Die privatisering van die openbare lewe
Die private staat is die nuwe normaal.
Van die groot nuus van die afgelope paar weke was die Jannie Mouton Stigting se reuse-bod om die Curro Groep oor te koop, van die beurs af te haal en dit as 'n nie-winsgewende instelling te herbedink.
R7.2 miljard om die land se grootste privaat skoolgroep in 'n soort filantropiese volksbesit te omskep. Indien dit realiseer sal dit 'n indrukwekkende skuif wees en waarskynlik die grootste private bydrae tot onderwys in die land se geskiedenis. Die soort onderwys projek het geskiedkundige presedent. Die Helpmekaar-fonds, gestig in 1916, het ontstaan sonder staatshulp en weens 'n gevoel van selfhulp en gemeenskaplike trots. Afrikaners het in hul sakke gegrawe, selfs in 'n tyd wat die maar broekskeur gegaan het, om 'n generasie jongmense in staat te stel om skool te gaan in hul eie taal en gevolglik is Helpmekaar Kollege in 1921 gestig. 'n Jaar vroeër in 1920 het iets soortgelyks gebeur met die stigting van Afrikaanse Hoër Seunskool en Afrikaanse Hoër Meisieskool (Affies) in Pretoria toe die skool (toe het die seuns en dogters nog saam skoolgegaan) met 45 leerders en drie onderwysers in die huis van Generaal Piet Joubert in Visagiestraat 218 begin het.
Soos destyds, wys dit dat onderwys nie bloot 'n saak van regeringsbeleid is nie, maar dikwels op die breë skouers van gemeenskappe, filantrope en entrepreneurs rus wat weier om te wag totdat die staat sy werk doen.
Volgens sy 2024-jaarverslag bedien Curro (en dit is volgens my een van die probleme met Curro se huidige model, sy leerders is meer kliënt as kind) tans 72 109 leerders in 189 skole regoor die land. Dis indrukwekkend vir 'n privaat instansie, maar dit bly 'n klein fraksie van die groter prentjie: meer as 12,7 miljoen kinders word in Suid-Afrika onderrig deur sowat 455 000 onderwysers in 22 511 openbare skole. Maar Mouton se beoogde projek het die potensiaal om talle van die miljoene kinders wat steeds vasgevang is in skole sonder boeke, biblioteke of behoorlike onderwysers 'n toekoms te bied.
Ek glo dus Suid-Afrikaners behoort Mouton se besluit te verwelkom. Nie net omdat dit duisende kinders in die toekoms 'n kans op 'n beter skool kan gee nie, maar omdat dit ook 'n voorbeeld is van hoe oplossings gevind kan word daar waar die staat eenvoudig nie meer kan nie of nie bereid is om sy rol te vervul nie.
Privatisering van die openbare sfeer
Hoe die storie gaan uitspeel weet ons nog nie. Maar dit het 'n ander interessante vraagstuk by my laat opduik, naamlik die stadige maar seker privatisering van die openbare sfeer in dele van Suid-Afrika. Dit gebeur egter al vir 'n geruime tyd.
Veiligheid was die eerste. Daar is vandag, volgens PSIRA, sowat 600 000 aktiewe sekuriteitswagte in die land. Dit is meer as die SAPD en die weermag se lede saam. Die oorgrote meerderheid strate, winkels, skole en mense word nie deur die staat beskerm nie, maar deur 'n privaatveiligheidsmaatskappy of die man met 'n groen hoë sigbaadjie wat by die toegangshek sit. Die monopolie op geweld, wat die staat in teorie veronderstel is om te hê, behoort in praktyk in Suid-Afrika grootliks dog stilletjies aan private maatskappye.
Dieselfde geld vir gesondheidsdienste. Die meeste mense met 'n middelklas-inkomste maak nie staat op die staatshospitale nie, hulle gaan na Mediclinic of Netcare of een van die vele privaathospitale toe. Teen 2023 was sowat 15,7% van die bevolking, omtrent 9,8 miljoen mense, lede van 'n mediese fonds.
Vanaf 2008, toe beurtkrag sy kop uitgesteek het, het mense begin om hul eie sonpanele en kragoplossings op te rig. Vandag produseer privaat sonkrag sowat 6,1 GW van Suid-Afrika se totale PV-opwekkingskapasiteit en het die kapasiteit van huise en besighede om hul eie krag op te wek gestyg van 1,2 GW in 2021 tot 6,1 GW in 2024 in net drie jaar.
Meer onlangs begin watervoorsiening en verbrokkelende waterinfrastruktuur, veral in die noordelike provinsies van die land, toenemend 'n probleem en bestaansgevaar te word. Volgens 'n verslag deur ABSA van Mei 2025 oor die “aspirasie om van die netwerk af te leef”, oorweeg 64 % van huiseienaars boorgate terwyl 53 % aan reënwaterinsameling dink om hul watervoorraad te verseker. Volgens data uit die voltooide 2022-sensus maak sowat 4,6 % van huishoudings op boorgate as hul waterbron staat en 2 % gebruik reënwaterinsameling. Nog relatief klein syfers, maar dit gaan ongetwyfeld toeneem namate die diensleweringskrisis verskerp.
En dan is daar die nuwe dorpe binne dorpe. Midstream, Steyn City, Val de Vie, Century City, ensomeer. Hierdie is ruimtes wat alles self voorsien, skole, parke, winkels, selfs hospitale en waar die munisipaliteite en regeringsentiteit blote buitestaanders is. Die ou gedagte van die public square, wat vroeër die kerkplein was, is nou vervang deur Sandton Square of Menlyn Maine. Dit lyk en funksioner soos openbare ruimtes, maar dit is in privaatbesit.
Die interessante ding is dat hierdie privatisering nie net plaasvind weens ontvlugting van die staatsverval af nie, dit is ook die skepping van nuwe openbare ruimtes maar in privaat hande. Curro, as dit onder die Mouton Stigting nie-winsgewend word, kan uiteindelik funksioneer soos 'n alternatiewe staatskoolstelsel, net waarskynlik met beter bestuur en meer verantwoordbaar.
Dit gaan, ironies genoeg, 'n soort “publieke saak” wees wat glad nie deur die staat voorsien word nie.
Rol van die staat
En dit bring ons dus terug na die ou filosofiese vraag: wat is die staat, waarvoor bestaan hy, en wat gebeur as die staat ophou om die take wat mense van hom verwag te vervul? Rousseau sou sê die mense mag dan hul mag terugneem. Hobbes sou waarsku dat chaos wag as die Leviatan sy tande verloor.
In Suid-Afrika, waar min mense bekommer oor hierdie soort filosofiese bespieëling, ontwikkel 'n parallelle samelewing. 'n Privaat staat, een wat stadig maar seker die funksies van die openbare een oorneem, daar waar dit misluk.
Privaat krag, privaat sekuriteit, privaat medies, privaat onderwys: stuk vir stuk word kernfunksies deur ander strukture oorgeneem. Interessant genoeg gebeur dit nie net in die voorspelde enklawes van ryk en wit mense nie. Dit loop reg deur die land se maatskaplike lae en kleure heen. In 'n township sien 'n mens sonpanele wat met die bure gedeel word, terwyl middelklas gesinne in die voorstede sekuriteitsmaatskappye gebruik as hul werklike polisie. Die nuwe “privaat staat” is dus ewe divers, beide in ras en klas, as die land self. Dit het organsies uit noodsaak ontstaan en nie weens 'n kollektiewe besluit of te danke aan 'n nasionale dialoog nie.
Wat is 'n staat nou eintlik? Dit is nie 'n heilige entiteit nie, maar 'n menslike instelling wat deur die gemeenskap self geskep is om sekere funksies namens hulle te verrig. Dit bestaan by wyse van 'n stilswyende ooreenkoms (of jy daarvan hou of nie, maar dit is 'n gesprek vir 'n ander dag) dat ons sekere magte afstaan in ruil vir orde, beskerming en dienslewering. Wanneer daardie instansie egter ophou om sy kant te bring, vervaag die gesag waarop dit berus. Dan word dit duidelik dat die staat nie 'n natuurwet is nie, maar 'n kontrak wat altyd heronderhandel kan word. In Suid-Afrika sien ons hoe hierdie kontrak reeds informele wysigings ondergaan: burgers trek hul mag gedeeltelik terug en organiseer nuwe strukture – sekuriteit, krag, water, gesondheid, onderwys – buite die omvang van die staat.
In 'n sekere sin is Suid-Afrika die res van die wêreld vooruit. Elders word nog gedebatteer oor die toekoms van staatsvoorsiende gesondheid, onderwys en infrastruktuur. Hier in die laboratorium-RSA sien ons reeds die eksperimente deur gemeenskappe wat hul eie oplossings skep. Vir sommige uit noodsaak en vir ander ten behoud van luuksheid. In werklikheid word die vraag oor die rol van die staat nie in akademiese handboeke bepaal nie, maar elke dag in die strate, huise en woonbuurte van Suid-Afrika.
Nog artikels deur Daniël Eloff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
Hoe weet jy iemand was in Affies... ;)