Van Vrees tot Vernuwing: KI en die klaskamer
Omwentelings skud die vrot tande dikwels eerste uit.
Op 'n semi-afstand kom dit vir my voor asof KI in die klaskamer nog nie heeltemal as tema deurgetrap is nie. Die internet loop oor van allerlei menings, met heelwat akademici (en aspirante akademici) wat meen dat kunsmatige intelligensie (KI) 'n werklike en wesenlike bedreiging vir onderrig ten brede inhou.
Dosente betrag hierdie nuwe tegnologie met wantroue, so asof dit die einde van ons huidige benadering tot onderrig en leer kan veroorsaak. Die realistiese vrees is dat beide studente en dosente van KI gebruik sal maak om take op te stel, opstelle te skryf, en skryfstukke te assesseer. So waar en so werklik as wat hierdie vrees ook mag wees, is ek nog nie daarvan oortuig dat dit uiteindelik tot 'n verlaging in die intellektuele vermoë van die gemiddelde student gaan lei nie. Wat dit eerder sal veroorsaak, is nuwe denke oor wat presies die doel van die klaskamer nou eintlik is - oftewel, 'n terugkeer na baie ou denke daaroor. (Dit gaan ook heelwat onnodige grade en selfs fakulteite ontbloot…)
Verstaan ons waarvoor ons werklik bang is?
Ek is nie daarvan oortuig dat akademici ten diepste bang is dat KI die mens se vermoë om te dink gaan vervang nie. Ek dink dat die vrees eerder is dat KI die dikwels onnodige prosesse wat deel van feitlik alle leerplanne (in Suid-Afrika, ten minste) uitmaak, sal vervang. Vir dekades, dalk vir eeue, het lektors en dosente se benadering ten minste ten dele staatgemaak op take wat meer oor herhaling gegaan het as oor insig.
Die geykte benadering het prosedure bo kreatiwiteit gestel: Die student moet 'n bepaalde proses verstaan, en die uitset is die bewys daarvan dat die proses bemeester is. Hierdie take is nie ontwerp om die verstand te slyp nie, maar om maklik te merk en te standaardiseer. My doel is nie om venynige kritiek teenoor alle akademici oral uit te spreek nie, in teendeel, ek het begrip daarvoor dat universiteite oor die afgelope eeu, as gevolg van hul nuwe rol as massaproduseerders van kwalifikasies, van so 'n standaardisering afhanklik geword het. KI maak die aanleer van die standaardproses onnodig. Natuurlik moet die student die proses kan uitvoer, maar die proses kan nie meer die uitkoms wees nie - nie as die proses so maklik aan 'n robot gedelegeer kan word nie.
Om die regte bevele aan 'n stuk KI te gee ten einde die regte uitkomste te kry is natuurlik 'n nuwe proses wat nou aangeleer en geassesseer sal kan word, maar ook dit kan redelik maklik aan 'n blikbrein uitgekontrakteer word. So wat sal jongmense dan leer? Hoe sal ons toets of hulle gereed is om die werkswêreld te betree? In stede daarvan om die toekoms te probeer voorspel, vermoed ek dat 'n terugkeer na die begin van alle formele opleiding eerder in orde is.
Die herontdekking van Sokrates
So sentraal staan Plato se werke tot die moderne akademie dat ons die ganse bedryf die naam van sy onderrigsentrum gegee het. Vir die studente van Plato se Akademie was daar dalk hier en daar klasnotas beskikbaar, maar geen van die studente het 'n rak vol boeke by die huis gehad nie. Sommige studente se ouers sou dalk antieke tekste in een of ander vorm besit het, maar die idee dat jy tekste deur moet lees en as motivering vir jou eie vars toepassing moet aanwend, sou vreemd en uit plek uit gevoel het.
Die doel van Plato se Akademie was om toekomstige leiers te leer om te dink. Geen huiswerk is ingehandig nie, en dit kom nie vir my voor asof daar werklik voorgeskrewe leeswerk was nie - alhoewel algemene belesenheid aanvaar is. Die studente moes die groot prentjie verstaan, asook die kleiner dele waaruit dit bestaan. Of dit nou politiek, filosofie, fisika, retoriek, of dialektiek was, die doel was nooit om van jongmense instrumente te maak wat goed by 'n stelsel inpas nie. Die doel was om onafhanklike denkers te kweek wat met die meganismes van die staat vertrou kon word.
Ek het onlangs die voorreg gehad om 'n paar klasse aan 'n vooruitstrewende Europese universiteit by te woon. Geen student het 'n skerm voor hom of haar oopgemaak nie, die proffie het geen skyfievertoning voorberei nie. Vir vier ure lank is 'n meesterwerk bespreek. Die aanname is gemaak dat die boek of hoofstuk gelees is, die punt was of die student dit verstaan het, en daaroor kon praat, en 'n eie insig daaroor kon bied. Nou goed, in 'n regsfilosofieklas is dit sekerlik makliker as in 'n massiewe saal wat inleidend oor ekonomie of sielkunde handel, maar die kontras met 'n dosent wat my eenmal bestraf het omdat my antwoord van sy skyfievertoning verskil het, was darem maar op die neus.
So word almal dan filosowe?
Tereg kan dit nou gevra word wat die impak op tersiêre onderrig is, of behoort te wees. As die prosesse en herhaalbare take wat die meerderheid van ons leerplanne uitmaak skielik verwyder word, wat sal ons met studente doen?
Om in 'n klas van 2000 studente 'n bespreking oor die aard van geld in Smith se Wealth of Nations te bespreek is sekerlik doodgebore. Om 'n mondelinge eksamen 2000 keer af te neem sekerlik ook. Dalk is die antwoord kleiner universiteite, sodat denke gekweek kan word in stede daarvan dat prosesse herhaal word - die waarde van 'n universiteitsgraad, veral 'n algemene graad, is in elk geval nie meer die werkswaarborg wat dit eens was nie. Dit mag wees dat grade wat nie tot 'n spesifieke beroep lei nie, eenvoudig nie meer aangebied gaan word nie, en dat grade wat na spesifieke beroepe lei baie vinniger baie meer prakties van aard sal wees. Om vraestelle eenvoudig met pen en op papier te hou sal sommige probleme oplos, maar kweek dit uiteindelik 'n beter gegradueerde? Sekerlik nie.
En vorentoe?
Wanneer inligting skaars is, is inligting kosbaar. Jou vermoë om 'n besigheidsplan op te stel of 'n opstel sonder spelfoute te skryf is net waardevol as iemand anders jou sal betaal om dit te doen, as hulle dit nie self kan doen nie. Hierdie vaardighede is nie meer so waardevol soos wat dit 'n jaar gelede was nie, en binnekort gaan dit heel moontlik nie meer as vaardighede beskou word nie - want almal met 'n slimfoon sal dit beter as die beste taalkundige kan doen. Ons heg waarde aan mense se vermoë om ons probleme op te los, daarom sal die persoon of besigheid wat 'n werklike probleem vir jou kan oplos, altyd aanspraak op die binnekant van jou beursie hê. Die innoveerder, die harde werker en die wye denker sal daarom altyd werk hê - want hulle sal altyd aanhou om nuwe probleme raak te sien, en oplossings uit te dink. Die formele akademie se ontwikkeling sal na alle waarskynlikheid in hierdie rigting moet neig as dit die kans wil staan om te oorleef.
As ons die moed het om hierdie verandering te omarm, kan ons nie net die akademie hernuwe nie, maar ook 'n generasie studente bemagtig om die uitdagings van die 21ste eeu met vertroue aan te pak. Die vraag is nie of KI die akademie sal verander nie – dit is of ons die visie het om daardie verandering te lei.
Nog artikels deur Paul op OntLaer:
SOSIALE MEDIA
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
s