Die Omgekeerde Nibelungen-toets: Hoe Duitsland sy Demokrasie Vooraf Wysig
'n Plaaslike prosedure skets 'n beeld van post-demokratiese bewind.
Die komende Europese herfs, in die nywerheidstad Ludwigshafen, sal een politieke rolspeler ontbreek nog voordat die teatergordyn opgaan.
Joachim Paul (55 jaar oud) is 'n lid van die deelstaatparlement in Rijnland-Palts vir die Alternative für Deutschland (AfD), 'n hoërskoolonderwyser van Koblenz, 'n skrywer en vir 'n geruime tyd 'n gesig in die party. Hy het voorberei om voor die kiesers te staan maar hy sal nie. Die gehoor sal hul sitplekke inneem, die toneelstuk sal voortgaan, maar een van die sentrale rolle in die verhaal is uit die draaiboek geskrap.
Paul se uitsluiting het nie deur 'n hofbeslissing of 'n verkiesingsnederlaag gekom nie. Dit het deur die stemproses van 'n plaaslike munisipale verkiesingskomitee gekom, gegrond op 'n dossier van die deelstaat se binnelandse intelligensiediens. Die regverdiging om vir Paul te prediskwalifiseer kom weens die “twyfel oor sy grondwetlike lojaliteit.” 'n Frase wat in die Duitse politieke praktyk die spreekwoordelike hekwagters se sleutel geword het. Dit gee die mag om te diskwalifiseer sonder die behoorlike las om onwettigheid te bewys.
In die Duitse verkiesingsreg is die ontnemingsbesluit van die reg om verkiesbaar te wees veronderstel om skaars en regterlik geneem te word. Slegs 'n hof mag hierdie reg deur bevel ontneem en slegs in die ernstigste gevalle. In Ludwigshafen is daardie drumpel verbygesteek. Die besluit het berus op 'n samestelling van internetsoektogte en vermeende verwantskappe wat openlik erken word om onvoldoende te gewees het. Geen dagvaarding nie, geen verhoor nie, bloot 'n administratiewe uitsluiting van 'n politieke kandidaat nog voordat die stryd kon begin.
Hierdie meganismes is egter nie nuut nie. In die afgelope paar jaar het veiligheidsbeamptes openlik voorgestel dat in plaas van die lang en onsekere proses om 'n hele politieke party te verbied, sal dit meer doeltreffend wees om die politieke party stukkie vir stukkie te verswak deur die plaaslike strukture van die ongewensde politieke partye of individuele politici uit te sluit. In sommige deelstate, veral Noordryn-Wesfale, is die metode reeds beproef. Ludwigshafen het nou 'n hoëprofielvoorbeeld verskaf.
Die politieke verskuiwing is subtiel maar beslissend, van mededinging na kurasie. 'n Demokrasie wat eens gedefinieer is deur die oopheid van sy kiesstelsels, behou nou die reg voor om vooraf nie net beleid nie, maar die voorsprake vir beleid, te kies. Die kriteria van uitsluiting is nie misdaadrekords of onwettige platforms nie, maar die atmosfeer en die stemtoon van 'n sin, die kulturele verwantskappe van 'n verwysing of die geselskap waarin 'n mens homself bevind.
Paul se meningstukke het sy las geword. Sy skryfstukke oor die Nibelungenlied – 'n 13de-eeuse Duitse volksverhaal oor Siegfried die Draakdoder, die verraad wat gelei het tot sy moord en die bloedige wraak van sy weduwee Kriemhild. Dit is 'n verhaal sonder versoening of 'n gelukkige einde, 'n lied van lojaliteit tot die dood toe, en van eedaflegging selfs wanneer 'n persoon se ondergang die uiteindelike prys is. In daardie wêreld is daar geen ironie en geen middelgrond nie, maar slegs die tragiese gewig van gevolge.
Vir die voor-moderne Europa was sulke lojaliteit nie 'n eksentrieke deug nie, maar die grondslag van die politieke orde. Lojaliteit aan die heerser deur die onderdaan, vriend en bondgenoot wat aan 'n gedeelde lot verbind is. Om die grondslag te verbreek het die wêreld waarin jy geleef het totaal ontbind.
Die moderne staat het hierdie persoonlike band vervang met die afgetrokkenheid van die reg, 'n stelsel wat ontwerp is om sonder deug te funksioneer. Tog, wanneer iemand die ouer maatskaplike raamwerk van lojaliteit oproep, en dit ernstig bedoel, voel die moderne burokratiese orde bedreig deur hierdie mededingende denkraamwerk oor legitimiteit. Daardie mededinging kan dalk verduidelik waarom 'n meningstuk die uitsluiting van 'n politieke kandidaat kan aktiveer.
Paul het ook op Tolkien gesteun. Hy het dit nie gedoen vanuit die Hollywood-vereenvoudiging van Tolkien se skryfwerk nie, maar vanuit die oorspronklike morele argitektuur van The Lord of the Rings. Ook hier dra die stil en die onderskatte figure die gewig van die wêreld.
Tolkien se Middle Earth, gevorm deur sy bestudering van Noorse en Angelsaksiese mites, beskou boosheid nie bloot as 'n politieke teenstander nie, maar as 'n korrupsie van wese van die mens. Dit hanteer lojaliteit as die weiering om jou aangewese rol te laat vaar selfs wanneer geen oorwinning verseker is nie. In hierdie raamwerk is die Ring nie net 'n wapen nie maar 'n toets. Dit plaas die versoeking op die draer van die Ring om die wêreld deur oorheersing te herskep, maar vernietig elke politieke orde wat aan daardie aan versoeking ingee.
Paul het in sy meningstukke die AfD (sy politieke partye) in die rol van “die Hobbit wat op die Ring afgekom het” geplaas en homself as “die een wat geweier het om dit te gebruik maar dit bestudeer het”. In Tolkien se morele raamwerk is dergelike selfbeheersing 'n vorm van wysheid. In die politieke raamkwerk van hedendaagse Duitsland is dit genoeg om vir jou verdag te maak. Die Ring mag gedra word, maar sy betekenis moet nie bespreek word nie.
Om sulke verhale ernstig op te neem, of dit nou uit 'n Middeleeuse volksverhaal of uit 'n moderne mitopoësie getrek is, druip in die heersende klimaat 'n ongeskrewe toets. Letterkunde mag gelees dog nie toegepas word nie. Herinnering mag erken word, maar daar mag nie daarvolgens opgetree word nie. In 'n stelsel wat oorleef deur konstante relativering, word gevolge ondermynend van die stelsel.
Die besluit in Ludwigshafen om vir Paul te verbied om aan die verkiesing deel te neem is veelseggend. 'n Post-nywerheidsstad aan die Rynrivier wat op die grens tussen integrasie en verwering lê. Etniese spanning is deel van die stad se daaglikse ritme. Parallelle strukture soos etniese groepe en ongeregistreerde moskees, funksioneer neffens die amptelike Europese orde.
Tydens die laaste federale verkiesing het die AfD die stad se tweede grootste party geword. In Oggersheim, wat eens die tuiste van Helmut Kohl was, het AfD die meerderheid gekry. Dat 'n kandidaat van so 'n party moontlik daar kon wen, moes aldus die heersende politieke klimaat voorkom word.
Die uitsluiting van Paul was dus voorkomend. Dit was nie in reaksie op enige onwettige gedrag deur Paul nie, maar 'n berekende verwydering van 'n potensiële wenner in die verkiesing. Dit is 'n patroon waar die uiterlike vorm van demokrasie bly (soos stembriewe, komitees en openbare verklarings) maar die inhoud verskuif. Die stembrief word skoongemaak voordat die kieser dit sien. Die stryd word nie deur politieke oortuiging besleg nie, maar deur vooraf uitskakeling.
Mens kan dit die omgekeerde Nibelungen-toets noem. In die ou verhaal sterf die held vir sy lojaliteit. In die moderne weergawe word hy nooit toegelaat in die verhaal nie. Die opvoering gaan voort, maar die draaiboek het reeds die uitkoms bepaal.
Dit is nie bloot net 'n Duitse verskynsel nie. Politieke teoretici van Carl Schmitt tot Sheldon Wolin het gewaarsku dat stelsels wat hulself definieer deur konsensus uiteindelik begin om die grense van toelaatbare opposisie te polisieer, totdat die kategorie van “vyand” administratief uitgewis word. In so 'n klimaat word verkiesings minder 'n arena vir besluitneming as 'n ritueel wat bevestig wat reeds besluit is. Die uitsluiting van Paul in Ludwigshafen is 'n plaaslike gebeurtenis, maar dit skets 'n toonbeeld wat enige demokrasie kan aanneem. 'n Voorbeeld wat uitbeeld dat die maklikste manier om te wen is om te verseker dat die “verkeerde” spelers nooit die veld betree nie.
In die Verenigde State kan 'n kandidaat deelneem terwyl hy aangekla is op een-en-negentig aanklagtes van misdrywe.
In Israel kan 'n eerste minister aanbly, midde-in 'n ongewilde oorlog.
In Duitsland kan 'n man verbied word omdat hy 'n ou volksverhaal te letterlik gelees het.
Die vergelyking gaan nie oor morele gelykwaardigheid nie, maar oor die drempels wat elke stelsel bereid is om oor te steek voordat dit die risiko loop om weerspreek te word. Wat dus in Ludwigshafen gebeur het is nie 'n afwyking nie. Dit is 'n herhaling van 'n orde wat homself as beide regter en mededinger aanstel, wat die stadige beperkings van die reg omseil ten gunste van die meer doeltreffende meganisme van uitsluiting.
Dit is nie die mislukking van demokrasie nie. Dit is die funksionering van 'n demokrasie wat homself herdefinieer het as 'n stelsel sonder opponente. Konsensus wat deur filters, nie deur argumente nie, in stand gehou word.
Filip Gašpar is 'n politieke adviseur en uitgewer met Kroatiese wortels uit Bosnië en Herzegovina. Hy spesialiseer in strategiese kommunikasie, internasionale posisionering en konserwatiewe netwerke. Hy skryf gereeld vir Duitse en internasionale platforms soos Junge Freiheit, The European Conservative, en verskeie media regoor die voormalige Joego-Slawië.
Hierdie artikel is met die vergunning en toestemming van The American Postliberal Substack vertaal. Besoek die blad hier.
Opdatering:
Op 25 Augustus 2025 het die Hoër Administratiewe Hof van Rynland-Palts in Koblenz, Joachim Paul se dringende appèl teen sy uitsluiting van die Ludwigshafen-burgemeestersverkiesing van die hand gewys. Die regters het geweier om die meriete van die hofaansoek te ondersoek en het eerder beslis dat die stabiliteit van die verkiesing swaarder weeg as die regte van die uitgeslote kandidaat. Die hof het die saak na 'n ná-verkiesingsoorsig verwys. Paul se uitsluiting bly dus van krag.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.