Die Anti-KI-Simbool: Hoop, of skild sonder impak?
KI beskik nie oor die immermenslike motivering tot kuns nie.
Die debat tussen kunsmatige intelligensie (KI) en kreatiewe eiendom het in die afgelope paar jaar sterk toegeneem.
Terwyl sommige mense KI as 'n hulpmiddel beskou wat kunstenaars se kreatiewe prosesse kan versterk, sien ander dit as 'n bedreiging vir menslike arbeid en oorspronklikheid. Hierdie spanning word veral deur die sogenaamde anti-KI-embleem gesimboliseer ('n eenvoudige sirkel met 'n skuins streep oor die letters “AI”). Soos Banksy se straatkuns die spanning tussen openbare ruimtes en estetiese waarde beklemtoon, weerspieël hierdie embleem die spanning tussen mensgemaakte kuns en kunsmatige intelligensie.
Is die “anti-KI”-embleem 'n daad van beskerming, of bloot 'n simbool sonder enige impak?
Ons moet, maar KI hoef nie
Volgens die skrywer Jonny Thomson het kunsmatige intelligensie nog nie die behoefte gehad om soos Michaelangelo te verf, soos Mozart musiek te maak of soos Jane Austen te skryf nie.
Hy verduidelik verder dat KI 'n amperse foutloosheid kan weergee en selfs beter as die oorspronklike kunstenaar, komponis of skrywer kan wees. Thomson voer aan dat ofskoon KI uitstekende uitsette kan lewer, daar geen motivering of rede is om dit te doen nie. Wat KI aanbetref is dit nie nodig om die wêreld te verf of om oor die wêreld se probleme te sing nie. Daar is ook nie 'n behoefte om emosies of gevoelens in woorde neer te pen voordat die emosie verander nie. Kunstenaars, daarteen het egter die behoefte om kreatief te wees, lirieke oor gevoelens vas te vang en die onbekende vreugde van 'n kunswerk te ervaar wat ons nie geweet het bestaan nie. Die groot verskil tussen kunstenaars en KI is dat mense nie vir 'n opdrag hoef te wag om kuns te maak nie, ons maak kuns, omdat dit nodig is. Ons maak kuns, omdat ons moet. Selfs KI stel dit duidelik dat dit nie emosies het nie en daarom nie iets kan voel nie.
Johnny Thomson se verklaring is oor die algemeen korrek. KI kan bekende kunsstyle, soos dié van Salvador Dali of selfs Queen, wat jare geneem het om bemeester te word, binne minute kopieër. Ongeag hierdie vermoë, ervaar dit nie emosionele motivering nie. KI volg algoritmes en instruksies eerder as om 'n innerlike kreatiwiteitsin te toon.
Simiotiek: Die krag van die waarskuwingsteken
Die waarskuwingsirkel funksioneer as 'n universele simbool wat sonder die gebruik van enige woorde 'n boodskap oordra. Van padtekens tot sigaretwaarskuwings—oral word ons geleer om 'n sirkel met 'n skuins streep as 'n aanduiding van reëls en regulasies te lees. Wat ons mag en wat nie. Die eenvoud van die waarskuwingsteken, dikwels in rooi en swart, maak dit onmiddellik herkenbaar dat sekere stappe teen die verbruiker geneem kan word as die reëls oortree word - selfs al dien dit net as 'n watermerk. Op 'n simboliese wyse lê die krag van die embleem daarin dat dit sonder enige verdere verduideliking verstaan moet word.
Net soos graffiti op 'n skoolbank, kan 'n simbool sonder toestemming maklik geïgnoreer word. Vir mense dra dit betekenis, maar vir geprogrameerde masjiene is dit bloot net 'n beeld. Daarom het platforms soos DeviantArt “No AI”-etikette ingestel, waardeur kunstenaars formeel kan aandui dat hulle nie toestemming gee vir KI om hul kuns na te boots nie. Internasionale liggame soos die Coalition for Content Provenance and Authenticity (C2PA) het selfs 'n metadata-stelsel ontwikkel wat regstreeks aan KI kan sê: “Do not train”, oftewel dat KI nie sigself op die kunswerk mag leer volgens die aanwysing nie. Hierdie stelsel is die digitale gelyke van 'n geslote slot en veel meer as 'n blote waarskuwing.
Sigbaarheid teenoor afdwingbaarheid
Die vraag bly egter: hoe effektief is hierdie maatreëls werklik? Soos straatkuns dikwels as vandalisme beskou word, het die “anti-AI”-embleem geen bindende regstatus nie. Die ironie is dat kunstenaars hul regte probeer beskerm deur 'n visuele boodskap, terwyl die doeltreffendheid daarvan afhang van die vrywillige gehoorsaamheid van platforms en maatskappye, wat dit dikwels ondermyn.
Uiteindelik dra die anti-KI embleem 'n sterk etiese en simboliese boodskap. Alhoewel inisiatiewe soos die C2PA se Content Credentials tegniese opsies bied, berus hul effektiwiteit grootliks op vrywillige nakoming. Die embleem funksioneer dus nie net as 'n praktiese waarskuwing nie, maar ook as 'n kultuursimbool wat die protes teen KI deur kunstenaars verhoog. Dit beklemtoon die spanning tussen tegnologiese vooruitgang en tradisionele skeppingsregte, en plaas beginsels van toestemming en kreatiewe vryheid aan die middelpunt van 'n wêreldwye gesprek.
Die anti-KI embleem is terselfdertyd eenvoudig en kompleks. As 'n grafiese simbool is dit maklik herkenbaar, maar as 'n beskermingsinstrument kan dit beperkings en voorwaardes inhou. Tog, wanneer dit deel vorm van 'n groter metadata-stelsel, platformbeleid en moontlike toekomstige wetgewing, kan dit 'n betekenisvolle rol in die vestiging van nuwe norme vir kunstenaars speel. Net soos straatkuns die grense tussen kuns en vandalisme bevraagteken, bevraagteken die embleem die grense tussen mensgemaakte kuns en kunsmatige intelligensie.
Die kernvraag bly: is dit 'n effektiewe skild teen KI, of bloot simboliese hoop wat wag op sterker strukture om dit werklik betekenisvol te maak?
Hilde Kruger is 'n grafiese en multimedia-ontwerper, skrywer en bemarker met 'n sterk fokus op strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling. Sy het haar honeursgraad in BA Grafiese Ontwerp, met Multimedia as nagraadse studies, by die NWU-Potchefstroom voltooi en is sedert 2017 'n lid van die Internasional Society of Typography Design (ISTD). Vandag is sy die eienaar van 'n kreatiewe eenmansaak en werk met verskeie organisasies en instansies.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.