Repliek: "Kirk se opponente was geen onskuldige bloedjies nie"
Gilman trek die debat oor Kirk skeef, reageer Barend Wesseloo.
Ek lees die vertaalde artikel “Stop the Bullshit” van Nils Gilman wat op OntLaer verskyn het, en dit val my op dat wanneer 'n mens lelik moet praat in 'n opskrif om 'n punt te maak, jy nie eintlik 'n argument beet het nie. Dit is soos 'n komediant wat moet vloek in sy grappe sodat dit snaaks is, want sy komedie en grappe is eintlik nie snaaks nie. Nils is volgens my oningelig en is maar net nog 'n linksgesinde wat nie die argument kan wen nie en homself gevolglik eerder tot beledigings wend. Wanneer die linkses nie die argument kan wen nie, gooi hulle jou met beledigings.
Gilman sit die pot volgens my geheel mis op drie belangrike aspekte:
Eerstens: Gilman is duidelik 'n baie intelligente mens, met ongelooflik baie prestasies in die akademie en navorsingsveld. Maar ongelukkig het hy nie wysheid nie.
Om te begin met 'n opskrif wat beweer dat Kirk se debatte net vertonings was, wys dat hy nie eens die moeite gedoen het om 'n hele debat van Kirk deur te kyk nie. Dan gaan hy verder en sê dat Kirk se ideologie walglik is, en dat hy nie eers spesifiek wil wees nie—wat net wys dat dit 'n aantyging is sonder om dit met voorbeelde te staaf. Nou vra ek: Wat is so walglik aan wat Kirk geglo en waaroor hy gepraat het?
Gilman beweer dat Kirk nooit met ingeligte teenstanders gedebatteer het nie, maar net met naïewe studente. Nou wil ek jou vra, Gilman: As universiteite so ongelooflik briljant is en soveel bydra tot 'n intelligente samelewing, waarom kon Charlie nie 'n enkele ingeligte student vind om mee te debatteer nie? En as jy dan nou so slim is, waar is jóú debat met Kirk? En jou debat met enige konserwatiewe kommentator? Sekerlik sal jy van enige geleentheid gebruik maak om te kan wys hoe walglik konserwatiewe ideologie is?
Gilman gaan verder en sê dat Kirk nooit in ware dialoog betrokke geraak het nie. Hy noem as voorbeeld waar Ezra Klein 'n potgooi-onderhoud met Yoram Hazony gehad het. Dit is eenvoudig 'n baie naïewe standpunt, want Kirk was as gas én as gasheer op talle podsending-onderhoude. Hy het selfs sy eie podsending gehad met gereelde gaste. Trouens, Kirk was op verskeie nie-konserwatiewe programme en podsendings soos The Joe Rogan Experience, Real Time with Bill Maher en selfs op CNN-panele waar sy sienings uitgedaag is deur hoofstroom-joernaliste en progressiewe meningsvormers. Hy het ook onderhoude gevoer op platforms soos Axios, Politico se podsendingreekse en ander nie-konserwatiewe mediakanale. Hierdie verskynings wys duidelik dat Kirk nie net in ‘n eierdop van konserwatiewe gehore beweeg het nie, maar dat hy homself aan uiteenlopende vrae en uitdagings blootgestel het. Die bewering dat hy nooit in ware dialoog betrokke was nie, word dus deur sy openbare rekord weerlê.
Ek dink Gilman het net 'n paar TikToks gekyk, en nou het hy sterk opinies oor Kirk.
Gilman gaan verder en beskuldig Charlie dat sy debatte net 'n nabootsing van dialoog was, en dat sy manier van debatvoering die ineenstorting van goeie trou, opregtheid en egtheid was. Nou wil ek net vra: Is Gilman nie bewus van CNN, ABC en MSNBC (om maar net 'n paar te noem) se beriggewing wanneer dit by konserwatiewe en regse kwessies kom nie? Is daar goeie trou en opregtheid?
Dan gaan Gilman verder en sê dat, omdat sommige van Kirk se aanlyninhoud gesny is en op TikTok en Instagram Reels geplaas is, dit nou as snert beskou kan word. Leef Gilman in 'n grot of iets? Hy moet seker bewus wees dat letterlik elke sosiale media beïnvloeder en politieke kommentator op die internet hul langvorm-inhoud sny en dan op TikTok en Instagram plaas? Dit is 'n belaglike en onsinnige argument dat omdat Kirk en sy organisasie kort formaatvideos publiseer die lengte van 'n video die inhoud reduseer tot snertstatys. Ek het regtig meer verwag van iemand met so baie grade agter sy naam.
Hy gaan verder en vergelyk Kirk se debatvoering met 'n “kwasi-staat”. Daardie analogie maak nie regtig vir my sin nie; ek dink hy probeer net slim klink.
Hy gaan dan voort met nog 'n analogie oor pseudo-wetenskap, dat mens nederigheid benodig vir akkurate en betroubare wetenskap en praat verder van vals handelsmerk-handsakke; dan trek hy dit deur na dialoog wat glo nederigheid verg. Sy analogieë pas nie by die onderwerp nie, en hy bring ook nie voorbeelde om sy beskuldigings te staaf nie.
Toe beskuldig hy Kirk van oorheersende debatvoering en “kamma-dialoog”.
Dit waarvan hy Kirk beskuldig, is iets waarvoor linkses berug is: hulle onderbreek en praat oor hul teenstanders in debatte. Gaan kyk net 'n paar video’s op die Piers Morgan Uncensored YouTube-kanaal.
Net omdat iemand oor mense gepraat het, of omdat hy dalk hier en daar mense onderbreek het, beteken nie dat sy argumente of ideologie of argumente nou verkeerd is nie. Maar al wat 'n mens by Nils Gilman sien, is aantygings en beskuldigings.
Gilman gaan selfs verder en sê dat Kirk waarskynlik geglo het sy politiek is reg. Nou wil ek weet: Hoekom wys Gilman nie vir die leser waar Kirk se politiek dan verkeerd is nie? Bring die voorbeelde, Gilman!
Een van die redes waarom Kirk gevoel het dit is nodig om op universiteitskampusse met studente te gaan argumenteer en hul opinies te verander, is weens die gif wat vandag aan jongmense in universiteite geleer word. Instellings waarvan Nils Gilman deel is en optrede waarvan hy self skuldig is.
Die kinders weet nie eens meer of hulle mans of vroue is nie, of selfs wat 'n vrou is nie. Hulle glo daar is meer as 100 geslagte, en dat aborsie 'n vorm van voorbehoed is.
Hulle ondersteun terroriste-organisasies sonder om te weet waarvoor hulle staan en wat hulle gedoen het; hulle glo dat onwettige immigrasie nie meer verkeerd is nie. Die jeug van vandag se morele kompas is heeltemal skeefgetrek, en dit is danksy mense soos Nils Gilman.
Hierdie is 'n groot probleem, want hoe gaan die Weste se leierskap oor 10–20 jaar lyk met sulke opvoeding en breinspoeling in universiteite wêreldwyd?
Wanneer jou kant van die argument die opposisie vermoor oor hulle opinies, moet jy introspeksie doen en nie modder gooi, leë beskuldigings maak en onbenullige analogieë trek nie. Dan is dit tyd om vir jouself te sê: Miskien is ons op die verkeerde pad. Miskien is óns die fasciste, die haatlikes en die wat teen vrye spraak is.
Vir iemand wat 'n geskiedkundige is, het Gilman 'n kort geheue maar leer hy nie uit geskiedenis nie. Daar waar diskoers stop begin die skote gewoonlik klap.
Ongelukkig het 'n intelligente man soos Nils Gilman vir die gepeupel- of “mob”-mentaliteit geval.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.