Floyd Shivambu en ons nuwe Politieke Onmondigheid
Politieke volwassenheid is verder weg was wat ons dalk gedink het.
In antwoord op die vraag “Wat is Verligting” skryf die 18de eeuse Duitse filosoof Immanuel Kant: “Die Aufklärung ist der Ausgang des Menschen aus seiner selbstverschuldeten Unmündigkeit.” - “Die Verligting is die mens se bevryding van sy selfopgelegde onmondigheid.”
By verre die meeste kritiek op Kant se stelling, ten minste waaraan ek blootgestel is, kritiseer sy beskrywing van die mens voor die agttiende eeu as “onmondig.” Hoe durf hy die vorige generasies so kapittel en kasty - veral as 'n mens om jou kyk en sien watter brakwater die Verligting sedertdien oor die Weste laat vloei het - en so aan, ensovoorts.
Dit is 'n jammerte dat daar dadelik met kritiek ingespring word voordat die tafel behoorlik gedek is. Wat my veel eerder interesseer is wat presies bedoel word met mondigheid en onmondigheid. Hoe lyk 'n gemeenskap wat as’t ware binne in homself volwasse is, en volwasse geword het? Een van die bestanddele, dalk die belangrikste bestanddeel, is die orde binne 'n gemeenskap. Hoe orden die gemeenskap homself, hoe word verantwoordelike persone aangedui wat namens die gemeenskap optree?
Mondige gemeenskappe
In 'n onmondige gemeenskap, so sou ek myself dit voorstel, is die burger 'n kind. Ten volle onderhewig aan 'n onwrikbare koning of heerser wat alles van die dogma tussen jou ore tot die daalder tussen jou vingers bepaal.
Die troon bewaak jou skepties, oortuig daarvan dat enige besluite wat jy in jou eie naam maak op 'n ramp moet uitloop. Hoe meer volwasse, hoe meer mondig die gemeenskap, hoe meer verantwoordelikheid land (op verskeie maniere, waaroor genoeg boeke geskryf is sodat dit regverdig is om dit as afgehandel te beskou) in die hande van die burgers. 'n Volwasse samelewing sal noodwendig verteenwoordig word deur volwasse, professionele, politieke strukture. Indien die aannames wat bo genoem en bespreek word, almal as nagenoeg aan waar beskou sou word, het die stoelwisseling van Floyd Shivambu in die MK-Party duidelik uitgewys dat Suid-Afrika as politieke gemeenskap minder mondig is as wat ons dalk gedink het.
En dat daar 'n saak daarvoor uit te maak is dat ons eerder in die rigting van on-volwassenheid ontwikkel.
Ons het Oom Tony nie genoeg waardeer nie
Teenoor die lang lys van politieke mislukkings en misoeste in Suid-Afrika, kon ons oor die laaste twee dekades ten minste nie kla oor 'n swak parlementêre opposisie nie. Met hul skadukabinet wat konsekwent die foute van die regering uitwys, sou selfs die vurigste politieke opponent meestal moes toegee dat die DA hulself goed van hul taak gekwyt het. Enige lid van die uitvoerende gesag wat voor die parlement gedaag is, moes goed voorbereid opdaag. Die vrae was baie, die lys foute om uit te wys, lank. Terwyl ons deur die dal van Zuma-skaduwee gegaan het, kon ons ten minste weet dat daar 'n opposisieparty is wat regtig omgee, wat die regering dophou, altyd gereed met 'n kwinkslag, 'n repliek, of 'n vinnige draffie na die naaste nuusateljee of hooggeregshof. Daardie dal van Zuma-skaduwee het nou oor die eens besige banke links van die Speaker toegesak.
Shivambu se wandeling
Die verwydering van Floyd Shivambu as Sekretaris-Generaal het bevestig wat almal dalk al van die begin af geweet het: In die MK-Party maak wie jy is baie meer saak as wat jy kan doen.
Soveel as wat ek myself op feitlik elke punt reglynig teenoor Shivambu sou stel, is hy geen liggewig in die Suid-Afrikaanse politiek nie. 'n Liggewig is hy nie. Sy prominensie in die ANC Jeugliga tydens die Mbeki-Zuma magstryd het hom op 'n jong ouderdom reeds 'n groot naam in die politieke arena gegee. As stigterslid van die Economic Freedom Fighters (EFF) het hy saam met Julius Malema 'n politieke golf ontketen wat op sy hoogtepunt meer as een uit elke tien stemme op homself kon rig. Sy mees onlangse skuif na Jacob Zuma se MK Party het hom, na afloop van hierdie party se sukses in die 2024 nasionale verkiesing, in 'n posisie van geweldige invloed geplaas. Dat Zuma 'n belangrike rat, dalk die belangrikste rat, uit Malema se party geruk het, moet naby aan onbestrede wees. Teen hierdie agtergrond is Shivambu se verwydering uit sy posisie as sekretaris-generaal sonder twyfel noemenswaardig. Shivambu se verwydering volg op 'n omstrede besoek aan die selfverklaarde profeet Shepherd Bushiri in Malawi, wat deur die MK Party as 'n oortreding van sy grondwet beskou word. 'n Besoek aan 'n persoon so omstrede soos Bushiri, wat landuit gevlug het weens die mees verskriklike aantygings van geweld en misbruik in allerlei vorms, was onkundig en 'n politieke voetfout, en selfs Shivambu sou dit toegee.
Zuma se politieke geskiedenis toon egter aan dat die moraliteit van sy politieke bondgenote nog nooit vreeslik hoog op sy lys van vereistes was nie. Die werklike rede vir Shivambu se skuif is veel eerder sy onvermoë om met die Zuma-familie, en dan veral Zuma se dogter, Duduzile Zuma-Sambudla, oor die weg te kom. 'n X-plasing in Februarie vanjaar, waarin sy Shivambu as die “slegste ding wat met MK gebeur het” beskryf, het hierdie onvermoë bevestig.
Dat Shivambu hier 'n grondwet kon opstel en as sekretaris-generaal aangestel kon word, getuig van sy vermoë om strukture vinnig te betree en te vorm. Maar sy skielike val wys hoe maklik die vaandel van dissipline opgelig word wanneer dit politieke gemak dien.
Populisme en planne
Die feit dat Shivambu gestraf word vir 'n beweerde oortreding van 'n partygrondwet wat hy self opgestel het, wys hoe arbitrêr hierdie "reëls" soms toegepas word. Die reëls bestaan, maar slegs vir diegene wat buite die binnekring val. Deur te glo dat sy politieke vernuf en ervaring meer gewig sal dra as Duduzile se van, het Shivambu homself sy loopbaan, ten minste vir nou, gekos. Mens sou hom vir hierdie fout kon vergewe, as hy nie presies hierdie ervaring onder Malema gehad het nie. Die derde en vierde grootste partye in hierdie land is nie rondom beleid gevorm nie, nie rondom idees, of 'n spesifieke interpretasie van vryheid, gelykheid, of eiendomsreg nie. Beide die rooispan en die groenspan is persoonlikheidskultusse, waar populisme nie belangriker as die plan is nie: populisme is die plan.
Maar dis dan nie nuus nie, is dit? Dit is nie 'n nuwe insig nie? Nee, sekerlik nie. Die nuwe insig is wel dat die idee van politieke opposisie in Suid-Afrika 'n baie vinnige dood gesterf het. Waarom sou jy opdaag vir 'n debat in die parlement as jou bywoning van 'n braai by Nkandla meer vir jou loopbaan kan beteken? Waarom sou jy beleid najaag wat die miljoene kiesers wat jou met hulle kruisie vertrou het se lewens kan verbeter, as jou party geen maar geen belangstelling daarin het om 'n politieke opposisie te wees nie?
En nou?
Die opgewondenheid oor die RNE is nie sonder meriete nie. Ek voer veel eerder debatte oor hoe die RNE kan verbeter as om nog een oomblik onder 'n de facto eenpartystaat te leef. Tesame hiermee het die nie-ANC kabinetslede die oulike effek dat hulle, deur harde werk en vlytige staatsamptenaarskap, die soeklig op hul ANC-kollegas verskerp.
Geen regering, hoe deeglik hy kwessies al ook intern debatteer, behoort egter sonder 'n deeglike en genadelose opposisie te regeer nie. Die vergrootgras wat die helder daglig oor elke woordjie van elke voorgestelde beleid brand, die opposisiesweep wat moeilik is net om moeilik te wees, die diep asem wat die president moet neem voordat hy agter die mikrofoon inskuif: hierdie inwerking op die regering is die plig van die opposisie.
As die opposisie egter meer oor homself en sy oorlewing, en sy interne magstrukture bekommer as oor wat deur die kabinet beweeg, val een van die belangrikste hekkies waaroor enige beleidstuk tradisioneel moes spring, en 'n gemeenskap neem 'n tree terug.
'n Tree weg van mondigheid af. ‘n Tree weg van funksionele, volhoubare politieke volwassenheid af.
Nog nie moeg vir Paul nie?
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: