'n Onlangse voorbeeld van die toenemende aggressiwiteit en provokatiewe aard van sportverwante dobbelbemarking is die 2026-advertensie van die sportvoorspellingsmaatskappy Novig, met die aktrise Sydney Sweeney. In die veldtog verskyn Sweeney in verskillende sporttonele met minimale tot geen kleredrag, wat volgens verskeie vroulike atlete die seksualisering van vrouesport bevorder. Die advertensie het binne die eerste twee dae meer as 22 miljoen kyke gegenereer en 'n openbare debat ontlok. Bekende vroueatlete wat kritiek daarteen uitgespreek het, was onder andere die Olimpiese swemmer Ariarne Titmus en die Britse naelloper Amy Hunt. Die ironie is dat die kritiek op die veldtog terselfdertyd die sigbaarheid van Novig se handelsmerk verder verhoog het. Hoe meer mense daaroor praat, hoe groter is die kans dat mense wat wél in sportvoorspelling belangstel, die advertensie sal sien.
Dit wil voorkom dat die hedendaagse dobbelbedryf al hoe meer binne 'n bemarkingsomgewing funksioneer waarin dobbel van 'n afsonderlike ekonomiese of vermaaklikheidsaktiwiteit verskuif na 'n geïntegreerde deel van sport, digitale media, populêre kultuur en die alledaagse sosiale omgewing.
Die ontwikkeling van aanlynweddenskappe en digitale platforms het die proses verder versterk deur die geografiese en tydsbeperkings op toegang tot dobbelary aansienlik te verminder. Voorheen was daar 'n duideliker afstand tussen 'n mens en dobbel. Jy moes na 'n kasino gaan, 'n perdewedren bywoon of 'n verkooppunt besoek om 'n loterykaartjie aan te koop. Vandag kan dieselfde proses binne sekondes op 'n selfoon plaasvind sonder dat dit vir jou nodig is om die huis te verlaat. Hierdie ontwikkeling het egter die hele speletjie van dobbelbemarking verander, aangesien bemarking en die geleentheid om onmiddellik deel te neem nou binne dieselfde digitale omgewing kan plaasvind.
In hierdie konteks gaan aggressiewe bemarking nie net daaroor om mense met advertensies te bombardeer nie, maar ook oor hoe dobbel in ons alledaagse lewe geïntegreer word. Ons sien dit tydens sportwedstryde, op sosiale media en in die vermaak wat ons volg. As gevolg van hierdie deurlopende blootstelling kan dobbel al hoe meer soos 'n aanvaarbare deel van die samelewing begin voel.
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is kommersialisering en digitalisering belangrike faktore in die toenemende normalisering van dobbel, terwyl bemarking, promosie en sportborgskappe as belangrike meganismes tot groter blootstelling aan dobbel bydra. Dobbel word dus nie net as 'n individuele gedragskeuse benader nie, maar ook as 'n openbaregesondheidskwessie wat binne 'n breër kommersiële en sosiale konteks beskou word. Die vraag is dus nie of individue verantwoordelike keuses oor dobbel kan maak nie, maar ook hoe die kommersiële omgewing waarin hierdie keuses gemaak word, die besluitneming beïnvloed.
Maar wat dan van tabak?
Alhoewel die verkoop van tabakprodukte in Suid-Afrika steeds wettig is, is die advertensies, promosie en borgskap daarvan grotendeels verbied.
Die WGO se Framework Convention on Tobacco Control gaan selfs verder en vereis dat lande 'n verbod op tabakadvertensies, promosie en borgskappe instel, of, waar dit grondwetlik nie moontlik is nie, die mees omvattende beperkings kan toepas. Die raamwerk sluit direkte en indirekte vorme van bemarking in en erken daarmee dat kommersiële kommunikasie 'n belangrike rol in die bevordering en normalisering van tabakgebruik kan speel. Beide tabak en dobbel kan verslawend wees, daarom is dit vir my ironies dat die wetgewing teenoor dobbel nie dieselfde streng beperkings op bemarking en promosie plaas as dié wat ons reeds ten opsigte van tabak aanvaar het nie.
Waarskuwingsetikette
In Suid-Afrika word dobbel deur 'n uitgebreide wetgewende en regulatoriese raamwerk beheer. Die National Gambling Act 7 of 2004 en die gepaardgaande regulasies stel beperkings op sekere vorme van dobbeladvertensies en verbied onder meer advertensies wat misleidend is, dobbel as 'n oplossing vir finansiële probleme voorstel of deelname op onverantwoordelike wyse aanmoedig. Die regulatoriese raamwerk erken dus reeds dat sekere kommunikasiepraktyke openbare skade kan verhoog.
Die Suid-Afrikaanse benadering verskil egter van die internasionale tabakbenadering deurdat dobbel as 'n wettige ekonomiese aktiwiteit binne 'n gereguleerde mark aanvaar word. Die doel van die regulering is dus nie om die kommersiële bestaan van dobbel uit te skakel nie, maar om die bedryf binne bepaalde grense te bestuur. Hierdie onderskeid het direkte implikasies vir bemarking, aangesien tabakbeheer hoofsaaklik vanuit 'n internasionale vlak die beperking van kommersiële bevordering gerig is, terwyl dobbelregulering in Suid-Afrika eerder die voorwaardes en inhoud waarbinne advertensies toegelaat word, reguleer.
Die verskil kan geïllustreer word deur die waarskuwings wat ons in drank-, tabak- en dobbelbemarking teëkom:
Alkoholiese drank: “Don’t drink and walk on the road, you may be killed.”
Tabakverpakking: “Smoking kills”
Dobbelbemarking: “Winners know when to quit.”
Hierdie drie waarskuwings plaas die verantwoordelikheid in 'n groot mate by die individu, waar die verbruiker sélf die risiko moet herken en verantwoordelik optree.
Volgens die National Gambling Board se 2024/25-jaarverslag het die sigbaarheid van weddenskapadvertensies en dobbelborgskappe binne die sportomgewing toegeneem. Hierdie toenemende blootstelling moet natuurlik ook binne die Suid-Afrikaanse sosio-ekonomiese konteks van onder meer ekonomiese ongelykheid, werkloosheid en finansiële onsekerheid gesien word. Bemarkingsboodskappe wat dobbel met finansiële wins of ekonomiese verbetering verbind, word juis binne hierdie sosio-ekonomiese omstandighede geïnterpreteer. Alhoewel individue verantwoordelikheid vir hul eie dobbelkeuses dra, vind spanning plaas wanneer die individu terselfdertyd aan 'n intensiewe kommersiële omgewing blootgestel word wat deelname bevorder. Die vraag is dan of 'n enkele verantwoordelike-dobbelboodskap binne 'n advertensie voldoende is om die invloed van die bemarkingsboodskap te beperk.
Waar lê die grens tussen individuele en kommersiële verantwoordelikheid?
Gegewe die bogenoemde kan verantwoordelikheid nie net by die individu lê nie. Ons moet eerder begin vra hoeveel kommersiële vryheid 'n besigheid of 'n maatskappy behoort te hê wanneer bemarking deel van die omgewing word waarin mense daagliks besluite moet neem.
Die uitdaging is dus om 'n gepaste balans te vind tussen kommersiële vryheid, individuele keuse en die beperking van dobbelverwante skade. Die keuse hoef nie noodwendig tussen totale verbod en onbeperkte vryheid te wees nie, maar eerder oor waar die grens van verantwoordelike kommersiële optrede getrek moet word.
Hilde Kruger is 'n skrywer, grafiese- en multimedia-ontwerper wat in strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling spesialiseer.
Nog artikels deur Hilde Kruger:
Department of Health, Republic of South Africa. 2007. Health on regulations for alcoholic beverages. https://www.gov.za/news/health-regulations-alcoholic-beverages
National Gambling Board. 2025. Compliance with gambling advertising provisions in terms of the National Gambling Act, 2004 and provincial legislation. 1 December. Pretoria: National Gambling Board https://www.ngb.org.za/wp-content/uploads/2025/12/NGB-Statement-Gambling-Advertising.pdf
Republic of South Africa. 2004. National Gambling Act 7 of 2004. Pretoria: Government Printer. https://www.gov.za/documents/national-gambling-act
The Guardian. 2026. ‘Sydney Sweeney, this is what women in sport look like’: female athletes lead backlash against viral advert. https://www.theguardian.com/sport/2026/sep/14/sydney-sweeney-advert-global-backlash-what-women-in-sport-look-like
World Health Organization (WHO). 2024. Gambling. Fact sheet, 2 December. Geneva: World Health Organization. https://www.who.int/news-room/fact-sheets/detail/gambling
World Health Organization Framework Convention on Tobacco Control (WHO FCTC). 2026. Guidelines for implementation of Article 13 and specific guidelines to address cross-border tobacco advertising, promotion and sponsorship and the depiction of tobacco in entertainment media. https://fctc.who.int/resources/publications/m/item/tobacco-advertising-promotion-and-sponsorship
Associated Press. 2026. Female athletes accuse Sydney Sweeney ad of sexualizing women in sports. 15 September. https://apnews.com/article/sydney-sweeney-ad-novig
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









