minstens kulturele outonomie toegestaan het aan die talle volke wat die Grieke verower het.
Dit bring ons by die volgende “onkundige” filosoof in die reg, Hannah Arendt. Haar denke was allermins ontleen uit leë abstraksies, maar afkomstig uit haar ervaring as vlugtende Jodin uit Nazi-Duitsland. In haar belangrike werk oor die opkoms van totalitarisme, doen sy beroep op die “reg tot regte” van minderheidsgroepe in plekke waar daardie groepe nie politieke beheer uitoefen nie. 'n Belangrike en heel praktiese begrip hier in Suid-Afrika.
Hegel gee egter toe in sy Grondbeginsels van die Filosofie van die Reg dat reg dikwels deur onreg voorafgegaan word. Dit is byvoorbeeld nie duidelik hoe eiendom oorspronklik toegestaan is nie, en dat mense (slawe en selfs eggenote) as eiendom beskou is. Hoewel mense nie meer as slawe beskou word nie, behou ons nog die begrip van eiendomsreg, een van die pilare van ons regstelsel. Dit sê egter nie dat wetgewing 'n blote spieël behoort te wees vir dit wat op grondvlak plaasvind nie. Stelselmatig word regsbegrippe verder uitgewerk totdat dit bydra tot wat Hegel noem die verwesenliking van vryheid, wat die doel van die reg is.
Maar is vryheid en mag ten slotte nie teenpole nie? Nie noodwendig nie. Die bemagtiging van die burgery dra by tot 'n florerende samelewing, soos ek in my boek probeer aantoon. Wanneer bemagtiging egter in effek ontmagtiging word om 'n elite (in ons geval 'n groep wat saamgestel is uit hoofsaaklik wit kapitaliste en swart politici) ten koste van die samelewing te bevoordeel, word mag teenoor vryheid opgestel. Vryheid hou verband met die teregkom van die mens in sy individuele én gemeenskaplike bestaan. Hegel se bekende uitspraak in die filosofie van die reg is “was vernünftig ist, das ist wirklich; und was wirklich ist, das ist vernünftig” (wat redelik is, is werklik, en wat werklik is, is redelik) wys op die noue verband wat in die reg moet bestaan tussen nadenke en die werklikheid, en dat daar nie 'n keuse behoort te wees tussen die twee nie.
Dr Hercules Boshoff is 'n navorser en skrywer, tans woonagtig in Stellenbosch. Sy nuutste boek Verantwoording is tans beskikbaar by Naledi uitgewers.
Nog artikels deur Dr Hercules Boshoff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









