Met Eish, Hoer
Van Boer tot begeerte: Afrikanermanlikheid in die era van werklikheidstelevisie.
Ruan Smith is Afrikaners se derde bachelor in die werklikheidsreeks Op My Eish. Seisoen ná seisoen maak die produksie van The Bachelor-formaat óf 'n man, óf 'n spektakel. Tot dusver het Op My Eish nie regtig 'n man “opgelewer” nie. Wat, in praktyk, waarskynlik nie eens kykNET se hoofdoel is nie. Sensasionalisme dryf tog die nommers. Maar dit is juis hoekom die reeks interessant is. Nie omdat dit goeie televisie is nie, maar omdat dit iets wys van hoe Afrikaners hulself wil sien, hoe hulle gesien wil word, en wat gebeur wanneer daardie beeld op nasionale televisie begin kraak. Dit is tyd om bietjie in te delf in die impak wat die formaat en medium van werklikheidsreekse (Reality TV) op die Afrikaner het.
Werklikheidstelevisie is 'n formaat wat gekom het saam met die televisie as medium, die ontstaan kom uit Europa en Amerika. Die genre waaronder dit begin het was Hidden Camera, hierdie embrio-vorm van die formaat ken ek en jy vandag beter as Entertainment Television. Soos meeste mediaformate en kanale, was die 90’s die bloeitydperk vir werklikheidstelevisie. Wat hierdie tipe TV so kykbaar maak is die feit dat dit ‘glocalized’ was. Wat beteken die globale gehoor kon insig kry in die ware óf performatiewe gebeurtenisse van alledaagse lewens. Wat werklikheidstelevisie vir ons voortgesit het is die vermoë om 'n hibriede formaat van 'n tydperk vas te vang, asook 'n tipe metafoor of simptoom van die ontwikkeling en kommersialisering van globale mediakultuur.
Reality TV is nie ‘trash TV’ nie, dit is die vreemde samehang tussen deelnemer/uitbeelder, gehoor, mediagenre, die alledaagse lewe, interne diskoerse, populêre diskoerse, en elite diskoerse.
Wasserman het bevind dat ons Afrikaners ver-Amerikaans het danksy die koms van televisie in Suid-Afrika in die 80’s. Hierdie argument word versterk deur die feit dat TV die vermoë het om ons te help om ons eie sosiologiese opmaak te bou. Wanneer ons na alternatiewe maniere van lewe waarneem, laat dit ons terugreflekteer na binne. Natuurlik is die tou strak gespan met positiewe en negatiewe nagevolge hiervan. Wanneer gevestigde vorme van nasionale identiteit, institusionele fondasies en die gevestigde strategieë van tradisionele gemeenskappe bevraagteken word, word die alledaagse lewe polities. Politiek, kultuur en media moet dan nuwe alliansies vorm om globalisering by lokalisering aan te pas. Dit is waar die term ‘glocalization’ inkom.
Die realiteit is dat Op My Eish seisoen drie vir twaalf weke lank 'n Wit Afrikaanse Man gewys het wat twaalf Wit Afrikaanse Vrouens op jou TV getjaaf het. Dit het 'n impak op jou Afrikanerkultuur. So noem dit trashy, kommen, selfs zef as jy wil. Maar onthou net wie dit ook verteenwoordig.
So hoekom dan kyk? Hoekom jou martel met die uiterstes van wat jou kultuur opmaak? Sensasionalisme is 'n vorm van publikasie wat soos 'n bottelnek op die hoofweg werk. Jy weet wat jy gaan sien mag dalk gru en waaghalsig wees, maar dis die moeite werd om uit te vind net hoe gru en waaghalsig dit werklik is.
Die hele punt van uitgewing (op hoofstroommediavlak) is om die nommers te dryf en die mark te besit. Hoe meer mense kyk, hoe minder kos dit om die advertensie te hardloop, hoe goedkoper word die program om te maak, en uiteindelik hoe groter word die monopolie wat daargestel kan word. Dit is ook die moeite werd om te weet dat sensasionale TV en sensasionale uitgewery dikwels dieselfde lesers/kykers het, en dieselfde adverteerders.
Hoe die TV-kanaal en die pers mekaar rondom Op My Eish voed, wys hoe nou vermaak, sensasie en Afrikaanse media aan mekaar vasgemaak is. Die pers- en medialandskap in Suid-Afrika word deur een groot monopolie oorheers. My kritiek teenoor hierdie monopolie is nie om die joernaliste se integriteit te bevraagteken nie, maar eerder dié van die instelling self.
Sarie het verskeie berigte oor Ruan en sy seisoen op Netwerk24 gepubliseer, moontlik 'n aanduiding dat die Wit Afrikaanse Vrou in die voorstede, bo 40, hierdie as 'n groot gesprekspunt beskou het. Huisgenoot het ook 'n paar artikels gehad. Maar dit is eintlik Rapport wat die diepste na hierdie ongelukstoneel langs die hoofweg gekyk het. Seker omdat Sarie se stylgids nie voorsiening maak vir hoe die woord “hoer” gebruik moet word nie.
Rapport publiseer op 19 April 2026 die opskrif gemaak vir 'n lampaal: Ruan se ‘hoer’-afjak.
Die storie lui dat dat Ruan vir Minette, een van sy twaalf deelnemers, 'n hoer genoem het op 'n manier wat hom moontlik aanspreeklik kan hou vir karakterbenadeling, omdat hy besluit het om die stelling op sosiale media te maak. Volgens Ruan was Minette se gedrag oorseksueel en onvanpas voor die produksiespan, en juis daarom het hy besluit om haar huis toe te stuur. Ruan se regverdiging vir die uitlating kom daarop neer dat hy haar bloot behandel het soos sy volgens hom optree.
Wat die berig oor Smith en sy toksiese-manlike uitlating wel besonders maak, is dat dit eindig met die stelling dat Waldimar Pelser, kanaalhoof van kykNET en Rapport se voormalige senior adjunkredakteur, nie kommentaar wou lewer oor die uitgesproke opinies rakende die medium se verantwoordelikheid om deelnemers te beskerm nie.
Die media se verantwoordelikheid is die groter prentjie in hierdie kwessie. Wat stilweg in die hoeke van die voorgrond ontwikkel, is die feit dat Wit Afrikaanse Mans nie seksuele bevryding ervaar op dieselfde manier as wat vroue dit doen nie.
Die konsep van “manlikheid in krisis” omskryf dat mans, ongeag ras en ouderdom, tans 'n interne worsteling ervaar met wat manlikheid is en behoort te wees. Die diskoers se snaar word al stywer getrek deur die politieke sfeer, met links en regs wat al hoe verder uitmekaar beweeg in hul eie uitbeeldings van manlikheid.
Mans word groot in 'n patriargie wat onderdrukkend is. Hulle word ingeboks in wat 'n man moet wees. Bell Hooks delf baie goed hierin deur te verduidelik dat patriargie uiteindelik net voordelig is vir die ryk en elite wit man, maar geen werklike voordeel inhou vir enigiemand anders nie.
Wat ek agterkom in my tydskrifnavorsing oor die slegs-vir-volwassenes tydskrif Loslyf, is dat die Wit Afrikaanse Man eintlik taamlik skaam is wanneer dit by sy seksualiteit kom (die uitbeelding van hoe seksueel hy is), maar nie noodwendig wanneer dit by seks (die daad self) kom nie.
Die beste manier om dit te beskryf, is om eers terug te kyk na feminisme. Feminisme het vir vroue seksuele bevryding gebring. Deur feminisme het baie vroue hul seksualiteit begin omarm. Maar daar is ook opinies wat glo dat dit terselfdertyd die venster vir seksuele objektivering teenoor vroue net groter oopgemaak het.
Die hele punt is dat mans is nog nooit werklik die identiteit van ‘sexy’ toegeken is nie. Nog minder word 'n man vandag uitgebeeld as 'n noodsaaklike objek van begeerte. Wanneer dit by Wit Afrikaanse Mans kom, word hulle eerder beskryf as doelgerig, eerlik, hardwerkend, Godvresend, 'n pa, die lys gaan aan. Selfs in Loslyf gaan die inhoud nie oor seksuele bevryding nie. Dit bly eerder by seksuele bevrediging, gewoonlik ook teen ’n vrou se koste.
Die wending wat ek waarneem, is dat Wit Afrikaanse Mans in die 2020’s wel seksuele selfobjektivering begin verwelkom, aanvaarding is dalk nog nie heeltemal die regte woord nie. Met die koms van korter broekies en stywer hempies, gemaak vir die MetroBoer (die ou met 'n Hilux, wat in die stad bly, maar steeds Afrikaans is) is die seksualisering van die Wit Afrikaanse Man in full swing.
Jy hoef net die kommentaar op enige BoerBoel-agtige brand te gaan lees. Groot spiere, styf gespande boude, oopgetrekte knope, meer as net been wat gewys word. Hy versorg homself beter, en hy is bereid om goeie geld te spandeer om hierdie identiteit te verkry.
Seksuele objektivering kan teenoor ander én teenoor die self uitgevoer word. Die term “objektivering” verwys na die waarnemer wat 'n eksterne beeld van óf die ander óf die self aanneem. Só word die persoon se liggaam die grootste verteenwoordiging van daardie persoon se identiteit.
Nou, die “look” van die Boer is iets wat al vir 'n geruime tyd geobjektiveer word. 'n Man in khaki en jeans, met stewels en 'n hoed, stel visueel Die Boer voor. Maar daar is eintlik min seksueel aan hierdie beeld. Dit staan in kontras met die beeld van byvoorbeeld BoerBoel. Kyk byvoorbeeld na die vergelyking tussen 'n Landbouweekblad Die Boer en BoerBoel se Boer.
Die kommersiële bestaansredes vir die twee beelde verskil natuurlik. Die een is 'n semi-regs-georiënteerde, eeu-oue publikasie oor landbou; die ander een verkoop broeke. Advertensies wat vir mans gemaak word, het 'n toename gesien in die objektivering van mans. Interessant genoeg pas heteroseksuele mans self nie seksuele objektivering so maklik toe soos homoseksuele mans nie. Maar die studie wat dit bevind het, is al amper twintig jaar oud.
Meer onlangs is daar bevind dat wanneer heteroseksuele mans 'n groter verskil ervaar tussen hul waargenome en ideale manlikheid, hulle sosiokulturele manlike voorkomsnorme sterker kan internaliseer. Dit kan lei tot meer selfobjektivering, meer liggaamsskaamte en 'n sterker strewe na gespierdheid.
Mans word blootgestel aan 'n aantal verskillende boodskappe wat hulle met verloop van tyd kan laat begin om sosiokulturele voorkomsstandaarde te internaliseer. Mans word deur hul media aangemoedig om krag, beweeglikheid en mag te besit. Hierdie liggaamstipe bevestig die patriargale stelsel van manlike mag, maar kan ook duur te staan kom vir individuele mans.
Toe hierdie tipe bemarking meer sigbaar was in media wat op vroue gemik is, was die teenreaksie feminisme, seksuele bevryding en bewustheid rondom gendergeweld.
Met die dalende syfers in die hoeveelheid Suid-Afrikaanse mans wat universiteit toe gaan, asook minder mans wat in gespesialiseerde velde werk, is dit dalk 'n aanduiding dat die Wit Afrikaanse Man in sy #BadGirlEra is?
Om 'n vrou op 'n nasionale platform 'n hoer te noem, ongeag hoe “feitlik” iemand dink die stelling is, is nie optrede wat die krisis rondom manlikheid oplos nie. Inteendeel, dit is presies daardie soort optrede wat die probleem verdiep. Dit is nie manlikheid nie; dit is vernedering wat as eerlikheid verkoop word.
Die seksuele objektivering van mans stuur ook af op 'n teenreaksie. Ruan se uitlating voel soos 'n vroeë simptoom daarvan: die oomblik wanneer mans self seksueel beoordeel word, word die ongemak teruggekaats na vroue. Ek dink mans besef nog nie hoe kras en minderwaardig seksuele objektivering werklik voel nie. Maar uit my oogpunt gaan hulle taamlik gou uitvind.
Nog artikels deur Lezli Edgar:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.












