Afrikaners het voor die weste wakker geword
Afrikaner-selfbeskikking is 'n moderne antwoord op globalisme.
Wanneer Afrikaners met die strewe om oor hul eie lot te beskik, daarvan beskuldig word dat hulle hunker na die dae van apartheid — wat dikwels gebeur — is dit blote moedswilligheid en/of onkunde. Of, meer dikwels, 'n samevoeging van die twee. Om die waarheid te sê, Afrikaners met hul vryheidstrewes was hul tyd ver vooruit.
Die middel-1830’s was die begin van die Afrikaners se Groot Trek. Dis hoe oud hul strewe na selfbeskikking is — 'n strewe waarvoor hulle so sterk gevoel het dat hulle vanaf die Kaap die onbekende binneland aangedurf het met net dit wat hulle in ossewaens en op pakdiere kon laai, of op die hoef kon aanjaag.
Die uitkoms van die Groot Trek is welbekend: Afrikaners het met geweldige opofferings daarin geslaag om hul eie republieke te stig; het 'n bloedige oorlog teen die magtige Britse Ryk geveg; het 'n dekadelange ondergeskikte posisie teenoor die Britse koloniale mag beklee; het uiteindelik daarin geslaag om weer in 1961 'n eie onafhanklike republiek binne die totale grensgebied van Suid-Afrika te vestig en het daardie Afrikaner-beheerde republiek toe vrywillig oorgegee aan 'n multikulturele Regering van Nasionale Eenheid (RNE), wat spoedig verander het in 'n ANC-gedomineerde hegemoniese staat toe die RNE in 1997 ontbind het.
Moderne Baanbrekers
Die Afrikaners se ou-ou strewe na selfbeskikking is dus onbetwisbaar. Maar wat wel betwis kan word, is die politieke diskoers wat Afrikaners se strewe na kulturele vryheid as iets kleingeestigs wil tipeer, asof Afrikanerdenke oor die onderwerp uit pas is met die denke elders ter wêreld. Dit is eenvoudig onwaar.
Trouens, daar kan met vertroue beweer word dat Afrikaners baanbrekerswerk op die gebied van selfbeskikking gedoen het. Dit kan ook gedemonstreer word dat Afrikanerdenke oor selfbeskikking in pas is met die denke van groot kontemporêre internasionale denkers daaroor — denke wat rigtinggewend is en getuig van Afrikaners se rasionele strewe na 'n bedeling wat 'n gesonde teenpool bied vir die mislukkende wêreldtendens van onbeperkte globalisme en hiperliberalisme.
Patrick Deneen (Why Liberalism Failed, 2018, en Regime Change: Toward a Postliberal Future, 2023) is 'n Amerikaanse professor in politieke wetenskap aan die Universiteit van Notre Dame. Hy word beskou as een van die belangrikste argitekte van postliberalisme, op grond van sy navorsing oor hoe die elite 'n universele, progressiewe kultuur op nasies afdwing en neerkyk op die tradisies van gewone mense. Hy vra daarom vir die herstel van tradisionele instellings wat die gewone mens beskerm; instellings wat deur die gemeenskap self opgerig is en as 'n skild teen 'n vyandige, ideologiese elite kan dien.
Deneen wys op 'n reuseparadoks: hoe meer die individu van sy gemeenskap “vrygemaak” word, hoe swakker word daardie individu as mens. Sonder die beskerming van 'n sterk plaaslike kultuur of familie, is die eensame, geatomiseerde individu magteloos. Wie vul dan daardie leemte? Die staat. 'n Groter en meer drakoniese staat word dan benodig om die samelewing kunsmatig aan mekaar te hou. Bogenoemde redenasie is 'n pleidooi vir 'n nuwe soort alliansie, waar populistiese energie gekoppel word aan intellektuele leierskap om instellings te herower of op te rig.
Afrikaners is in goeie, moderne, internasionale geselskap wanneer hulle hul historiese drang na vryheid — populistiese energie, volgens Deneen — in die huidige tydsgewrig koppel aan intellektuele leierskap soos dié wat byvoorbeeld deur die Solidariteit Beweging verskaf word. Dit word gedoen ten einde instellings te vestig wat na die deursnee-Afrikaner omsien en as skild dien teen die magte van die ANC-regering, wat slegs na die belange van 'n klein groepie elitekaders omsien.
Afrikaners is hul tyd vooruit en het lank gelede reeds die venster oopgemaak na die globale intellektuele diskoers — 'n nuwe perspektief. Die Afrikaner se stryd vir selfbeskikking is nie 'n agterlike, plaaslike anomalie nie. Dit is die praktiese spitspunt van die nuwe wêreldwye intellektuele rewolusie teen die mislukking van hiperliberalisme en globalisme. Die opkoms van Nuwe Regse en postliberale intellektuele denkers in die Weste verander die reëls van die spel internasionaal.
Ons sien Nuwe Regse ontwakings in Amerika en groot dele van Europa. Die Afrikaner se strewes kom van ver af en is, en wás nog altyd, postliberaal. Dit strek tot die Afrikaner se krediet dat hulle hul tyd vooruit was. Amerika en Europa het eers onlangs begin opvang by dit wat die Afrikaner al vir 'n baie lang tydperk nagestreef het — en weer besig is om te verwesenlik deur die opbou van eie postliberale instellings, wat gewone Afrikaners beskerm deur as 'n skild te dien teen ’n vyandige, ideologiese elite in die post-1994-era in Suid-Afrika.
Etnopluralisme en sy Teikens
Volgens die moderne Franse filosowe Alain de Benoist en Charles Champetier (Manifesto for a European Renaissance — 1999), beteken ware diversiteit nie 'n globale, grys smeltkroes waarin almal eenvormig gemaak word nie. Dit beteken dat elke unieke groep die reg het om sy eie identiteit in sy eie historiese ruimte te bewaar — wat hulle etnopluralisme noem.
Hierdie filosofiese raamwerk vind 'n merkwaardige, kontinentale weerklank in 'n onlangse ontleding deur die platform Alternative Afrikaner, wat die globalistiese aanslag op tradisionele identiteite binne die Afrika-konteks blootlê:
“Die globaliste wil die Afrika-stamme bykom. Die Afrikanerstam staan in die pad. In 1975, in 'n land wat die meeste Westerlinge nie op 'n kaart sou kon kry nie, het 'n Marxistiese president voor sy nuut-onafhanklike nasie gestaan en 'n sin uitgespreek wat die ideologiese argitektuur van 'n hele kontinent vir dekades sou definieer. Samora Machel, die eerste president van Mosambiek, het die Franse rewolusionêr Robespierre geparafraseer en aan sy mense gesê: “Vir die nasie om te lewe, moet die stam sterf.”
Hierdie uitspraak is merkwaardig, nie vir sy poësie nie, maar vir sy presisie. Dit was nie 'n slagspreuk wat vir 'n skare geïmproviseer is nie. Dit was 'n doktrinale standpunt, regstreeks verkry uit Marxisties-Leninistiese staatsbouteorie, getoets in die Sowjetunie, uitgevoer na Asië, en nou met chirurgiese opset oor postkoloniale Afrika ontplooi. Die teiken was nie bloot politieke opposisie nie. Die teiken was identiteit self. En as jy daardie draad versigtig volg — oor kontinente en dekades heen — kom jy by 'n gevolgtrekking uit wat die hoofstroomnarratief baie hard probeer om uit die openbare oog te hou: die Afrikaners was nooit die eindteiken nie. Die Afrikaners was die struikelblok.
Die tese is nie ingewikkeld nie, maar dit vereis geduld en bewyse. Hier is dit onomwonde: kollektivistiese en globalistiese ideologiese raamwerke — of hulle nou Marxisties-Leninisties in oorsprong is of liberaal-internasionalisties in praktyk — het nog altyd verstaan dat die Westerse orde op twee strukturele pilare rus.
Die eerste is die vertikale pilaar: God, geloof, die transendente outoriteit bo die staat. Die tweede is die horisontale pilaar: familie, gemeenskap, verwantskap, stam — die bande van behoort wat enige regering voorafgaan en oorleef. As jy die vertikale pilaar verwyder, verloor die individu die morele argitektuur wat staatsinvloed weerstaan. As jy die horisontale pilaar verwyder, verloor die individu die sosiale argitektuur wat weerstand moontlik maak. Verwyder albei, en jy het 'n geatomiseerde bevolking met geen hoër lojaliteit as die staat nie, en geen gemeenskaplike solidariteit om dit uit te daag nie.”
Binne hierdie kontinentale raamwerk word die posisie van die Afrikaner grondig heromskryf. Alternative Afrikaner wys daarop dat die Afrikaner nie bloot 'n Europese oorblyfsel is nie, maar 'n inheemse Afrika-stam met sy eie taal, kultuur en geskiedenis van anti-imperiale weerstand.
Waarom vind die globale elite hierdie omskrywing ondraaglik? Omdat, as die Afrikaner 'n stam is, hy geregtig is op minderheidsbeskerming en kulturele selfbeskikking onder internasionale reg.
Soos Alternative Afrikaner uitwys, is die Afrikaner nie die eindteiken nie — hy is die toets. As die globalistiese en nuwe tegnokratiese magte die Afrikaner-stam se instellings, taal en geheue kan breek, word die bloudruk gevestig om elke ander tradisionele Afrika-stam — Zoeloes, Xhosas, ensovoorts — se outonomie te vernietig ten gunste van 'n sentrale, plooibare smeltkroesstaat soos die ANC dit wil hê.
Die keuse vir tradisie, eie instellings en stam-identiteit is nie 'n terugwaartse blik na die verlede nie; dit is die hoogste vorm van moderne veerkragtigheid. Graça Machel, vrou van die ontslape Samora Machel en later die eggenote van wyle Nelson Mandela, het later haar eerste man, Samora, se drakoniese stelling op sy kop gedraai deur te sê:
“Hoe sterker die wortels is, hoe beter is die boom in staat om winde en eksterne skokke te weerstaan.”
Afrikaners hoef nie intellektueel minderwaardig te voel nie — hulle is die voorhoede van 'n nuwe, globale postliberale wêreld.
Nog artikels deur Piet du Plessis:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










