Hoe seker is jy dat jy oor alles reg is?
Die ietwat (maar nie heeltemal) arbitrêre aard van ideologiese bondels.
Politiek gaan nie bloot oor abstrakte, intellektuele verskille oor beginsels waarvolgens 'n samelewing ingerig behoort te word nie. Dit neem dikwels die vorm van 'n konflik tussen verskillende kante aan.
Watter kant ons ook al kies, ons glo gewoonlik dat ons kant reg is en die ander kant is verkeerd. Om reg te wees voel vir ons maklik: Jy hoef net helder en rasioneel te dink. Dié aan die ander kant wat verkeerd is, is dus óf dom óf intellektueel oneerlik, of dalk selfs beide. Maar wat is die kans dat jou politieke kant oor álles reg is? Een moontlikheid is dat elke politieke kant standpunte op grond van bepaalde beginsels formuleer. Miskien is jou kant juis dié een met die regte of regverdige beginsels, en die ander kant nie.
Die ietwat arbitrêre aard van ideologiese bondels
Wanneer 'n mens na politieke standpunte kyk, is dit moeilik om eenvoudige beginsels te vind wat die grondslag lê aan die ideologiese bondels wat deur 'n spesifieke politieke kant ondersteun word.
In 'n artikel uit 2020, “What are the chances you’re right about everything?”1, wys die filosoof Hrishikesh Joshi op die merkwaardige korrelasie wat gevind word tussen antwoorde op verskillende politieke vrae, ondanks hul uiteenlopende aard:
Hierdie kwessies gaan oor uiteenlopende vrae binne verskillende terreine van die sosiale lewe. Dit lyk moeilik om die standpunte wat 'n mens hieroor kan hê, te herlei tot 'n paar samehangende beginsels. Daarom maak dit sin om die politieke ruimte as multidimensioneel te sien: baie verskillende kwessies en nie net die tradisionele verdeling tussen meer of minder ekonomiese herverdeling nie. Die vorm moontlike lyne van verdeeldheid. Tog het 'n opname in die VSA bevind dat jou antwoord op een van hierdie vrae redelik akkuraat jou antwoorde op ander vrae kan voorspel.2
Met ander woorde, politieke ideologieë kom in bondels voor. Is jy aan die linkerkant? Dan sal jy waarskynlik ten gunste wees van groter ekonomiese herverdeling, vroueregte, die stryd teen klimaatsverandering en teen diskriminasie van minderhede, ensovoorts. Is jy aan die regterkant? Dan sal jy waarskynlik ten gunste wees van 'n kleiner regering, teen die afbreek van tradisionele waardes wees, en krities teenoor immigrasie staan.
Die feit dat hierdie uiteenlopende standpunte so saamgebondel is, voel tipies vir ons natuurlik. Vir dié wat omgee oor politiek, is hulle kant die goeie kant wat teen 'n misleide of kwaadwillige politieke opposisie veg. Om aan die goeie kant te wees beteken om reg te wees oor al hierdie uiteenlopende kwessies.
Hoe koalisie-werklikhede ideologiese bondels vorm
Maar hierdie siening is 'n lugspieëling. Politieke ideologieë is nie perfekte konseptuele raamwerke wat hoofsaaklik vir logiese konsekwentheid ontwerp is nie. Hulle verwoord eerder die belange van politieke koalisies. Hierdie perspektief is onlangs uitstekend verduidelik deur David Pinsof en sy medeskrywers in hul artikel, “Strange bedfellows: The Alliance Theory of Political Belief Systems”:
“[…] political belief systems are not so much “philosophies” as collections of ad hoc justifications, rationalizations, moralizations, embellishments, and rhetorical tactics designed to advance the interests of complex political alliances in competition with their rivals. Moral principles are not so principled. Core values are not so core. Ideological worldviews are not designed to literally view the world but to serve strategic functions like signaling allegiance or mobilizing support.”
Hulle wys verder op die buigsaamheid van koalisievorming. Die struktuur van politieke koalisies binne 'n gegewe land hang van die land se geskiedenis af en is ietwat arbitrêr.
“Small variations in initial social conditions can feed on one and another snowball into seemingly arbitrary alliance structures.”
Dit verklaar waarom partye in verskillende lande wat ideologies gesproke aan dieselfde kant staan, dikwels uiteenlopende posisies inneem. 'n Voorbeeld hiervan is linkse partye se houding teenoor kernkrag: Terwyl Groen- en linksgerigte partye in Wes-Europa lank reeds kernkrag op omgewings- of veiligheidsgronde teenstaan, het die Franse linkses dit tradisioneel ondersteun as 'n lae-koolstof-energiebron wat strook met die land se nasionale nywerheidsbeleid.
Dit verklaar ook waarom partye met verloop van tyd na heel ander politieke posisies kan verskuif. 'n Uitstekende voorbeeld hiervan is die transformasie van die Amerikaanse suidelike Demokrate gedurende die 20ste eeu. Vir 'n groot deel van die vroeë tot middel 1900’s het suidelike Demokrate ekonomiese progressiwisme (ondersteuning vir werkersregte, openbare investering en elemente van die New Deal) gekombineer met sosiale konserwatisme en segregasie-beleid. Hierdie ideologiese kombinasie het die koalisie weerspieël wat die suidelike Demokrate ondersteun het: 'n alliansie tussen plaaslike elites en ekonomies benadeelde wit kiesers. Soos nasionale Demokratiese politiek geleidelik meer met burgerregte en rassegelykheid belyn het, het dié koalisie opgebreek en talle konserwatiewe wit kiesers het na die Republikeinse Party in die Suide verskuif.3
As gevolg van die historiese konteks se vorming van politieke standpunte, bevat politieke groepe dikwels skynbaar teenstrydige houdings. Die Amerikaanse regterkant, byvoorbeeld, kombineer 'n “pro-lewe”-standpunt (teen aborsie, om die lewe van ongebore babas te beskerm) met 'n sterk “pro-wapen”-houding (teen wapenregulering wat massa-skietvoorvalle in skole, waarin kinders sterf, kan verminder). Aan die Amerikaanse linkerkant word daar gevra om “die wetenskap te glo” oor kwessies soos klimaatsverandering of pandemiebeleid – teenoor die “ontkenners” aan die regterkant – terwyl daar terselfdertyd beskrywings van wetenskap as “Westers” en bloot een van talle “wyses om te weet” voorkom.4
Hierdie sienswyse verduidelik nog 'n aspek van koalisiepolitiek: wanneer 'n nuwe kwessie ontstaan, het koalisielede aanvanklik dikwels geen sterk voorkeure nie, maar wil seker maak dat hulle wel die “regte” posisie binne hul koalisie inneem. Gevolglik is daar in nuwe, onbekende situasies dikwels 'n tydperk van onsekerheid, waarin dit nie vir koalisielede duidelik is watter posisie hulle behoort te steun nie. Mense kyk na mekaar en wag om te sien watter standpunte geleidelik sal seëvier. 'n Paar sleutel-leiers binne die koalisie kan dikwels die pas aangee en 'n inligtingswaterval skep wat daartoe lei dat koalisielede gesamentlik een of ander posisie aanvaar.
Ideologieë is meer as leë regverdigings
Die alliansie-teorie van politieke ideologie bied 'n nodige teenvoeter vir 'n naïewe beskouing van politieke ideologie. Tog staar dit 'n natuurlike vraag in die gesig: as ideologieë bloot ad hoc-regverdigings is, hoekom gee mense dan enigsins om daaroor? As politieke konflikte uiteindelik net rou belangebotsings is, waarom praat mense dan met mekaar, probeer hulle redes vind om hul posisies te regverdig, en spandeer hulle soms aansienlike tyd daaraan om ander van hul standpunte te probeer oortuig? Met ander woorde: wat is die nut van ideologieë? As almal eintlik weet dis net 'n dun lagie vernis oor blote belange, waarom sou hulle dit ernstig opneem?
Die beskouing van politieke ideologieë wat ek ontwikkel het, wys dat ideologiese bondels inderdaad ietwat arbitrêr is, maar verduidelik ook waarom mense daaroor omgee: hierdie ideologieë speel 'n sleutelrol in die onderhandeling tussen maatskaplike groepe oor hoe regte en hulpbronne binne die samelewing verdeel word. Soos ek al voorheen geskryf het:
“Any group of people, large or small, working together needs a kind of understanding of how the costs and benefits of social cooperation will be split: who does what, and who gets what. When groups are as large as a society, such understandings are labelled “social contracts”, not in the sense of actual contracts agreed to by ancestors, but as de facto agreements that people are willing to follow.”
Vir hierdie sosiale kontrakte om te kan funksioneer, kan hul inhoud nie bloot heeltemal arbitrêr wees nie:
“[I]deologies are not just a bunch of fake principles simply putting a mask on the raw interests of social groups. […] For an ideology to work, it needs to have a binding force, making its respect somewhat credible. The principles of an ideology will point to specific solutions in specific situations. People adhering to an ideology know they can use the principles of that ideology to adjudicate their practical disagreements.”
Vir 'n politieke ideologie om prakties te kan bepaal hoe 'n samelewing ingerig moet word, moet sy interne beginsels konsekwent wees en moet sy feitelike aannames met die werklikheid versoenbaar wees. Indien nie, sal hierdie ideologieë onvermydelik lei tot teenstrydige of onhaalbare praktiese oplossings.
Hoe ideologieë gevorm word en ontwikkel
Die funksie van ideologieë om 'n koalisie se voorkeure te legitimeer, en die vereiste dat ideologieë konseptueel konsekwent en feitelik korrek moet wees, is 'n bron van inherente spanning.
Aan die voorpunt van ideologieë staar politieke entrepreneurs voortdurend nuwe probleme in die gesig wat beslis moet word: behoort ons A of B te ondersteun? Soms bied die beginsels van die ideologie of die jurisprudensiële geskiedenis van vorige besluite duidelike antwoorde. Ander kere bestaan daar geen duidelike riglyne nie, en nuwe besluite moet onmiddellik gemaak word. Die belangrikste uitdaging wat politieke entrepreneurs dus in die gesig staar, is pragmaties van aard: hulle moet nuwe standpunte voorstel wat aanvaarbaar is vir bestaande lede sowel as potensiële nuwelinge, en sodoende die koalisie kan vergroot.
Omdat ideologieë geskiedkundig gevalverbondelik oftewel kontingent gevorm word, bevat hulle dikwels talle teenstrydighede, groot en klein. Die verskillende beleidsposisies wat deur 'n koalisie ondersteun word, kan onderling bots, of hulle kan teenstrydig wees met die verkondigde kernbeginsels van die koalisie. Hulle mag ook staatmaak op twyfelagtige feitelike aannames wat al te maklik deur lede aanvaar word, bloot omdat dit gerieflik is vir die koalisie se standpunte.
Sulke ideologiese teenstrydighede word dikwels met “gemotiveerde beredenering” verskans – dit laat ons toe om die krake in ons politieke posisies te minimaliseer of te ignoreer. Hierdie teenstrydighede kom egter nie sonder 'n prys nie. In die openbare arena kompeteer politieke entrepreneurs om onbesliste mense te oorreed om by hulle koalisie aan te sluit. Ideologieë wat gebaseer is op konsekwente normatiewe beginsels en geloofwaardige feitelike aannames is meer oortuigend, en beter daartoe in staat om nuwe ondersteuners te werf. Die ideologiese teenstrydighede van 'n koalisie word deur hul politieke opponente opgespoor en in die openbaar beklemtoon as bewys van skynheiligheid of dwaasheid, om hul geloofwaardigheid te ondermyn.
Binne koalisies is dit dikwels “ideologiese kundiges” wat hierdie teenstrydighede opspoor. Een skynbaar redelike oplossing sou kon wees om vooraf fundamenteel goeie en samehangende beginsels te identifiseer en daaruit alle praktiese posisies af te lei. Hierdie benadering is eksplisiet deur die filosoof Immanuel Kant voorgestel in die bou van 'n morele filosofie.
Die politieke filosoof John Rawls het egter die idee gekritiseer.5 Hy het nie algemene beginsels as 'n beginpunt gesien nie, maar eerder as 'n manier om ons posisies konsekwent te maak. Indien ons huidige morele beginsels teenstrydig is met ons intuïsies, kan ons óf ons intuïsies aanpas sodat dit versoenbaar raak met ons beginsels, óf ons beginsels aanpas om ons intuïsies beter te weerspieël. Rawls het die konsekwentheid wat uiteindelik uit hierdie wisselwerking tussen veranderende beginsels en intuïsies voortkom, 'n “reflektiewe ewewig” genoem.
Ek dink die idee van 'n reflektiewe ewewig kan nuttig aangewend word om te verduidelik hoe ideologieë progressief ontwikkel. Soortgelyk aan wat Rawls beskryf, kan politieke koalisies heen en weer beweeg tussen veranderinge aan hul ideologiese grondslag en veranderinge aan hul praktiese standpunte. Die verandering van praktiese standpunte hou nadele sowel as voordele in: 'n koalisie mag dalk steun verloor onder sekere groepe, maar nuwe steun werf onder ander. Die verandering van ideologiese grondslag kan selfs meer radikale gevolge hê, omdat dit kan lei tot 'n reeks nuwe praktiese beleidsposisies wat verskil van dié wat tans deur die koalisie gesteun word (waarvan sommige nou reeds duidelik is, terwyl ander eers mettertyd sal manifesteer). Veranderinge aan die ideologiese grondslag kan ook onsekerheid veroorsaak oor die toekoms van die koalisie se sosiale kontrak.6
Indien 'n ideologiese nuutskepping 'n koalisie help om hul bestaande posisies te regverdig, en om spanning en teenstrydighede beter te verklaar, word dit maklik aanvaar. Dit behels min koste en bied groot voordele. Indien 'n ideologiese nuuskepping egter vereis dat 'n wye verskeidenheid praktiese beleidsposisies hersien moet word om hulle konsekwent te maak met die nuwe beginsels, is dit baie duur en moeilik om aanvaar te word. Juis daarom vind fundamentele ideologiese hersienings gewoonlik plaas tydens krisistye, wanneer 'n koalisie reeds in die moeilikheid verkeer en radikale verandering sien as 'n laaste uitweg.
Vir enige koalisie wat na magsverkryging strewe, bestaan daar altyd 'n spanning tussen pragmatisme (om ideologiese kompromieë aan te gaan ten einde 'n wenkoalisie te bou) en ideologiese konsekwentheid (om slegs nuwe standpunte te aanvaar wat met bestaande beginsels versoenbaar is). Aangesien oorlewing in die politiek afhang van die vermoë om 'n groot koalisie saam te stel, triomfeer pragmatisme dikwels. Dit is waarom die ideologieë van koalisies gewoonlik nie konsekwent is nie en gevorm word deur 'n geskiedkundig gevalverbondelike oftewel kontingente samestelling van sosiale groepe. By enige gegewe politieke kwessie kan daar dus 'n botsing wees tussen sommige van die koalisie se verkondigde beginsels en sy voorkeur-standpunt in die praktyk.
Nietemin is die druk vir konsekwentheid en akkuraatheid altyd teenwoordig,7 en politieke intellektueles spandeer tyd en energie daaraan om ideologieë te kodifiseer. Hulle is politieke entrepreneurs wat poog om ideologieë meer konsekwent te maak én beter in staat te stel om aanvaarbare regverdigings vir die koalisie se verlangde beleidsposisies te bied.8
Ons is waarskynlik nie “reg” oor alles nie
Wanneer mens nadink oor die merkwaardige ooreenkoms tussen houdings oor talle uiteenlopende politieke kwessies, kom Joshi tot insiggewende gevolgtrekkings oor wat dit van ons eie politieke oortuigings sê: ons is waarskynlik nié reg oor alles nie.
“The fact that doxastic attitudes toward orthogonal propositions cluster together among the population raises an epistemological problem. Suppose a person finds herself having the beliefs that are typical of one of the clusters of political opinion. Such a person, I shall argue, should moderate her political beliefs. For, the orthogonality of the issues involved makes it highly likely that something is going awry epistemically – either her beliefs have been subject to problematic irrelevant influences or she is in possession only of a biased subset of relevant evidence.”
'n Kernvraag hier is: wat beteken dit om “reg” te wees? Joshi aanvaar die standpunt dat daar ware morele beginsels bestaan. In daardie sin kan 'n mens dus reg of verkeerd wees in jou politieke oortuigings. Selfs sonder om so 'n epistemiese posisie in te neem, kan ons steeds sê dat dit onwaarskynlik is dat ons oor alles reg is – in die sin dat 'n noukeurige ondersoek na ons praktiese politieke standpunte en ons verkondigde politieke beginsels waarskynlik nie volledige konsekwentheid sal toon nie. Met ander woorde, dit is onwaarskynlik dat ons 'n reflektiewe ewewig bereik het.
Om so 'n ewewig te bereik, is moeilik. Dit verg óf die prysgee van sekere gekoesterde standpunte om met ons beginsels te belyn, óf die ontwikkeling van nuwe, algemene beginsels wat al ons uiteenlopende standpunte kan regverdig. Ongelukkig maak ons koalisiebande dit baie moeilik om só 'n doelwit te bereik, aangesien dit dikwels sou verg dat ons verskil met mense aan ons eie kant.
Vir die meeste van ons gewone mense (wat nie politieke filosowe soos John Rawls is nie) is ons sienings waarskynlik nie konsekwent nie en ons is of onbewus, of nie bereid om dit openlik te erken nie. Kritiek van politieke teenstanders plaas druk op ons om hierdie teenstrydighede uit te wys en reg te stel. Hierdie druk is egter onvolmaak, en dit word teëgewerk deur die voordele van pragmatiese ideologiese kompromieë wat help om groot koalisies aan die gang te hou. In soverre teenstrydighede gering is, kan politieke ideologieë hulle dikwels akkommodeer.
Ons is dus waarskynlik nie reg oor alles nie en hierdie besef behoort ons aan te spoor tot groter nederigheid wanneer ons ons eie politieke standpunte met dié van ander vergelyk.9
Lionel Page is 'n professor in ekonomie en 'n gedragswetenskaplike met meer as 50 publikasies oor ekonomie en ander gedragswetenskappe.
Hierdie artikel het op sy Substack getiteld Optimally Irrational verskyn en is met sy vergunning vertaal.
Nog artikels op OntLaer:
SOSIALE MEDIA
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
Dan Williams het die ingesluit in sy syllabus oor politiek, waarheid en ideologie.
Die lys van politieke standpunte is saamgestel deur die filosoof Simon Cullen (2018), wat ook 'n opname gedoen het waarin hy die korrelasie tussen antwoorde onder Amerikaanse respondente aangetoon het.
Hierdie transformasie is 'n skoolboekvoorbeeld van wat politieke wetenskaplikes 'n “herbelyning” noem: 'n diepgaande, blywende verskuiwing in partykoalisies, dikwels aangedryf deur veranderinge in die sosiale samestelling van koalisies en die kwessies wat hulle definieer (sien Carmines en Stimson 1989).
Maarten Boudry het 'n verwante artikel hieroor geskryf (wat ook op OntLaer verskyn het).
Hy het sy argument ontwikkel in sy boek A Theory of Justice (1971).
Inderdaad, wanneer ons hierdie invalshoek volg, regverdig dit die gebruik van die prosedure wat Rawls voorgestel het om tot ooreenstemming oor normatiewe beginsels te kom. Ons behoort te mik na 'n reflektiewe ewewig – nie omdat konsekwentheid op sigself 'n hoër morele goed is nie (hoekom sou dit wees?), maar omdat ooreenkoms oor normatiewe beginsels neerkom op die soeke na reëls wat ons wíl hê op sosiale situasies toegepas moet word. Konsekwentheid is noodsaaklik sodat hierdie reëls in die praktyk kan werk. Soos behoorlike kontrakte, het 'n sosiale kontrak duidelike beginsels nodig wat in alle situasies toepasbaar is en sogenaamde “loopholes” voorkom – maar ook om te verseker dat hierdie beginsels tot duidelike en eenvormige oplossings in elke situasie lei.
Omdat ons streef na só 'n ooreenkoms oor konsekwente beginsels, kom die beginsels nie eerste nie. Hulle moet ons voorkeure weerspieël. Maar aangesien ons voorkeure teenstrydighede kan bevat, mag dit nodig wees om óf ons voorgestelde beginsels aan te pas, óf op sekere voorkeure kompromieë aan te gaan. Dit bied 'n realistiese regverdiging vir 'n proses wat Rawls hoofsaaklik voorgestel het as 'n wenslike metode om 'n morele sisteem te vorm.
Konsekwente ideologieë wat op akkurate feite berus, bied meer betroubare sosiale kontrakte. Inkonsekwenthede kan teenstrydige aanbevelings in spesifieke situasies oplewer en dus misluk om 'n oplossing te bied waarop daar algemene ooreenstemming binne die koalisie is. Feitelike onakkuraathede lei byna onvermydelik tot verkeerde oplossings.
Politieke teenstanders is altyd op soek na hierdie inkonsekwenthede en onakkuraathede in 'n koalisie se ideologiese standpunte – sodat hulle dit kan uitwys en poog om koalisielede los te week deur 'n alternatiewe posisie te bied wat beter ooreenstem met daardie individue se praktiese sienings.
Hierdie epistemiese druk is onvolmaak: politieke debatte is nie wetenskaplike debatte nie. Die mate van feitelike en logiese kontrole is losser, en die moontlike reputasiekoste vir die versuim om by beginsels te hou, is laer.
Karl Popper het wetenskap beskryf as 'n evolusionêre proses waarin die beste idees uiteindelik seëvier. Dit is veelbetekenend dat hierdie proses selfs in die wetenskap onvolmaak is. Baie swak idees kan vir lank voortbestaan, ten spyte van institusionele meganismes wat juis veronderstel is om dit te verhoed: die beoordeling van nuwe idees deur vakgenote, die vereiste dat stellings so duidelik moontlik moet wees, die gebruik van algemeen aanvaarde tegnieke en argumente, en die lang argief van bestaande idees waarop teruggeval kan word. Politiek is ver verwyderd van hierdie ideaal en, gegewe die ooglopende beperkings van die wetenskap self, is die tekortkominge in politieke ideevorming net soveel groter.
Hierdie kenmerke van politieke debatte verswak die ekologiese druk om logiese teenstrydighede en feitelike onjuisthede uit te wis. Dit is juis waarom ons kan verwag dat groot hoeveelhede inkonsekwentheid oor tyd in politieke ideologieë sal bly voortbestaan.
In daardie opsig funksioneer politieke ideologieë baie soos wetenskaplike paradigmas – stel beginsels en aanvaarde feite wat wetenskaplike navorsing rig – wat 'n sekere mate van anomalieë en teenstrydighede kan akkommodeer, solank hulle in die praktyk steeds doeltreffend is om die optrede van wetenskaplikes te rig.
Net so kan politieke ideologieë 'n mate van inkonsekwentheid of feitelike twyfel duld, mits dit nie die koalisie se vermoë ondermyn om standpunte te formuleer, beleid te dryf, of ondersteuning te mobiliseer nie. Praktiese werkbaarheid, eerder as perfekte teoretiese suiwerheid, bepaal dikwels of 'n ideologie volhoubaar bly.
Bronnelys:
Carmines, E.G. & Stimson, J.A. (1989). Issue Evolution: Race and the Transformation of American Politics. Princeton University Press.
Cullen, S. (2018). Partisans align across unrelated ethical topics. Retrieved from https://osf.io/38axf
Joshi, H. (2020). What are the chances you’re right about everything? An epistemic challenge for modern partisanship. Politics, Philosophy & Economics, 19(1), 36–61.
Pinsof, D., Sears, D.O. & Haselton, M.G. (2023). Strange bedfellows: The alliance theory of political belief systems. Psychological Inquiry, 34(3), 139–160.
Rawls, J. (1971). A Theory of Justice. Harvard University Press.

















