Die Stille Infiltrasie van Radikale Islamisme
Bondi Beach is die prys van ideologiese naïewiteit en kulturele ontwapening.
Vir meer as 'n halfeeu het die Weste sigself daarvan oortuig dat moderniteit 'n eenrigtingstraat is — dat samelewings, soos water wat altyd afwaarts vloei, spontaan sal beweeg na liberalisme, sekularisme en individuele vryheid.
Teen die einde van die 20ste eeu het 'n hele klas denkers selfs begin praat asof die groot ideologiese botsings reeds “afgehandel” is: Demokrasie sou wen, die ekonomie sou globaliseer, en geloof sou noodwendig slegs in die binnekamer beoefen word. Maar terwyl Westerse samelewings hulself met selftevredenheid gevul het, het 'n ander denkraamwerk sy strukture opgebou, naamlik radikale Islam, in al sy moderne verskyningsvorme.
Dit het nie die Weste binnegedring deur 'n enkele frontale aanval nie, maar deur die openinge wat 'n oop samelewing noodwendig skep en deur die Weste se toenemende onwilligheid om sy eie kulturele en morele begrensing toe te pas.
Die verskil tussen Islam en Islamisme
Daar is egter 'n kern onderskeid wat die Weste te lank versuim het om konsekwent te tref, synde dat Islam en Islamisme nie dieselfde ding is nie.
Islam is 'n wêreldgodsdiens met meer as 'n miljard aanhangers, waarvan die oorgrote meerderheid vreedsaam leef, werk, gesinne onderhou en gewoon hul geloof op 'n normale manier wil uitleef. Islamisme, daarenteen, is 'n politieke ideologie wat Islam as instrument gebruik om politieke mag te verwerf en die staat, die regstelsel en die openbare sfeer volgens 'n godsdienstig-politieke model te herorganiseer. Die gevaar ontstaan nie omdat mense bid of vas nie, die gevaar ontstaan wanneer 'n georganiseerde, ideologiese minderheid binne groter gemeenskappe te werk gaan, terwyl gematigdes stilbly weens vrees, tradisie, sosiale druk, of omdat hulle die konflik wil vermy. Stilte skep ruimte, ruimte word invloed en invloed word beleid. En sodra beleid begin skuif, is dit baie moeilik om terug te skuif.
Wat hierdie opmars so doeltreffend maak, is dat dit nie noodwendig die vorm van 'n tradisionele militêre vyand aanneem nie. Dit kom nie altyd met uniform, 'n vlag of tenks nie. Dit werk deur instellings, organisasies, aktivistiese netwerke, diaspora-strukture, kultuurbewegings, universiteite, liefdadigheidsinisiatiewe en mediakanale. Dit is 'n ideologiese projek met 'n langtermynhorison, terwyl Westerse politiek geneig is om in verkiesingsiklusse te dink. Dit is een van die groot asimmetrieë van ons tyd: 'n Beweging wat in generasies dink, teenoor samelewings wat hulself al hoe meer deur korttermyn-emosie en mediasiklusse laat bestuur. Wanneer so 'n beweging teen 'n beskawing bots wat reeds kultureel onseker is, is die uitslag selde net 'n debat. Dit word 'n verskuiwing in die openbare orde.
Om moderne Islamisme te verstaan, help dit om dit as drie hoofstrome te bekyk wat mekaar nie altyd formeel beheer nie, maar wel prakties versterk. Die Moslem Broederskap as ideologiese en organisatoriese bloudruk, Katar se geopolitieke projek wat enorme geld en sagte mag gebruik om daardie bloudruk wêreldwyd te versnel en die wêreldwye verspreiding van Salafisme, wat veral op grondvlak 'n rigiede identiteit bou en die kernwaardes van liberale demokrasie verwerp. Hierdie strome is nie identies nie, maar hulle beweeg dikwels in dieselfde rigting. Die verskuiwing van norme, simbole en lojaliteite weg van liberale demokrasie en na 'n alternatiewe morele en politieke orde wat nie pluralisme duld nie.
Die Moslem Broederskap, gestig in 1928 deur Hassan al-Banna, is die vaderorganisasie van moderne politieke Islam. Dit is nie net 'n beweging nie, maar ook 'n politiek-godsdienstige strategie. Waar jihadistiese groepe dikwels onmiddellike geweld en revolusie nastreef, verkies die Broederskap 'n stadige opmars deur bestaande instellings. Dit bou eers gemeenskappe, vestig dan strukture, normaliseer 'n ideologiese taal, en skuif uiteindelik die staat se norme. Hierdie metode werk juis goed in oop samelewings soos die Weste waar vryheid van assosiasie en godsdiensvryheid bestaan, omdat dit toelaat dat politieke netwerkstrukture as “geloofsgemeenskappe” kan funksioneer sonder dat die staat onmiddellik besef wat besig is om vorm aan te neem. Die Broederskap se kernbeskouing is eenvoudig dat wie die kulturele en opvoedkundige ruimtes beheer, beheer die toekoms. Daarom begin dit selde met parlementêre mag, maar eerder met skole, jeuggroepe, liefdadigheid, gemeenskapsdienste, en kulturele organisering.
Baie Westerlinge verstaan nie hoekom lande soos Egipte, die Verenigde Arabiese Emirate en Saoedi-Arabië die Moslem Broederskap as 'n bestaansbedreiging beskou nie. Maar dié lande ken die patroon uit ervaring: die Broederskap het reeds herhaaldelik state van binne af probeer destabiliseer, parallelle lojaliteite gebou, en die staat se gesag uitgehol. Die ironie is dat baie Moslem-meerderheidstate, juis omdat hulle die geskiedenis ken, harder teen politieke Islam optree as Europa. Die Weste se fout was weens naïwiteit en die aanname dat elke beweging wat godsdiens gebruik noodwendig “net” 'n geloofsverskynsel is en nie 'n politieke projek nie. Hierdie vergissing het Europa en Noord-Amerika besonder kwesbaar gemaak vir ideologiese infiltrasie, want dit beteken die staat kan nie duidelik onderskei tussen 'n burger wat sy geloof vreedsaam uitleef en 'n netwerk wat geloof as politieke instrument mobiliseer nie.
Die Katarese hefboomkrag en Salafisme
Die tweede pilaar is Katar. Hierdie klein, uiters ryk oliestaat het oor dekades 'n model ontwikkel wat nie primêr op militêre mag berus nie, maar op ideologie, media, akademie, diplomasie en geld.
Katar se invloed funksioneer soos 'n hefboom: dit finansier instellings, bou netwerke, koop toegang, en skep afhanklikhede. Die land bevorder 'n beeld as “bemiddelaar” in internasionale konflik, terwyl dit terselfdertyd bande met Islamisme onderhou en die ideologiese landskap probeer skuif. Hierdie spanning is die kern van hul strategie. Die doel is nie noodwendig om elke land “Islamities” te maak nie, maar om geopolitieke mag te koop deur die wêreld se morele taal en politieke alliansies te beïnvloed.
Katar se sagte mag word verder versterk deur media, veral Al Jazeera. Die retoriese krag lê in hoe hulle alles verpak. Ideoloë word as “stemme vir die onderdruktes” aangebied, propaganda word “alternatiewe oogpunte” en kritiek op Islamisme word afgemaak as koloniale arrogansie.
Die derde stroom is Salafisme. Dit is 'n spektrum van herlewingsdenke wat daarop aandring dat Islam “terug moet keer” na die praktyke van die eerste Moslem-generasies. In praktyk beteken dit dikwels die verwerping van kernwaardes waarop liberale demokrasie gebou is, soos individuele regte, vryheid van spraak, gelykheid van vroue, sekularisme, en die skeiding tussen geloof en staat. Salafisme se verskeidenheid vleuels verskil, maar hulle deel 'n rigiede morele raamwerk en 'n wêreldbeeld wat moderniteit as verdorwenheid sien. Selfs waar dit nie onmiddellik geweld bevorder nie, kan dit 'n kultuur skep waar pluralisme as swakheid gesien word en kompromie as verraad.
En hier tree die Weste se groot swakpunt na vore: kulturele ontwapening. In groot dele van Europa en Noord-Amerika het die vrees vir rassisme-beskuldigings, saam met skuldgevoel oor die koloniale geskiedenis, 'n soort selfsensuur geskep. Waar 'n onderskeid tussen geloof en wêreldbeskouing noodsaaklik is, het politieke leiers en instellings dikwels opgehou onderskei. Die gevolg is dat georganiseerde politieke Islam soms beskerm word onder die sambreel van godsdiensvryheid — presies die skild wat 'n politieke projek nodig het om kritiese ondersoek te ontduik. Die tragiese ironie is dat dieselfde liberale waardes wat die Weste teen tirannie moes beskerm, nou deur totaliserende ideologieë gebruik word om die liberale orde van binne af te verswak.
Die prys van hierdie verwarring is sigbaar in die opbou van parallelle gemeenskappe. Die probleem is egter parallelle gemeenskappe wat 'n parallelle regstelsel en parallelle norme begin afdwing, en wanneer die staat dan uit vrees terugstaan. Dan begin die openbare omgewing buig, nie omdat “die meerderheid Moslems” dit eis nie, maar omdat 'n radikale minderheid georganiseerd is en die res stilbly. Dis 'n universele politieke les: in 'n oop stelsel wen nie noodwendig die meerderheid nie. Dikwels wen die bes georganiseerde minderheid. As die meerderheid dan ook kultureel onseker is, word die oorname byna geruisloos volvoer.
Die opkoms van die “Globalise the Intifada”-slagspreuk in Westerse strate en op Westerse kampusse is een van die duidelikste simbole van hoe diep hierdie ideologiese mengsel ingebed is. Dit is nie 'n onskuldige metafoor nie. Dit is 'n politieke oproep wat voortbou op 'n geskiedenis van gewelddadige opstand en terrorisme-verwante taktieke. Tog word dit dikwels beskerm as “vryheid van uitdrukking”. Selfs Europese polisiedienste begin nou reageer, omdat hulle besef die taal is nie neutraal nie, maar 'n mobiliseringsinstrument wat geweld normaliseer.
Bondi Beach
En dan spoel die ideologie oor in geweld en 'n samelewing skrik skielik wakker.
In Desember 2025 is Australië geskok deur 'n antisemitiese terreuraanval tydens 'n Hanukkah-geleentheid by Bondi Beach in Sydney plaasgevind het, met 'n groot dodetal en talle beseerdes. Wat die slagting by Bondi Beach besonder ontstellend maak, is nie net die brutaliteit van die aanval nie, maar die simboliek daarvan. 'n Openbare strand, 'n gemeenskapsgeleentheid, en 'n doelbewuste teikening van Jode. Dit is presies die soort gebeurtenis wat mense later beskryf as die dag toe hulle besef het: “Dit kan ook hier gebeur.”
Bondi illustreer 'n harde, ongemaklike waarheid dat wanneer 'n samelewing radikale ideologieë romantiseer of wegpraat, word die prys uiteindelik deur gewone mense se lewens betaal. Die slagspreuk “globaliseer die intifada” beteken, in praktyk, om die konflik se taktiek en haat uit te voer in ander stede en om die idee van “opstand” en “geweld as morele plig” uit te voer na plekke waar mense gedink het hulle leef in 'n post-ideologiese wêreld. Bondi is 'n bewys dat hierdie ideologiese uitvoerproduk nie 'n teorie is nie, maar 'n werklike risiko.
Hier is dan die valstrik waarin baie Westerse lande trap: Hulle dink integrasie is 'n natuurlike proses, en dat “meer diversiteit” vanself 'n harmonieuse uitkoms het. Maar diversiteit sonder 'n duidelike burgerlike kern kan maklik in fragmentasie verander. Die liberale staat kan nie oorleef as dit nie duidelik is oor watter waardes ononderhandelbaar is nie: Gelykheid voor die reg, individuele regte, vryheid van spraak, en die staat se monopolie op regsafdwinging. Wanneer 'n staat begin terugdeins om sy eie norme toe te pas — uit vrees vir beskuldigings van vooroordeel of konflik is dit 'n uitnodiging vir ideologiese netwerke om die vakuum te vul.
Die Bondi-tragedie is daarom nie net 'n Australiese storie nie. Dit is 'n waarskuwing vir elke Westerse samelewing wat dink dat radikalisering net “êrens anders” gebeur, of dat slagspreuke net “frases” is. Selfs die manier waarop gemeenskappe ná die aanval saamgekom het wys dat mense intuïtief verstaan dat dit 'n aanval op die gemeenskap self is, nie net op individuele slagoffers nie.
Vrese op eie bodem
Nou, as Bondi die skokvoorbeeld is van wat kan gebeur wanneer 'n radikale ideologie onderskat word, dan is Suid-Afrika 'n voorbeeld van hoe sagte mag en organisatoriese invloed 'n land se rigting kan begin skuif sonder groot getalle.
Suid-Afrika se Moslembevolking is klein in verhouding tot die totale bevolking. Maar invloed is nie net demografie nie; dit is organisasie, geld, toegang tot besluitnemingsmag en die vermoë om 'n morele narratief te beheer. 'n Klein, goed georganiseerde netwerk kan 'n groter, ongeorganiseerde samelewing oorheers, veral waar die staat se instellings swak is, waar ideologiese selfkennis afwesig is, en waar die politieke elite reeds ontvanklik is vir anti-Westerse raamwerke.
In Suid-Afrika is daar verskeie tekens van hierdie dinamika, en dit raak veral sigbaar in die land se buitelandse beleid rondom Israel, die ANC se toenemende retoriese en diplomatieke nabyheid aan Iran, en die normalisering van narratiewe wat Hamas as 'n bevrydingsbeweging herraam. Nie elke Moslem of elke Moslem-instelling is radikaal nie. Maar waar daar strukture bestaan wat ideologie te koop dra, en 'n staat met swak weerstand, kan die staat maklik deur daardie strukture se taal en agenda beïnvloed word. Dit is dieselfde beginsel wat Europa oor dekades geleer het, net op 'n ander tydlyn.
Gift of the Givers (GoTG) is 'n sentrale figuur in hierdie debat, juis omdat dit 'n organisasie is wat deur baie Suid-Afrikaners as onbetwisbaar “goed” beskou word. Die land het hulle in rampe sien optree. Die gemiddelde mens koppel die naam aan deernis, hulpverlening, mediese ondersteuning en logistiek. Maar die openbare beeld van 'n hulporganisasie beteken nie dat daar nie ook ideologiese omstredenheid rondom die leierskap en bande kan wees nie. In GoTG se geval is daar oor die afgelope paar jaar toenemende media- en gemeenskapsdebatte oor dié tema. Sommige publikasies verwys na omstredenheid oor uitsprake, en ook na bewerings oor bande en ondersteuning wat, indien waar, ernstig omstrede sou wees. Ander publikasies beskryf weer hoe GoTG onder vuur kom weens sy uitgesproke pro-Palestynse standpuntinname, en hoe die organisasie self volhou dat dit nie polities is nie.
Die kernvraag is nie of GoTG soms goeie werk doen nie. Dit is duidelik dat hulle op plekke hulp verleen en gemeenskappe ondersteun. Die kernvraag is of 'n organisasie met groot morele kapitaal en regstreekse toegang tot regeringsdeure ook 'n ideologiese rol speel wat die staat se buitelandse beleid kan beïnvloed. Verskeie publikasies en kommentators het juis hierdie punt aangegryp, dat 'n gewilde “humanitêre” handelsmerk 'n skild kan word waardeur politieke lojaliteite en internasionale netwerke minder ondersoek word, omdat die publiek intuïtief voel kritiek is “onmenslik”.
Dit bring ons by Suid-Afrika se besluit om Israel by die Internasionale Geregshof (ICJ) aan te kla. Vir baie Suid-Afrikaners en buitelandse waarnemers voel die stap minder soos 'n regsargument en meer soos ideologiese voorspraak binne 'n bepaalde kamp. Die land se retoriek pas gereeld in 'n wyer netwerk van narratiewe waar Israel as die simbool van “kolonialisme” aangebied word en Hamas as “weerstand” — 'n raamwerk wat wêreldwyd deur Islamiste en hul bondgenote benut word. Sommige ontleding wat oor Suid-Afrika se verhouding met Hamas en hierdie retoriese wêreld geskryf is, wys ook op hoe die ANC se geskiedkundige ideologiese instinkte en sy internasionale alliansies hierdie opstelling voed.
Om hierdie punt te maak, is nie om te beweer dat GoTG alleen die ICJ-saak “veroorsaak” het nie. Dit sou 'n simplistiese spotbeeld wees. Die ANC se ideologiese geskiedenis, anti-Westerse instinkte, en behoefte aan internasionale simboliese rolspel is reeds lank bekend. Die argument is eerder: Wanneer jy 'n land het met 'n elite wat reeds ontvanklik is vir daardie raamwerke, en jy voeg 'n netwerk by wat beskik oor morele kapitaal, wesenlike toegang, en gereeld in dieselfde retoriese wêreld kruis, dan versterk dit die ideologiese windrigting wat begin oorheers.
Die gevaar is veral groot in 'n samelewing wat self kultureel onseker is. Wanneer 'n beskawing of staat nie 'n duidelike, selfversekerde burgerlike kern het nie, word dit makliker vir alternatiewe ideologiese projekte om “moreel” te klink. 'n Totaliserende ideologie kan dan aangebied word as 'n “menseregte”-projek. En omdat die Weste en lande soos Suid-Afrika so bang is om as onverdraagsaam bestempel te word, bly die ondersoek oppervlakkig, of dit word glad nie gedoen nie. Dit is hoe ideologiese invloed werk: Dit beweeg nie altyd deur geheime vergaderings nie, dit beweeg deur openbare taal wat al hoe meer normaal klink.
Monopolisering van die agenda
Die Al Jama-ah-party is 'n plaaslike voorbeeld van hoe klein getalle nie noodwendig klein invloed beteken nie.
Al Jama-ah is nie 'n groot party nie, maar dit kan tog 'n openbare agenda skuif, veral wanneer dit op 'n emosioneel belaaide onderwerp druk. Die voorgestelde “Apartheidswetsontwerp” wat Al Jama-ah in Suid-Afrikaanse wetgewing probeer inskryf, illustreer hoe 'n klein ideologiese kern die wetgewer se energie kan opneem met 'n projek wat in praktyk daarop neerkom om bande met Israel te kriminaliseer en ondersteuners van Israel te vervolg.
Volgens berigte oor die wetsvoorstel, sou dit Suid-Afrikaanse howe in staat stel om individue te vervolg vir sogenaamde “apartheidsaksies” wat glo “oral in die wêreld” sou plaasvind, en Al Jama-ah se retoriek het dit as 'n instrument van 'n “nuwe era van aanspreeklikheid” geraam. Maar wanneer jy die taal en die praktyk lees, raak die doel duidelik. Dit is nie net 'n regsprojek nie maar 'n politieke wapen. Dit is die soort wetgewing wat selektief toegepas kan word, wat mense kan intimideer, en wat 'n samelewing se burgerlike vryhede kan vernou deur die vrees vir vervolging. En as die teiken spesifiek mense is wat bande met Israel het, is die onderliggende doel nie 'n universele menseregtebeginsel nie, maar 'n spesifieke ideologiese teenstander.
Hier sien ons 'n bekende patroon wat ook in Europa sigbaar is: die gebruik van regs- en institusionele meganismes om kulturele en politieke opponente te intimideer. Dis 'n vorm van “lawfare” — nie in die sin van 'n regstaat wat sy wette toepas nie, maar in die sin van die regstelsel wat as wapen teen ideologiese teenstanders ingespan word.
Dit is ook hoekom die Bondi-tragedie en die “Globalise the Intifada”-klimaat mekaar raak. In Westerse stede het mense oor die afgelope twee jaar gesien hoe anti-Joodse intimidasie, slagspreuke en aggressiewe protes nie net oor beleid gaan nie, maar oor identiteit en verontmensliking. The Atlantic het juis Bondi in hierdie groter klimaat geplaas: 'n samelewing waar anti-Joodse haat oor tyd genormaliseer word deur proteskultuur en intimidasie, totdat die grens na massiewe geweld oorgesteek word.
Hier is nog 'n ongemaklike waarheid: Ideologie beweeg eers deur taal, dan deur instellings, en eers daarna deur geweld. Daarom is dit so gevaarlik wanneer die Weste en lande soos Suid-Afrika nie meer bereid is om te onderskei tussen geloof en politieke ideologie nie. Dit is gevaarlik wanneer die akademie en die media nie meer die moed het om ideologie te ontleed nie. Dit is gevaarlik wanneer die staatlike elites se morele kompas eerder deur wêreldwye aktivistiese netwerke gevorm word as deur nugtere nasionale belang.
Die Weste se groot fout was om te dink dat die reëls van pluralisme deur almal gedeel word. Maar Islamisme bied geen wederkerigheid nie. Dit gebruik die vryhede van die liberale demokrasie om die liberale demokrasie self te ondermyn. Dit gebruik vryheid van spraak om onverdraagsaamheid te versprei, vryheid van vereniging om parallelle strukture te bou, godsdiensvryheid om 'n politieke projek as heilige plig te raam. En wanneer iemand dit uitwys, word die kritikus as “islamofobies” bestempel — 'n etikettering wat die debat probeer stop voordat dit by die feite uitkom. Dit is 'n bekende taktiek om jou teenstander moreel te diskrediteer sodat jy nooit oor inhoud hoef te debatteer nie.
Die val van die Weste se aannames
As 'n mens die lang boog van die afgelope vyftig jaar dophou, word dit duidelik dat die grootste fout wat die Weste gemaak het nie militêr, ekonomies of diplomaties was nie, maar intellektueel en kultureel.
Die Weste het aangeneem dat sy waardes universeel is en dat alle samelewings uiteindelik die liberale pad sou volg. Hierdie wanpersepsie het hom onvoorbereid gelaat vir 'n ideologie wat nie net 'n politieke projek is nie, maar 'n totale wêreldbeskouing met eie simbole, norme, hiërargie, en 'n magsbegrip wat nie deur kompromie of pluralisme begrens word nie. Radikale Islamisme het nie die Weste binnegedring deur geweld alleen nie, maar deur die meganismes van die liberale demokrasie self: Vryheid van beweging, vryheid van uitdrukking, vryheid van vereniging, instellings wat oop is vir bepleiting, en 'n akademiese kultuur wat toenemend onseker is oor sy eie reg om te oordeel.
Om Suid-Afrika se kwesbaarheid te begryp, moet 'n mens ook die meganika van “morele kapitaal” verstaan. In 'n land met verswakte instellings en diep wantroue in staatseffektiwiteit, word organisasies wat vinnig kan optree in rampe, of wat internasionale aandag kan mobiliseer, outomaties as morele gesag gesien. Daardie gesag word dan 'n vorm van politieke valuta. Jy hoef nie formeel 'n party te wees om die staat te beïnvloed nie; dit is genoeg om te bepaal watter verhaal die publiek hoor, watter beelde op die nuus verskyn, en watter morele taal as “aanvaarbaar” beskou word.
In die geval van Gift of the Givers is daar twee parallelle realiteite wat gelyktydig bestaan: Die realiteit van hulpverlening wat baie mense persoonlik gesien het, en die realiteit van 'n leierskap wat in openbare debatte oor Israel, Hamas en die Midde-Ooste sterk standpunte inneem en dus nie net “neutraal” funksioneer nie. Al Jazeera het byvoorbeeld 'n profiel geplaas waarin Dr Imtiaz Sooliman homself as uitsluitlik humanitêr beskryf en ontken dat sy werk polities is. Maar in Suid-Afrikaanse debatruimtes bestaan daar terselfdertyd berigte en kommentare wat die teenoorgestelde vermoed, synde dat humanitêre status 'n deurslaggewende skild kan wees waaragter ideologiese netwerke beweeg.
Die punt hier is nie om as 'n hof op te tree of skuld te bewys nie. Die punt is om 'n demokratiese beginsel te verdedig. Wanneer 'n organisasie enorme openbare vertroue het én gereeld in 'n spesifieke ideologiese wêreld beweeg, behoort dit nie buite ondersoek te val nie. In 'n gesonde demokrasie is dit normaal dat joernaliste, burgerlike organisasies en die publiek vra: Wie finansier watter projekte? Watter internasionale netwerke deel platforms, byeenkomste en boodskappe? Watter retoriek word genormaliseer? En hoe word die regering se buitelandbeleid beïnvloed deur die mense met toegang tot sy deure?
Suid-Afrika se Israel- en Iran-lyn pas by hierdie groter patroon van ideologiese skuif. Die ANC se nabyheid aan Iran is nie 'n nuutjie nie, dit is deel van 'n breër “anti-Westerse” posisionering waarin Iran as 'n simboliese bondgenoot teen die VSA en die Weste aangebied word, al is Iran self 'n teokratiese staat met 'n duidelike regionale agenda. Wanneer jy in jou buitelandse beleid gereeld die taal van “bevryding” gebruik, raak dit maklik om radikale groepe se narratiewe te absorbeer. Dít is die gevaar, nie dat Suid-Afrika “Islamities word” nie, maar dat Suid-Afrika 'n instrument word vir transnasionale projekte wat hulself teen die liberale orde posisioneer.
Dis hier waar “Globalise the Intifada” meer as 'n slagspreuk word; dit word 'n kulturele toets. As 'n samelewing nie bereid is om te sê: “Hierdie taal roep op tot geweld en ontmensliking; dit is nie net protes nie,” dan het daardie samelewing reeds begin kniebuig. Le Monde het onlangs berig dat polisiedienste in Londen en Manchester sou optree teen mense wat die slagspreuk “globalise the intifada” aanroep, juis in die skadu van die Bondi-aanval. Dit wys iets belangriks, sommige Westerse instellings besef uiteindelik dat taal wat geweld romantiseer, nie 'n onskuldige politieke stylfiguur is nie, maar 'n konkrete veiligheids- en samelewingsprobleem.
Die Bondi-aanval self is 'n voorbeeld van hoe 'n anti-Joodse klimaat en radikalisering kan uitdraai in 'n aanval op 'n spesifieke gemeenskap in 'n oop en vrye ruimte. Selfs politieke leiers buite Australië het dit as 'n gebeurtenis beskou wat regstreekse solidariteit met die Joodse gemeenskap vereis. Die les is eenvoudig, as jy die ideologiese vuur in jou samelewing laat smeul, moet jy nie verbaas wees as dit later vlam vat nie.
Die risikos in SA bou op
Nou kyk terug na Suid-Afrika se plaaslike politieke speelveld. Al Jama-ah se voorgestelde “Anti-Apartheid”-wetsvoorstel toon hoe 'n klein party 'n groot morele narratief kan probeer kaap. Volgens die SA Jewish Report se beskrywing kan die wetsvoorstel Israel-verwante bande kriminaliseer en selfs mense buite Suid-Afrika se grense teiken, deur 'n soort universele jurisdiksie oor sogenaamde “apartheid-aksies” te skep.
CYPSA se formele kommentaar oor die wetsvoorstel wys ook dat burgerlike rolspelers dit ernstig genoeg ag om amptelik kommentaar te lewer en die implikasies te betwis. Dit is hoe klein partye groot impak kry, deur omstrede wetgewing te gebruik om die hele parlementêre gesprek te dwing om rondom hul ideologiese agenda te draai.
Hierdie soort wetgewing is gevaarlik omdat dit 'n demokrasie se basiese “speelveld” verander. In 'n liberale demokrasie behoort jy 'n buitelandse beleid te kan kritiseer, 'n land te kan steun of te kan veroordeel, en verhoudings te kan hê met wie jy wil, binne die raamwerk van die wet. Wanneer 'n staat begin om politieke lojaliteit te kriminaliseer — veral deur vae definisies en simboliese morele taal — begin dit die deur oopmaak vir selektiewe vervolging en intimidasie.
Hier moet 'n mens ook besef hoe Islamisme en sekere postkoloniale raamwerke mekaar ontmoet. Islamisme bied 'n totaliserende morele orde. Postkoloniale aktivisme bied 'n taal van slagofferskap waarin die Weste altyd die skuldige is. Wanneer daardie twee raamwerke saamvloei, kry jy 'n politieke kultuur waarin Israel altyd die simbool van boosheid word, Hamas altyd 'n “reaksie”, en die Joodse gemeenskap makliker ontmenslik word. Dit is die ideologiese grond waarin slagspreuke soos “globalise the intifada” kan floreer, en waarin wetgewing soos die “Apartheid Bill” makliker aan burgers verkoop kan word as 'n “morele noodsaaklikheid” eerder as 'n aanval op burgerlike vryheid.
Daar is nog 'n rede waarom die GoTG-debat belangrik is: Dit raak aan die vraag van staatskapasiteit. Wanneer die staat swak is, word nie-regeringsnetwerke sterker. Dit kan goed wees, want burgers help mekaar. Maar dit kan ook gevaarlik wees wanneer 'n netwerk met 'n spesifieke ideologiese raamwerk begin optree as 'n kanaal waardeur internasionale narratiewe die regering bereik. Die FDD het byvoorbeeld in 'n ontleding oor Hamas in Suid-Afrika daarop gewys dat die ANC se bande met Hamas 'n konteks skep waarin radikale netwerke minder weerstand ervaar, en waarin ideologiese posisionering as morele deug aangebied kan word.
Nog 'n praktiese dimensie wat die Weste dikwels onderskat, is hoe “humanitêre taal” as diplomatieke rookskerm gebruik kan word. 'n Staat of netwerk hoef nie openlik te sê hy steun radikale groepe nie; hy kan eerder praat oor “hulp”, “beskerming”, “internasionale geregtigheid” en “dekolonisasie”, en só die morele terrein beset. In daardie klimaat raak dit maklik om wetlike en politieke stappe te regverdig wat in werklikheid selektief is. Suid-Afrika se ICJ-roete teen Israel word in hierdie konteks deur baie mense ervaar as deel van 'n groter ideologiese verhaal eerder as 'n neutrale regsdaad, omdat die retoriek en alliansies rondom die stap so sterk in 'n spesifieke kamp val.
Die oplossing lê nie in histerie nie, maar in volwassenheid: Sterker grens- en sekuriteitsmaatreëls; 'n vaste onderskeid tussen godsdiensvryheid en politieke ekstremisme, en 'n burgerlike kultuur wat nie bang is om sy eie erfenis te benoem nie. Só ’n kultuur kan gelyktydig respek hê vir vreedsame gelowiges én geen toegewings maak aan totaliserende projekte wat pluralisme minag nie. Bondi se nasleep het ook gewys hoe wyd die skokgolwe van sulke ideologies gemotiveerde geweld kan beweeg, van plaaslike gemeenskapsrituele tot amptelike verklarings en parlementêre betuigings van meegevoel. Só iets gebeur nie wanneer 'n aanval bloot “lukraak” is nie; dit gebeur wanneer mense instinktief aanvoel dat 'n grens oorgesteek is — dat 'n spesifieke soort haat en mobilisering genormaliseer en toe ontplof het. En elke keer as 'n samelewing dit wegpraat, word die volgende slagoffer net 'n bietjie meer waarskynlik. Dis hoe 'n beskawing stadig, dan skielik, uiteindelik knak.
Die geskiedenis bied nooit gewaarborgde uitkomste nie, maar dit bied altyd waarskuwings. En die waarskuwing van die afgelope vyftig jaar is eenvoudig, ideologieë verdwyn nie omdat jy hulle ignoreer nie. Hulle verdwyn net wanneer 'n samelewing sterker idees het — en die moed om dit te verdedig.
Die Weste het die idees. Die vraag is of hy die moed kan herwin om dit uit te leef, voordat die volgende Bondi — in watter stad ook al — weer 'n samelewing wakker skud wat reeds te lank geslaap het.
Nog artikels deur Barend Wesseloo:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.










