Afrikaner-identiteit, Geslag en Digitaliteit
Hoe algoritmes Afrikaner-identiteit herskep.
'n Tiener scroll op sy foon. Hy begin met 'n komiese video van 'n hond, maar 'n paar swipes later glimlag hy skielik vir 'n plasing wat woede aanhits.
Adam Atler beskryf dié gevoel as die aanloklikheid van algoritmes. Platforms word ontwerp om ons aandag te hou en winste te maksimeer. Die skrywer Katie Jagielnicka verduidelik in haar Noösphere-artikel dat sosiale-media-platforms ons op 'n soortgelyke manier as die Sirenes in die Odusseia verlei. Soos die mitiese wesens Odusseus met hul sang gelok het, stroom algoritmes op ons af met pasgemaakte boodskappe.
Soos Sarah Wynn-Williams, Facebook se vorige direkteur van Openbare Belied, in haar boek Careless People onthul, is Facebook se “Lookalike Audiences”-algoritme tydens die 2016-VSA-verkiesing gebruik om mense met sekere belangstellings (soos rugby, bakkies en jag) te identifiseer en hulle te bombardeer met 'n stroom misinformasie, omstrede plasings en fondswerwingsinisiatiewe. Hoe meer ontstoke die kyker geraak het, hoe goedkoper het dit geword om die advertensies te laat rol.
Hierdie tegnologieë is nie neutraal nie. Dit word gebou op bestaande magsverhoudings en wêreldbeskouings, en kan bestaande identiteite óf versterk óf ondermyn. Maar om te verstaan hoe dit gebeur, is dit sinvol om na 'n ouer vorm van media te kyk: die tydskrif.
Tydskrifte, redaksionele filosofie en identiteit
In my navorsing oor Afrikaanse tydskrifte speel redaksionele filosofie 'n belangrike rol. 'n Tydskrif is nooit bloot 'n toevallige versameling artikels nie. Elke publikasie word saamgestel volgens 'n bepaalde redaksionele raamwerk, soos watter stories vertel word, watter temas herhaal word, en watter tipe leser aangespreek word.
Hierdie proses is doelbewus. 'n Redakteur en redaksiespan besluit watter inhoud gepubliseer word en hoe dit aangebied word. Deur hierdie seleksie en diskresie begin 'n tydskrif 'n samehangende handelsmerk skep. Oor tyd kan hierdie handelsmerk 'n spesifieke identiteit versterk. Lesers word dus nie net ingelig nie, maar word ook subtiel ingeskryf in 'n bepaalde begrip van wie hulle is. In die geval van Afrikaanse publikasies het tydskrifte geskiedkundig 'n rol gespeel in die vorming van Afrikaner-identiteit. Die herhaling van sekere temas soos godsdiens, familie, taal, waardes, het oor tyd 'n kulturele raamwerk geskep waarin lesers hulself kon herken.
Hierdie kurasie is ook nie neutraal nie. Dit was 'n redaksionele keuse wat 'n bepaalde idee van Afrikaneridentiteit bevorder het.
Algoritmes as nuwe kurators
Op die oog af lyk sosiale media heeltemal anders. Anders as tydskrifte het platforms soos Facebook, TikTok of X nie 'n enkele redakteur wat besluit wat lesers inneem nie. In plaas daarvan word inhoud gekurateer deur algoritmes wat bereken watter plasings waarskynlik die meeste betrokkenheid sal uitlok.
Maar die funksie is soortgelyk.
Net soos 'n tydskrif se redaksionele filosofie bepaal watter stories vertel word, bepaal 'n algoritme watter inhoud in 'n gebruiker se tydlyn verskyn. Die verskil lê in die logika van seleksie. Waar 'n tydskrif se kurasie gebaseer is op redaksionele oordeel en 'n bewustelike begrip van sy lesers, baseer 'n algoritme sy seleksie op data en gedrag, soos waarop jy klik, waarop jy kommentaar lewer, en watter inhoud jou emosioneel aktiveer.
Hierdie verskil het belangrike implikasies vir identiteit.
'n Tydskrif skep gewoonlik 'n relatief stabiele narratief oor sy lesers. Die identiteit wat dit voorstel (of dit nou die Afrikaanse huisvrou, die jagter of die boer is) word oor tyd konsekwent herhaal.
Algoritmes werk anders. Hulle produseer nie 'n enkele narratief nie, maar 'n onvoorspelbare stroom inhoud wat voortdurend aangepas word volgens 'n gebruiker se reaksies. In plaas daarvan om 'n samehangende identiteit te bou, plaas algoritmes dikwels die inhoud wat die sterkste emosionele reaksies ontlok, naamlik woede, verontwaardiging of vrees presies daar waar die leser dit definitief sal waarneem.nWaar 'n tydskrif identiteite kurateer deur bewuste redaksionele seleksie, kurateer algoritmes identiteite deur statistiese optimalisering van aandag en negatiewe emosies.
Algoritmes is gebou om ons aandag vas te hou. Hul hoofdoel is betrokkenheid, nie welstand nie.
Die begrip “rage farming” beskryf inhoud wat doelbewus geplaas word om mense kwaad te maak, omdat woede mense langer laat scroll. Algoritmes bevoordeel hoë-opgewondenheid-emosies. Die doel is dus eenvoudig: provokatiewe inhoud versprei vinnig en trek aandag.
Dit lei tot 'n eenvoudige ekonomiese model wat daarop berus dat hoe meer ontstoke gebruikers raak, hoe meer advertensies sien hulle, en hoe meer hulle dieselfde advertensie sien, hoe goedkoper word dit om daai advertensie op sosiale media te hou. Hierdie dinamika het ook 'n duidelike geslagsdimensie. Navorsing toon dat sosiale media-algoritmes van die aard misoginistiese inhoud aan jong mans aanhits. Wat begin as inhoud oor manlikheid of eensaamheid, kan vinnig verander in video’s wat vroue blameer of objektifiseer.
Hierdie inhoud word dikwels as “vermaak” aangebied, maar normaliseer skadelike ideologieë. Jong mans wat reeds geïsoleerd voel, kan hierdie wêreldbeskouings maklik internaliseer, aanneem en uitleef.
Gedigitaliseerde Afrikanerskap en Manlikheid
Een van die duidelikste voorbeelde hiervan is die verspreiding van die wit volksmoord-narratief oor Suid-Afrika.
Hierdie narratief beweer dat wit Afrikaners sistematies uitgemoor word. Die idee word wêreldwyd versprei, veral deur regse politieke netwerke en invloedryke sosiale-media gebruikers. Algoritmes speel hier 'n sleutelrol. Omdat die narratief emosioneel ontvlambaar is, want dit kombineer vrees, woede en identiteitskrisis, word dit maklik versterk deur digitale platforms.
Digitale aktiviste in Suid-Afrika het egter maniere gevind om terug te veg. Wanneer die hutsmerk oor wit volksmoord trend, oorstroom hulle platforms met feitlike weerleggings en kontekstualisering. Hierdie strategie wys dat algoritmes nie net manipuleer nie, hulle kan ook gemanipuleer word. Die idee van tradisionele Afrikaner manlikheid bly 'n sterk kulturele krag in ons Afrikaner-gemeenskap. Hierdie manlikheid word dikwels voorgestel as iets natuurlik of tydloos, maar in werklikheid is dit 'n histories gevestigde strak identiteit.
Vir baie wit Afrikaanse mans word hierdie identiteit herkenbaar deur 'n stel kulturele merkers, soos jag, bakkies, rugby, geloof en die rol van die man as beskermer en broodwinner. Hierdie elemente vorm simboliese merkers van Afrikaner manlikheid wat oor dekades heen herhaal en versterk is in kerke, families, media, populêre kultuur, en nou ons algoritmes.
Hierdie model van manlikheid word egter toenemend bevraagteken.
Christi van der Westhuizen het byvoorbeeld onlangs geskryf dat die GKSA se besluit om 'n sinode sonder vroue te hou, terwyl oor vroue in die amp besluit word, nie bloot 'n administratiewe kwessie is nie, maar 'n uitdrukking van 'n dieper probleem van vrouehaat binne kerklike strukture. Vanuit 'n feministiese perspektief wys sy daarop dat sulke besluite geskiedkundige patrone bevestig waarin mans die gesagstrukture beheer terwyl vroue se stemme gemarginaliseer word.
Maar hierdie spanning moet ook vanuit die oogpunt van manlikheid verstaan word. Vir baie wit Afrikaanse mans verteenwoordig instellings soos die kerk nie net geloof nie, maar ook 'n kulturele anker vir tradisionele manlikheid. Wanneer hierdie strukture verander, of wanneer vroue groter gesag begin opeis, kan dit ervaar word as 'n bedreiging vir hierdie gevestigde regiede identiteit.
Sandra Swart wys uit dat wanneer die wit Afrikaanse man hierdie bedreiging tot sy identiteit, oftewel manlikheid, ervaar sal hy óf vir hom 'n nuwe manlike identiteit aanneem óf sy manlike identiteit herbevestig deur dieper in sy gevestigde regiede identiteit te sink. Hierdie gevoel van verlies of bedreiging is presies die soort emosionele dinamiek wat algoritmes maklik kan versterk.
Waar tydskrifte histories 'n sekere beeld van Afrikaner-manlikheid gekurateer het, doen algoritmes vandag iets soortgelyks, maar op 'n baie meer onvoorspelbare manier. Wanneer 'n gebruiker belangstelling toon in inhoud oor jag, rugby, selfstandigheid of “tradisionele waardes”, begin platforms dikwels soortgelyke inhoud aanbeveel. Met verloop van tyd kan hierdie aanbevelings 'n digitale omgewing skep waarin 'n spesifieke vorm van manlikheid voortdurend bevestig en versterk word.
Wat begin as onskuldige inhoud oor sport of die buitelewe kan dus maklik ontwikkel tot 'n breër ideologiese raamwerk waarin nostalgie, nasionalisme en antifeministiese sentiment met mekaar verweef raak.
Hierdie dinamika beteken nie dat alle inhoud oor jag, rugby of bakkies ideologies gelaai is nie. Maar wanneer algoritmes inhoud selekteer volgens emosionele reaksie eerder as redaksionele oordeel, kan sekere identiteitsnarratiewe maklik radikaliseer of verhard.
Waar 'n tydskrif se redaksionele filosofie ten minste 'n mate van samehang en verantwoordbaarheid impliseer, funksioneer algoritmes sonder 'n sigbare redaksionele hand. En die argument oor Meta wat beleide in plek stel bestaan, maar wanneer laas het jy die terme en voorwaardes gelees? Die resultaat is 'n vorm van kurasie wat identiteite kan versterk sonder dat iemand ooit openlik daarvoor verantwoordelik is.
Manlikheid in Krisis?
Afrikaner-identiteit is die produk van eeue se geskiedenis, kultuur en godsdiens, maar dit word in elke era herskep. In die 21ste eeu gebeur hierdie herskepping nie net in tydskrifte, kerke of politieke instellings nie, maar ook in die onsigbare kodes van die internet se algoritmes wat ons aanlynskerms beheer.
Waar tydskrifte vroeër identiteite gekurateer het deur redaksionele filosofie, doen algoritmes dit nou deur data, gedrag en emosionele reaksies. In hierdie proses word sekere idees oor manlikheid nie net weerspieël nie, maar ook versterk. Vir baie wit Afrikaanse mans vind hierdie versterking plaas in 'n konteks van wat al hoe meer as 'n manlikheidskrisis beskryf word: 'n gevoel dat gevestigde rolle en gesagstrukture besig is om te verskuif of te verdwyn. Besluite soos die GKSA se omstrede uitsluiting van vroue uit bepaalde kerklike ampte kan daarom ook gelees word as 'n poging om 'n tradisionele orde te herbevestig waarin manlike gesag sentraal bly.
Wanneer hierdie spanning egter deur algoritmes gefilter en versterk word, raak dit maklik deel van 'n groter digitale ekosisteem waarin nostalgie, identiteitsangs en idees oor tradisionele manlikheid mekaar voortdurend bevestig.
Die uitdaging is dus nie net om die tegnologie te verstaan nie, maar ook die identiteite wat daardeur gevorm en versterk word. Slegs deur kritiese bewustheid en digitale geletterdheid kan ons seker maak dat die stories wat ons oor onsself vertel as Afrikaners, as Suid-Afrikaners en as mense nie deur onsigbare tegnologiese stelsels bepaal word nie, maar deur ons eie waardes en keuses.
Die uitdaging is om hierdie nuwe vorm van kurasie raak te sien.
Nog artikels deur Lezli Edgar:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.











