"Die tekort aan estetika is liberalisme se grootste leemte"
Verbruikerskultuur is geen behoorlike liberale estetika nie.
Gisteraand het ek in my kamer hier in Belgrado, Serwië, 'n sigaret gerook, aan 'n koppie koffie gesluk en 'n draaiboek begin geskryf. Ek het die sigaret teen die asbak laat rus en begin tik deur 'n dun lagie rook.
Is dit opvoerigheid vir myself? Ja. Tog het ek besef hierdie ydele poging om 'n sekere estetika vas te vang, was deel van my motivering om te skryf. Dit is dus maklik om te sien hoe 'n gedeelde estetika mense kan aanspoor tot burgerlike deug en deelname aan die samelewing.
Een van liberalisme se swakhede is sy onvermoë om 'n samehangende estetika te bied. Anders as kommunisme of fascisme, wat grootliks hul bekoring put uit hul mitiese heropbou van die samelewing. In teenstelling is liberalisme meestal prosedureel en beperk dit vrae oor identiteit tot die individu en sy private voorkeure.
Byna eenparig het politieke wetenskaplikes estetika as 'n kernaspek van fascistiese bewegings beskou. Walter Benjamin het aangevoer dat die verleiding van fascisme was dat deur dit, het die politiek mooi, gedissiplineerd en bonatuurlik geword. Fascisme het estetika in politiek gebied.
Die salueering, dekoratiewe uniforms en swastikas. Die argitektuur, plattelandse uitbeeldings, geïdealiseerde gesinne, volksdrag en patriotiese liedere. Dit is alles sterk gekondenseerde, simboliese vorme met 'n spesifieke politieke bedoeling.
Een doel hiervan is om 'n hiërargie van skoonheid, krag en suiwerheid te vestig, wat 'n politiek van uitsluiting bevorder en minderhede as ondermynend en agterlik beskryf en beskou. Nog 'n doel van fascistiese estetika is egter om 'n mitiese visie van 'n suiwer verlede en gedeelde toekomsbestemming te bou, wat die politiek onder een liggaam verenig.
Boris Groys het aangevoer dat kommunisme (veral Stalinisme) die samelewing in 'n totale estetiese projek verander het. Die werklikheid self moes soos 'n kunswerk ontwerp word, een simboliese stelsel wat bestaan uit die werker, die soldaat en die rooi ster.
Stalinistiese Sosialistiese Realisme as die kulturele leerstelling van die Sowjetunie het die heldhaftige werker en landbouer verhef en hulle uitgebeeld as deel van 'n gedeelde, utopiese toekoms.
In teenstelling beskryf liberalisme reëls vir politieke mededinging en deelname, maar bied skaars vir burgers 'n grammatika van identiteit.
'n Bepalende kenmerk van liberalisme is dat die samelewing nie uit een burger bestaan nie, maar uit vele. Daar is nie net die Volk of Die Werker nie, maar 'n diversiteit van verskillende individue.
John Rawls het aangevoer dat een van die doelwitte van politiek is om heterogene groepe met verskillende waardes in vrede saam te laat leef, deur demokratiese deelname as die middel te gebruik sonder om daardie uiteenlopende waardes aan outoritêre beheer te onderwerp, mits daardie waardes nie onredelik is nie.
Demokrasieë is pluralisties. Binne elke groep is daar 'n bepaalde estetika. Om die politiek onder een beeld te verenig, blyk dus in stryd te wees met liberalisme se kern.
Liberalime lei dan tot 'n “estetiese vakuum” wat deur verbruikersgedrewenheid en afsydigheid in die samelewing gevul word. In tye van onrus, wanneer die norme van demokrasie begin faal, kan fascistiese en outoritêre groepe hieruit voordeel trek deur 'n beeld voor te hou wat die leemte kan vul.
Hierdie swakheid is egter grotendeels die gevolg van die na-oorlogse tydperk. Neoliberalisme het die burgerlike klem van liberalisme vervang het met 'n ekonomiese program. Voor dit is demokrasieë deur bloedige rewolusies gevestig, sodat alle mense vry en gelyk kon wees.
Die Franse driekleur, burgerlike seremonies, die Vryheidsbeeld (Statue of Liberty) in New York en neoklassieke regeringsgeboue is almal voorbeelde van die estetika van liberale revolusie. Ek glo ten sterkste dat hierdie beelde van liberalisme beter is as die bogenoemde estetikas van outoritarisme, juis omdat hulle nie op mite of irrasionele verheerliking steun nie. Fascistiese estetika steun op die onwerklikheid van beweerde goue eeue van die verlede, veronderstelde natuurlike hiërargieë en politiek as skouspel. Liberale estetika, in kontras, is gegrond op die harde realiteite van rewolusie en die stryd vir gelykheid en politiek as insluiting.
As liberale demokrasie outoritêre estetiese projekte wil weerstaan, moet dit sy eie simboliese grammatika en estitika kweek, gewortel in burgerlike gelykheid, rewolusionêre herinnering en demokratiese deelname. En die belangrikste van alles is dat dit nie daardie terrein aan sy vyande prysgee nie.
Hierdie artikel is met vergunning van die TDT Substack vertaal en aangepas. Besoek die Substack hier.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.