Europa is nie Afrika nie
Europa worstel met identiteit, Suid-Afrika met oorlewing.
Ek het onlangs 'n onderhoud op GB News met Ayaan Hirsi Ali gekyk waar sy argumenteer dat Europa nie regtig voorbereid is op die diepte van migrasie en die migrante se kulturele verskille nie.
Die gesprek het, soos dikwels die geval met haar, gegaan oor identiteit en die vraag of die Weste nog die selfvertroue het om sy eie waardes te beskerm. Sy het tydens die onderhoud vertel van haar eie lewe: van haar ouma wat nooit 'n wit mens gesien het nie, tot haar ma wat vir die eerste keer lopende water en seep in koloniale Jemen gehad het, en uiteindelik haar eie pad uit Somalië, deur Saudi-Arabië en Ethiopië, tot in Nederland. Haar en haar familie se verhaal vertel van tradisie wat teen moderniteit bots, van groepsdenke en Islam wat met Westerse moderniteit en individualisme bots.
Sy waarsku in die onderhoud (en dikwels elders) dat Europese state nie regtig voorbereid is op hoe hardnekkig sommige van hierdie kulturele patrone is nie. Migrante uit lande soos Somalië hou dikwels aan om lojaliteit aan hul kultuurgroep en godsdiens bo hul nuwe burgerskap te stel, en dit skep spanning in lande wat nie weet hoe om assimilasie te vereis of af te dwing nie. Dit herinner aan die Amerikaanse-Somaliese politikus Ilhan Omar wat verlede jaar gesê het Somaliërs in die VSA sal sorg dat die Amerikaanse regering in die belange van Somalië optree.
Volgens Ali is dit nie net 'n kwessie van ekonomie of demografie nie, maar 'n kwessie van die Weste se waardes. Sy argumenteer dat Westerlinge minder kinders kry, minder glo in hul eie waardes, en sodoende oorweldig word deur 'n migrantestroom wat nie noodwendig wil assimileer nie juis omdat die Weste se selfbeeld en eie ideologie dit moeiliker maak om duidelike grense te trek.
Ek het baie respek vir Ayaan Hirsi Ali. Haar lewenspad is buitengewoon, haar intellektuele moed is ongewoon, en sy raak dikwels aan ongemaklike waarhede wat verskeie kante van die politieke spektrum ontstel.
Maar hierdie onderhoud van haar het my laat dink aan die vreemde teenstrydigheid wat ek by onsself waarneem. Talle Westerlinge en ook baie konserwatiewe of libertariese Suid-Afrikaners praat oor hoe Europa begin lyk soos Afrika of die derde wêreld. Hulle wys tereg op die probleme van massamigrasie en op die selfvernietigende kringloop van progressiwisme. Tog verduidelik hierdie kritiek nie alles nie en gee dit nie die volle perspektief nie.
Europa deur twee kameras
Ek het onlangs 'n video gesien van 'n man wat in Frankfurt, Duitsland, om die treinstasie stap. Daar is tans talle soortgelyke video’s op sosiale media wat probeer wys hoe die hoofstroom die probleme van migrasie verbloem. Die tonele in die spesifieke video het inderdaad gelyk soos iets uit eie Suid-Afrikaanse bodem soos Hillbrow. In die video lê mense in die strate, dwelms is sigbaar en die strate is vol rommel.
Ek het die video aan my vriend en mede-OntLaer-redakteur Paul Maritz, wat self in Frankfurt woon, gestuur en gevra of dit regtig so lyk. Sy reaksie was eenvoudig om 'n foto wat hy sommer daar en dan geneem het van 'n silwerskoon bus- en treinstasie wat hy daagliks gebruik vir my te stuur. Netjies, skoon en goed in stand gehou. Paul erken dat dit sleg lyk om die hoofstasie in Frankfurt, maar dit is net 'n deel van die realiteit. Die res van Frankfurt is steeds Europa soos ons dit ken.
Daar is 'n groot verskil tussen 'n stasie-omgewing wat deur haweloses en dwelms geteister word, en 'n stad of 'n land wat deurlopend verval. Ek was self onlangs in Spanje. Ek het nie die indruk gekry van 'n kontinent op die rand van ineenstorting nie. Inteendeel, dinge werk. Treine was betyds en die strate is relatief veilig veral in vergelyking met Suid-Afrika. Europa het ongetwyfeld spanning en probleme en migrasie en die gevolge daarvan is 'n groot uitdaging. Maar Europa is nie Afrika nie. Nie eers naby nie.
Migrasie na Europa toe is trouens 'n eeue-oue ding. Die Romeinse Ryk was voortdurend besig om mense van buite in te trek. Die Ottomane het eeue lank oor groot dele van Europa geheers. Na die koloniale tyd het miljoene mense uit Afrika en Asië in Europese stede gevestig. Maar wat die huidige tydperk anders maak, is nie die migrante se teenwoordigheid nie, maar die gasheerstate se onsekerheid en gebrek aan eie identiteit en selfversekering. Die Duitse of Franse staat kan nie met dieselfde sekerheid as 50 jaar gelede vir 'n migrant sê: “Dit is wie ons is, dit is hoe jy moet aanpas en inpas” nie, want hulle is self onseker oor daardie antwoord. Europese instellings werk steeds, maar hul selfvertroue is uitgekalwer.
Ons eie ellendes
Op ons eie bodem is dit anders. Suid-Afrika is in 'n situasie van werklike strukturele verval. Ons lys van probleme is bekend. Beurtkrag, 'n krimpende belastingbasis, massiewe werkloosheid, ensovoorts. Ons praat nie van vuil strate rondom 'n treinstasie nie maar eerder van treine in geheel wat nie loop nie. Ons bespreek nie 'n blok in die stad wat onveilig is nie maar van 'n hele polisiediens wat die land faal en tot rekord misdaadvlakke lei.
En tog (en dit is die interessante kontras) bly talle Suid-Afrikaners dikwels hoopvol selfs terwyl hulle aanhoudend die gevaarligte uitwys. Partye soos die DA en VF Plus probeer daar waar hulle regeer steeds wys dat indien regeringsbestuur aanspreeklik is, kan dinge in Suid-Afrika werk. AfriForum, Solidariteit, Action Society, Free SA, die IRR, Sakeliga, Saai en kie. wag nie vir 'n Europese-styl Marshall-plan nie. Hulle baklei en hulle bou. Hulle organiseer buurtwagte, maak paaie reg, en bou instellings. Selfs gewone gemeenskappe in dorpe wat al lankal in duie stort het, organiseer mense om gras te sny, rioolpype te herstel, kerke oop te hou, en buurte te patroleer.
Daar is natuurlik ook 'n sterk element van fatalisme in Suid-Afrika. Baie mense glo dinge gaan net erger word. Maar dit is opvallend hoe Suid-Afrikaners wat by tye moedeloos oor die toekoms is tog steeds bly bou en bly hoop. Die fatalisme en die verbeelding leef langs mekaar.
Dit tref vir my dat dieselfde Suid-Afrikaners wat hulself staatsbestand maak, devolusie voorstaan, en die bogenoemde politieke partye en burgerregte groepe ondersteun, egter wanneer hulle oor Europa praat hulle dikwels 'n byna apokaliptiese stemtoon oor Europa het. Douglas Murray se boek The Strange Death of Europe ('n puik boek wat ek hoogs aanbeveel) en Ali se waarskuwings oor identiteitspolitiek en Islam se politieke invloed word gretig aangehaal. En tog wanneer jy in Spanje of Duitsland of Frankryk rondloop, sien jy nie 'n plek wat op die rand van totale mislukking is nie. Jy sien 'n plek wat in 'n identiteitskrisis is, maar wat steeds funksioneer.
Suid-Afrika, aan die ander kant, is nie net in 'n identiteitskrisis nie, maar naby aan grootskaalse verval. Ons hoef nie daaroor doekies om te draai nie.
Hierdie groep Suid-Afrikaners gebruik die retoriek van mense soos Ayaan Hirsi Ali om te wys hoe gevaarlik progressiwisme en migrasie in Europa is, terwyl ons self leef met die direkte gevolge van ideologiese wanbestuur, staatsverval en 'n die meerderheid politieke partye wat nie glo in die basiese beginsels van 'n moderne ekonomie nie. Ons trek lesse uit Europa se spoke, maar ons eie werklikheid is reeds meer desperaat.
Daarmee sê ek nie dat Europa geen probleme het en dat hulle nie bekommerd moet wees nie. Ali en Murray is reg dat migrasie nie net 'n statistiek is nie, maar 'n kulturele, morele en uiteindelik bestaansuitdaging vir Europa. Hulle is reg dat progressiwisme geneig is om homself op te vreet. Maar wanneer jy die tonele van 'n stasie in Frankfurt vergelyk met die tonele in Centurion van 'n hele hoofpad wat vir maande, selfs jare, in 'n sinkgat verdwyn het en nooit herstel word nie, besef jy gou dat Europa se probleme is hoofsaaklik, ten minste vir nou, filosofies en kultureel, terwyl Suid-Afrika s’n infrastruktuur en oorlewing is.
Eie grootste vyande
Daar is dus iets vreemd troosryk in die vergelyking. Europa mag dalk vir Ali soos 'n spookbeeld van Somalië begin voel. Maar vanuit Suid-Afrika lyk dit steeds soos 'n plek waar die treine loop en die ligte brand. Ons eie uitdagings is groter, en tog kies baie van ons om hier te bly, hier te werk en hier te droom.
Miskien is dit die regte les om uit Ali se onderhoud te vat. Elke samelewing se grootste vyand lê dikwels in sy eie selfvertroue. Die Weste is sy eie grootste vyand. Maar Suid-Afrika is ook sy eie grootste vyand.
Nog artikels deur Daniël Eloff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.