Daar was 'n tyd toe swak ontwerp, generiese advertensies en lae gehalte stockfoto’s 'n handelsmerk se geloofwaardigheid kon ondermyn. As die advertensie soos pespos gelyk het, was dit uit en basta!
Generatiewe kunsmatige intelligensie (KI) het binne enkele jare van 'n tegnologiese nuuskierigheid ontwikkel tot 'n oorheersende kreatiewe hulpmiddel in bemarking. Van sosiale media-plasings tot volledige advertensieveldtogte. Nietemin het daar 'n interessante teenreaksie ontwikkel: hoe meer KI-beelde die mark oorstroom, hoe makliker word dit om hulle raak te sien en hoe meer begin verbruikers die waarde van ware vakmanskap herontdek.
Soos die internet deesdae sê: As jou partytjie-uitnodiging deur KI gegeneer is, sal ek nie die geleentheid bywoon nie. Die kernvraag is nie meer of KI kuns kan genereer nie. Die vraag is eerder: Wat verloor ons wanneer die kreatiewe proses met 'n generiese generatiewe proses vervang word?
Ons hou van foute
In die geskiedenis van kuns en ontwerp het die begrip craft (of altans vakmanskap) altyd na meer as tegniese vaardighede verwys. Dit behels opleiding, ervaring, mislukkings, estetiese oordeel, kulturele konteks en die unieke menslike vermoë om betekenis te skep. 'n Skilder se kwashale, 'n fotograaf se beligting of 'n grafiese ontwerper se tipografiebesluite is nie net uitsette nie; dis doelbewuste keuses uit ’n kreatiewe proses.
Navorsing oor KI-gegenereerde kuns dui daarop dat die konsep van artistieke “aura”, oftewel egtheid, oorspronklikheid en die unieke teenwoordigheid van 'n kunswerk, 'n sentrale rol in die debat oor generatiewe kunsmatige intelligensie begin inneem. Namate KI in staat is om oortuigende en tegnies verfynde kunswerke te produseer, word vrae oor die outentisiteit en inherente waarde van kuns al hoe meer prominent in akademiese en kritiese besprekings.
Die waarde van 'n kunswerk word nie net bepaal deur hoe dit lyk nie, maar ook deur die proses. Wanneer die oorsprong van 'n beeld vervaag, vervaag die tradisionele idee van artistieke outentisiteit. Dis een van die baie redes waarom prosesboeke, klein sketse en notas so belangrik is. As die kyker, verbruiker of selfs jou kompetisie kan sien hoe jy gedink het, versterk dit outomaties die outentisiteit van 'n kunswerk. Dis eg.
Ironies genoeg lyk dit asof KI die waarde van mensgemaakte kuns verhoog. Navorsing van die Columbia Business School toon dat blootstelling aan KI-gegenereerde kuns die waargenome waarde van mensgemaakte werk kan versterk, want hoe meer sintetiese inhoud ons sien, hoe meer begin ons die menslike faktor binne kuns waardeer. Ons verkies die foute wat die prentjie karakter gee.
Die Kersie op die Koek
In die kommunikasiebedryf sien ons dié advertensies gereeld. Perfekte gesigte, basiese uitlegte, vreemde beligting, onnatuurlike teksture en generiese komposisies verklap dikwels die gebruik van KI. Wat aanvanklik indrukwekkend gelyk het, word nou as die goedkoopste uitweg gesien. Moenie dat ek jou negatief maak nie, want KI kan nog steeds baie handig voorkom. In plaas daarvan dat dit vir ons wys wat alles moontlik is, kan ons dit nou as 'n rigtingaanwyser gebruik van ontwerpstyle wat ons eerder moet vermy.
Verskeie handelsmerke het reeds openbare terugslag ervaar nadat hulle KI-gegenereerde veldtogte gebruik het. Coca-Cola se jaarlikse Kersfees-advertensie is 'n baie goeie voorbeeld hiervan. Kritici beskryf sulke veldtogte gereeld as sielloos, vervelig en selfs emosioneel leeg. Die probleem is nie noodwendig die tegnologie nie; die probleem is dat die tegnologie dikwels die plek inneem van kreatiewe denke eerder as om dit te ondersteun. Die kersie op die koek is om net te aanvaar wat KI vir ons gegee het, dit as “uniek” of “oorspronklik” beskryf en nie verder aan moontlikhede dink om die menslike gevoel weer terug te bring nie – dit geld nie net vir grafiese ontwerp nie, maar ook vir ander kunsvorme soos skryf en musiek.
In luukse handelsmerke word hierdie spanning selfs sterker ervaar. Luuksheid verkoop immers nie produkte nie; dit verkoop vakmanskap, skaarsheid en menslike kundigheid. Wanneer 'n handelsmerk, wat tradisioneel op handwerk en artistieke eksklusiwiteit steun, skielik generiese KI-beelde gebruik, ontstaan daar 'n botsing tussen die handelsmerk se waardeaanbod en visuele taal.
Die Prys van KI-Demokrasie
Voorstanders van KI voer tereg aan dat hierdie tegnologie kreatiewe produksie demokratiseer. Klein ondernemings kan nou teen minimale koste beeldmateriaal skep wat vroeër onmoontlik was. Produksiekoste daal, toegang verbeter en kreatiewe eksperimentering neem toe. Maar elke demokratiese revolusie het natuurlik sy prys.
Wanneer almal binne sekondes honderde beelde kan genereer, word die oorspronklikheid skaars. Hoe meer inhoud gegenereer word, hoe minder aandag trek dit en wanneer tegniese uitvoering nie meer die onderskeidende faktor is nie, is dit broodnodig om menslike kreatiwiteit, storievertelling en vakmanskap terug te bring. Deur ons prompts kan ons nou sien hoe 'n “perfekte” wêreld kan lyk en almal wil dit nie meer hê nie.
In die twintigste eeu was handgemaakte produkte eksklusief omdat dit moeilik was om te vervaardig. In die een-en-twintigste eeu word mensgemaakte kreatiewe werk eksklusief omdat dit moeilik is om te vervang.
Soos digitale kunstenaars toenemend terugkeer na tasbare media, tekstuur, onvolmaaktheid en sigbare menslike betrokkenheid, ontstaan daar nou 'n nuwe mark vir egtheid. Verbruikers soek nie noodwendig perfektheid nie; hulle soek die bewyse van 'n menslike teenwoordigheid. Wanneer die oorsprong van inhoud belangrik word, word die skeppingsproses self deel van die produk.
Die grootste gevaar van KI in bemarking is waarskynlik nie dat masjiene kunstenaars vervang nie. Die groter gevaar lê in die gedagte dat handelsmerke vergeet het waarom mense ooit met kuns verbind is.
Mense koop nie net kuns nie. Hulle koop stories en die rede agter die storie. Hulle belê in die gedagte dat 'n kundige se tyd, vaardighede, ervaring en emosionele energie in iets belê is.
Wanneer 'n handelsmerk dus 'n KI-beeld gebruik sonder kreatiewe visie, menslike kurasie en sonder begrip van die waarde van craft, hang die KI-onderrok vinnig uit en dis die soort skaamte wat niemand by 'n partytjie wil ervaar nie.
Hilde Kruger is 'n grafiese en multimedia-ontwerper, skrywer en bemarker met 'n sterk fokus op strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling.
Nog artikels deur Hilde Kruger:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
Bronne
Salas Espasa, D. & Camacho, M. (2025). From aura to semi-aura: reframing authenticity in AI-generated art. AI & Society.
Kameo, N. & Gupte, A. (2025). Generative AI, Creative Work and the Problem of Authenticity Among Professional Illustrators. Academy of Management Proceedings.
Columbia Business School (2025). Beyond the Machine: Why Human-Made Art Matters More in the Age of AI.
Stanford Report (2025). When AI-generated art enters the market, consumers win – and artists lose.
Creative Bloq (2026). Digital Art Trends 2026.
Reuters (2026). AI disclosure requirements in advertising.
Vogue (2026). The Anti-AI Slop Playbook.









