Die debat rondom straatkuns en graffiti het sedert die twintigste eeu drasties toegeneem. Waar sommige dit as 'n maatskaplike- en politieke uitdrukkingvorm beskou, sien ander dit weer as vandalisme. Hierdie konflik word veral geïllustreer deur die werk van die wêreldbekende straatkunstenaar, Banksy, wie se kontroversiële werke dikwels sonder enige toestemming op mure in die openbaar verskyn. Banksy se kuns skep spanning tussen die estetiese waarde van kuns en die grense van openbare ruimtes.
Hoe kan die regverdiging van graffiti as kunsvorm teenoor die etikette van vandalisme verstaan word? Is graffiti 'n kunsvorm of vandalisme?
Straatkuns en graffiti: is daar 'n verskil?
Is daar 'n verskil tussen straatkuns en graffiti? Die kort antwoord is, ja. Straatkuns word van graffiti onderskei deurdat dit meestal beeldend en boodskap-gedrewe is, met die doel om 'n sosiale of emosionele reaksie uit te lok, terwyl graffiti oorwegend teks-gebaseer is en dikwels as 'n vorm van self-identiteit of 'n subkulturele merk gesien word.
Straatkuns is uniek, omdat dit dikwels in openbare ruimtes gesien word en daarop gemik is om 'n boodskap direk met die gemeenskap te deel. In hierdie konteks gaan graffiti oor meer as net visuele tekens op mure – dit kan ook gesien word as sosiale kommentaar, politieke kritieklewering, of selfs 'n hulpmiddel om stemme van minderheidsgroepe sigbaar te maak. Die werk van Banksy, soos sy muurskilderye in Palestina en Londen, is 'n goeie voorbeeld van hoe straatkuns die bewusmaking van sosiale- en morele kwessies in die publiek kan aanhits, selfs al staan dit dikwels in konflik met die wet. Die spanning tussen kreatiewe vryheid en die wet, vorm die kern van 'n voortdurende debat oor die rol en betekenis van graffiti in die samelewing.
“Kilroy Was Here” – die mannetjie wat almal bymekaar bring
'n Boeiende geskiedkundige voorbeeld van hoe graffiti as maatskaplike en humoristiese uitdrukking kan funksioneer, is die ikoniese “Kilroy Was Here”-graffiti tydens die Tweede Wêreldoorlog. Dit was 'n eenvoudige tekening van 'n kaalkop figuurtjie met 'n groot neus wat oor 'n muur of rand loer, gevolg deur die woorde “Kilroy Was Here”. Dié tekening was orals geteken: op mure, treine, voertuie, brûe, en selfs op plekke waar die gewone mens nooit sou kom nie. Soldate van die Geallieerde magte het hierdie beeld konsekwent geteken, met die doel om een boodskap oor te dra: “ék was hier.”
Mettertyd het die tekening 'n soort geheime, humoristiese teenwoordigheid geword en het die fenomenale verspreiding van hierdie eenvoudige graffiti-kuns getoon dat graffiti nie net 'n kunsvorm is nie, maar ook 'n manier kan wees om gemeenskap, samehorigheid en humor te skep en te deel. Wat ons dan weereens met die vraag los: Is graffiti 'n kunsvorm of vandalisme? Is dit reg of verkeerd?
Graffiti in Skole en Kerke
Een van die mees opvallende kenmerke van straatkuns is die vermoë wat dit het om 'n onmiddellike en dikwels konfronterende boodskap aan die publiek oor te dra.
In skole sien ons graffiti gereeld op skoolbanke – selfs al is daar skoolreëls wat dit probeer verhoed. As jy dapper was, het jy jou eie naam volledig daarop geskryf. Alternatiewelik was dit net ingekerfde voorletters of datums wat op skoolbanke en -tafels gesien kan word. Alhoewel die kreatiewe impuls van graffiti verstaanbaar is, word dit as problematies beskou wanneer dit sonder toestemming op kerk- of skoolbanke toegepas word. Hierdie meubels is immers eiendom van die instelling, en om sonder enige goedkeuring daarop te skryf of teken, word as vandalisme beskou. Verder dra kerke en skole 'n besondere waarde en betekenis, en ongeoorloofde grafitti kan die gevoel van respek, waardigheid en orde in hierdie ruimtes ondermyn. Op 'n praktiese vlak kan sulke selfuitdrukkings op meubels finansiële implikasies hê, sou die kerk of skool die meubels wil herstel of vervang, en ondermyn dit die doel om 'n veilige, positiewe en samewerkende leer- of aanbiddingsomgewing te handhaaf. Selfs al spreek die kreatiwiteit van graffiti tot die verbeelding, bly toestemming en konteks noodsaaklik.
Banksy, regskwessies en die Goue Reël
Sonder toestemming kan graffiti op enige muurskildery, selfs een met hoogs gesogte artistieke waarde, as 'n oortreding beskou word. Wetlike instellings regoor die wêreld het verskeie stappe geneem, soos die uitreik van boetes, arrestasies en verwyderingsprogramme, om openbare eiendom te beskerm. Hierdie wetlike raamwerk is gebaseer op die beginsel dat eiendomsreg belangriker is as individuele artistieke vryheid, en dat sonder toestemming die handeling van straatkuns, inderdaad 'n misdryf is.
Banksy se berugtheid illustreer dat die lyn tussen vandalisme en kuns dikwels vaag is. Terwyl sommige mense sy werk as ongemagtigde vandalisme beskou, het dieselfde werke wêreldwye erkenning verwerf en selfs op veilings honderde duisende dollars verdien. Hierdie paradoks—dat die een groep sy daad as onwettig beskou, terwyl die kunswêreld dit as buitengewoon sien—beklemtoon die subjektiewe en veranderlike aard van kunswaardering, en laat vrae ontstaan oor wie die reg het om te bepaal wat kuns is en wat nie.
Dit was C.J. Langenhoven wat gesê het dat net gekke en dwase op mure en glase teken. Graffiti wat sonder toestemming op private eiendom aangebring word, word dikwels as vandalisme beskou, terwyl muurskilderye op openbare, gemagtigde of spesifieke ruimtes, dit sluit kastele en katedrale in, as volwaardige kuns erken kan word. Hierdie onderskeid dui aan dat die status van straatkuns nie inherente eienskappe het nie, maar eerder gevorm word deur die interaksie tussen die kunstenaar, die gemeenskap en die regstelsel.
Plaaslike kultuur en sosiale waardes speel 'n groot rol in hoe straatkuns waargeneem en waardeer kan word. Voorbeelde soos Banksy se werk en die geskiedkundige “Kilroy Was Here”, illustreer hoe straatkuns spanning kan skep.
Alhoewel straatkuns en graffiti dikwels as vandalisme gesien word, is dit duidelik dat die kunsvorm nie slegs op grond van wetlike kriteria beoordeel kan word nie. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het straatkuns en graffiti die teenwoordigheid van mense bevestig. Vandag word daar boetes uitgedeel, sou iemand dit waag om hul kunsuitdrukking op openbare plekke, sonder toestemming uit te beeld.
Alhoewel ons die tye van die rol van graffiti en straatkuns beslis in ag moet neem, is daar een konstante reël wat deur die jare bybly: Jy kan enigiets op enigiets teken, mits jy net nie uitgevang word nie.
Hilde Kruger is 'n grafiese en multimedia-ontwerper, skrywer en bemarker met 'n sterk fokus op strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling. Sy is die eienaar van 'n kreatiewe eenmansaak en werk met verskeie organisasies en instansies.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.