Die gedagte dat kuns, wetenskap en tegnologie saamsmelt, is nie nuut nie. Ons kon dit al in Leonardo da Vinci se visuele dagboeke in die 15de en 16de eeu sien. Da Vinci was na my mening 'n besonderse genie. Ek sou nie verbaas gewees het as sy sketse van die liggaam en meganiese instrumente die publiek geskok het nie. Dit was skokkend, omdat dit nuut was. In vandag se era kan ons seker die ontwikkeling van die KI- en digitale era ook so sien. Dit is vir ons nuut, want mense het kreatief begin dink. Dit is vir ons ongemaklik, want ons probeer dit verstaan. Terwyl ek my gedagtes oor KI in die kunsbedryf deel, het 'n paartjie intussen besluit om die Empire State Building uit te klim en 'n banier hoog in die lug in op te hou. Daarmee saam het hulle ook verloof geraak. Die hele uitklim-storie was natuurlik onwettig, maar in 'n mate steeds veilig genoeg vir talle handelsmerke om van dié geleentheid 'n bemarkingsgeleentheid te maak en hul eie boodskappe op die banier te plaas. Ek wik en weeg nog wat ek op so 'n banier sou plaas ... dalk in hierdie geval OntLaer se embleem, ek weet nie?
Die Empire State Building
Die twee inhoudskeppers, Angela Nikolau en Ivan Beerkus, is internasionaal bekend vir hul sogenaamde rooftopping-streke. Dis 'n vorm van stedelike verkenning waarin hulle wolkekrabbers, brûe en ander hoë strukture sonder amptelike toestemming uitklim om foto's en video’s vir sosiale media te skep. Op 1 Julie 2026 het die paartjie onwettige toegang tot die Empire State Building verkry en tot bo-op die gebou se antenna geklim.
Daarbenewens het hulle 'n swart banier oopgevou met die woorde: “When the power of love beats the love of power, the world knows peace,” waarna Ivan vir Angela uiteindelik gevra het om met hom te trou. Die dramatiese oomblik is op video vasgelê en het binne ure wêreldwye opslae gemaak. Ná die voorval is die inhoudskeppers deur die New York City-polisiedepartement (NYPD) in hegtenis geneem en van inbraak, kriminele betreding, roekelose lewensgevaar en die besit van inbrekersgereedskap aangekla. Die voorval het wêreldwye nuusopskrifte gehaal, nie net weens die romantiese verlowing nie, maar ook die ernstige veiligheids- en regsimplikasies daarvan. Ja, die liefde doen snaakse dinge aan 'n mens.
In die bemarkingswêreld het die egpaar se foto's in 'n sogenaamde herbruikbare visuele templaat verander. Dit gebeur wanneer 'n herkenbare beeld waarvan een element maklik verander kan word sonder om die oorspronklike visuele konteks te verloor (Reuters, 2026; People, 2026). Talle besighede en skole, internasionaal en plaaslik, het hul fotoredigerings- en taalvaardighede gebruik om hul eie boodskappe op dié banier te plaas. Ondernemings soos Canva, Cisco, Currys, Caraway, Duolingo en Tarte Cosmetics het almal die oorspronklike beeld aangepas deur die teks op die banier met hul eie handelsmerkboodskappe of humoristiese advertensies te vervang. Die oorspronklike nuusfoto het dus binne enkele ure in 'n wêreldwye advertensiebanier verander.
Selfs die Suid-Afrikaanse kletsrymer, Jack Parow, het die woorde effens aangepas om Maverick te bemark: “When the power of the jol beats the jol for power, the jol knows peace”.
Vanuit 'n bemarkingshoek staan die strategie om bestaande nuusgebeure of kulturele gesprekke vinnig te benut, ook bekend as trendjacking of moment marketing. Nando’s se humoristiese bemarkingskommentaar op Suid-Afrika se gebeure is 'n goeie voorbeeld hiervan. Volgens bemarkingsontleders lê die waarde van sulke veldtogte nie daarin dat hulle nuwe aandag skep nie, maar dat hulle relevant bly deur publieke aandag na die handelsmerk te herlei. Terselfdertyd waarsku kenners dat die oorbenutting van sulke raamwerke tot brand trend slop kan lei. (Fast Company, 2026; Marketing Interactive, 2026).
Queen Elizabeth II se groen uitrusting in 2016
'n Vroeë voorbeeld van 'n soortgelyke tendens was die wêreldwye meme rondom Koningin Elizabeth II se rok in 2016. Tydens haar 90ste verjaarsdagvieringe het sy 'n helder neongroen uitrusting gedra, soortgelyk aan die sogenaamde "greenscreen"-agtergrond wat in film- en televisieproduksie gebruik word. Binne enkele ure is die foto deur duisende internetgebruikers gemanipuleer deur uiteenlopende beelde, advertensies en grappige boodskappe op die rok te plaas.
Koningin Elizabeth II was dus die draer van baie memes. Alhoewel die oorspronklike foto geen bemarkingsdoel gehad het nie, het dit tot 'n universele visuele raamwerk ontwikkel waarop nuwe betekenisse geskep kon word. Hierdie tendens demonstreer hoe digitale kultuur ikoniese beelde omskep in gedeelde kommunikasieruimtes wat voortdurend hergebruik en herinterpreteer word.
Die verskuiwing van storievertelling na storie-aanpassing
Op 'n tradisionele wyse word bemarking as die kuns van storievertelling gesien. Handelsmerke het hul eie narratiewe, advertensies en visuele identiteit ontwikkel om emosionele verbintenisse met verbruikers te bou. In die digitale era het hierdie benadering egter verander. Sosiale media, meme-kultuur en die spoed waarteen inligting versprei, het tot die ontwikkeling van 'n nuwe vorm van handelsmerkkommunikasie gelei, waarin sukses nie net noodwendig in die skepping van nuwe stories lê nie, maar ook in die vermoë om bestaande kulturele oomblikke kreatief te herinterpreteer.
Ons kan sê dat bemarking dus van storievertelling na storie-aanpassing verskuif het. Die hedendaagse bemarker is nou nie net ‘n skrywer van oorspronklike verhale nie, maar eerder die redigeerder van die internet se kollektiewe geheue, wat bestaande beelde, gebeurtenisse en gesprekke omskep in nuwe handelsmerkboodskappe.
Die Queen Elizabeth-meme en die Empire State Building-banier is nie net internetgrappies nie, maar illustrasies van 'n fundamentele verskuiwing in die kommunikasiewêreld. Waar handelsmerke vroeër gepoog het om hul eie stories te vertel, word sukses vandag toenemend bepaal deur hoe hulle by bestaande kulturele stories kan aanpas, herinterpreteer en binne ure in hul eie narratiewe kan inkorporeer. Hierdie verskuiwing bevestig dat die moderne aandagekonomie nie nét oorspronklikheid beloon nie, maar kulturele relevansie, spoed en kontekstuele intelligensie.
Die bemarker word dus nie meer as net 'n storieverteller gesien nie, maar ook as ‘n kurator en redigeerder van die internet se kollektiewe geheue. Die grootste uitdaging vir toekomstige handelsmerkkommunikasie lê nie daarin om eerste op 'n kulturele gebeurtenis te reageer nie, maar om sodanige gebeurtenisse op 'n verantwoordbare en kreatiewe wyse in handelsmerkkommunikasie te integreer.
Hilde Kruger is 'n grafiese en multimedia-ontwerper, skrywer en bemarker met 'n sterk fokus op strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









