
Die wêreldbekende motiveringspreker, entrepreneur en skrywer, Simon Sinek, het telkemale omstredenheid ontlok met sy stelling dat smaakmakers die vryskutwerkers van die algoritme is. As die algoritme verander, kan smaakmakers, volgens Sinek, dadelik sonder besigheid of inkomste wees. Hy voer verder aan dat dit vandag vir enige iemand moontlik is om 'n smaakmaker te wees sonder om 'n betekenisvolle bydrae tot die samelewing te lewer. Daar lê natuurlik 'n bietjie ironie hierin, want 'n betekenisvolle bydrae kan tot impak en invloed lei wat dus van iemand 'n smaakmaker kan maak – selfs al het die persoon nie daarvoor gevra nie.
Die smaakmaker-konsep is nie nuut nie. Ons het nou net 'n naam daarvoor. In die 18de eeu het die Engelse pottebakker en entrepreneur, Josiah Wedgwood, beroemdes, aristokrate en koninklikes se reputasies gebruik om status en sosiale betekenis aan sy produkte te koppel, veral nadat koningin Charlotte in 1762 sy keramiek gebruik het en die produk, met koningin Charlotte se goedkeuring, as Queen’s Ware bemark het. Hierdie strategie het deur die eeue ontwikkel vanwaar openbare figure, kunstenaars, filmsterre, sportsterre en musikante met groot handelsmerke kon assosieer. Dink aan George Clooney en Dua Lipa wat ambassadeurs vir Nespresso is of Jennifer Aniston wat die gesig vir Emirates was. Celebrity endorsement en Celebrity-brand association het mettertyd na sosiale media verskuif. YouTubers, soos Bethany Mota, Remi Cruz, Gabi en Niki De Mar, het egter bewys dat 'n smaakmaker nie noodwendig 'n openbare figuur hoef te wees vir iemand om iets aan 'n digitale gehoor te verkoop nie. Dit kan enigiemand wees. As die verhouding tussen die verkoper en digitale gehoor sterk genoeg is, word die persoonlike digitale gehoor outomaties ‘n bemarkbare bate.
Ons is nou in 'n era waar die beeld van 'n smaakmaker wat produkte op Instagram, TikTok of YouTube vertoon, verouder het. Agter die selfoonkamera, hoë volgelingetalle, mediawaarde en handelsmerkvennootskappe ontwikkel daar 'n nuwe vorm van ekonomiese aktiwiteit wat in sommige gevalle nader aan 'n klein onderneming as aan tradisionele inhoudskepping funksioneer.
Dit wil voorkom dat finansiële instellings al hoe meer na die meetbaarheid, volhoubaarheid en finansiële lewensvatbaarheid van 'n kliënt se inkomste neig, in plaas daarvan om te kyk of 'n kliënt 'n vaste werkgewer het of nie.
Die ontwikkeling van Capitec Bank se kredietaanbod vir mense met menigvuldige inkomstestrome is 'n goeie voorbeeld hiervan. Capitec sien nou selfstandige persone met verskeie inkomstebronne as 'n afsonderlike kredietsegment. Onder hierdie nuwe ekonomiese groep val mense wat nie 'n vaste salaris verdien nie, maar uit verskillende aktiwiteite inkomste genereer.
Capitec bied nou persoonlike lenings, kredietkaarte en wentelkredietfasiliteite vir hierdie groep aan, mits die aansoeker aan die bank se krediet- en bekostigbaarheidsvereistes voldoen. Dit kan daarop dui dat die prentjie van finansiële stabiliteit besig is om te verander. Waar die salarisstrokie as die belangrikste bewys van kredietwaardigheid gegeld het, begin kontantvloei, transaksiedata en verskillende inkomstebronne nou 'n groter deel van die prentjie vorm.
Die bank kyk verder as jou beroep
Tradisionele kredietverlening berus grotendeels op voorspelbaarheid. Deur 'n vaste salaris, werkgewer en deurlopende inkomste kon banke die volhoubare patroon van inkomste, besteding en terugbetalingsvermoë raaksien. Die vryskutekonomie ontwrig egter nou hierdie model, aangesien 'n inhoudskepper se inkomste uit verskeie bronne ontvang kan word en dus van maand tot maand kan wissel. Capitec kyk daarom eerder na die ekonomiese gedrag agter die beroep eerder as die beroep self. 'n Smaakmaker is nie noodwendig kredietwaardig omdat hy of sy meer as 500 000 volgelinge het nie, maar omdat die finansiële rekords oor tyd 'n volhoubare patroon van inkomste, besteding en terugbetalingsvermoë aandui.
Tegnologie het sedert 2001 'n sentrale rol binne Capitec gespeel om bankdienste eenvoudiger en toegankliker te maak. Teen 2026 het Capitec reeds R2,6 miljard se lenings aan mense met veelvuldige inkomstestrome toegestaan, terwyl die Repay-As-You-Earn Loan se totale uitbetalings R65 miljoen bereik het. Dié ontwikkeling dui daarop dat Capitec by die ritme van veranderlike inkomste aanpas, eerder as om alle kliënte aan 'n vaste salaris- en terugbetalingsmodel te meet. Capitec is dus besig om hul tradisionele kleinhandelbankmodel te ontwikkel deur tegnologie en data te benut om dié veranderende groep kliënte te akkommodeer.
Inhoudskeppers as entrepreneurs
Volgens Goldman Sachs het die wêreldwye creator-ekonomie reeds in 2023 'n geraamde waarde van $250 miljard gehad, met die potensiaal om teen 2027 tot ongeveer $480 miljard te groei. Visa se 2025 Creator Report plaas die onderwerp nog duideliker binne die raamwerk van kleinbesighede. Volgens die verslag is daar ongeveer 207 miljoen inhoudskeppers regoor die wêreld, waarvan 68% van die inhoudskeppers hulself as kleinbesigheidseienaars beskryf. Hierdie inhoudskeppers, of altans entrepreneurs, word dan eerder as kleinsakekliënte deur banke gesien.
In 2021 het Access Bank South Africa begin om die veranderende wêreld van werk raak te sien toe die bank hul vennootskap met Bettr aangekondig het en fintech as creator-georiënteerd beskryf is. Die fokus was spesifiek op mense wat hul inkomste vanuit platforms soos YouTube, Instagram en TikTok verdien. Die finansiële sektor reageer nie op smaakmakers se beroemdheid nie. Dit reageer omdat die aard van werk besig is om te verander. Die inhoudskepper word dus nie meer as 'n persoon met 'n platform gesien nie, maar eerder as 'n onderneming wat 'n platform strategies benut.
Volgelinge dui nie die banksaldo aan nie
Die feit dat digitale platforms 'n persoon in staat stel om 'n inkomste te verdien, beteken nie dat die inkomste noodwendig stabiel is nie. Soos Sinek verduidelik het, kan 'n inhoudskepper se ekonomiese posisie afhanklik van algoritmes, platformbeleide, handelsmerkbegrotings, gehoorgroei en die voortdurende vermoë om aandag te behou, wees.
'n Groot gehoor is nie noodwendig 'n aanduiding van 'n hoë inkomste nie, hoë inkomste is nie noodwendig 'n aanduiding van winsgewendheid nie, en winsgewendheid is op sigself nie 'n aanduiding van die vermoë om skuld te dra nie. 'n Verantwoordelike beoordeling van kredietwaardigheid vereis dat verskeie aspekte van die verbruiker se finansiële posisie in ag geneem moet word, wat beskikbare inkomste, bestaande skuldverpligtinge, noodsaaklike lewenskoste en terugbetalingsgeskiedenis insluit. Digitale bekendheid of 'n groot aantal volgers dui nie noodwendig kredietwaardigheid aan nie. 'n Verantwoordelike kredietmodel behoort eerder die ekonomiese werklikheid agter die invloed te beoordeel: nie hoeveel mense na iemand luister nie, maar hoe volhoubaar daardie persoon se inkomste, kontantvloei en vermoë om skuld terug te betaal werklik is.
Hilde Kruger is 'n skrywer, grafiese- en multimedia-ontwerper wat in strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling spesialiseer.

Nog artikels op OntLaer:

Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.





