Goeiemiddag, Laergangers!
Ons het besluit om op die Donderdag na ‘n Vrydag uitgawe, om die beurt notas te deel wat teruggryp en besin oor bydraes van die vorige Vrydag.
Sodoende skep ons ‘n uitlaatklep vir ons eie denke oor die bydraes. Maar belangriker, miskien wys ons punte uit wat jy nie raakgesien het nie, of openbaar ons blindekolle oor ons eie inhoud. Die geleentheid ontstaan om nog perspektiewe of kritiek by te bring, wat ons juis onder ons lesers en bydraers aanmoedig.
Om terug te dink en kontekstueel te herbesin is ‘n leerskool vir almal betrokke, so skryf Daniël in sy meningstuk van gister. Om dit uit te leef, moet ons by onsself begin en ons eie inhoud hier by OntLaer gebruik as lewende argiewe. Help ons gerus daarmee!
Een manier is om ons bydraes wyd en syd met jou lesende en nie-lesende vrinne te deel. Of, om deel te neem aan die kommentaarafdelings, wat Substack baie gerieflik ingerig het.
Notas oor Vrydag, 11 April
Ek weet nie van julle nie, maar Rob Duigan se meningstuk, getitled “ ‘n Nuwe Wêreldwye Handelsbedeling?” oor hoe om die Trump-administrasie se heffingsregime te beoordeel, was baie nuttig. Hoewel ek redaksioneel by OntLaer betrokke is, bly ek ook ‘n gewone bydraer en leser van ander nuusblaaie, en dit is vir my jammer dat soveel sakenuus in ‘n toon geskryf word wat aanvaar dat ‘n mens ingewikkelde makroekonomiese begrippe bloot net moet “verstaan”.
Dis ironies, want makroekonomiese beleid beïnvloed elke gewone burger se lewe. Tog verstaan gewone mense oor die algemeen min oor wat die manne met die dik brille en kopieë van John Maynard Keynes se General Theory of Employment, Interest and Money in die sakenuus sê.
Rob se stuk was verhelderend, en veral die bespreking van hoe die naoorlogse Amerikaanse politieke ekonomie as ‘n soort stelsel van tribute betalings aan ‘n sentrale heerser verstaan moet word, was vars. Rob is reg: As die Amerikaners voortgaan met ‘n bombastiese, strategies vae benadering in hul poging om hul ekonomie meer selfgeldend te laat funksioneer, kan hulle lelik tweede kom. Van Bevrydingsdag sal daar min sprake wees, en die GOP gaan dit heel moontlik voel in die middeltermynverkiesing.
Veronica van Dyk se bydrae “Honger, hoop en ‘n handvol diamante” was ontroerend en het my beslis meer nuuskierig gemaak oor die weë van die delwergemeenskap in Namakwaland, teen die agtergrond van die Louis Liebenberg-sage. Verwante vrae duik op: Is daar 'n vermeerdering van Afrikaanse "haai proufaail" swendelary (soos die bewerings rondom Kleuterzone)? Waarom, indien wel? Is 'n nadelige uitvloeisel daarvan dat kapitaaleienaars vir Afrikaanse entrepreneurs skugter kan word weens hierdie verskynsel, of dit nou rasioneel sou wees om te doen of nie? Skaad dit nuwe Afrikaanse entrepreneurskap? Izak du Plessis se boek Boereverneukers: Afrikaanse swendelaars, swierbolle en swerkaters kan dalk hieroor antwoorde poog, en die redaksie sal gaan soek vir bydraers wat graag hieroor wil skryf.
Elders gelees
Die onverkwiklike gehalte van debat en diskoersvoering wat gevolg het op die Solidariteit Beweging se besoek aan die Trump-administrasie, bly 'n brandpunt. Ek het self geraak daaraan in Rapport. By OntLaer wil ons dit help verander.
AfriForum se Ernst van Zyl het op Politicsweb 'n kragtige oorhoofse repliek geskryf wat motiveer waarom daar probleme is met joernalistiek wat nie die regte vrae vra nie en soms bloot oneerlik is. Indien jy nog besluit oor hoe jy voel oor die Solidariteit Beweging se Amerikaanse uitstappie, is Ernst en die vryskutjoernalis Marie-Louise Antoni se skryfwerk hieroor op Politicsweb, goeie leesstof vir jou denkreis.
Dit is natuurlik opvallend dat daar geen teken in die media is van verslaggewing wat die gewildste aantyging - dat Solidariteit se manne spesifiek vir sanksies teen Suid-Afrika gaan vra het - staaf nie. Sover was daar nog slegs rasionalisasies pleks van feite oor of die Solidariteit Beweging vir sanksies gaan vra het, of nie. Nie genoeg nie, mediavriende!
Van die joernaliste wat voorheen by Vrye Weekblad betrokke was, synde Ali van Wyk, Anneliese Burgess en Piet Croucamp, het onlangs ‘n e-pos nuusbrief in Afrikaans begin vrystel, genaamd Binne + Land. Ek het daar ook sinvolle en keurige Afrikaanse inhoud gevind, en ons kan dankbaar wees dat mense steeds aanhou om tyd en energie in Afrikaanse joernalistieke inhoud te belê. Elke bietjie help! Terloops, in een van Piet se artikels is ‘n resep vir Namibiese rohack brötchen (rou maalvleis op Duitse rolletjies), wat heerlik smaak, maar vermoedelik in oormaat kan lei tot spysvertering wat nie veel minder gevaarlik is nie as ‘n stilstaande broodwa in 70’s Belfast, Noord-Ierland.
Wat ek tans Lees en Luister:
Gepraat van Noord-Ierland, ek lees tans die ontslape oudsoldaat en joernalis Tony Gerathy se boek The Irish War: A military history of a domestic conflict. Opgespoor by die Pretoria Boeremark een Saterdag, teen ‘n sakpas tarief. Ondersteun tweedehandse boekhandelaars! Wat die inhoud betref: Ek dink die Iere mag dalk meer faksioneel wees as die Boere.
Hierdie twee podgooie het my al heel week nuuskierig gehou: Die eerste is Debating pronouns with John McWhorter, met The Free Press se Bari Weiss en die Amerikaanse taalkenner John McWhorter. Laasgenoemde, in ‘n humoristiese en hartlike aanbieding, maak ‘n saak vir die nuttigheid van die “they/them” / “hulle” voornaamwoord, sonder om in kleinsielighede of kultuuroorlog te verval. Die ander ene is mede-Substacker Yascha Mounk se onderhoud met die skrywer Coleman Hughes, oor die nalatenskap van slawerny, veral oor die verdoeselde waarhede en mites wat oor die onderwerp gesirkuleer en in konvensionele kennis vasgeslaan het.
Lekker lees, luister en leer.
Sien julle vir ons volgende groot uitgawe op 25 April 2025.
Groete,
Frederik