Vryheid met Toe Oë: Visuele Nasionalisme en Ideologiese Blindheid
Van hoop en ideologie.
Banksy se nuutste kunswerk, Blind Patriotism, is vanjaar op 29 April 2026 in die vroeë oggendure in Waterloo Place geïnstalleer en op 30 April 2026 amptelik bevestig. Banksy het internasionale erkenning vir sy kenmerkende straatkuns en skerp sosiale en politieke kommentaar, wat temas soos oorlog, kapitalisme, ongelykheid en magsmisbruik aanspreek, verwerf.
Ten spyte van sy geheimsinnige identiteit het sy werke, soos die Girl with Balloon, 'n groot invloed op kontemporêre kuns en populêre kultuur gehad. Sy (nou bestrede) anonimiteit, saamgevat met sy vermoë om kuns in openbare ruimtes te plaas en wêreldwye debat aan te wakker, het hom een van die mees invloedryke kunstenaars van die moderne era gemaak.
Die tipiese “oornag-verskyning” versterk weer die misterie rondom Banksy en sy kommentaar teenoor vryheid en nasionalisme.
Driedimensionele Straatkuns en 3-D Kommentaar
Banksy het al voorheen met installasies en beeldhou-agtige werke gewerk. 'n Bekende voorbeeld daarvan is Dismaland (2015), 'n tydelike anti-temapark in die Verenigde Koninkryk wat verskeie driedimensionele kunswerke en installasies ingesluit het.
Wat Blind Patriotism egter van sy vorige werke afsonder is dat dit as 'n selfstandige beeldhouwerk in 'n prominente openbare ruimte funksioneer, eerder as 'n deel van 'n groter uitstalling of projek. Baie soos graffiti, maar nou in 3-D. In die Blind Patriotism sien ons 'n man geklee in ’n formele pak wat vorentoe beweeg met oënskynlike selfvertroue, terwyl ’n vlag sy gesig bedek en hom blind maak. Sommige kritici, soos aangehaal deur MyArtBroker, meen dat die beeld te eksplisiet is en nie dieselfde subtiele diepte as vorige werke bied nie. Hierdie kritiek resoneer met die beskouings van Cedar Lewisohn, wat argumenteer dat straatkuns sy krag dikwels steun op die balans tussen toeganklikheid en interpretatiewe kompleksiteit. Wanneer 'n boodskap té direk oorgedra word, kan dit die ruimte vir dieper interpretasie beperk. Volgens berigte deur Reuters word kritiek op blinde patriotisme gelees, asook die groeiende neiging dat mense hulself só sterk met nasionale identiteit vereenselwig dat hulle kritiese denke prysgee. Hierdie interpretasie sluit by akademiese beskouings oor nasionalisme aan, veral dié van Benedict Anderson, wat in Imagined Communities aanvoer dat burgers sosiale konstruksies is wat deur gedeelde simboliek en narratiewe in stand gehou word. Wanneer sulke simboliek sonder kritiese refleksie aanvaar word, kan dit, soos Banksy se beeld dit suggereer, lei tot ideologiese blindheid waar persepsie deur oortuiging vervang word.
Aan die ander kant kan die beeldhouwerk binne die raamwerk van Michael Billig se konsep van “banale nasionalisme” in Banal Nationalism gelees word. Billig verduidelik dat nasionalisme dikwels deur alledaagse en onopvallende simbole funksioneer. Vanuit hierdie perspektief kan Banksy se dramatiese voorstelling van blindheid as 'n doelbewuste visuele oordrywing gesien word deur die onsigbare sigbaar te maak.
Delacroix se Vryheid teenoor Banksy se Blind Patriotisme
Toe ek vir die eerste keer 'n foto van Banksy se beeldhouwerk sien, het ek knaend aan die kontrasterende eienskappe van Eugène Delacroix se Liberty Leading the People (1830) teenoor Banksy se Blind Patriotism begin dink.
Waar Banksy se beeld 'n waarskuwing is, word Delacroix se skildery eerder as 'n oproep gesien.
Liberty Leading the People 'n ikoniese werk uit die Romantiese periode deur Eugène Delacroix in 1830 voltooi. Die kunswerk dien as 'n herdenking van die Julie-rewolusie, waartydens koning Charles X van die troon verwyder is. Die skildery beeld 'n sentrale vroulike figuur, beter bekend as Liberty, wat die volk oor 'n barrikade lei terwyl sy die Franse driekleur omhoog hou en ’n vuurwapen in die ander hand dra. Sy word deur 'n uiteenlopende groep rebelle, insluitend 'n gewapende seun, omring wat die breë deelname van die volk aan die opstand simboliseer. Die werk word dikwels geassosieer met Marianne, die personifikasie van Frankryk, en is 'n ikoniese visuele voorstelling van revolusie, nasionale identiteit en politieke bevryding.
Teenoor Eugène Delacroix se Liberty Leading the People, kan ons Banksy se beeld amper as 'n anti-Delacroix beskryf.
Waar Delacroix se Liberty die vlag oplig om mense te lei, word die sig van Banksy se naamlose figuur deur die vlag versper. Waar Liberty mense doelgerig en met 'n duidelike visie vorentoe trek, stap Banksy se figuur vorentoe sonder die vermoë om te sien.
Die groot verskil wat ons hier ook in ag moet neem, is dat Delacroix tydens die romantiese periode gewerk het met die oortuiging dat nasionalisme en vryheid inmekaargevleg is. Sy skildery verhef die volk se oortuiging as 'n rede waarvoor mense bereid sal wees om te sterf. Banksy, daarenteen, werk in 'n postmoderne konteks waar sulke idees bevraagteken word. Hy vertrou nie meer die simboliek vir vryheid nie, daarom ontbloot hy dit.
Die ironie is opvallend. Delacroix se werk was aanvanklik ook kontroversieel en selfs vir 'n tyd uit die publieke oog verwyder omdat dit as te gevaarlik en revolusionêr beskou is. Vandag word dit as 'n simbool vir republikeinse waardes gesien en word dit veilig in die Louvre Museum in Parys gehuisves vir enige besoeker om daarna te kyk. Banksy se werk staan tans in daardie ongemaklike ruimte waar die boodskap nie ten volle “geabsorbeer” is nie en weerstand ontlok.
Nog 'n belangrike verskil lê in hoe die kyker se aandag deur die kunswerke getrek word. In Liberty Leading the People word jy deur die komposisie saam met die skare gedruk om aksie te neem. Met ander woorde, jy is deel daarvan. In Banksy se beeld gebeur die teenoorgestelde: jy staan terug en sien wat die figuur nie kan sien nie. Jy is dus nie deel van die beweging nie, maar eerder 'n getuie van 'n moontlike ramp.
Albei werke slaag daarin om as 'n visuele metafoor vir groter politieke idees gesien te word en het die vermoë om emosie en debat onder die kykers en kritici aan te wakker.
Delacroix spreek die kyker aan deur te sê dat as jy die vlag volg, dit jou na vryheid sal lei.
Banksy maan weer dat ons versigtig moet wees, omdat die vlag jou blind kan maak.
Dié vergelyking wys nie net hoe kuns tyd reflekteer nie, maar ook hoe idees soos vryheid en nasionalisme verander het, deur om iets blindelings te volg, na iets wat juis krities bevraagteken moet word.
Wanneer Vryheid Jou Blind Maak
Uiteindelik lê die krag van Blind Patriotism daarin om 'n debat te ontlok en gevestigde idees te ontwrig. Deur homself te posisioneer teenoor historiese werke soos Delacroix se Liberty Leading the People (1830), posisioneer Banksy sy beeld binne 'n gevestigde tradisie van politieke kuns, terwyl hy terselfdertyd daardie tradisie krities herinterpreteer en die onderliggende betekenis daarvan herskryf. Die beeld is nie geplaas om oplossings te bied nie, dis daar sodat ons vir onsself kan dink en weer begin wonder oor dit wat ons as 'n simbool van vryheid beskou, juis die ding kan wees wat ons verhinder om werklik weer te sien.
Hilde Kruger is 'n grafiese en multimedia-ontwerper, skrywer en bemarker met ‘n sterk fokus op strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









