Die Nadraai van March and March
Suid-Afrika se eindelose siklus van woede, armoede en staatsverval.
Met die huidige lawaai oor onwettige immigrante in Suid-Afrika, wat weer op 30 Junie 2026 tydens die March and March-veldtog 'n klimaks bereik het, het die townships weer prominensie gekry. Dit is natuurlik weens die feit dat by verre die meeste onwettige immigrante hulle in die townships bevind. Dit is dan ook veral in die townships waar die meeste protesoptogte plaasgevind het, hoewel sentrale sakekerns ook geraak is. Almal slaak 'n sug van verligting dat die veldtogte meestal vreedsaam afgeloop het, met min kriminele oortredings wat daaruit voortgespruit het — iets wat al dikwels in die verlede wel gebeur het.
Die regering het nou, soos gewoonlik, weer baie beloftes oor verbeterde toekomstige beheer oor onwettige immigrasie gemaak. Die meeste mense neem dit maar met 'n knippie sout, gegewe die huidige regering se swak rekord wat staatsadministrasie betref. Die optogte het weereens getoon dat Suid-Afrikaners nie op hul eie regering kan staatmaak wat bykans alle dienste betref nie. So tragies soos dit is, faal die Suid-Afrikaanse regering voortdurend daarin om sy deel van die sosiale kontrak tussen regering en burgers na behore na te kom.
Die burgers begin daarom toenemend self optree — as individue of as groepe/massas — of hulle skep en gebruik hul eie instellings, soos private sekuriteitsmaatskappye, om hul veiligheid te verseker. 'n Rits ander diensvakuums wat die staat se onbevoegdheid voortdurend skep, word ook daagliks gevul deur inisiatiewe van die burgers self. Daar is talle voorbeelde, waarvan die herstel van slaggate in paaie dalk die bekendste is. En wie het nog nie 'n man van die straat af gesien wat die verkeer reguleer by 'n kruising waar die verkeersligte buite werking is, maar waar geen verkeersbeampte in sig is om die taak te verrig nie? Die gewillige en vrywillige burger hoop maar op 'n fooitjie van 'n motoris in die verbyry, as hy gelukkig is, al stel hy daadwerklik sy eie lewe op die spel.
Die punt is dat Suid-Afrikaanse burgers óf met sweet (“sweat equity”) moet betaal deur self fisies in te gryp waar die staat faal, óf twee maal moet betaal vir dieselfde dienste: eerstens deur belastinggeld vir dienste wat veronderstel was om gelewer te word, en dan 'n tweede keer uit eie sak om werklike dienste te verkry — dienste wat van buite die staatsektor bekom word. Die derde opsie is om maar bloot voort te ploeter sonder baie van die noodsaaklike dienste, of om met onvoldoende dienste te probeer saamleef, omdat daar nie geld is om vir 'n tweede keer te betaal nie. En dit bring ons dan weer terug by die townships en hul miljoene inwoners.
Hoewel mense buite die townships in die media kennis maak met die townships — of in die verbyry op 'n deel van 'n hoofweg wat 'n mens so gou as moontlik in jou agterspieëltjie wil sien — was die meeste nog nooit in 'n township nie. Daarom is dit werklik moeilik om die townships regtig te verstaan. Ons townships is belewenisse vir ons “umlungus”, soos daar dikwels na ons as witmense verwys word. En glo my: ons staan nog steeds daar uit soos — kom ons sê maar — “seer vingers” as ons daar rondbeweeg, te voet. Ons word gesien.
Op 'n goeie dag word ons met bykans verbasing en vriendelikheid begroet, en ook met verwelkoming, want wie wil nou nie sy of haar tuiste wys waarop hy of sy trots is nie, al is dit hóé nederig. Dit het dan dikwels ook 'n klein tuinjie, want afvalwater word nie gemors nie. Natuurlik is daar ook buurte in die townships met wonings wat met dié in Waterkloof vergelyk kan word, maar hulle is ver in die minderheid. Wat ook dikwels vreemd is, is 'n luukse huis of twee in 'n see van nederige ou apartheidsera-huisies. Ek het daaroor navraag gaan doen, want buite die townships sal 'n mens omtrent nooit groot beleggings in luukse huise in minder gegoede woonbuurte sien nie. Komende vanuit die woonbuurte buite die townships self, verstaan ek dit in die buite-township-konteks: dit is eenvoudig swak beleggings, want jy sal waarskynlik nooit die geld wat jy belê het, terugkry as jy wil of moet verkoop nie. Dit sal ook jou eie geld wees wat jy daar belê het, want banke sal baie onwaarskynlik verbande toestaan vir luukse wonings in sulke areas.
Maar hoekom is dit dan anders in sommige townships? Die hoofrede is dat omtrent almal in die townships oor geen eiendomsreg in die tradisionele aktekantoor-sin van die woord beskik nie. Sulke wonings in sulke areas is dus verbruiksgoedere, soos ons ekonome sê, en nie kapitaal- of beleggingsgoedere nie. Banke sal nie met 'n tang aan sulke verbandlenings raak nie. Die wonings het geen finansiële sekerheidswaarde as waarborg vir verbandlenings nie. Alle bekende finansiële transaksionaliteite, met uitsonderings natuurlik, is dus steeds nie operasioneel in die townships nie.
Kontant bly veral koning in die townships se deursnee-buurtes, waar die meerderheid onder nederige omstandighede woon, om die minste te sê. Bankkaarte word wel toenemend in spaza-winkels en ander township-besighede gebruik, omdat kaartlesers nou geredelik beskikbaar is. Maar dit is met kontant dat jy jou gunsteling-shebeen besoek, of jou shisa nyama (braaivleis) en boerewors direk van die braaier af koop; tussen die rook van die oop vure en die watertand reuke van vet wat op die kole drup. Dit is jollie-patrollie heeltyd, met jou Black Label Quart in die hand wat nie die gebraaide vleis of boerewors vashou nie. Lekker kwaito-musiek blêr op die hi-fi uit 'n vorige era; en deesdae ook die gewilde amapiano.
Dit is in sulke townships, met hul vrolike vibes op goeie dae, waar die onwettige immigrante hulself ook bevind, of bevind het voordat hulle vir hul lewens moes vlug. Baie van die vleis en boerewors en bier en meel vir die mieliepap het uit daardie “vreemdelinge” se spaza-winkels gekom. Hulle kon verkoop omdat hul pryse goed was. Dit was beter as die spaza s’n wat deur 'n Suid-Afrikaner bedryf is. En daar was 'n rede daarvoor. Die “vreemdelinge” leef uiters nederig. Hulle werk hard en vir lang ure, sewe dae 'n week. Daar is nie afdae nie. Daar is nie geld vir meer as net die mees basiese bestaansmiddele nie. Elke ekstra sent word in die besigheidjie teruggeploeg. Sy en sy familie se spaza is ook aan die agterkant sommer hul huisie. Die hele familie is op een of ander manier by die besigheidjie betrokke. Almal help, selfs die kinders, want baie van hulle kon nie plek in die township-skool kry nie.
Wat die “vreemdeling” se situasie en noodgedwonge ingesteldheid, soos hierbo beskryf, in ekonomiese terme beteken, is dat hulle 'n mededingende voordeel bo hul Suid-Afrikaanse mededingers het. Hulle kan dus hul ware teen beter pryse verkoop. Dit staan die Suid-Afrikaanse mededinger geensins aan nie. Inteendeel, dit maak hom diep die dinges in om te sien hoe potensiële kliënte by sy spaza verbystap om dieselfde ware goedkoper by die “vreemdeling” se spaza te gaan koop.
Ongelukkig is dit net daar waar ubuntu vergete raak. Daar word met 'n paar ander Suid-Afrikaanse spaza-winkel-eienaars indaba gehou, 'n paar tsotsis word nader geroep, iets in die hand gestop en in die oor gefluister — en die res is tragiese geskiedenis wat soos déjà vu in Suid-Afrika ervaar word, veral sedert 1994.
Maar gaan dit einde kry met ons huidige regering se skielike ontwaking oor 'n probleem wat meer as 30 jaar oud is en waarvoor daardie selfde regering pa moet staan? Die vraag is retories, want my opinie is dat dit nie sal gebeur nie. In elk geval nie voordat Afrika-lande wat die lande van herkoms van ons “vreemdelinge” is, baie beter presteer nie. Al bly Suid-Afrika in ekonomiese terme onderpresteer, is die trekkrag van die grootste ekonomie in Afrika net té groot. Die onwettige inkommers neem rasionele ekonomiese besluite, uit hulle oogpunt gesien: hulle weeg die potensiële Suid-Afrikaanse voordele op teen die waargenome nadele van hul eie lande van herkoms. Hulle tree dan op soos homo economicus (die ekonomiese mens) optree: as die voordele meer blyk te wees as die nadele, sal hulle deur doringdrade kruip en deur riviere vol krokodille swem. En as hulle eers hier is, is dit geensins onmoontlik om tussen 65 miljoen mense weg te kruip nie. En onthou: die township-mense wat nou veel meer by die Suid-Afrikaners se spaza-winkels betaal as wat hulle by die “vreemdelinge” s’n betaal het, gaan nie weer so ernstig March and March nie. Ná alles is hulle ook deel van die homo economicus-spesie wat uit hul oogpunt rasionele ekonomiese besluite neem.
My tese is dat as ons regering net daarin kon slaag om die tsotsis onder beheer te hou, dienste soos onderwys en gesondheid op 'n redelike standaard te bedryf, en die ekonomie te laat groei — wat die skepping van werksgeleenthede moontlik sou maak — March and March minder aftrek sou kry. Ek sien werklike ubuntu-ingesteldhede by gewone township-inwoners wat nie per se xenofobies is nie. Hulle is ontsaglik mededeelsaam en verdraagsaam, maar ook weens misdaad, werkloosheid, armoede en ’n tekort aan dienslewering deur die staat vatbaar vir beïnvloeding tot optrede wat teen hul normale ingesteldhede indruis.
Die kort en lank van my persoonlike opinie, op grond van praktiese en teoretiese ervaring en kennis van wat nog lank gaan voortbestaan as die township-leefwêreld in Suid-Afrika, is dat die stof weer sal gaan lê, die regering weer moeg sal raak om sy plig te doen, en dat die “vreemdelinge” weer hul intrek sal neem in die townships, waar die meerderheid bloot anderkant toe sal kyk en weer sal gaan koop waar dit die goedkoopste is: was, spoel en herhaal.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










