Die ANC se ideologiese gentrifikasie
Wêreldwye herkonfigurasie van werkersklaslojaliteite is ook hier rugbaar.
Vryheidsbewegings wat politieke partye word, word dikwels ook die party van praatjies.
Hulle begin as massabewegings, maar jare later vlieg hul leiers besigheidsklas en vergader in hotelkonferensiesale waar die vloer met tapyt bedek is en 'n koppie koffie R45 kos. Aanvanklik hou hul getroue ondersteuners aan om hulle te steun, deels uit lojaliteit en deels omdat daar volgens hulle geen geloofwaardige alternatief is nie. Maar soos wat die herinneringe van die vryheidsbeweging vervaag en die werklikheid van stukkende paaie, onbetroubare krag en werkloosheid inskop, begin kiesers stadig hul stemme verskuif of eenvoudig nie meer opdaag nie. Vryheidsbewegings ervaar dus byna natuurlik 'n soort ideologiese “gentrifikasie”: 'n verskuiwing van straatvlak-aktivisme na beleidstaal wat hoofsaaklik vir ander beleidmakers bedoel is.
Oorspronklik verwys “gentrifikasie” na 'n stedelike verskynsel waar werkersklasbuurte stelselmatig deur middel- of hoë-inkomste inwoners oorgeneem word. Die nuwe inwoners bring beleggings, opknappings en hoër eiendomswaardes mee, maar dryf terselfdertyd huurpryse en lewenskoste op, wat die oorspronklike inwoners dikwels uitdruk. Dit is dus 'n proses van maatskaplike en ekonomiese verskuiwing, waarin diegene met minder hulpbronne stelselmatig plek maak vir diegene met meer.
Die ANC se ideologiese gentrifikasie is dus 'n verskuiwing van 'n werkerklasbeweging na 'n professionele elite. Maar dis nie uniek aan vryheidsbewegings in Afrika nie. Dit sluit ook aan by 'n internasionale verskynsel, veral in liberale demokrasieë (selfs die wat bloot in teks hulself demokraties noem, wat dikwels die geval in Afrika is) waar sogenaamde progressiewe partye al hoe minder van die werkerklas verteenwoordig.
Die Brahmin Linkses van Luthuli-huis
Thomas Piketty skryf oor die “Brahmin Left”— 'n hoogs opgeleide, stedelike linksgesinde groepering wat oor herverdeling praat maar self min daarvan werklik wil bereik. In Brittanje het David Goodhart dieselfde kloof beskryf as tussen die “Somewheres” en die “Anywheres”. Dis 'n kultuurstryd, maar ook 'n klassestryd, tussen die wat gewortel is in gemeenskappe en dié wat beweeglik, globalisties georiënteerd en gemaklik met die huidige ekonomiese samestelling is.
Die ANC se weergawe van dié tendens het begin toe bevryding 'n beroep geword het. Teen die vroeë 2000’s het die party se karakter verander van 'n arbeidsgedrewe vryheidsbeweging na 'n patronaatsgedrewe elitestruktuur. SEB, tenderspreneurskap en die groei van 'n klein dog magtige swart elite het die ekonomiese swaartepunt van die beweging verskuif.
Die resultaat is 'n politieke party wat steeds met die armes, maar nie namens die armes praat nie, en dus verval in opvoerige oftewel performatiewe politiek. Die afgelope vier verkiesings (plaaslike regeringsverkiesings in 2016 en 2021 asook 2019 en verlede jaar se nasionale en provinsiale verkiesings) wys dat hierdie opvoerigheid selfs vir die getrouste ANC ondersteuners begin ontmasker word.
Die vraag is egter of dit net die ANC se masker as bevrydingsbeweging is wat begin glip en of ANC ondersteuners besig is om vir reeds die afgelope dekade deur die ideologiese rookgordyn te kyk, om uiteindelik die spreekwoordelike bome in die woud raak te sien, in plaas van net die ou strydliedere wat daar tussen weerklink.
Die werkersklas ontnugter
Dis nie net in beleid waar die gentrifikasie sigbaar raak nie—'n mens sien dit in die loopbane van die mense wat die party en sy ideologiese nefies soos die EFF en MK verteenwoordig.
In 1994 het 'n groot deel van ANC-parlementslede hul pad begin stap as onderwysers, gemeenskapsorganiseerders of vakbondleiers. Vandag kom die tipiese profiel nader aan 'n “strategiese konsultant” of “voormalige raadslid by X Holdings (Edms) Bpk”. Diegene wat nou die ANC se beleidsdokumente skryf, leef selde in die gemeenskappe waarvoor daardie beleide bedoel is, en ervaar dus nie eerstehands die gevolge daarvan nie.
Dis hier waar ideologiese gentrifikasie regtig skadelik word. Die retoriek bly progressief, maar die praktiese uitwerking is 'n beskerming van die status quo. Die stelsel wat patronaatskap moontlik maak, word versigtig in stand gehou, terwyl die werklike behoeftes soos slaggate, water, elektrisiteit, tweede kom.
Die verskuiwing van die ANC van bevrydingsbeweging na elite politieke groepering is duidelik wanneer 'n mens ook kyk na wat met sy groot vakbondvennoot COSATU gebeur het. Die vakbondfederasie wat op 'n tyd die gewete van die beweging was, het sedert 2015 sowat 400 000 lede verloor. Dit is ironies genoeg weens die ekonomiese beleidsgevolge van die ANC en sy bondgenote. Minder vervaardiging en industrieë lei tot minder werk, dus minder lede en minder invloed. Die werkerklas, wat eens gesag gehad het binne die drieparty-alliansie, is nou meer versiering as vennoot.
Tog stem groot dele van armes steeds ANC. In verskeie wyke veral in afgeleë dele van Noordwes of die Oos-Kaap, haal die party steeds 70% of meer. Dis deels nostalgie en deels 'n gevoel onder die ontnugterde ANC ondersteuners dat daar 'n gebrek aan alternatiewe is.
Vir lank was hierdie steun ook transaksioneel. Maandelikse maatskaplike toelaes, wat 29 miljoen mense bereik, het daardie lojaliteit aan die gang gehou. Vir jare is daar deur die ergste ANC kritici en skeptici oor die Repuliek (diegene wat nie glo in die Suid-Afrika soos dit vandag saamgestel is nie) geskryf dat die ANC nie steun sal verloor nie weens die indruk onder arm Suid-Afrikaners dat hul maatskaplike toelae in gedrang is sou die ANC mag verloor.
Die probleem is dat toelaes vir verbruik bedoel is, nie produksie nie. Hulle sit kos op die tafel en hou baie gesinne aan die lewe, maar hulle bou nie paaie, herstel nie kragstelsels, en skep nie volhoubare werksgeleenthede nie. Dis onder omstandighede 'n noodsaaklike vangnet, ja, maar dit is nie 'n enjin vir groei of ontwikkeling nie. En namate die diensleweringskrisis verdiep, begin al hoe meer Suid-Afrikaners besef dat 'n maandelikse toelae, hoe noodsaaklik ook al, nie 'n plaasvervanger vir 'n funksionerende ekonomie is nie.
Wat egter dié illusie oor SASSA-toelae nou waarskynlik die finale knou gaan gee, is dat die ANC nie meer alleen regeer nie, maar die toelaes steeds vloei. Die dreigement dat 'n verandering in regering noodwendig die maatskaplike stelsel sou beëindig, begin hol klink wanneer mense sien dat koalisies aan bewind kan wees en die betalings steeds (relatief) betyds betaal word. Hoe langer dit aanhou, hoe moeiliker gaan dit wees vir die ANC om die maatskaplike toelaagstelsel as 'n eksklusiewe politieke handelsmerk te gebruik en hoe meer gaan kiesers besef dat die reg op 'n toelae nie aan 'n party behoort nie, maar aan die staat en uiteindelik aan die burgers self.
Geleenthede vir die opposisie
Teen hierdie agtergrond begin die DA toenemend beskou word as 'n party wat ook vir die armes is. Nie omdat die praatjies dieselfde klink as die ANC van ouds nie, maar omdat die uitwerking en gevolge van die DA prakties gesien kan word waar die DA regeer.
Die party se verwerping van 'n BTW-verhoging was nie net politiek nie, dit was ook beleidsmatig sinvol. In Kaapstad, waar die DA regeer, het die 2025/26 begroting belastingverligting gebring vir eiendomme onder R2,5 miljoen, en terselfdertyd belê in grootskaalse riolering, elektrisiteit en openbare vervoer infrastruktuur.
Meet maar die kapitaalbesteding per capita in ANC-stede teenoor DA-stede: die verskil in pad-, water- en rioolbeleggings wat uiteindelik wel gebou en voltooi word praat harder as enige beleidsdokument. Tradisioneel is die DA nie as 'n party vir die armes gesien nie, maar die persepsies begin verander. Al hoe meer mense kyk verby die ANC en kie. se karikature van die DA en sy koalisievennote soos die VF+ en ACDP. Dit herinner aan Theodore Rooseveldt se aanhaling dat:
“Great thoughts speak only to the thoughtful mind, but great actions speak to all mankind.”
Die punt is dat kiesers nie politieke manifeste eet nie. Ons leef met wat gebou word, wat gebreek bly, en wat aan die einde van die maand in die bankrekening oorbly. In die praktyk is politieke volhoubaarheid afhanklik van hoe doeltreffend die “materiële ekonomie” (openbare infrastruktuur, dienslewering, werkskepping) bestuur word voor die “simboliese ekonomie” (toesprake, bevrydingsherinneringe, ideologiese beloftes) vir mense belangrik word.
Dis Maslow se hiërargie. Suid-Afrikaners verkies toenemend die doeners van dade, om nog 'n Rooseveldt aanhaling te parafraseer.
Suid-Afrika is nie uniek nie
Wat in Suid-Afrika gebeur, is deel van 'n wêreldwye herkonfigurasie. In die VSA het Donald Trump massiewe steun onder blouboordjiewerkers. In die VK het Brexit die Arbeidsparty van sy industriële basis vervreem en Reform UK lyk soos die nuwe werkersklas party wat in voeling is met James Alleman. In Frankryk het die “gilets jaunes” (die “geelbaadjies”) opgestaan teen die elite wat met klimaatsbeleid probeer toor sonder om die plattelandse realiteite en implikasies te verstaan. Selfs in Duitsland, waar die SPD eens die fabriekswerker se kant gekies het, is daar 'n groeiende afstand tussen die party se stedelike leiers en sy tradisionele kiesers.
Suid-Afrika is anders, maar die patroon is dieselfde. Stedelike, hoogs-opgeleide elitegroepe, selfs binne tradisioneel linkse partye, raak los van die werkerklas. En dan is daar ruimte vir óf linkse populiste óf regse populiste om daardie leemte te vul.
Oor en oor sien 'n mens hoe progressiewe partye hul taalgebruik en prioriteite inpas by 'n hoogs-geskoolde, kosmopolitiese klas, terwyl die werkerklas meer aangetrokke raak tot partye wat hul ontevredenheid regstreeks erken en aanspreek. Suid-Afrika se weergawe van die verskuiwing is verstrengel met ras, geskiedenis en ongelykheid, maar die kern bly dieselfde. As 'n party sy oorspronklike ekonomiese basis verloor, gaan iemand anders daardie spasie vul en gewoonlik vinniger as wat die gevestigde orde verwag.
Rede tot optimisme
Die ANC se ideologiese gentrifikasie sal voortduur. Die feit dat die ANC vir die eerste keer minder as 50% van die totale stemme in 'n verkiesing ontvang het, het nie die ANC nederig gemaak soos sommige mense kort na die verkiesing verwag het nie. Die ANC regeer steeds soos 'n party wat alleen die mag behou.
Daar is dus rede tot optimisme. Die DA se pro-markte, groei-gedrewe beleid het in plekke soos Kaapstad gewys dat 'n sterk ekonomie nie net die middelklas bevoordeel nie, maar ook werklik tot voordeel van die armes kan wees deur werk te skep, die belastingbasis te verbreed en dienste volhoubaar te finansier. Dit wys dat 'n meer dinamiese, mededingende ekonomie wél die potensiaal het om ongelykheid te verlig.
Die werklike vraag is of Suid-Afrika 'n politieke tuiste kan bied vir die miljoene burgers wat nie op konferensies en beleidsdokumente oorleef nie, maar op kragvoorsiening wat werk, gangbare paaie en werksgeleenthede wat volhoubaar is.
Nog artikels deur Daniël Eloff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.