Onderhoud | Habermas, Kritiese Teorie en ons tyd
Dr Hercules Boshoff in gesprek met Professor Pieter Duvenage oor die Duitse filosoof Jürgen Habermas (1929-2026).
Die afsterwe van die Duitse filosoof, Jürgen Habermas, op die ouderdom van 96 het die aandag opnuut gevestig op sy nalatenskap. Professor Pieter Duvenage, wat 'n wyle onder Habermas studeer het, het onlangs op Litnet 'n huldeblyk aan Habermas geskryf. Hier volg 'n paar vrae aan prof. Pieter oor Habermas.
1. Eerstens, (Prof.) Pieter, jy vermeld Habermas as een van die groot figure van die Europese denkwêreld. Hy is gekoppel aan die Kritiese Skool van Frankfurt. Vandag word hierdie skool onder andere met Critical Race Theory verbind. Waar pas Habermas binne die trajek van Kritiese Teorie? Is sy posisie nog oorheersend binne die Kritiese Teorie?
Habermas behoort tot die sogenaamde tweede generasie van die Frankfurter Skool, maar dit sou misleidend wees om hom direk met hedendaagse vertakkings soos Critical Race Theory te vereenselwig. Om hom eenvoudig in daardie kamp te plaas, is nie net histories onakkuraat nie, maar filosofies oppervlakkig. Hy bou voort op denkers soos Horkheimer en Adorno, maar doen dit op 'n eie manier. Waar die vroeë Kritiese Teorie dikwels die moderne wêreld hoofsaaklik as 'n ruimte van vervreemding en gemanipuleerde rasionaliteit verstaan het, probeer Habermas juis die onvervulde belofte van die moderniteit herwin – veral soos dit sigbaar word in taal, reg en demokratiese gesprek.
Met hom skuif Kritiese Teorie dus vanaf 'n oorwegend ontmaskerende projek na 'n rekonstruktiewe een: nie net kritiek op mag nie, maar ook die vraag na die voorwaardes waaronder 'n samelewing redelik en regverdig kan wees. In dié sin bly hy 'n sleutelfiguur. Maar sy posisie is nie meer oorheersend nie. Die veld het verbreed en gefragmenteer, met invloede uit poststrukturalisme, identiteitsgebaseerde benaderings en dekoloniale denke.
Nogtans bly Habermas belangrik, juis omdat hy binne hierdie verskeidenheid 'n normatiewe anker bied. Hy herinner ons daaraan dat kritiek nie net moet ontmasker nie, maar ook moet kan verantwoord waarom sekere vorme van samelewing verkiesliker is. Vanuit my eie perspektief sou ek sê: Habermas bly onmisbaar, maar nie voldoende nie – sy denke vra om aangevul te word deur praktiese oordeel en hermeneutiese sensitiwiteit, dit wat ek as bewegende denke beskryf.
Wat egter dikwels onderbelig bly, is die ontwikkeling in sy onderliggende werklikheidsbeskouing. In sy vroeë werk – veral vanaf die 1980’s – werk Habermas met 'n postmetafisiese verstaan (sonder vaste metafisiese grondslag) waarin normatiwiteit (idees van reg en regverdigheid) uit kommunikatiewe praktyke voortkom. Vanaf die vroeë 2000’s sien 'n mens egter 'n verruiming, waar hy met die begrip van 'n postsekulêre samelewing werk (waar religie steeds 'n rol speel) en die verhouding tussen geloof en kennis heropen. Dit kulmineer in sy laaste groot werk, met die subtitel Geloof en Kennis.
Die belangrike punt is: Habermas begin hier die grense van 'n suiwer immanente kommunikasie-model raak ('n model wat alles binne menslike rede en gesprek wil hou). Dit laat die vraag ontstaan of kommunikasie nie eerder ingebed is in 'n ryker werklikheid nie – een wat ook tradisie en selfs transenderende bronne van betekenis (soos religie en kulturele erfenisse) insluit.
.
2. Jy het die voorreg gehad om as student tyd onder Habermas deur te bring. Watter herinneringe staan vir jou uit van hom as mens, maar ook as denker?
My herinneringe aan Habermas as nagraadse student is geskakeerd. In die akademiese ruimte was hy intellektueel uiters streng en argumentatief skerp. Hy het van jou verwag om jou standpunt helder te formuleer en dit met goeie redes te dra. Jy kon eenvoudig nie onvoorbereid by hom opdaag nie.
Maar buite die formele akademiese ruimte was daar ook 'n ander kant. In persoonlike gesprekke was hy hoflik en eerder gereserveerd. Wat my opgeval het, was sy bereidheid om te luister. Ten spyte van sy polemiese vermoë was hy nie bloot 'n denker wat praat nie, maar iemand wat aandagtig kon luister na die argumente van ander.
Wat my die sterkste bybly, is egter sy morele erns. Filosofie was vir hom nie bloot 'n spel van idees nie, maar 'n antwoord op 'n historiese vraag: hoe 'n moderne samelewing moreel kan ontspoor. Dit is juis hierdie erns wat vandag dikwels ontbreek in 'n era van vinnige menings en oppervlakkige veroordeling.
3. Jy vermeld dat Habermas die voorwaardes vir redelike gesprek in die openbare domein bepleit. Tog word sommige onlangse vertakkings van Kritiese Teorie geassosieer met kansellasiekultuur. Sou 'n mens van 'n kloof binne die Kritiese Teorie kon praat?
Ja, daar is beslis 'n spanning. Habermas se projek rus op inklusiewe gesprek, wedersydse erkenning en wat hy die “dwanglose dwang van die beter argument” noem – die idee dat mense deur rede tot beter insig kan kom.
Sommige hedendaagse strominge funksioneer egter anders: identiteit weeg soms swaarder as argument, en morele posisionering vervang gesprek. Waar dit gebeur, skuif die fokus van oortuiging na uitsluiting, en daar ontstaan die logika van kansellasiekultuur – van links én regs.
Eenvoudig gestel: wanneer mense nie meer probeer oortuig nie, maar stilmaak, verdwyn die kern van kritiese denke. Kritiese teorie veronderstel juis 'n kultuur van selfkritiek – soos Van Wyk Louw dit sou stel – waar ook ons eie oortuiginge bevraagteken bly. Vanuit my eie benadering: ware kritiek bly in beweging tussen erkenning en oordeel – ferm, maar nooit doof vir die ander nie.
4. Ons leef in 'n plurale samelewing en wêreld. Dit lyk soms asof ons met twee swak opsies gekonfronteer word: enersyds kan ons onsself sien as globale verbruikers, en andersyds as lede van afgesonderde kulture. Sou Habermas met een van hierdie twee opsies tevrede wees?
Ek dink nie Habermas sou met een van die twee tevrede wees nie. Die eerste opsie reduseer die mens tot 'n ekonomiese funksie; die tweede dreig om die openbare sfeer te fragmenteer.
Habermas se alternatief sou eerder die idee van burgerskap wees: mense as deelnemers aan 'n gedeelde openbare rede, binne 'n samelewing waar verskillende lewensvorme bly voortbestaan. Hy probeer dus ’n pad oopdink tussen abstrakte universalisme en kulturele afsondering.
Dit is juis hierdie middelpad wat vandag onder druk is – en wat doelbewus herwin moet word.
Juis hier sluit my eie denke ook deels by hom aan. Die uitdaging is om deur oordeel en gesprek tussen hierdie pole te beweeg – 'n dinamiese balans eerder as 'n vaste oplossing. Dit is waar praktiese wysheid onontbeerlik word.
5. Hoe sou jy Habermas se denke oor die Europese samelewing rondom die draai van die eeu opsom?
Habermas het Europa as 'n onvoltooide normatiewe projek verstaan. Dit is vir hom 'n poging om regstaat, demokrasie en menseregte te institusionaliseer, maar een wat voortdurend onder druk is.
Hy was bewus van spanninge soos markkragte, tegnokrasie en populisme. Sy antwoord was nie om terug te keer na nasionalisme nie, maar om te dink in die rigting van 'n postnasionale konstitusionalisme.
Wat opval, is dat hy, ten spyte van sy skerp kritiek, nooit die normatiewe ideaal van moderniteit prysgee nie. Sy denke word juis gekenmerk deur 'n spanning tussen kritiek en hoop – 'n spanning wat vandag, in 'n tyd van groeiende onsekerheid, besonder waardevol bly.
6. Hoe sou Habermas iets soos die RNE in Suid-Afrika beoordeel?
Habermas sou waarskynlik by die kwaliteit van die proses begin. Die vraag sou wees of die RNE (Regering van Nasionale Eenheid) op werklike oorleg berus en of dit ruimte skep vir wedersydse erkenning. Hy sou waarskynlik positief wees oor die beginsel van pluraliteit en samewerking, maar ook krities vra oor die gehalte van die openbare debat en demokratiese legitimiteit.
Vanuit my eie perspektief sou ek byvoeg dat die RNE minder 'n oplossing as 'n geleentheid is – maar ook 'n toets: dit sal wys of ons werklik tot gesprek in staat is, of bloot tot taktiese samewerking.
7. Wat was Habermas se visie vir die mens van die toekoms – veral in 'n tyd van digitalisering en kunsmatige intelligensie?
Habermas was versigtig optimisties, maar nooit onkrities nie. Uiteindelik kom alles by 'n dieper vraag uit: hoe verstaan Habermas die mens self? Dwarsdeur sy werk – van die teorie van kommunikatiewe handeling tot sy latere refleksies oor religie en die post-sekulêre samelewing – bly die mens vir hom in wese 'n kommunikatiewe wese. Dit is 'n wese wat nie primêr deur berekening of mag gedefinieer word nie, maar deur die vermoë om redes te gee, ander te erken en in 'n gedeelde wêreld van betekenis te leef.
Teen die agtergrond van die voorafgaande vrae kan 'n mens sê: Habermas se mensbeeld staan teenoor sowel die reduksie van die mens tot verbruiker (stelsel) as tot geslote identiteit (kultuur). Die mens is eerder 'n deelnemer – iemand wat in gesprek tree, wat homself kan korrigeer, en wat saam met ander normatiwiteit kan dra.
Maar indien kommunikasie self instrumenteel of gemanipuleer word – deur tegnologie, ideologie of mag – dan word die mens nie net beperk nie, maar fundamenteel vervorm.
Juis daarom is die bedreiging van ons tyd vir hom nie net tegnologies nie, maar antropologies: wanneer kommunikasie vervang word deur manipulasie, of oordeel deur algoritme, word die mens se kernvermoë aangetas. Die werklike vraag is dus nie net of ons slimmer tegnologie sal hê nie, maar of ons nog mense sal wees wat kan oordeel, luister en verantwoord.
Dr Hercules Boshoff is 'n navorser en skrywer, tans woonagtig in Stellenbosch. Sy nuutste boek Verantwoording is tans beskikbaar by Naledi uitgewers.
Nog artikels deur Dr Hercules Boshoff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.








