Die Groot Checkers Rewolusie
Gehalte, betrokkenheid en samewerking skep 'n infleksiepunt.
Checkers het in Suid-Afrika 'n unieke posisie ingeneem – nie net as 'n supermark nie, maar as 'n handelsmerk wat beplan en innoverende, ervaringsgedrewe bemarking gebruik om verbruikers se leefstylbehoeftes aan te spreek.
Van die premium FreshX-winkels en die digitale afleweringsdiens Sixty60, tot hul eie klerehandelsmerk UNIQ, kombineer die supermark tegnologie, gemak en emosionele betrokkenheid. Hoe kon Checkers daarin slaag om 'n handelsmerk op te bou wat verder strek as blote produkverkope, en tergelyk 'n storie én 'n ervaring bied wat op gemeenskapsvlak sowel as nasionaal en internasionaal weerklank vind?
FreshX en die kuns van ervaring
Deur die FreshX-winkels wys Checkers vir die verbruiker dat hulle nie net kos verkoop nie, maar 'n hele ervaring.
Die wêreldbekende skrywer en bemarker, Seth Godin, verduidelik dat bemarking nie produkte verkoop nie, maar eerder gevoel, status en verbintenis. Volgens StartupMag is FreshX doelbewus ontwerp om die premiumverbruiker met deli’s, sushi-toonbanke en selfs kunsbrode te lok wat die alledaagse inkopie-ervaring na 'n hoër vlak lig. Dis die soort benadering wat sjefs soos Jan-Hendrik van der Westhuizen van die JAN-faam ook verkondig: Kos is nie net voeding nie, dis 'n ervaring, 'n storie en 'n deel van jou leefstyl. Checkers kan dus as 'n narratief gesien word, want die gebruiker koop nie net brood en melk nie, hulle stap in vir inspirasie en ervaring.
Checkers se bemarking is ook deurspek met kreatiewe lojaliteitsveldtogte. Little Shop en Little Garden het bewys hoe nostalgie en speelsheid gebruik kan word om verbruikers se harte te wen. Hierdie veldtogte is meer as net promosies. Deur “permission marketing” gee Checkers vir kliënte 'n goeie rede om weer terug te kom en dit bou outomaties vertroue in die handelsmerk, wat uiteindelik die verhouding tussen Checkers en hul kliënte versterk.
Sixty60: Die digitale rewolusie
Checkers Sixty60 was een van hul grootste skuiwe. In 'n wêreld waar tyd goud werd is, is dit 'n slim strategie om kliënte se kruideniers binne 60 minute af te lewer.
Volgens ITWeb het Sixty60-verkope die afgelope jaar met 47,7% gegroei tot R18,9 miljard, wat die diens as een van die grootste groeiaandrywers in die groep posisioneer. SAP Africa News het ook berig dat dié aanlynplatform speelgoed, babaprodukte en selfs kampgereedskap binne 'n uur by jou huis se voordeur kan aflewer. Hierdie skuif wys hoe Checkers daarop fokus om produklewering makliker, toegankliker en vinniger deel van mense se daaglikse lewe te maak.
Wat Checkers egter besonders maak, is dat hulle nie binne die tradisionele supermarkraamwerk vassteek nie. Deur hul eie klerehandelsmerk, UNIQ, – 'n minimalistiese, tydlose reeks klere wat fokus op basiese kledingstukke in jou kas en op gehalte, kom ons agter dat die Checkers-embleem nie prominent op UNIQ se handelsmerk verskyn nie. Dit is doelbewus so gedoen. Checkers wil hê dat UNIQ sy eie identiteit moet dra en vanuit 'n premium-oogpunt gesien moet word, wat dit dan losmaak van die idee van “supermark-klere.”
Deur UNIQ 'n onafhanklike karakter te gee, kan dit met ander leefstylhandelsmerke meeding, terwyl dit steeds eksklusief onder Checkers beskikbaar sal bly.
Eie handelsmerke, speelgoed en partytjies
Dieselfde benadering geld vir hul uitgebreide reeks van eie handelsmerkprodukte – van kos tot huishoudelike items – wat 'n reputasie opgebou het vir goeie pryse sonder om gehalte prys te gee. Checkers het selfs so ver gegaan as om hul handelsmerk op vliegtuige te laat druk en kan dit as 'n simbool van spoed, bereikbaarheid en ambisie beskou word.
Selfs op die vlak van vermaak en gesinne het Checkers deel van belangrike famliebyeenkomste geword. Kinders kan nou soos die Checkers Sixty60 motorfietsryers aantrek en Checkers Sixty60 sal selfs matrieks by skole sterkte met die eksamens toewens. Hierdie tipe betrokkenheid bou 'n emosionele band met die gemeenskap, en posisioneer Checkers as 'n handelsmerk wat nie net aan ouers se behoeftes voldoen nie, maar ook kinders betrek en herinneringe skep.
Internasionale en plaaslike kulinêre invloede
Samewerkings met internasionale handelsmerke soos Krispy Kreme, wat nuutheid en eksklusiwiteit bring, plaas Checkers ook op 'n hoër vlak as die res van Suid-Afrika se supermarkte. Toe die gesamentlike handelsmerk-oliebolle bekendgestel is, het dit nie net 'n nuwe produk op die rak gesit nie, maar ook 'n gesprek op sosiale media begin. Dis bemarking wat mense laat praat, proe en deel, wat uiteindelik die handelsmerke groter maak as die produkte wat bekendgestel is.
Checkers se bemarking sluit nie net innoverende dienste en winkels in nie, maar ook 'n bewuste aansluiting by koskultuur en leefstyl. Sjefs soos JAN beklemtoon dat kos nie net voeding is nie, maar 'n ervaring, 'n storie en 'n deel van jou leefstyl. Checkers se FreshX-konsep weerspieël dieselfde idee: inkopies word 'n inspirerende ervaring eerder as 'n daaglikse taak. Op internasionale vlak weerspieël hul strategie ook filosofieë soos dié van Jamie Oliver, wat kos en gesonde eetgewoontes verbind aan gerief en toeganklikheid. Sixty60 se vinnige aflewerings, die wye verskeidenheid produkte en samewerking met bekende handelsmerke, sluit aan by hierdie benadering – hulle bring gesonde, vars en stylvolle kos reguit na verbruikers se deure, presies soos dié sjefs dit sou aanbeveel. Hierdie kombinasie van plaaslike en internasionale invloede versterk Checkers se posisie as 'n leefstyl-handelsmerk wat nie net goedere verkoop nie, maar ook 'n verhaal en ervaring lewer.
'n Handelsmerk wat leefstyl verkoop
Die geheelbeeld is duidelik: Checkers verkoop nie net kruideniersware nie, hulle verkoop 'n leefstyl. Van hul blougroen kleure wat varsheid en betroubaarheid simboliseer, tot die premium ervaring van FreshX, die gerief van Sixty60, die styl van die UNIQ-klere, die emosie van versamelingsveldtogte en die speelsheid van speelgoed en partytjies – elke deel van die handelsmerk werk saam om 'n gevoel te skep.
Volgens Brand Finance is Checkers dan boonop ook as Suid-Afrika se sterkste handelsmerk bekroon, met 'n AAA+ gradering en hoë tellings vir betrokkenheid, aanbeveling en lojaliteit.
Daar is natuurlik risiko’s – logistiek kan faal, jou Sixty60 bestelling kan verdwaal en laat opdaag, en eksklusiwiteit kan te veel klem plaas op sekere marksegmente. Maar wat Checkers die afgelope jare bewys het, is dat hulle bereid is om te waag, en dat hulle goed verstaan hoe die moderne verbruiker dink. Hulle wend tegnologie, ervaring en emosie op 'n manier aan wat min plaaslike mededingers so konsekwent kan regkry.
Uiteindelik is Checkers nie net 'n plek om te koop nie. Dit is 'n handelsmerk wat jou leefstyl deel, jou tyd respekteer, jou gesin betrek en jou elke keer 'n bietjie meer as net 'n kliënt laat voel. Hulle is besig om aan hul eie storie te skryf en dit is een wat Suid-Afrikaanse bemarking beslis nie kan ignoreer nie.
Hilde Kruger is 'n grafiese en multimedia-ontwerper, skrywer en bemarker met 'n sterk fokus op strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling. Sy het haar honeursgraad in BA Grafiese Ontwerp, met Multimedia as nagraadse studies, by die NWU-Potchefstroom voltooi en is sedert 2017 'n lid van die Internasional Society of Typography Design (ISTD). Vandag is sy die eienaar van 'n kreatiewe eenmansaak en werk met verskeie organisasies en instansies.
Nog artikels deur Hilde Kruger:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.