Ons leef in 'n tyd waar ironie amper die norm geword het. Selfs kunsmatige intelligensie het al geleer hoe om sarkasties te wees. Opregtheid word dikwels met agterdog bejeën, asof elke emosie eintlik 'n grap is wat nog nie die trefreël bereik het nie. Dit is juis in hierdie wêreld waar People We Meet on Vacation sy plek vind.
Nie omdat dit besonder diep of revolusionêr is nie. Inteendeel, die film is dikwels simpel. Dit hou van ongemaklike grappies, oordrewe vakansie-avonture en karakters wat soms dinge sê wat effens meer betekenisvol klink as wat dit behoort te wees. Tog lê daar iets herkenbaar in daardie simpelheid, iets opreg.
Ons leer Poppy en Alex ken deur die jaarlikse vakansies wat hulle saam onderneem. Poppy sê op 'n stadium dat jy enige weergawe van jouself kan wees wanneer jy op vakansie is. Dit is presies hoe hulle hul tyd saam benader. As gehoor sien ons hulle meestal in hierdie vakansieweergawe van hulself, en namate die verhaal ontvou, raak dit al moeiliker om te onderskei tussen wie hulle werklik is en wie hulle word wanneer hulle saam reis. Dit is nie 'n swakheid in die storievertelling nie. Dit is die kern van die film.
Alex en Poppy verteenwoordig amper twee botsende wêreldbeskouings. Alex leef versigtig. Hy hou emosies op 'n afstand, vertrou eerder op logika as op romantiese idealisme en lyk soms soos iemand wat reeds die trefreël van die grap gehoor het. Poppy beweeg deur die lewe met meer oopheid. Sy glo in ervaring, spontaniteit en die moontlikheid dat dinge dalk tog kan uitwerk.
As Alex die postmoderne wantroue verteenwoordig en Poppy die moderne geloof in betekenis, word hul vriendskap die ruimte waar iets nuuts ontstaan. Nie optimisme sonder twyfel nie. Nie sinisme sonder hoop nie. Iets tussenin, iets nader aan post-postmodernisme.
Wat die film besonder maak, is dat liefde en gemeenskap nie as uitsonderlike ervarings uitgebeeld word nie. Poppy en Alex is nie buitengewone mense nie. Hulle is nie miljardêrs, wêreldveranderende genies of mense wie se probleme deur groot dramatiese oomblikke opgelos word nie. Hulle maak gewone foute en worstel met dieselfde onsekerhede waarmee die meeste mense hul twintigs en dertigs deurbring.
Juis daarom voel die film so toeganklik. Die liefde waarna die verhaal verwys, is nie iets verhewe of onbereikbaar nie. Dit bestaan in vriendskappe, familieverhoudings en die mense wat jaar ná jaar weer langs jou opdaag. Vir die gemiddelde kyker word liefde nie voorgestel as iets wat gevind moet word nie, maar as iets wat reeds rondom jou bestaan.
'n Oomblik wat hierdie spanning mooi vasvang, is wanneer Alex sy enigste muntstuk vir Poppy gee om in 'n wensput te gooi. Dit is 'n klein gebaar, maar die film is op sy sterkste in hierdie eenvoudige oomblikke. Poppy bring 'n speelser kant van Alex na vore, terwyl Alex vir Poppy help besef dat sy dalk meer verlang na stabiliteit as wat sy wil erken.
Tyd speel ook 'n belangrike rol in die film. Anders as baie romantiese komedies wat op groot gebare staatmaak, wys People We Meet on Vacation hoe twee mense oor jare verander. Die verskuiwing van jong volwassenheid na iets meer gevestig gebeur stadig, amper ongemerk. Drome verander. Prioriteite skuif. Mense ontdek dat die lewe wat hulle gedink het hulle wou hê nie noodwendig die lewe is wat hulle gelukkig maak nie.
Die film bied geen dramatiese antwoord op hierdie besef nie. Op sy eie eenvoudige manier voel dit dalk meer waarheidsgetrou as die groot liefdesverklarings waarop die genre gewoonlik staatmaak.
People We Meet on Vacation is nie 'n film wat jou wêreldbeskouing gaan verander nie. Die film probeer soms slimmer en meer betekenisvol voorkom as wat dit werklik is. Tog is daar iets aangenaam aan sy opregtheid. Ná ure van Severance, Ozark en Apex was daar iets verfrissends aan 'n film wat nie probeer om elke oomblik in 'n raaisel of 'n morele krisis te omskep nie. Dit is 'n verhaal oor gewone mense wat probeer uitwerk wie hulle is, waar hulle hoort en watter mense hulle saam met hulle wil neem wanneer die volgende fase van die lewe begin.
In 'n tyd waar sinisme dikwels as wysheid vermom word, herinner People We Meet on Vacation ons dat daar steeds iets dapper is aan mense wat kies om te hoop.
Nog artikels deur Lezli Edgar:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.









