"Genormaliseerde vervreemding"
Kulturele elites minag die menslike sin vir solidariteit.
Toe denkers soos Hegel en Marx in die 19de eeu begin het om hulle idees oor vervreemding te ontwikkel, en Durkheim begin het om “anomie” as begrip te ontwikkel, het die probleme wat hulle beskryf het ten volle die tydsgees weerspieël.
Vir Hegel het vervreemding verband gehou met die ontwikkeling van bewussyn, spesifiek die struikelblokke wat selfbewussyn verhinder het. Hy het aangevoer dat individue van hulself en hulle eie skeppings vervreem was. Marx het gefokus op die verhouding tussen loonarbeid en kapitaal, en beweer dat werkers van die produk van hulle arbeid vervreem word en uiteindelik van hulle eie menslikheid vervreem raak.
Durkheim se konsep van anomie het verwys na die ineenstorting van morele norme, wat lei tot 'n situasie waar 'n afwesigheid van betekenis en gedragsriglyne 'n klimaat van verwarring en vervreemding bevorder het.
Op verskillende maniere het Hegel, Marx en Durkheim probeer om die sosiale en kulturele onderbou van die moderne mens se gevoel van magteloosheid te verklaar. In die 21ste eeu het hierdie gevoel vererger en die toestand van maatskaplike verbrokkeling het 'n alledaagse realiteit geword. Die fragmentasie en atomisering van die alledaagse lewe is diep veranker in die samelewing. Die agteruitgang van familiebande, gemeenskapsrituele en gebruike soos die huwelik, die wegkalwing van werkersorganisasies en selfhelp-gemeenskapsinstellings, het die ervaring van magteloosheid verskerp.
“Die ontwrigting was eens 'n slegte ding”
Daar kan geargumenteer word dat die toestand van vervreemding só alledaags geword het dat sommige kommentators dit nie eens meer noemenswaardig ag nie. Sekere sektore van die samelewing het hul eenvoudig by hierdie werklikheid berus.
Tot onlangs het die ontwrigting van gemeenskapslewe en die ervaring van kulturele verlies slegs negatiewe konnotasies gehad, net soos die toestand van vervreemding. Die agteruitgang van verhoudings en die afwatering van 'n gevoel van solidariteit, waar mense gevolglik van mekaar en hul gemeenskap vervreem word, is as 'n vernietigende verskynsel beskou wat gemeenskapslede diep ontwortel het. Vanuit hierdie oogpunt was vervreemding 'n toestand wat oorkom moes word.
Geskiedkundig is die gevoel van skeiding en ontheemding (wat met vervreemding geassosieer is) deur feitlik elke afdeling van kulturele- en politieke instellings as skadelik vir die menslike siel beskou. Begrippe soos “vervreemding,” “anomie” en “ontheemding” is wyd gebruik om die betekenis vas te vang van wat as 'n ontstellende toestand beskou is waarin mense hulself bevind het. Hierdie toestand van geestelike of kulturele ontheemding pla steeds Westerse samelewings. Trouens, die stemming van kulturele onsekerheid, versterk deur die ontwrigtende gevolge van globalisering en massa-migrasie, het die gevoel van ontheemding verder verdiep.
Tog het houdings teenoor die toestand van vervreemding begin verander. Onder sommige lede van die heersende elite word vervreemding as 'n onvermydelike feit van die lewe aanvaar. Sommige van hulle sien die verskillende manifestasies van 'n vervreemde bestaan (soos gevoelens van ontheemding en kulturele verlies) nie as belangrik nie. In die afgelope dekades het kosmopolitiese voorstanders van globalisme dikwels met minagting gereageer op mense se bekommernisse oor kulturele verlies. Hulle beweer vervreemding, met sy konnotasies van skeiding en gemeenskapsontkoppeling, is 'n ou probleem wat nie meer tersaaklik is nie. Mense se strewe na kulturele verbondenheid en inbedding in 'n herkenbare gemeenskap word dikwels afgemaak as 'n onproduktiewe nostalgie na 'n wêreld wat nie meer bestaan nie.
Tog is dit vandag nie meer die linkses nie, maar hoofsaaklik nasionale populiste wat die heersende tydsgees van kulturele onsekerheid en verlies uitdaag.
“Onverskilligheid teenoor die plaaslike”
Dit lyk asof dele van die kulturele Establishment min belangstel aan die instandhouding van kulturele bande wat mense aan hul voorouers se gebruike en tradisies verbind.
Hulle is self losgesny van hul gemeenskap en nasie, en word nie gepla deur 'n ontwortelde bestaan nie. Die ongebonde gees wat hulle vertoon en leef, simboliseer hul onverskilligheid teenoor die kweek van solidariteit, gemeenskaplikheid en nasionale identiteit. Hulle beweer dat ons in ’n post-tradisionele wêreld leef waar die self “geskape” word eerder as passief geërf word. Vanuit hierdie standpunt word mense wat kulturele sekerheid belangrik ag, afgemaak as rigiede en outydse individue wat in die verlede wil leef. Mense se soeke na ’n tuiste word tipies beskou as 'n weiering om die werklikheid van 'n vinnig veranderende samelewing te aanvaar.
Soos vermeld, tot redelik onlangs is “ontheemding”, met ander woorde die verlies van fisieke en maatskaplike ankers wat 'n mens se identiteit definieer, as 'n bron van benoudheid en psigologiese pyn beskou is. Bekommernis oor die gevoel van nie behoort nie, van vervreemding van jouself en die wêreld, was 'n sentrale tema in literatuur en filosofie. Deesdae is houdings teenoor kulturele sekerheid en nasionale identiteit meer gepolariseer en ambivalent.
Soos die Amerikaanse teoloog R.R. Reno opmerk, sê sommige dat “ontheemding 'n intrinsieke kenmerk van moderniteit is” terwyl ander beweer dat “ontheemding en onrus die onvermydelike prys is vir tegnologiese vooruitgang en vrye markte.”1 Die noodlottige neiging om ontheemding en vervreemding te normaliseer, het ten doel om mense met hul ontwortelde toestand te versoen. In effek stroop die aanvaarding van ontheemding die begrip van “huis” van enige morele inhoud.
Een van die redes waarom populisme so deur die heersende elite gedemoniseer word, is juis omdat dit die vaderland weer sentraal stel. Kritici van populisme verwerp die “ideologie van ‘n tuiste” as 'n illusie en 'n visioen van 'n verlore vaderland wat nostalgies rekonstrueer is en sekerheid bied teen die verlies aan identiteit.2 Vanuit hierdie oogpunt is elke poging om ’n gevoel van om te behoort en betekenis in ’n vaderland te vind, per definisie bedrieglik.
Maar die soeke na 'n tuiste is nie bloot 'n nostalgiese poging om die verlede te herwin nie. Dit is 'n poging om die grondslag te skep vir solidariteit. Nasionale populisme poog om van die nasionale huis weer 'n fokuspunt vir lojaliteit en gemeenskapsverbondenheid te maak. Wat kritici as 'n “ideologie van 'n tuiste” afmaak, is in wese 'n poging om kulturele onsekerheid te oorbrug deur stewige bande te vorm binne 'n bekende vaderland. Daarteenoor resoneer liefde vir die nasie of vir die tuiste glad nie met die wêreldbeskouing van kosmopolitiese ideoloë nie.
Die besonderheid van plek is 'n noodsaaklike voorwaarde vir die ervaring om te behoort. Dit is iets wat nasionale populiste ten volle verstaan; mense se eksistensiële sekerheid spruit uit hulle inbedding in 'n spesifieke plek.
Die delegitimering van die huis
Vanuit die oogpunt van die oorheersende kultuurnarratief word mense wat opreg besorg is oor “tuistes” of die “vaderland” of “nasie” gesien as onsekere nougesettes wat bang is om die uitdagings van 'n veranderende wêreld in die gesig te staar. Soos wat die waardering vir “die tuiste” al meer verbind word met 'n konserwatiewe ingesteldheid, so ook word besorgdheid oor vervreemding geassosieer met rigiede, agterdogtige mense wat nie aanpas by verandering nie. Gevolglik het die bekommernis oor vervreemding verskuif vanaf die ou linkses na nasionale populiste.
In sy bespreking van hierdie houdingsverskuiwing skryf Martin Jay van die Universiteit van Kalifornië met min verbloemde minagting vir dié wat nog hul vaderland ernstig opneem. Hy skryf:
“In short, alienation in the second decade of the 21st century has not actually faded away as a descriptor of human distress. Rather, it has become most visible in the anxiety of those who bemoan the transformation of a beloved homeland into an unrecognisable nation of aliens.”3
Jay meen dat tradisionele gehegtheid aan ’n vaderland geen inherente deug in die moderne era het nie. Hy vra:
“[...] but in an era of fluid modernity, defined by incessant change, why should sameness and identity be preferred over otherness and difference?”
Volgens Jay berus die onderskeid wat lede van ’n “geliefde vaderland” tref tussen hulself en vreemdelinge op 'n ideologie van uitsluiting. Hy vra:
“What if hospitality to the alien was privileged over the imperative to defend the homeland against alleged intruders? Accepting the stranger within, the other in the self, could then be credited as a sign of maturity. The weakening of the discourse of alienation reflected these changes in the cultural climate.”4
Volgens hierdie denkrigting moet die tradisionele diskoers oor vervreemding plek maak vir 'n sogenaamd verligte narratief waarin daar geen huis of vaderland meer is om te verdedig nie. Die kwalitatiewe verskil tussen mense wie se families reeds generasies lank in 'n gemeenskap leef en 'n onlangse migrant word dus uitgewis.
Vir kosmopolitiese kritici maak mense se emosionele verbintenis tot grondgebied min sin. Nasionale grense word deur hulle dikwels beskryf as arbitrêre konstrukte sonder morele betekenis. Die Amerikaanse filosoof Martha Nussbaum beweer nie net dat dit irrasioneel is om nasionale grense ernstig op te neem nie, maar dat dit ook gekenmerk word deur “valse morele gewig en glorie.” Kosmopolitiese aktiviste, onversteurd deur 'n individu se unieke kulturele verbondenheid, beskou hierdie aspekte as onbelangrik. “Die plek waar 'n mens gebore word, is net dit – 'n toeval; enige mens kon in enige land gebore gewees het,” verklaar Nussbaum.5
Die bewering dat mense se oorsprong geen spesiale betekenis het nie, stroop gemeenskaplike lidmaatskap van enige waarde. Mense raak ontneem van enige unieke aanspraak op hul gemeenskap of hul grond. Hulle raak losgemaak van die wêreld wat hulle as hul eie beskou het en verloor alle morele regte of bande met die plek waar hulle woon. Hierdie ingesteldheid beaam stilweg dat 'n vervreemde bestaan die nuwe norm is.
En tog, vir miljarde gewone mense is gehegtheid aan 'n stuk grond, aan 'n plek met grense, sentraal tot hulle gevoel van sekerheid. Die mobiele, globalistiese klas van professionele mense en bestuurders het 'n heel ander ingesteldheid teenoor grense en soewereiniteit as diegene wie se alledaagse lewe gebonde is aan 'n spesifieke gemeenskaplike grondgebied. Dit is hoekom hulle geen simpatie het met die wat nie wil berus by 'n vervreemde bestaan nie.
Die weiering om te berus by 'n vervreemde bestaan is die eerste stap in die proses om te herstel van onsekerheid en om weer 'n huis as jou eie te ervaar.
Dis die eerste stap in die diep menslike soeke na solidariteit.
Frank Furedi is 'n sosioloog, outeur, mediakommentator en kampvegter vir spraakvryheid. Volg Frank se Substack hier:
Hierdie artikel is met die vergunning van die outeur in Afrikaans vertaal.
Nog artikels op OntLaer:
SOSIALE MEDIA
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
Reno, R. (2019) Return of the Strong Gods: Nationalism, Populism, and the Future of the West
See Elçi E. (2022) ‘Politics of Nostalgia and Populism: Evidence from Turkey’, British Journal of Political Science. Vol. ;52(2):697-714.
Martin Jay ‘A History Of Alienation’ https://aeon.co/essays/in-the-1950s-everybody-cool-was-a-little-alienated-what-changed
Martin Jay ‘A History Of Alienation’ https://aeon.co/essays/in-the-1950s-everybody-cool-was-a-little-alienated-what-changed
Nussbaum, M. (2002) For Love of Country?, Beacon Press, p.7
Wat 'n puik en diepgaande, goed vertaalde en stimulerende stuk en dit nogal in Afrikaans.