Ekonomiese mag is nie genoeg nie
'n Gramsciaanse blik op die Afrikaner se verlies aan kulturele hegemonie.
Die links-liberale media en populistiese politieke partye in Suid-Afrika maak 'n punt daarvan om die Afrikaner se relatiewe welgesteldheid as 'n wapen te gebruik. Hierdie narratief, wat ook sterk aanklank in die buitelandse media vind, word ingespan om die Afrikaner se mond te snoer oor geldige gemeenskapsbekommernisse. Die implikasie is telkens dat Afrikaners “met die witbrood onder die arm kla” en eerder hul seëninge moet tel en swyg.
Sodanige argumente is doelbewus daarop gemik om die Afrikaner te ontmagtig en te marginaliseer, en om historiese en eietydse griewe onder die mat te vee. Dit fasiliteer die stelselmatige uitrangering van die Afrikaner uit die openbare sfeer – van die staatsdiens en staatsondernemings tot openbare skole en universiteite wat doelbewus verengels word.
Terselfdertyd word die feitelike geskiedenis van die Afrikaner óf geïgnoreer óf sodanig verdraai dat die hele groep as historiese uitvaagsels, gronddiewe en onderdrukkers uitgebeeld word. Perspektief word doelbewus verontagsaam. Sodoende word begrip gekeer vir die komplekse geskiedenis van 'n minderheid wat self uit onderdrukking moes opstaan, uiterste armoede moes ontsnap en dekades lank moes veg vir die behoud van sy taal en kultuur teen die eertydse mag van die Britse Ryk.
Hierdie sistematiese ontmagtiging is nie 'n toevalligheid nie; dit is 'n berekende strategie om die Afrikaner se oorblywende invloed te neutraliseer. Die post-1994-regeerders het besef dat dit lank sou neem om die Afrikaner se ekonomiese basis te verswak. Hulle het egter geweet dat ekonomiese mag mettertyd verwelk as die kulturele legitimiteit daaragter eers uitgeteer en vernietig is. Ekonomiese mag sonder kulturele mag is op die lange duur eenvoudig nie volhoubaar nie. Om hierdie dinamika te verstaan, moet ons kyk na die insigte van die groot Italiaanse denker Antonio Gramsci.
Gramsciaanse hegemonie
Gramsci (1891–1937) was 'n Italiaanse intellektueel en politikus wat die fascistiese regime van Benito Mussolini teengestaan het. Sy uitgesproke denke het hom in die tronk laat beland, waar die regime sy stem permanent wou stilmaak. Dit het egter misluk. In die tronk het Gramsci sy beroemde Tronknotaboeke geskryf, waarin hy die konsep van “kulturele hegemonie” ontwikkel het.
Gramsci het hom afgevra waarom die Marxistiese rewolusie van 1917 in die minder ontwikkelde Rusland geslaag het, maar telkens in meer gevorderde Wes-Europese lande soos Italië en Duitsland misluk het. Sy gevolgtrekking was dat die heersende klas in die Weste nie bloot deur die weermag of polisie — dus deur dwang — regeer nie, maar deur die kultuur.
Ironies genoeg sien ons, honderd jaar na Gramsci, dat Wes-Europa wel begin swig onder 'n stille rewolusie: die instroming van en kulturele oorname deur immigrante met nie-Westerse kulture veroorsaak dat die hegemonie van die Westerse kultuur toenemend verplaas word deur die kulturele hegemonie van nie-Westerse groepe. Totale Westerse hegemonie is dus stadig maar seker besig om in die niet te verdwyn.
Wanneer 'n groep kulturele hegemonie bereik, dwing dit sy eie wêreldbeskouing, waardes en moraliteit so suksesvol op die burgerlike samelewing af dat dit as bykans normaal aanvaar word. Gramsci het gepostuleer dat, as jy mense se kulturele en intellektuele raamwerk beheer, jy hulle nie met fisiese geweld hoef te dwing nie; hulle polisieer en rig hulleself in die rigting wat jy verlang.
Die Afrikaner en kulturele hegemonie
Voor 1994 het die Afrikaner kulturele hegemonie in Suid-Afrika gevestig deur die belangrikste instellings van die burgerlike samelewing — die staatsadministrasie, munisipale bestuur, staatsondernemings, die weermag, polisie, skole, universiteite, die media, kerke en die kunste — te domineer. Dit het uitsonderlike institusionele mag aan die Afrikaner verleen, wat as 'n skild gedien het vir die ekonomiese mag wat oor generasies heen opgebou is. Hierdie kombinasie het 'n klein minderheid in staat gestel om polities en kultureel te oorleef in 'n demografiese see van landsburgers met ander kulture.
Met die oorgang in 1994 het die Afrikaner ingestem tot 'n nuwe, egalitêre staatsbestel. Hoewel politieke mag prysgegee is, het die Afrikaner-sake-elite daarin geslaag om groot dele van hul ekonomiese kapitaal te beskerm. Dit is grootliks gedoen deur strategiese rykdomsdeling met die nuwe polities verbonde elite — 'n proses wat vir alle praktiese doeleindes gedien het as die koördinering van ekonomiese oorlewing deur die skep van Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB). Dit was 'n onmiddellike uitkoms in die beginjare ná 1994, maar het uiteindelik verander in die korrupte, onverdiende en elite-bevoorregtende draak wat ons vandag beleef, tot nadeel van breedgebaseerde ekonomiese opheffing. Dieselfde sukses kon egter nie behaal word ten opsigte van die Afrikaner se kulturele hegemonie nie.
Waarom ekonomiese mag 'n hersenskim is
Ekonomiese kapitaalbesit gee 'n minderheidsgroep bloot 'n valse gevoel van sekuriteit. As jy nie meer die kulturele en morele narratief beheer nie, beheer jy niks nie. Wanneer die heersende hegemonie jou as immoreel of as 'n historiese — of selfs kontemporêre — vyand uitbeeld, kan daardie ekonomiese bates te eniger tyd deur wetgewing soos aggressiewe SEB-teikens of onteiening geteiken word.
Hierin lê Gramsci se grootste waarskuwing: sonder die behoud van eie kulturele instellings wat jou eie storie vertel en verdedig, internaliseer die minderheidsgroep se kinders oor tyd die heersende klas se skuldnarratief. Ons sien dit reeds in die huidige skoolkurrikulums, waar die Afrikanergeskiedenis eensydig, verdraai en sonder historiese konteks aangebied word.
Dit lei tot geïnternaliseerde skuldgevoelens by 'n nuwe geslag wat subtiel geprogrammeer word om hul eie kultuur as minderwaardig te beskou. Hulle koop in by die hegemoniese idee dat die huidige staat die eksklusiewe morele hoë grond beset, en dat drakoniese “transformasie” die enigste logiese werklikheid is.
Die “oorlog van posisie”
Hoe veg 'n minderheid terug teen hierdie oorheersing? Gramsci se antwoord was die “oorlog van posisie” (war of position). Omdat 'n minderheid 'n direkte frontale botsing met die staat sal verloor, moet die instellings van die burgerlike samelewing stelselmatig herower of van nuuts af opgebou word.
Hier pas instellings soos Solidariteit, AfriForum en Sakeliga perfek in as praktiese, teen-hegemoniese instrumente. Akademia en Sol-Tech is nie bloot opvoedkundige infrastruktuur nie; hulle is die inkubators vir wat Gramsci “organiese intellektuele” genoem het — mense wat die minderheid se eie wêreldbeskouing nuwe intellektuele statuur gee en dit effektief artikuleer.
Terselfdertyd doen, byvoorbeeld, die FAK noodsaaklike werk om die historiese erfenis te herower en te verhoed dat die staat die geskiedenis herskryf. Sakeliga en sy netwerke van sakekamers bou op hul beurt aan 'n ekonomiese ekosisteem wat onafhanklik of semi-onafhanklik van die staat se dwingende transformasie-eise kan funksioneer.
Hierdie institusionele netwerk sluit naatloos aan by die konsep van digitale selfbeskikking. Vir die Afrikaner-minderheid is dit 'n eksistensiële noodsaaklikheid om aan die voorpunt van tegnologiese en institusionele innovasie te bly. Slegs deur ekonomiese mag te koppel aan die herowering van ons kulturele kapitaal, kan ons verseker dat die meerderheidstaat se hegemonie ons nie uiteindelik insluk nie.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










