ek skryf met siende oë
hierdie brief aan jou op veertigduisend voet
die tigris is 'n spieël vol wit pelikane
met navigasieligte wat in haar dieptes gly
ons dryf en alles wat al was dryf saam
op 'n rietboot na behistun
Tom Dryer
rietboot na behistun
Die woord waarmee die ou Grieke die heen-en-weer beweging van die ploegskaar oor die landery beskryf het, heet boustrofedon. Dit was dieselfde woord wat gebruik is om die patroon van skryf en lees van die vroeë geskrifte te beskryf (eers later het mense van links na regs begin skryf). Hierdie ooreenkoms was nie blote toeval nie – die ontwikkeling van die landboubeskawing en van skrif gaan hand aan hand. Die gang van die ploeg voor gemeganiseerde landbou was moeisaam, tydsaam en vol beproewings, maar daardeur is die aardkors omgedolwe en voorberei vir die saailinge.
Insgelyks was skryf voor die tyd van die drukpers duursaam, tydsaam en slegs deur toegewyde persone onderneem. Geskrifte was grootliks ontoeganklik, en is dikwels gememoriseer en dan verbaal oorgedra. Dit het meerendeels godsdienstige, kulturele en administratiewe inhoud vervat. Vanweë die duursaamheid daarvan, was dit belangrik dat dit wat geskryf word samehangend, noukeurig en weldeurdag moes wees.
Die skeiding tussen die tegniese beroepe en die meer intellektuele en estetiese beroepe van skryfwerk het egter nog nie bestaan nie. Vir die Grieke het die woord tekne na beide kuns en gebruikswaarde verwys. As voorbeeld kan ek verwys na Hesiodos (ca. 700v.C.) se Werke en Dae (geskryf in boustrofedon) waarin hy waarsku dat 'n mens nie in 'n ongewyde pot moet kosmaak nie aangesien dit 'n mens tot nadeel kan strek, selfs tot vervloeking kan lei. Iets so funksioneel en liggaamlik soos kosmaak was vir die antieke beskawings dus 'n besielende aangeleentheid. Miskien verteenwoordig die oorversadiging van kosprogramme 'n vae herinnering hieraan.
Dit is duidelik dat die begrip van suiwer nut nie vir die antieke Grieke bestaan het nie, en dat selfs die idee daarvan 'n onderliggende vervalsing inhou. Maar so ook het die suiwer kunsobjek ook nie vir hulle bestaan nie. Kunswerke het gebruik gehad én gebruiksitems het oor estetika beskik. Hoekom dit belangrik is om te noem, is omdat hierdie toedrag van sake verander het, dermate dat denke teen die tyd van Plato alreeds meer verwyderd geraak het van die werklikheid, en kuns en nut later selfs teenpole van mekaar geword het, wat tot vervreemding tussen kunstenaars en ander handwerkers aanleiding gegee het.
Sonder om te haper op die omwentelinge na afloop van die boekdrukkuns en die digitale revolusie, is dit duidelik dat die geskrewe woord nou meer ter hande en alomteenwoordig geraak het as ooit vantevore. Maar te midde hiervan sien ons ook die opkoms van generiese en toenemend eenvormige taal, en kan ons tereg vra wat verlore raak te midde hiervan. In Tom Dreyer se onlangse bundel Brief op veertig duisend voet is daar 'n gedig met die titel n|uu, waarin daar vergelyking getref word tussen die verganklikheid van 'n sterwende plaaslike taal en ons eie kommunikasiemiddele:
“ek hoor hoe ouma katrina esau 'n finale woord sê en dan swyg. en dan hoor ek soms die laaste klik van die laaste hardeskyf, waarná net lig nog aanhou glinster: oor deurdrenkte kamers, oor wiegende netwerkkabels, oor vanlyn satelliete wat stil-stil sal bly swewe.”
Dreyer se bundel verteenwoordig egter meer as 'n moedelose oorgawe aan die noodlot, dit moet gelees word as 'n briefwisseling tussen tydsgewrigte en beskawings, tussen 'n oergeskiedenis wat nie verromantiseer moet word nie en 'n toekoms wat nie met naïwe optimisme begroet moet word nie, waarin ons nie seker is hoe ons betekenis gaan skep deur taal en hoe dit daaruit sal sien nie. Dat ons nog moet aanhou probeer, selfs met veertigduisend voet en duisende jare tussen ons, ons voorgangers en die wat na ons kom, blyk uit Dreyer se poging 'n noodsaaklike tydverdryf te wees. Dat, ten spyte van hierdie afstande, die werksaamheid steeds aandagtige lees en vaardige maneuvrering vereis, is eweneens gewis.
Dit is hier waar die inslag van woorde ter sprake kom. 'n Inslag verwys na die dwarsdrade wat gevleg word deur die lengedrade (die skering) in naaldwerk. Dit verwys ook na die manier hoe iets of iemand gevestig raak. Dit wil voorkom of ons in 'n tyd leef waarin woorde hulle inslag verloor, dit wil sê hulle verweefdheid met die werklikheid en met mekaar.
Die neurowetenskap leer ons dat 93% van kommunikasie nie-verbaal is, wat ons onder die indruk kan bring dat taal tradisioneel as kommunikasiemedium oorwaardeer is. Dit is egter nie die geval nie. Daardie skamele 7% is steeds deurslaggewend en selfs bepalend. 'n Innoveerder uit die advertensiewese, 'n bedryf wat berus op die effektiwiteit van kommunikasie, Gary Halbert, het beweer “The written word is the strongest source of power in the universe”. Dit is so omdat singewing vir die mensdom nie sonder taal kan plaasvind nie. Die skrywer Ilja Pfeijffer som die inslag van woorde mooi op wanneer hy skryf “sin bestaan uit sinne.” Om die inslag opnuut te verken vereis bes moontlik 'n effense afstand van die gevoel van beskikking oor taal. Om taal te bemeester beteken om taal toe te laat om inslag by ons te vind, om woorde te laat talm en om ons met die tipe woorde en geselskap besig te hou waarin ons eie woorde ook moet inslag vind.
Dr Hercules Boshoff is 'n medewerker by die Instituut vir Filosofie en die Samelewing, Stellenbosch. Sy nuutste boek Verantwoording is tans beskikbaar by Naledi uitgewers.
Nog artikels deur Hercules Boshoff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.








