Gaan Suid-Afrika ook "Woke Regses" sien?
Nog verwarrende, futiele stryde om politieke etikettering.
Daar was 'n tyd toe "woke" net 'n byvoeglike naamwoord was. Die het na iemand wat “wakker” of bewus is van onreg verwys. Aanvanklik het dit iets positief bedoel, naamlik om sensitief te wees vir rassisme en ander vorme van diskriminasie.
Maar soos baie politieke terme, het dit vinnig sy neutrale woordeboek-definisie (indien dit ooit bestaan het) en onskuld (ten minste in die oë van die breë publiek) verloor. Vandag beteken dit vir sommige 'n eerbare strewe na geregtigheid, en vir ander 'n tirannieke moraliteitspolisie met 'n onvermoë tot selfrelativering en introspeksie. In Amerika en elders het “woke” dus nou 'n leë houer geword waarin mense al hul frustrasies oor kultuuroorloë en identiteitsideologie gestort het.
Die afgelope dekade het Amerika se kultuurstryd tussen sogenaamde "woke linkses" en hul konserwatiewe antagoniste die wêreld se aanlyn gesprekke oorheers. En in 'n interessante draai, begin 'n nuwe verskynsel daar posvat. Sommige skrywers in die VSA verwys na die "woke regses" as 'n beweging wat, ironies genoeg, baie van die taktieke en ingesteldheid van die oorspronklike woke linkses oorneem, net met ander vyande en ander simbole.
Maar die vraag vir ons, hier aan die suidpunt van Afrika, is of ons ook op pad is na so 'n regsgesinde, grief-gedrewe ideologie. En of dit enigsins saak maak.
Etikette soos “woke regs” verduister meer as wat dit verduidelik
Een van die grootste probleme met die gesprek oor die “woke regs” is die etiket self.
Soos Frederik van Dyk onlangs geskryf het, het ons politieke taalgebruik rigtingbedonnerd geraak. Begrippe soos “links” en “regs” is nie duidelik omskryf nie. Hulle het geskiedkundige wortels (in die Nasionale Vergadering tydens die Franse Revolusie se sitplekreëlings, van alle dinge) maar vandag beteken dit iets anders vir wie ookal jy vra.
Om dus te vra of Suid-Afrika ook 'n “woke regse” oplewing gaan hê, is om te vra of ons ook gaan deelneem aan 'n verwarrende, futiele stryd van politieke etikettering wat selde helderheid bring. Dit plaas mense in boksies wat nie hul werklike wêreldbeskouings akkuraat vasvang nie.
Iemand kan konserwatief wees op sosiale kwessies, maar progressief op ekonomiese beleid. Iemand anders is dalk weer 'n voorstander van vrye markte, maar ook vir maatskaplike gelykheid. Wat beteken dit dan om “regs” of “woke regs” te wees? Dis gewoon nie duidelik nie.
Boonop, soos John Carpenter aantoon, word die etiket “woke regs” dikwels gebruik om enige afwyking van 'n hoofstroom ideologie te diskwalifiseer sonder om inhoudelik in gesprek te tree. Dis 'n manier om iemand af te wys sonder om na hul argumente te luister.
Waar “Woke” vandaan kom
Om te verstaan wat met die sogenaamde “woke regses” (indien 'n mens enigsins so 'n groepering kan afbaken) aan die gang is, moet mens eers teruggaan na die oorspronklike ontstaan van woke as 'n konsep. In Amerika het dit na vore gekom uit die nalatenskap van burgerregtestryd, die Black Lives Matter-beweging, akademiese diskoers oor kritiese rasse-teorie, en 'n algemene ortodoksie oor ongelykheid. Hierdie ortodoksie was aanvaklik beperk tot die akademie en het na vore gekom vanuit die verskeidenheid van kritiese teorieë wat alles beskou as produkte van magsverhoudings. Dat taal, kultuur, en kennis self nie neutraal is nie, maar gevorm en vervorm is deur diegene wat geskiedkundig mag gehad het. Alles moes dus ontmasker en herbedink word in terme van onderdrukking en bevryding.
Met verloop van tyd het woke-isme in die hoofstroom begin posvat en het dit begin fokus op taalbeheer, simboliese gebare, en 'n verkramptheid oor identiteit wat omtrent alles as onderdrukkend beskou, van witborde in klaskamers tot die samestelling van maatskappye se aandeelhouers. Dit het daartoe gelei dat elke sosiale verhouding herinterpreteer moes word volgens 'n oorvereenvoudigde, maar dwingende raamwerk van “onderdrukker teenoor onderdrukte”. En volgens woke-isme se voorstaanders moes mens kies aan wie se kant jy is.
Die reaksie daarop het nie lank op hom laat wag nie. Eers het die wat nie deur woke-isme oortuig was nie, dit uitgelag of veroordeel. Maar later, soos Thomas Chatterton Williams en Kevin DeYoung uitwys, het baie van daardie selfde mense begin speel met presies dieselfde speletjies, net met nuwe slagoffers, nuwe terme, en nuwe simbole. Hierdie mense het in reaksie op woke-isme en sy bepaalde “linkse” denke hul eie lys taboewoorde, hul eie geskiedenishervertellings, en hul eie groep “regte slagoffers” geskep.
Dit bring ons by Suid-Afrika.
Transformatisme as plaaslike weergawe van woke-isme
Suid-Afrika het nooit regtig “woke” in sy oorspronklike Amerikaanse vorm ingevoer nie. Ten minste nie as modewoord of internet-identiteit nie. Maar dit beteken nie dat daar nie soortgelyke denke in Suid-Afrika se media, universiteite en openbare diskoers is nie. In baie opsigte het transformasiebeleid in Suid-Afrika dieselfde funksionele rol gespeel as woke ideologie in die VSA.
Van regstellende aksie en BEE tot raskwotastelsels en transformasie retoriek aan universiteite, is daar 'n gevestigde ideologiese raamwerk waarin geskiedkundige ongelykhede rigied en byna onstuitbaar geag word. Daarvolgens word “progressiewe” oplossings gesoek vir herverdeling en simboliese erkenning sonder om ooit oplossings te bereik. Dit fokus op die begrip van vooruitgang sonder om werklike vordering te maak.
Die uitdaging is egter dat Suid-Afrika 'n diep ongelyke land is, en baie van daardie ongelykhede het geskiedkundige wortels. Maar wanneer hierdie wêreldbeskouing in absolute terme toegepas word, begin dit soos die woke-isme van die VSA te klink. Dit voer aan dat alle verskille onderdrukking is, alle kritiek is teen vooruitgang, en enige weerstand teen die ideologie is immoreel.
Suid-Afrika het dus al sedert die 1990’s in 'n vorm van ideologiese transformasie geleef wat baie van die Amerikaanse woke-idees vooruitgeloop het. Of, om dit anders te stel: Suid-Afrika was reeds in 'n post-apartheid-fase hoofstroom van pogings tot identiteitsregstellings, toe dit in Amerika in die hoofstroom begin verskyn het.
Maar dit beteken ook dat Suid-Afrikaners minder geneig is om die begrip "woke" te gebruik. Hier noem ons dit transformasie. In sommige gevalle noem mense dit "regstellende geregtigheid". Wat ook al die naam, die onderliggende raamwerk is dieselfde: die wêreld is in groepe verdeel, sommige is geskiedkunidg bevoordeel, ander benadeel, en die pad vorentoe is deur herstel en herverdeling ten minste op skrif in wetgewing, meningstukke en politici se toesprake.
Dis 'n simplistiese, binêre manier om die samelewing te beskou met groot klem op die simboliek van vooruitgang, maar min werklike beweging vorentoe.
Groepsidentiteit en slagofferskap
Wat egter vir my toenemend duidelik word, is dat daar deesdae 'n oorvloed slagoffers in Suid-Afrika is oor alle groepe heen.
Afrikaners voel dat hulle taal en kultuur onder druk is, dat hulle uitgeskuif word uit staatsinstellings en universiteite, en dat hul ekonomiese vooruitgang gestuit word deur kwotas en wetgewing. Swart Suid-Afrikaners voel steeds die nalatenskap van apartheid in terme van grondbesit, onderwys, en gesondheidsorg. Bruin Suid-Afrikaners voel onsigbaar tussen die twee groepe. En Indiërs wonder soms hoe hulle inpas in 'n land wat blykbaar net twee groepe herken. Dit terwyl al hierdie groepe die gesukkel van Suid-Afrika ervaar.
Hierdie gevoel van slagofferskap is natuurlik menslik. En dis nie altyd ongegrond nie. Maar dit is ook gevaarlik wanneer dit 'n politieke kultuur begin vorm waarin elke groep hulleself sien as onderdruk en elke ander groep as onderdrukker. Dis wat in Amerika gebeur het. Soos Michael Shermer opmerk, het die woke linkses hul ideologie gebou op 'n wanbegrip van die menslike aard, en nou bou die woke regses hul beskouing op dieselfde foutiewe grondslag.
In Suid-Afrika begin soortgelyke dinge na vore kom, veral in aanlyn gemeenskappe. Die taalgebruik is nie altyd identies nie, maar die patroon is bekend. Daar word aangevoer dat “ons” is die ware slagoffers, dat “ons” onderdrukking uniek is en dat spesiale oplossings vir “ons” groep nodig is. Dit terwyl objektief gesproke alle Suid-Afrikaners gebuk gaan onder die ekonomiese en maatskaplike gevolge van Suid-Afrika se transformatisme.
Dit is die ironie van die saak. Alhoewel transformatisme 'n duidelik fokus het op die opheffing van swart Suid-Afrikaners, is die gevolge daarvan ewe sleg vir almal veral omdat dit nie die beloofde opheffing bring nie, maar eerder 'n stelsel daarstel wat meriete ondermyn, dienslewering verswak en sosiale spanning verskerp. Die gevaar is dat hierdie gevoel van universele slagofferskap mense vervreem van mekaar, eerder as om vordering teweeg te bring. As elke groep net sy eie lyding raaksien, en dié van ander as onbelangrik of as verdag beskou, dan word wedersydse begrip onmoontlik.
Meer belangrik, vooruitgang vind nie plaas nie. Ons het 'n nuwe maatskaplike verdrag nodig wat nie gebaseer is op skuld en verdeling nie, maar op medemenslikheid, werklike geregtigheid en die beginsel dat vordering vir een nie ten koste van 'n ander hoef te kom nie.
Wat ons gaan met ons huidige politieke kultuur doen?
So, gaan Suid-Afrika 'n woke regse oplewing hê? Waarskynlik nie in presies dieselfde vorm nie. Maar die neiging om identiteit bo alles te plaas, om slagofferskap as politieke kapitaal te gebruik, en om geskiedkundige griewe in eindelose sirkeldebatte te verpak, is reeds hier in baie verskillende vorme.
Die gevaar lê nie by 'n spesifieke groep nie. Die gevaar lê in die logika van groepe wat in stryd is met mekaar. 'n Wêreldbeskouing waar elke gemeenskap hul eie waarheid en reg op erkenning het, maar tot uitsluiting van die ander.
Suid-Afrika behoort te erken dat die menslike aard kompleks is, dat samelewings onvolmaak is, en dat ware vooruitgang geleidelik en gebalanseerd plaasvind. Suid-Afrika benodig nie 'n absolutistiese fokus op slegs individuele vryheid as grondslag nie, net soos ons nie net in terme van groepe (hetsy kultuur, taal of ras nie) moet dink nie.
Die vervelige maar dog eerlike oplossing vir baie van Suid-Afrika se onmiddelike ongelykheidsprobleme is ekonomiese groei. Slegs dit kan betekenis gee aan begrippe soos geregtigheid, gemeenskap, waarheid en lojaliteit sonder om alles tot identiteitsbendes te reduseer. Natuurlik gaan daar steeds vrywing wees, selfs met ekonomiese vooruitgang: ons sien dit immers in welvarende samelewings soos die VSA. Maar die skerppunte van die wrywing, die werklikheid daarvan, is met ekonomiese sukses aansienlik meer afgestomp.
Ek dink dus nie Suid-Afrika gaan 'n “woke regse” oplewing hê in dieselfde styl as in die VSA nie. Maar ons is nie immuun teen dieselfde impulse nie. Veral nie as Suid-Afrika aanhou om ekonomies voort te ploeter nie.
Nog artikels deur Daniël Eloff:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in:
Een van die beste opsommings van "woke" wat ek nog gelees het. Dis hierdie fokus op magspolitiek gebaseer op groepsidentiteit wat die vure bly aanstook.