Etnisiteit, Ideologie en Waarheid: 'n Waarskuwing vir Afrikaners
Owens, Carlson, Fuentes en Petzer verskil nie veel van die radikale linkerkant nie.
Ek het 'n artikel geskryf oor die gevare van internet-ideologieë, waarin Afrikaners nie moet trap nie, soos wat nou in Amerika gebeur met sommige van die sogenaamde “konserwatiewes”.
Wanneer 'n mens vandag jou selfoon oopmaak en op sosiale media inskakel, veral op X of YouTube, word jy letterlik oorval deur 'n storm van menings, veralgemenings en selfverklaarde waarhede. Wat eens as platforms vir vrye meningsuiting begin het, het in 'n ideologiese slagveld verander. Tussen die memes, nuusbrokkies en kommentaarlyne skuil daar 'n nuwe vorm van beïnvloeding: inligting wat bedoel is om te mislei, te polariseer en emosioneel te manipuleer.
Konserwatiewe waninligting
Wat opval, is hoe baie van dié disinformasie uit dieselfde hoek kom waar konserwatisme sy tuiste sou moes hê.
Internasionaal sien ons figure soos Candace Owens, Tucker Carlson en Nick Fuentes wat hulself as die “ware” stem van die konserwatiewe wêreld aanbied, maar dikwels presies dieselfde taktieke gebruik as die radikale linkerkant wat hulle kritiseer: Sensasie bo feite, veralgemening bo nuansering, identiteit bo waarheid. Hulle styl is nie debat nie, maar beskuldiging; nie oortuiging nie, maar insinuasie.
Hierdie verskynsel het ongelukkig nie in Amerika of Europa gebly nie. In Suid-Afrika groei daar 'n soort plaaslike aanhang vir dieselfde soort “alternatiewe” kommentaar wat dikwels meer op emosie as op insig en feite staatmaak. Daar is deesdae 'n mark vir enigiets wat klink soos “waarheid wat niemand anders durf sê nie”. En soos altyd, waar daar 'n mark is, sal daar mense wees wat dit benut, al beteken dit om gevaarlike mites aan te wakker.
Ongelukkig het Willem Petzer homself skuldig gemaak aan iets waarteen hy normaalweg baklei het. Hy is 'n sigbare voorbeeld van hierdie nuwe soort konserwatiewe kommentator: iemand wat intellektueel en vrydenkend wil lyk, maar dikwels self slagoffer word van dieselfde intellektuele oneerlikheid wat hy elders ontmasker. Hy gebruik net die regte woordeskat: “waarheid”, “nuanse”, “gesonde verstand”, “dieper vrae”, maar die uiteinde is nie begrip nie, dis verdagmakery.
Wat gevaarlik is, is nie dat mense soos hy vrae vra oor die geskiedenis of die rol van sekere groepe nie. Dis hoe hulle dit vra. Dis die stemtoon, die keuse van wat uitgelig word en wat weggelaat word, wat die verskil maak tussen ondersoek en insinuasie. As jy byvoorbeeld sê: “Mandela is beïnvloed deur Joodse Marxiste”, vra jy nie bloot oor ideologie nie. Jy skep 'n emosionele beeld waarin 'n etniese groep, die Jode, subtiel as die beskuldigbare bron van 'n hele politieke era voorgehou word.
Van Beginsels na Blaamverskuiwings
Dis in daardie klein skuif waar die gevaar lê. Dis daar waar konserwatisme ophou gaan oor waardes en begin gaan oor vyande. Dit begin as kritiek teen liberalisme of kommunisme, maar eindig maklik as wantroue teen mense wat “anders” is.
En juis omdat die styl so kalm, slim en redelik klink, sien baie mense nie die verskil raak nie. Hulle dink dit is bloot “kritiese denke”. Die tragiese ironie is dat konserwatisme, in sy oorspronklike betekenis, die verdediging van waarheid, stabiliteit en orde was. Dit was nooit bedoel as 'n toevlug vir haat nie. Ware konserwatisme rus op eerlikheid en op die wete dat jy eers iets moet verstaan voordat jy dit mag veroordeel. Maar in die digitale era is daar min geduld vir begrip. Nuanse is te lank vir 'n TikTok-video en feite te droog vir 'n thumbnail oftewel steekplakker. Die resultate is voorspelbaar: oppervlakkige narratiewe kry vleuels, en die lyn tussen waarheid en propaganda vervaag.
Wat die situasie nog meer ontstellend maak, is hoe sommige van hierdie figure hulle eie aanhang met trots as “Christelik” of “konserwatief” beskryf, terwyl hulle juis kernwaardes soos eerlikheid, respek en waarheid ondermyn. Hulle meng geloofstaal met politieke woede, en gebruik dit as morele skild. Dit gee hulle volgelinge die gevoel dat hulle deel is van 'n heilige stryd teen die “globaliste”, die “linkses” of die “Joodse elite”. Maar 'n stryd wat op leuens gebou is, al voel dit reg, is nog steeds sonde.
Ek verstaan waarom baie Afrikaners ontvanklik is vir hierdie soort retoriek. Ons voel dikwels verontreg, gemarginaliseer en vergete in ons eie land. Ons is moeg vir korrupsie, moeg vir misdaad, moeg vir morele agteruitgang. In sulke tye soek mense eenvoudige antwoorde, en die internet bied dit in oormaat. “Hulle” is altyd die skuldiges. Dit is makliker om 'n vyand te kry as om die waarheid te onderskei.
Elke keer as ons toelaat dat veralgemening die plek van begrip inneem, verloor ons iets van ons eie morele kern. Elke keer as ons iemand se geloof, ras of herkoms gebruik as verduideliking vir hul idees, verval ons in dieselfde denkfout wat ons self haat wanneer dit teen ons gebruik word. Die oomblik as 'n mens sê: “Hy dink so omdat hy 'n Jood is,” of “sy praat so omdat sy swart is,” of gewoon “daardie groep is almal dieselfde,” het jy die pad van waarheid verlaat en op die pad van ideologie gestap.
Wat my persoonlik ontstel, is dat die woord “konserwatief”, wat eens 'n teken van integriteit, geloof en waardigheid was, nou dikwels gebruik word as 'n sambreel vir mense wat niks daarvan verstaan nie. Hulle gebruik dit as 'n vaandel waaragter rassisme en antisemitisme wegkruip. Hulle preek oor moraliteit, maar leef van woede.
Hulle sê hulle verdedig Westerse waardes, maar inderwaarheid ondermyn hulle dit.
Willem Petzer maak Jode verdag
Afrikaners behoort van beter te weet. Afrikanergeskiedenis is 'n getuienis van hoe maklik 'n volk gedemoniseer kan word deur verdagmakery en propaganda.
Ons behoort die eerstes te wees om vals beskuldigings en verdraaide beelde te verwerp. Maar ons loop die gevaar om weer dieselfde pad te stap – net hierdie keer as die klaers eerder as die beskuldigdes. Daarom moet hierdie gesprek gevoer word. Om te herinner dat woorde dra gewig. En wanneer jy oor ander se identiteit praat, dra jy die gewig van geskiedenis op jou tong. In 'n tyd waar waarheid goedkoop geword het, is eerlikheid die hoogste vorm van rebellie.
Toe ek op twee van Willem Petzer se onlangse video’s afkom – “Die intellektuele dryfveer agter Mandela en die ANC was nie Swart mense nie” en “Why the ANC forsook its Jewish friends and supports Hamas today” – het ek aanvanklik nie verwag om soveel ideologiese spanning daarin te vind nie. Ek wou bloot hoor wat hy te sê het. Maar dit het vinnig duidelik geword dat hierdie nie gewone geskiedkundige ontledings is nie. Dit is narratiewe wat versigtig gekies is en opgebou word om 'n sekere indruk te skep, naamlik dat “die Jode” op een of ander manier 'n oordrewe invloed gehad het op Suid-Afrika se geskiedenis en dat dié invloed vernietigend was.
Die probleem is nie dat hy feite verdraai nie, dis dat hy feite selektief gebruik. Hy haal dinge aan wat waar is, maar los doelbewus die gegewens uit wat die betekenis daarvan kan verander. Wanneer iemand sê: “Nelson Mandela is beïnvloed deur Joodse Marxistiese studente,” dan sê hy nie regstreeks dat Jode verantwoordelik was vir die ANC of vir kommunisme nie. Maar die implikasie lê net onder die oppervlak. Dit word herhaal, subtiel beklemtoon, en aan die einde van die video het die kyker nie meer twyfel wie die “ware dryfveer” agter alles was nie.
Hierdie soort framing oftewel afbakening is nie onskuldig nie. Retories werk dit met drie eenvoudige tegnieke: selektiewe fokus, emosionele toon en etniese etikettering.
Die selektiewe fokus: Hy kies 'n paar Joodse figure (Joe Slovo en Ruth First) en stel hulle voor as verteenwoordigend van iets groters, maar noem nie die talle nie-Joodse Marxiste, kommuniste of aktiviste wat presies dieselfde idees aangehang het nie.
Emosionele toon: Sy stem word merkbaar kouer en skerper wanneer hy oor “Joodse Marxiste” praat; dit gee vir die kyker 'n onbewuste sein van gevaar of afkeer.
Etniese etikettering: Hy plaas “Joods” voor 'n naam of ideologie op plekke waar dit geen ontledende waarde het nie. Dit is nie 'n beskrywing nie; dis 'n insinuasie van verdagtheid.
Só word 'n gewone geskiedkundige feit 'n sielkundige dryfveer vir wantroue. Die gehoor hoor: “Daar was baie Joodse name,” en trek self die gevolgtrekking: “Aha, dis die Jode.” Dit is die ou kuns van verdagmakery om jou eie hande skoon te hou terwyl jy weet wat jou gehoor gaan dink.
Petzer se tweede video volg dieselfde patroon, net met 'n nuwe tema: “Why the ANC forsook its Jewish friends and supports Hamas today.” Hierin word die geskiedenis van die ANC se verhouding met die Joodse gemeenskap gebruik as voertuig om 'n ander boodskap oor te dra: dat die Jode eers die ANC gehelp het en nou self die slagoffers van hul eie “verraad” geword het. Dit klink akademies, maar dit is niks anders as 'n herhaling van die ou Europese aanmatiging van “die Jood wat homself vernietig” nie.
Wat my tref, is die presiese gebruik van tydsberekening en beeldmateriaal: Foto’s van wit, Joodse figure wat glimlag langs swart bevrydingstryders, musiek wat onheilspellend stadig speel, frases soos “die invloed van internasionale ideologieë”. Geen van hierdie elemente sê regstreeks iets rassisties nie, maar saam wek dit die gevoel dat daar 'n geheime hand is, 'n vreemde dryfveer, 'n geheimsinnige buitespeler. Dit is presies hoe moderne propaganda werk: deur gevoel te verwek, eerder as logiese dog ongegronde opeenvolgende stellings.
Wanneer 'n mens dan die kommentaar onder sy video lees, word die gevolgde daarvan onmiskenbaar. Petzer sê dit nie self nie, maar sy kyker sê dit namens hom. Hy hoef dit nie te sê nie; hy het reeds die atmosfeer geskep waarin sulke gedagtes normaal voel. En tog reageer hy nie, korrigeer nie of verduidelik nie.
Die gif van pasgemaakte waarhede
Hierdie patroon is nie uniek aan hom nie; dis deel van ’n groter verskynsel. Die internet is vol mense wat met halwe waarhede en mooi stemme die wêreld vergiftig. Hulle gebruik die styl van akademiese gesprek om te doen wat ou propagandiste openlik gedoen het. Waar Joseph Goebbels met plakkate gewerk het, werk hulle met algoritmes. Waar die ou antisemitisme skreeuend was, is die nuwe antisemitisme kalm, sinies en “intellektueel”.
En dis juis hoekom dit so gevaarlik is. Want vir die oningeligte luisteraar klink dit redelik. Hy dink hy leer iets oor geskiedenis of politiek, terwyl hy eintlik bloot in 'n raamwerk van wantroue ingelyf word. Hy begin glo dat elke internasionale besluit, elke ekonomiese krisis en elke politieke verskuiwing 'n “onsigbare hand” het, en daardie hand het altyd dieselfde naam. Dis nie meer geloof nie, dis bygeloof. Dis nie meer kritiese denke nie, maar ideologiese vervolgingswaan. As 'n mens eerlik is, is daar 'n sekere slimgeit aan hierdie strategie. Petzer weet presies waar die grense van “bespreekbaarheid” lê en bly net binne-in hulle. Hy sê nooit regstreeks dat “Jode die vyand” is nie, hy laat ander dit sê. Hy beskerm homself teen beskuldigings van haatspraak, maar die effek op die gehoor bly dieselfde. Dis soos om petrol te gooi en dan te sê jy het nooit vuur gemaak nie.
Die groter gevaar lê egter nie net by hom nie, maar by die aanhangers wat hom as intellektuele gids beskou. Want wanneer iemand met geloofwaardigheid 'n verkeerde uitleg weergee, word dit vir gewone mense 'n waarheid. Hulle begin geskiedkundige figure soos Joe Slovo nie meer as individue sien nie, maar as argetipes. “Die Joodse kommunis” word 'n karakter, 'n simbool, 'n vyand. En só begin die sirkel van wantroue wat reeds soveel eeue bloed gekos het, weer draai.
Daar bestaan natuurlik ruimte om te vra waarom sekere mense of groepe 'n invloed in geskiedenis gehad het. Dis gesonde navorsing. Maar daar is ’n verskil tussen navorsing en narratiefskepping. Die eerste soek redes, die tweede soek skuldiges. As jy by die tweede uitkom, het jy reeds jou wetenskap verruil vir politiek. Ek glo nie Willem Petzer is haatdraend in sy hart nie. Ek glo hy dink hy doen 'n diens aan waarheid. Maar dis juis hoe ideologiese misleiding werk: deur mense te laat glo hulle verdedig die lig, terwyl hulle onbewustelik die donker versprei. In sy strewe om die geskiedenis te “ontmasker”, begin hy presies dieselfde fout maak wat hy ander verkwalik: hy gebruik identiteit as bewys van skuld en blaamwaardigheid.
In die era van digitale oorvloed is dit maklik om volgelinge te kry; dis moeiliker om integriteit te behou. Die toets vir enige konserwatiewe denker is nie hoeveel mense met hom saamstem nie, maar of sy woorde die waarheid dien of verdraai. Om stil te bly terwyl mense in jou naam haat, is om daaraan deel te hê. Afrikaners moet leer om hierdie patrone raak te sien, om te hoor wat nie gesê word nie, om die toon sowel as die teks te lees. Want as ons dit nie doen nie, gaan ons ons eie kultuur toelaat om besmet te word met dieselfde soort giftige retoriek wat die Weste in die vorige eeu so duur te staan gekom het. En teen die tyd dat ons besef die gif lê nie by “die ander” nie, maar in ons eie gemoed, sal dit dalk te laat wees.
Idees is nie geneties nie
Een van die mees verraderlike vorme van misleiding is wanneer 'n ideologie aan 'n etniese groep gekoppel word asof denke en bloed dieselfde is. Dis 'n ou truuk van mense wat eerder sondebokke soek as antwoorde. Maar as ons na die geskiedenis kyk, sien ons dat idees nie etnies is nie. Marxisme, liberalisme, kapitalisme, nasionalisme – dit alles is die produkte en strewes van mense, nie van spesifieke volkere nie.
Ter voorbeeld, Karl Marx self was 'n Duitser van Joodse afkoms wat sy eie geloof en gemeenskap verwerp het. Sy filosofie het niks met Judaïsme te doen gehad nie. Sy teorieë oor arbeid, klas en revolusie is in 'n Europese konteks gebore, in dieselfde intellektuele wêreld as Darwin, Nietzsche en Hegel. Hy was deel van 'n breër Westerse soeke na die “nuwe mens”. Om Marxisme “Joods” te noem, is net so onsinnig as om kapitalisme “Christelik” te noem omdat baie bankiers Christene was.
In Suid-Afrika was dit dieselfde storie. Die mense wat die Kommunistiese Party gevorm het, het uit alle etniese oorde gekom – Engelse, Afrikaners, Jode, Grieke, swart Afrikane, Indiërs. Wat hulle verbind het, was nie ras of geloof nie, maar ideologie. Joe Slovo, Ruth First, Bram Fischer, Ben Turok — almal was intellektuele wat hulle geloof in die Sowjet-model geplaas het. Hulle het geglo dat die enigste manier om apartheid en kapitalisme te breek, is deur 'n sosialistiese revolusie. Dis nie bepaald Joods nie. Dis bepaald ideologies.
Wanneer Willem Petzer dus sê dat Mandela deur “Joodse Marxiste” beïnvloed is, is dit nie feitlik verkeerd nie, maar dis verkeerd om dáárdie feit as betekenisvol te beskou. Want as ons konsekwent sou wees, moes ons dan ook sê dat Mandela deur Afrikaanse Marxiste beïnvloed is, soos Breyten Breytenbach of Bartho Smit, of deur Engelse liberales soos Alan Paton. Maar niemand sê dit nie, want niemand dink dis belangrik of “tipies Engels” om liberaal te wees nie. Tog, as dit 'n Jood is, raak dit skielik noemenswaardig. Dis daardie selektiewe toepassing wat die gif verklap.
Om iemand se etnisiteit te beklemtoon wanneer jy hul idees kritiseer, is altyd 'n aanduiding dat die kritiek nie oor die idees self gaan nie, maar oor die mense agter dit. Dis 'n manier om die debat te vergiftig sonder om dit te erken. Ons moet onthou: daar was baie Jode wat nie kommuniste was nie – trouens, die meerderheid was teen kommunisme. Die Sowjetunie was een van die wreedste vervolgers van Jode in die twintigste eeu. Honderde duisende Jode is uit hulle loopbane en huise verdryf omdat hulle wou uitwyk na Israel, miljoene is verbied om hulle geloof te beoefen, en talle is in die Gulag-kampe dood. Om te sê kommunisme is “ 'n Joodse idee” is om die geskiedenis te bespot.
Wat Joodse figure soos Joe Slovo gedoen het, was nie namens die Joodse volk nie, maar dikwels teen hulle. Slovo het homself van Judaïsme gedistansieer, die Bybel as “mitologie” afgemaak, en die Sowjetunie vereer . Om hom dus as verteenwoordiger van “die Jode” te sien, is net so verkeerd as om Piet Croucamp as verteenwoordiger van die Afrikaners te sien.
Leer uit die geskiedenis
Die geskiedenis wys hoe dodelik hierdie denkwyse is. In Europa het dieselfde beginsel die weg gebaan vir eeue van antisemitisme. Eers was Jode beskuldig van “Christusmoord”, toe van “geldgierigheid”, later van “kommunisme”, en vandag van “globalisme”. Die aanklag verander elke dekade, maar die teiken bly dieselfde. En elke keer het dit begin met slim mense wat gesê het: “Ons vra net vrae.”
Wat Afrikaners dalk vergeet, is dat ons eie geskiedenis baie met dié van die Jode ooreenstem. Beide volke het hulle identiteit in geloof en geskiedenis gesoek. Beide het deur vervolging gegaan. Beide het in vreemdelingegrond probeer oorleef. En beide is in die twintigste eeu gereeld as “probleemvolke” beskou. Toe Jode in die 1800’s na Suid-Afrika begin kom, het hulle nie as revolusionêre gekom nie, maar as handelaars, ambagsmanne en gesinne. Baie van hulle het vinnig deel van die Afrikaanse gemeenskap geword – daar was Joodse winkeliers wat Afrikaans gepraat en saam met die Boere teen die Britte gestaan het. Party het wapens gesmokkel, ander het as dokters in die veld gewerk. In die Anglo-Boereoorlog het Joodse soldate onder die Boeremagte gesterf.
Na die oorlog het Joodse families saam met Afrikaners die ekonomie opgebou. Name soos Kessel, Kaplan, Sacks, Cohen en Smookler is vandag nog in die geskiedenis van Afrikaanse dorpe te vinde. Hulle het winkels, fabrieke en besighede begin wat Afrikaners werk gegee het toe niemand anders wou nie. Hulle het nie net “hul eie” gedien nie, maar die gemeenskap. Hierdie mense het nie met Marxistiese boeke onder die arm geloop nie, hulle het met familiewaardes, eerlikheid en harde werk geleef.
Daar is selfs Joodse gesinne wat op Afrikaanse plase grootgeword het en vandag beter Afrikaans praat as baie Afrikaners. Hulle het die kultuur aangeneem en die land liefgekry. Dis hierdie Jode wat saam met Afrikaners in die kerkbasaar se ry gestaan het, saam gelag het by die skool se prysuitdeling, saam die land opgebou het. Maar oor hulle word nooit gepraat nie, want dit pas nie by die narratief dat “Jode altyd anders is” nie.
Ons moet ook eerlik wees oor die tyd ná apartheid. Toe die nuwe Suid-Afrika gebore is, het die meerderheid van die Joodse gemeenskap dit ondersteun. Nie omdat hulle kommuniste was nie, maar omdat hulle, soos die meeste Afrikaners, ’n beter toekoms wou hê. Hulle het in hul duisende in besighede, regskantore en gemeenskapsprojekte belê om die land te stabiliseer. Hulle het liefdadigheidsorganisasies gestig wat nie net vir Jode nie, maar vir armes van alle rasse hulp verleen. In daardie sin is hulle deel van die verhaal van Suid-Afrika net soos Afrikaners is.
Die idee dat daar 'n “Joodse invloed” agter al die slegte dinge in die land skuil, is dus nie net onwaar nie, dit is onregverdig. Dis 'n manier om skuld te projekteer, om te sê: “Dis nie ons foute of ons geskiedenis wat dinge skeef laat loop het nie, dis daardie groep.”
Maar geskiedenis is nooit so eenvoudig nie. Die waarheid is dat alle volke goed en sleg op hulle kerfstok het. Daar was Jode wat vir Stalin gewerk het, ja, maar daar was ook Jode wat teen hom opgestaan het. Daar was Afrikaners wat vir die Britte geveg het, en Afrikaners wat hulle eie mense verraai het. Daar was Engelse wat teen apartheid was, en Engelse wat dit geskep het. As jy begin om 'n hele groep te veroordeel oor wat 'n paar individue gedoen het, dan maak jy nie geskiedenis nie, jy maak propaganda.
Dis hoekom dit vir my belangrik is dat Afrikaners nie hierdie nuwe soort verdagmakery internaliseer nie. Ons het te veel van ons eie pynlike geskiedenis om te weet wat gebeur wanneer mense met etikette begin speel. Die oomblik as jy sê: “Hy is so want hy is 'n Jood,” het jy reeds die pad van eerlike denke verlaat. Dis presies wat in Europa gebeur het toe gewone mense begin glo het dat “die Jode agter alles sit.” Die prys vir daardie idee was ses miljoen lewens.
Gun die Jode ook selfbeskikking
Ons volk het 'n geskiedenis van eer, geloof en selfondersoek. Laat ons dan nie die foute van ander herhaal nie, maar daaruit leer. Want as ideologie nie by bloed behoort nie, dan behoort waarheid ook nie aan enige volk nie – dit behoort aan almal wat dit soek.
Een van die gevaarlikste wanvoorstellings wat vandag weer sy kop uitsteek in internasionale en plaaslike gesprekke, is die idee dat Sionisme 'n geheime of bose ideologie is. Die woord word al hoe meer as 'n skelwoord gebruik, amper soos “imperialis” of “kolonis”. Mense gooi dit losweg rond sonder om te verstaan wat dit beteken. In sommige van Willem Petzer se opmerkings, en ook in die kommentaar wat sy volgelinge lewer, word Sionisme selfs regstreeks verbind aan “Joodse invloed” of “wêreldbeheer”. Dis presies die soort mites wat eeue van haat aangewakker het. Maar om Sionisme te verstaan, moet 'n mens teruggaan na sy oorsprong – nie na die YouTube-kommentaarafdeling nie. Diebegrip kom van Sion, 'n Bybelse naam vir Jerusalem, en verwys na die eeue oue hoop van die Joodse volk om na hulle voorvaderlike land terug te keer. Dis nie 'n geheime politieke komplot nie, maar 'n geestelike en geskiedkundige verlange. Ná byna twee millennia van vervolging, diaspora en vernedering het die Joodse volk net gedroom van een ding: om weer 'n tuiste te hê waar hulle hul eie lot kon bepaal.
Daarom het Sionisme aan die einde van die 19de eeu ontstaan, lank voor die moderne staat Israel. Dit was die Joodse weergawe van nasionalisme – presies dieselfde beginsel wat ook in Europa posgevat het toe volke soos die Hongare, Tsjegge en Grieke hul eie lande wou hê. Theodor Herzl, wat die moderne Sionistiese beweging gelei het, was nie 'n rabbi nie, maar 'n sekulêre intellektueel, 'n joernalis wat gesien het hoe Jode in Europa aangeval word bloot omdat hulle Jode is. Hy het tot die besef gekom: “As ons nie 'n eie staat het nie, sal ons altyd vlugtelinge bly.”
Sionisme is dus nie 'n ideologie van oorheersing nie, maar van selfbeskikking. Dit sê eenvoudig dat die Joodse volk, soos enige ander volk, die reg het om in hulle eie land te woon, hulself te regeer en hulself te verdedig. Dis presies dieselfde beginsel waarop Afrikaners hul eie republieke gebou het, en waarop enige volk sy vryheid verdedig. As ons dit vir onsself aanvaar, kan ons nie eerlik wees as ons dit vir die Jode ontken nie.
Wanneer Petzer of ander mense Joodse figure uit die geskiedenis “Sioniste” noem terwyl hulle eintlik Marxiste of kommuniste was, skep hulle 'n doelbewuste verwarring. Sionisme en kommunisme was nie net verskillend nie, dit was vyandig teenoor mekaar. Die Sowjetunie het Sioniste vervolg, Joodse aktiviste tronk toe gestuur, en enige pogings om na Israel te emigreer as “verraad” beskou.
Maar hierdie verwarring dien 'n doel: dit hou die ou mite van die “internasionale Jood” lewendig – die idee dat daar êrens 'n netwerk van Jode is wat gelyktydig kapitaliste én kommuniste, globaliste én nasionaliste, ateïste én fundamentaliste is, almal met een doel: wêreldregering. Dis die soort simplistiese waan wat die mensdom al keer op keer in rampspoed gelei het.
Daar bestaan nie 'n Joodse wêreldregering nie. Daar bestaan nie 'n geheime kabaal wat ekonomieë manipuleer of oor nasies besluit nie. Wat wél bestaan, is 'n wêreld vol mense van alle agtergronde wat soms mag, geld of invloed soek. Dis 'n menslike verskynsel, nie 'n Joodse een nie. Wanneer mense egter hierdie magte as “Joods” beskryf, gaan dit nie meer oor kritiek nie, dit gaan oor demonisering. Dis 'n moderne herhaling van ou Europese vervolgingsmites. Baie mense verstaan ook nie dat Sionisme nie verby is nie. Dit is nie iets van 1948 nie. Dit is 'n lewende beweging wat sê dat die Joodse volk steeds die reg het om in vrede in hulle eie land te woon en hulself teen bedreiging te verdedig. Dis 'n reg wat elke nasie eis, en tog word dit net by die Jode bevraagteken. Dis hoekom antisemitisme dikwels in “anti-Sionisme” vermom word. Want jy kan nie meer openlik sê jy haat Jode nie, so jy sê jy haat “die Sioniste”. Dis dieselfde haat met 'n nuwe naam.
Die ironie is dat baie van die mense wat hulleself vandag as “konserwatiewes” beskou – mense wat glo in nasionale soewereiniteit, grense, geloof en familie – eintlik natuurlike bondgenote van die Sionistiese beweging behoort te wees. Israel staan juis vir daardie waardes. Dis 'n land wat in 'n vyandige streek oorleef omdat dit sy geloof, sy taal en sy geskiedenis liefhet. En tog word dieselfde mense wat sê hulle wil Westerse beskawing beskerm, oortuig deur vreemde ideologiese invloede om die enigste Westerse demokrasie in die Midde-Ooste as die vyand te sien. Dit wys net hoe kragtig propaganda is. Dis hier waar ek ’n ernstige waarskuwing wil rig: die oomblik as ons begin glo dat Sionisme iets verdags is, het ons reeds die kant van onkunde gekies. Want as jy die Jood se reg op sy land ontken, het jy geen morele grond oor om jou eie geskiedenis van selfbeskikking te verdedig nie. Die beginsel wat jy vir hom ontken, sal eendag teen jou gebruik word.
Daarom moet ons as Afrikaners versigtig wees om nie internasionale waninligting en ideologiese gif in te drink net omdat dit in “konserwatiewe verpakking” kom nie. Ware konserwatisme begin by eerlikheid, nie by paranoia nie. En eerlikheid sê: die Joodse volk se soeke na 'n tuiste is regverdig, wettig en Bybels. Sionisme is nie die vyand van die waarheid nie, dis die vrug daarvan. Ons leef in 'n tyd waarin waarheid 'n skaars kommoditeit geword het. Die internet gee vir almal 'n stem, maar nie almal wat praat, verstaan wat hulle sê nie. Die probleem is nie meer sensuur nie, dis verwarring. En te midde van hierdie geraas moet ons as Afrikaners baie mooi oplet wie ons as ons ideologiese leiers kies. Want nie elke stem wat teen die hoofstroom praat, praat namens waarheid nie. Party fluister namens chaos.
Ek skryf nie hierdie artikel om iemand te verneder nie. Ek skryf dit omdat ek lief is vir die Afrikaner en omdat ek glo dat ons weer op 'n kruispad staan. Ons volk het al baie keer gekies tussen vrees en verantwoordelikheid, tussen haat en hoop, tussen oppervlakkige identiteit en dieper waarheid. En elke keer het die keuse bepaal of ons moreel gegroei of gely het. Die geskiedenis wys dat haat nooit by sy oorspronklike teiken bly nie. Dit begin altyd klein: 'n insinuasie hier, 'n grap daar, 'n houding van “ons vra net vrae”. Maar dit groei soos 'n veldbrand. Vandag is dit die Jood wat verdag is, môre is dit die Afrikaner self. Want die logika van vooroordeel het geen eindpunt nie – dit eet almal wat anders dink of lyk.
As Afrikaners behoort ons te verstaan hoe dit voel om verkeerd voorgestel te word. Ons weet hoe dit is wanneer die wêreld jou definieer volgens jou verlede en nie jou werklikheid nie. Ons weet hoe dit voel as mense jou identiteit gebruik as bewys van skuld. Daarom behoort ons die eerste te wees om teen sulke denke te staan. Om stil te bly wanneer ander verkeerd beskuldig word, is om jou eie pyn te vergeet. Ek glo dat daar in die Afrikaner-siel ’n natuurlike verwantskap met die Joodse volk is. Albei groepe glo in selfbeskikking, familie, geloof, arbeid en verantwoordelikheid. Albei het klein gemeenskappe gebou te midde van vyandigheid. Albei het die waarde van dissipline en volharding geleer. En albei is voortdurend daarvan beskuldig dat hulle “te anders” is om te vertrou. Dít alleen behoort vir ons genoeg te wees om mekaar te verstaan.
Die ware toets van konserwatisme lê nie in wie jy haat nie, maar in wat jy eer. Dit gaan oor dissipline, eerlikheid en die vermoë om teen die stroom te swem sonder om jou siel te verloor. Dis nie konserwatief om etnisiteit as morele maatstaf te gebruik nie; dis primitief. Dis nie konserwatief om te glo dat “die ander” altyd skuld het nie, dis mos laf. Ware konserwatisme vra dat jy jou eie gemeenskap verbeter voordat jy ander beskuldig. Die Afrikaner en die Jood het in die geskiedenis al dikwels langs mekaar gestaan – nie net uit nood nie, maar uit gedeelde waardes. Hulle het dieselfde golwe van onsekerheid deurgemaak, dieselfde skuld van oorlewing gedra, dieselfde soeke na betekenis beleef. En al het hulle nie altyd saamgestem nie, het hulle mekaar gerespekteer. Dit was 'n respek gebore uit erkenning: jy kan nie iemand verag wat ook sukkel om te oorleef nie.
Jode en Afrikaners deel hul lot
Vandag, meer as ooit, gaan ons mekaar weer nodig hê. Die wêreld raak al hoe minder verdraagsaam teenoor mense wat hulle geloof, kultuur en geskiedenis ernstig opneem. Die Jood en die Afrikaner deel 'n gemeenskaplike bedreiging: globalistiese ideologieë wat identiteit oplos in 'n vae, arbitrêre konsepsualisering van “die mensdom”, en populistiese haat wat elke klein volk as struikelblok sien. As ons mekaar nou laat val, sal daar niemand oor wees om ons te verstaan nie.
Dis een ding om Israel se beleid te bespreek; dis iets heeltemal anders om die bestaan van die Joodse volk te bevraagteken. Dis een ding om jou eie geskiedenis te heroorweeg; dis iets anders om jou eie skuld te verdoesel deur ander te beskuldig. Intellektuele eerlikheid beteken nie dat jy stilbly nie, dit beteken dat jy die volle waarheid sê, selfs wanneer dit jou ongemaklik maak. Die tyd het gekom dat Afrikaners weer leer om selfstandig te dink, sonder die geraas van die internet. Ons moet weer leer om bronne te toets, om onderskeid te tref tussen argument en insinuasie, tussen feite en emosie. En ons moet ophou om mense te volg bloot omdat hulle sê wat ons wil hoor. Waarheid is nie daar om ons te vlei nie; dis daar om ons te vorm.
As daar een les is wat ons uit hierdie hele debat moet neem, is dit hierdie: Etnisiteit is nie ideologie nie. 'n Mens se geloof, kultuur of herkoms bepaal nie sy moraliteit nie. En enigeen wat jou anders probeer wysmaak, soek nie waarheid nie, hy soek volgelinge. Ons mag nie toelaat dat Afrikaners, met ons ryk geskiedenis van geloof en denke, gereduseer word tot nog 'n internet-leërskare wat mense beoordeel volgens hulle van of hulle neusvorm nie.
Die wêreld het genoeg haat. Wat dit nodig het, is mense wat dapper genoeg is om te sê: “Ek weier om deel te wees van hierdie kringloop van verdagmaking.” Dít is ware moed.
As gelowige Afrikaners werklik glo in God, in waarheid en in geregtigheid, dan moet ons besef dat haat altyd met leuens begin en dat elke leuen wat ons toelaat, uiteindelik teen ons eie kinders draai. Dis tyd dat ons weer kies om aan die kant van die waarheid te staan, al is dit ongewild. Want sonder waarheid is geen volk veilig nie.
Laat ons onthou dat die Jood en die Afrikaner nie teenstanders is nie, maar bondgenote in oorlewing – twee volke wat weet dat vryheid nooit vanselfsprekend is nie.
As ons dít vergeet, sal ons nog een dag wakker word en besef dat die leuen waarvoor ons hande geklap het, die waarheid wat ons verwerp kom steel het.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.












