Die wêreld se bekendste piesang (ja, jy het reg gelees), het onlangs weer internasionale nuusopskrifte gehaal toe die piesang op 30 Mei 2026 by die Centre Pompidou-Metz in Frankryk gesteel is en volgens die kunstenaar se installasieprotokol, binne enkele ure deur die museumamptenare vervang is. Verbeel jou, 'n installasie met 'n waarde van ongeveer R112 miljoen tot R118 miljoen wat binne minute vervang kan word deur die objek net by jou naaste inkopiesentrum aan te koop, in 'n sak te plaas en teen die muur te plak. As ons hierdie kunswerk so maklik kan vervang, waarom behou dit die waarde van miljoene rande en kan 'n vrot piesang uiteindelik as 'n kunswerk gesien word?
Piesangs en wêreldwye roem
Met die bekendstelling van Comedian in 2019, waarin die Italiaanse kunstenaar Maurizio Cattelan 'n gewone piesang met silwer kleefband teen 'n muur aangebring het, is die werk aanvanklik eers as 'n visuele grap afgemaak. Tog het die installasie sedertdien ontwikkel tot 'n voorbeeld van hedendaagse konseptuele kuns en word dit vandag as een van die invloedrykste kunswerke van die een-en-twintigste eeu gesien. Die installasie het 'n uitgebreide wêreldwye debat ontlok oor die aard en betekenis van kuns, die rol van die kunstenaar in die skeppingsproses, en die wyse waarop waarde binne die kunswêreld gekonstrueer en gehandhaaf word.
In hierdie geval lê die kern van die debat in die onderskeid tussen 'n voorwerp en 'n idee. Tradisioneel is kuns verbind aan die fisiese objek wat deur die kunstenaar geskep is. 'n Skildery van Rembrandt bly dieselfde skildery omdat die oorspronklike verf op die oorspronklike doek steeds bestaan. In Comedian se geval is die fisiese komponent egter net tydelik. Selfs al word die piesang nie gesteel of geëet nie, kan 'n piesang verouder, verkleur en binne 'n paar dae vrot word. Waarom dan nie net 'n beeldhouwerk van 'n piesang skep en dit 'n dag noem nie? Waarom die piesangs aankoop en vervang?
Dit gaan nie oor die piesang nie
Interessant genoeg bly die kunswerk se identiteit en voortbestaan onveranderd, ondanks die voortdurende vervanging van die fisiese elemente waaruit die installasie bestaan. Cattelan verduidelik dat die identiteit van die werk eerder op die konsep, akte van outentisiteit en die presiese installasieprosedure berus. Die piesang is dus nie die kunswerk nie, maar eerder die idee, denke en strukture agter die installasie.
Hierdie beginsel plaas die werk binne die tradisie van konseptuele kuns, waar die idee belangriker as die materiaal waaruit die werk bestaan, is. Die Amerikaanse kunskritikus Lucy Lippard het reeds in die twintigste eeu geskryf dat konseptuele kuns die “dematerialisering” van die kunsobjek behels. Met ander woorde, die fisiese voorwerp word minder belangrik as die betekenis, konsep of ervaring wat dit verteenwoordig.
Die “Skip van Theseus”
Vanuit 'n filosofiese hoek het Cattelan se werk my aan die antieke Griekse paradoks van die Skip van Theseus laat dink: Indien elke plank van 'n skip oor tyd vervang word, bly dit steeds dieselfde skip?
Comedian kan 'n moderne weergawe van dieselfde vraag bied: As die piesang elke drie dae vervang word, word die oorspronklike vrug binne minder as 'n week heeltemal vervang. Oor 'n jaar kan meer as honderd verskillende piesangs deel van dieselfde installasie wees. Tog word die werk steeds as dieselfde kunswerk erken. Die kontinuïteit lê dus nie in die materiaal nie, maar in die konsep wat deur die kunstenaar vasgelê is.
Dié storie strek nou al so ver dat die diefstal en vervanging simboliese waarde in die werk gekry het. Elke voorval word deel van Comedian se geskiedenis, met ander woorde dit is nou 'n interaktiewe kunswerk wat voortleef. Die verhaal van die kunswerk bestaan nie net uit die fisiese installasie nie, maar ook uit die openbare reaksies, die mediaberigte en die voortdurende gesprekke wat dit ontlok. Die kunswerk word dus herskep as gevolg van die aandag wat dit ontvang.
Die piesang is nie die grap nie
Die algemene reaksie op Comedian is dikwels laggend of skepties. Baie mense vra waarom iemand miljoene sou betaal vir iets wat in enige supermark aangekoop kan word. Dis 'n logiese vraag om te vra, maar mense mis die punt.
Alhoewel die piesang 'n belangrike aspek is, lê die ware kuns in die gesprekke wat reeds vir meer as ses jaar voortduur.
Wanneer daar debatte oor die waarde van die werk gevoer word, neem mense reeds aktief aan die konstruksie van die kunswerk se betekenis deel. Wanneer nuusmedia verslag doen oor die jongste diefstal, word die narratief van die werk verder uitgebrei en versterk. Eweneens word die kunswerk telkens herinterpreteer wanneer museumbesoekers visuele dokumentasie daarvan maak en hul interpretasies op sosiale mediaplatforms deel. En ja, ironies genoeg maak hierdie Ontlaer-artikel nou ook 'n bydra tot die waarde van Cattelan se werk.
Elke nuwe piesang bevestig dat die identiteit van die werk nie in sy fisiese samestelling lê nie. Die kunswerk bestaan, omdat mense in die idee en denke inkoop. Op hierdie manier weerspieël Comedian baie van die moderne wêreld waarin ons leef. Geld, handelsmerke, digitale bates en selfs sosiale status bestaan dikwels nie omdat hulle fisies tasbaar is nie, maar omdat mense kollektief aan die betekenis glo.
Miskien is dit waarom Comedian na al die jare mense steeds fassineer. Die werk gaan nie uiteindelik oor 'n piesang teen 'n muur nie. Dit gaan oor die menslike behoefte om betekenis en identiteit te vind in 'n wêreld waar alles voortdurend verander.
Hilde Kruger is 'n grafiese en multimedia-ontwerper, skrywer en bemarker met 'n sterk fokus op strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling.
Nog artikels deur Hilde Kruger:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
Bronne
Lippard, L. (1973). Six Years: The Dematerialization of the Art Object from 1966 to 1972. Berkeley: University of California Press.
Cattelan, M. (2019). Comedian. Art Basel Miami Beach, Verenigde State van Amerika.
The Art Newspaper. “Gone Bananas: Cattelan’s Comedian stolen from Centre Pompidou-Metz exhibition.” Gepubliseer 1 Junie 2026.
Le Monde. “French museum reports theft of arty banana.” Gepubliseer 1 Junie 2026.
Vogue. “The $120,000 Art Basel Banana, Explained.” Gepubliseer 2019.
Wikipedia. “Comedian (artwork).” Toegang verkry Junie 2026. (Gebruik as verwysingsbron vir sekondêre feite en aangehaalde bronne.)









