Met die jongste verwikkelinge in die Amerikaans-Iranse oorlog het die Hoethi-stampolitieke beweging in Yemen weer hul voorneme aangekondig om aanvalle op kommersiële skeepsvaart in die Rooisee uit te brei. Hulle waarsku dat vaartuie wat met Israel verbind word, of wat hul blokkade ignoreer, as “wettige teikens” beskou sal word. Of elke dreigement uiteindelik uitgevoer word, is byna van sekondêre belang. Skeepsmaatskappye, versekeraars en energiehandelaars kan dit nie bekostig om op politieke retoriek te dobbel nie. Hulle prys risiko, nie politieke nuanses nie.
Die wêreld se skeepsroetes word toenemend deur geweld herskryf, eerder as deur vrye markte of slim beleid. Hoethi-hommeltuie en missiele in die Rooisee, gesteun deur Iranse wapens en ideologie, het die Suezkanaalroete in 'n hoërisiko-lotery verander. Terselfdertyd behandel Teheran steeds die Straat van Hormoes as 'n drukklep wat dit stywer kan draai wanneer dit politieke hefboomkrag benodig. Die gevolg is voorspelbaar: 'n Groeiende deel van houerverkeer en olietenkskepe kies nou die lang roete om Afrika.
Die Kaap die Goeie Hoop, eens bloot 'n voetnota in moderne logistiek, het weer 'n onontbeerlike alternatief geword.
Die verandering is nie bloot 'n tydelike ontwrigting nie. Dit verteenwoordig 'n strukturele verskuiwing in die geografie van wêreldhandel — en dit plaas Suid-Afrika, ironies genoeg, in die middel daarvan. Die vanselfsprekende vraag is of die ANC — of enige toekomstige regering — bereid is om ideologiese postuur opsy te skuif en voordeel te trek uit wat moontlik die ekonomiese geleentheid van die eeu is.
Die Logika van See-mag
Die Amerikaanse strateeg Alfred Thayer Mahan het hierdie beginsel reeds meer as 'n eeu gelede verstaan. In The Influence of Sea Power upon History voer hy aan dat nasies styg of verval volgens hul vermoë om handel te beskerm en beheer uit te oefen oor die smal seeroetes waardeur daardie handel moet vloei. Sulke strategiese knelpunte konsentreer sowel risiko as mag. Wie hulle oop kan hou, of dreig om hulle toe te maak, verkry invloed wat veel verder strek as sy formele landsgrense.
Amerikaanse globale strategie, vanaf die naoorlogse wêreldorde tot vandag, is grootliks op hierdie insig gebou. Washington romantiseer nie vryheid van navigasie nie, sy beleidsmakers beskou dit as 'n harde nasionale belang. Wanneer daardie belang uitgedaag word, beperk die Amerikaanse reaksie hom selde tot bloot “diplomatieke protes”.
Die Kaap van Goeie Hoop is nie 'n klassieke strategiese seestraat soos Hormoes of Bab el-Mandeb nie. Dit is 'n uitgestrekte oseaanroete. Maar wanneer die korter alternatiewe onbetroubaar raak, konsentreer skeepsverkeer noodwendig rondom die Kaap. Versekeringsmarkte reageer. Vragtariewe styg. Hawens word waardevoller. Vloote kom onder groter druk te staan. Hierdie verskuiwing is reeds aan die gang, en Suid-Afrika kan hom binnekort langs 'n seeroete bevind wat vandag net so belangrik is as toe Vasco da Gama die eerste Europeër geword het wat om die Kaap gevaar het op pad na Indië.
In teorie behoort dit 'n enorme geleentheid vir Suid-Afrika te wees. Meer skepe wat om die Kaap vaar beteken groter vraag na brandstofvoorsiening, verhoogde hawe-aktiwiteit, asook groter behoefte aan logistiek, skeepsherstelwerk, pakhuise en maritieme dienste. 'n Bevoegde regering sou hierdie ontwikkeling as 'n strategiese nasionale bate beskou wat doelbewus ontwikkel behoort te word: moderne hawens, betroubare elektrisiteit, professionele doeaneprosesse en 'n vloot wat kommersiële skeepsverkeer kan beskerm terwyl dit terselfdertyd stabiliteit aan internasionale beleggers uitstraal.
Ongelukkig dui Suid-Afrika se onlangse geskiedenis op die teendeel. Die ANC het die afgelope drie dekades grootliks ideologiese teater bo die minder glansryke taak gestel om infrastruktuur in stand te hou, betroubare elektrisiteit te verseker, hawens te moderniseer en militêre gereedheid te handhaaf. Eskom se bykans totale ineenstorting was nie bloot 'n abstrakte beleidsmislukking nie; dit het die daaglikse werklikheid geword van 'n ekonomie wat nie eens sy eie nywerhede van betroubare elektrisiteit kan voorsien nie, wat nog te sê 'n groeiende maritieme sektor ondersteun. Transnet se hawens word steeds geknel deur chroniese ondoeltreffendheid, korrupsie en operasionele bottelnekke. Intussen sukkel die Suid-Afrikaanse Vloot, wat eens as 'n bekwame streeksmag beskou is, met verouderde bates, duikbote wat uitgebreide instandhouding verg en 'n al kleiner operasionele vermoë. Die vloot neem steeds aan vlootoefeninge saam met Russiese en Chinese oorlogskepe deel, maar doen dit minder as 'n streekshegemon as wat dit 'n ondergeskikte vennoot is.
Eenvoudig gestel beskik die vloot tans nie oor die vermoë om een van die wêreld se toenemend belangrike kommersiële skeepsroetes teen doelbewuste ontwrigting te beveilig nie.
Die Koste van “Progressiewe Internasionalisme”
Pretoria se buitelandse beleid vererger die probleem verder. Die ANC beskryf sy benadering steeds as “progressiewe internasionalisme” — 'n beleefde term vir wat dikwels neerkom op 'n outomatiese anti-Westerse ingesteldheid. Noue betrekkinge met Iran, Rusland en verskeie sogenaamde versetsbewegings word voorgehou as bewys van morele onafhanklikheid, terwyl kritiek op die Verenigde State as bewys van strategiese outonomie aangebied word. Hierdie benadering is moeilik verdedigbaar, gegewe dat Suid-Afrika steeds in 'n groot mate afhanklik is van Westerse markte, beleggings, versekering, finansiering en maritieme handel.
Hierdie ideologiese houding mag aanklank vind by sekere plaaslike kiesersgroepe en sommige BRICS-vennote, maar ongelukkig bied dit aansienlik minder gerusstelling aan die skeepsmaatskappye, versekeraars, logistieke ondernemings en kapitaalmarkte wat uiteindelik besluit waar skepe vaar, waar vrag herlei word en waar beleggings beland.
Hier is 'n fundamentele geopolitieke afweging — een wat Pretoria blykbaar huiwerig is om te erken. Lande wat langs toenemend belangrike handelsroetes geleë is, trek slegs voordeel indien hulle as stabiel, bevoeg en polities voorspelbaar beskou word. Aardrykskunde alleen is nooit genoeg nie. Indien Suid-Afrika 'n reputasie ontwikkel as deel van die geopolitieke probleem eerder as deel van die oplossing, sal die voordele van die Kaaproete vinnig afneem. Risikopremies styg. Finansiering word duurder. Beleggings vloei na veiliger alternatiewe.
Die VSA hoef nie oorlogskepe na Kaapstad te stuur om hul misnoeë te toon nie. Hulle beskik oor veel subtieler instrumente: sanksies, finansiële druk, uitvoerbeheer en die vermoë om die koste van sake doen te verhoog vir lande wat as ondermynend teenoor kernbelange van die Weste beskou word.
Ideologie bo Regeringsvermoë
Progressiewe politieke bewegings lê dikwels beduidende ekonomiese koste op gewone burgers terwyl hulle hoër ideologiese doelwitte nastreef. 'n Soortgelyke patroon het, dikwels in selfs ernstiger vorm, in dele van die ontwikkelende wêreld na vore gekom. Ideologiese suiwerheid vervang toenemend administratiewe bevoegdheid. Energieskaarste, vervallende infrastruktuur en institusionele mislukking word afgemaak as die onvermydelike “nalatenskap van kolonialisme” of as die edele prys van weerstand. Intussen raak regerings al hoe minder in staat om die ekonomiese geleenthede te benut wat wêreldwye onstabiliteit onverwags skep.
Suid-Afrika kan, as ons wil, die Kaaproete as 'n strategiese nasionale bate erken, in sy hawens belê, die elektrisiteitsnetwerk stabiliseer, 'n professionele vloot herbou en 'n buitelandse beleid volg wat op kommersiële betroubaarheid gegrond is. Of dit kan voortgaan om geopolitiek as 'n verlengstuk van binnelandse identiteitspolitiek te behandel — deur homself as 'n beginselvaste kritikus van Amerikaanse mag te posisioneer, terwyl dit nie oor die materiële vermoë beskik om gebeure te beïnvloed of selfs sy eie belange te beskerm nie.
Die eerste pad vereis 'n regerende elite wat bereid is om bekwaamheid bo simboliek te stel. Die tweede is die pad wat die ANC deurgaans gekies het.
Meer as 'n eeu gelede, het Mahan iets verstaan wat vandag steeds waar is: seemag is nie 'n abstrakte begrip nie. Dit word gemeet aan wie handel aan die beweeg kan hou - en wie nie. Namate onstabiliteit oor die Midde-Ooste versprei, word die Kaap van Goeie Hoop juis weer strategies belangrik omdat die tradisionele roetes nie meer betroubaar is nie.
Of Suid-Afrika uiteindelik uit hierdie historiese verskuiwing voordeel trek, of bloot nóg 'n onbetroubare veranderlike word in die berekeninge van skeepsrederye, versekeraars en groot moondhede, sal veel minder afhang van die aantal skepe wat om die Kaap vaar as van die vraag of sy regering weer die onderskeid tussen politieke postuur en werklike mag kan tref.
Nog artikels deur Hügo Krüger:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










