Wat is al die onlangse rumoer oor die behoefte aan 'n “progressiewe-beweging” en 'n nuwe vakgebied genaamd “progressiewe studies”? Het ons nie reeds progressiewes nie wat die progressiewe saak voorstaan nie? As dit maar net so eenvoudig was!
Soos jy dalk weet, dateer die oorspronklike skeiding tussen Links en Regs – tussen progressiewes en konserwatiewes – terug na die Franse Rewolusie. In die Franse Nasionale Vergadering het voorstanders van die rewolusie en Verligtingsideale toevallig aan die linkerkant van die president gesit, terwyl verdedigers van die ancient régime en die aristokratiese voorregte aan die regterkant gesetel was.
Om “links” te wees het hoofsaaklik beteken dat jy die Verligting se standpunt aanhang dat ellende nie onvermydelik is nie en dat ons 'n beter wêreld vir almal kan skep as ons daaraan werk. Linksgesindes wou die mensdom bevry van die boeie van dogma en tradisie, en het gestreef na 'n nuwe samelewing gebaseer op individuele vryheid, gelykheid en menswaardigheid. Sommige linkses staan vir 'n revolusionêre omwenteling van die samelewing, terwyl ander geleidelike hervorming verkies het. Om aan die regterkant te wees, het beteken dat jy tradisionele hiërargieë en instellings wat teen radikale revolusies beskermingswaardig is, verdedig. Die reaksionêre vleuel van die regterkant het daarna gestreef om terug te keer na 'n toestand voor die Verligting, terwyl die gematigdes net stadige, versigtige verandering ondersteun het en versigtig was vir onbeproefde, radikale idees.
'n Absurde ommekeer
Hou hierdie onderskeid vandag nog water? Uiteraard is dit nie sinvol om te verwag dat ons huidige “links-regs” skeidslyn presies ooreenstem met die sitplekke van die Franse parlement 250 jaar gelede nie. Baie het verander sedertdien, en politieke wetenskaplikes het meer genuanseerde metodes ontwerp om politieke identiteite te onderskei. Daar is ook groot ideologiese diversiteit binne elke kamp. Ek kan Lionel Page se insiggewende artikel oor die links-regs-skeiding se ontwikkeling aanbeveel.
En tog, in baie opsigte is die politieke teenstelling tussen regs en links amper omgekeer. Baie selfverklaarde progressiewe mense het skynbaar die kernwaardes van die Verligting en selfs die hele idee van vooruitgang verwerp. Voorstanders van “ontgroei-ing” en “post-groei” beweer dat ekonomiese groei 'n skadelike beheptheid is, dat ons té welvarend geword het, en dat industriële moderniteit ons planeet uitbuit en vernietig. Selfs meer gematigde linksgesindes sê deesdae dat geglobaliseerde kapitalisme 'n onderdrukkende stesel is wat die gaping tussen ryk en arm net vergroot. Dit terwyl ons eintlik 'n dramatiese afname in armoede en ongelykheid gesien het. Vrye spraak, byvoorbeeld, wat eens 'n progressiewe kapstok was, is deur kritiese rasteorieë verwerp as niks meer nie as 'n siniese poging deur diegene met mag om kwesbare mense te oorheers. En selfs meer omstrede, dat die Verligtingprojek self altyd net 'n skynheilige dekmantel vir kulturele oorheersing en kolonialisme was.
Intussen het baie konserwatiewes geleidelik begin om bepaalde kernwaardes van die Verligting te aanvaar ná generasies van harde teenstand. Daar is 'n lang lys van progressiewe idees wat eers as radikaal beskou is, maar nou so algemeen is dat feitlik elke konserwatiewe politikus dit aanvaar. Dit sluit kwessies in soos die algemene kiesreg, huwelike tussen mense vanuit verskillende rassegroepe, geslagsgelykheid, skeiding van kerk en staat, gay-regte, vrye spraak ensomeer. Selfs tydens Trump se eerste termyn het Republikeinse kiesers stadig maar seker hulle aannames oor ras en seksualiteit verskuif.
Baie konserwatiewes bevorder nou met trots die morele en tegnologiese vooruitgang wat ons samelewings die afgelope eeu gemaak het. Soms bly hul ondersteuning huiwerig en louwarm, maar in ander gevalle, soos betreffende gay-regte, het sommige konserwatiewes in die VSA heeltemal omgeswaai en die radikale idees wat hulle eens verafsku het nou aanvaar. In Europa is hierdie skuif nou gekoppel aan die konteks van massamigrasie. Die ondersteunung vir gay-regte voel met sommige politieke partye, soos die verregse Franse Rassemblement National redelik skynheilig omdat dit meer as 'n knuppel gebruik word om na Moslem-immigrante te kap. Maar gematigde konserwatiewes se steun vir gay-regte lyk opreg.
Tans in Europa, sou jy bondgenote soek om gay-regte teen godsdienstige onverdraagsaamheid te beskerm, is gematigde konserwatiewes 'n meer betroubare keuse as progressiewes.
Verwarrings
Hierdie situasie het tot vreemde omgekeerde situasies gelei. As jy 'n politikus in Europa hoor wat die Verligting beskryf en menslike vindingrykheid as 'n kernoplossing vir ons probleme voorstel, is die kans goed dat hy homself as “konserwatief” beskou. Omgekeerd, as iemand vanuit die intelligentsia die Verligting bespot, ekonomiese groei veroordeel, en waarsku teen tegnologiese oplossings, noem hulle hom waarskynlik “progressief”.
Sake word selfs meer absurd as progressiewes huiwer om hul eie suksesse toe te eien. Party sê dat rassisme en seksisme so diep in ons samelewings ingebed is dat enige indruk van morele vooruitgang 'n illusie is. Hulle argumenteer dat duidelike vorme van onderdrukking nou bloot meer subtiel, stelselmatig en struktureel geraak het. Sommige beweer selfs dat armoede nie afgeneem het nie. Soos Steven Pinker gesê het, “[i]ntellectuals hate progress. Intellectuals who call themselves ‘progressive’ really hate progress.”
Verklarings
Hoe het ons in hierdie omgekeerde wêreld beland waar konserwatiewes dikwels beter verdedigers van vooruitgang en Verligtingsideale geword het as selfverklaarde progressiewes? Dit is die raaisel wat ek ontrafel in my jongste boek Het verraad aan de verlichting (“Die Verraad van die Verligting”), wat hierdie lente in Nederlands verskyn het. Volgens my het drie groot ideologiese strominge binne progressiewe denke bygedra tot hierdie skokkende omkering:
Postmodernisme, wat die wapens van die Verligting teen homself gedraai en die geloof in objektiewe waarheid, rasionaliteit en morele vooruitgang ondermyn het.
Die opkoms van “slagoffer‑en‑onderdrukker” binêre denke, saamgevat met die oorblyfsels van Westerse kolonialisme, wat Westerse beskawing as die wortel van alle kwaad beskuldig en beskou het.
Die opkoms van progressiewe omgewingsbewegings, wat baie agterdogtig is oor moderne tegnologie en ekonomiese groei. Omgewingsbewustheid was oorspronklik 'n konserwatiewe besprekingspunt onder aristokrate, maar dit het teen die 1970’s amper heeltemal van kant verander.
Waarom ek steeds progressief bly
By my boekbekendstelling in Antwerpen het ek oor hierdie temas gedebatteer met Bart De Wever, die jarelange leier van Vlaamse konserwatiewe party en nou ook Belgiese premier. Die sentrale twispunt: as baie progressiewes inderdaad Verligtingwaardes soos materiële welvaart, tegnologiese innovasie, vrye spraak en sekularisme verwerp, moet konserwatiewes nie eerder die fakkel oorneem nie? Dit was 'n vurige maar konstruktiewe debat, wat jy hier op YouTube kan kyk (as jy nie Nederlands verstaan nie, kan YouTube se outo‑vertaling dalk help).
As 'n selfverklaarde progressiewe, juig ek natuurlik oor gematigde konserwatiewes soos De Wever wat Verligtingwaardes ondersteun. Die Verligting het egter elke bondgenoot gebruik wat hy kan kry! Tog het my debat met De Wever my herinner hoekom ek, ten spyte van my frustrasies met baie mede‑progressiewes en ten spyte van De Wever se humoristiese uitnodiging om van politieke kante te wissel steeds progressief in my hart bly.
Onmiddellik na my debat met De Wever het ek aan hom aanbeveel om Friedrich Hayek se briljante stuk “Why I Am Not a Conservative” te lees, siende dat ek weet dat hy van ekonomiese liberalisme hou en Margaret Thatcher as 'n politieke heldin beskou. Daardie aanbeveling het kennelik 'n snaar getref, want De Wever het later by die International Democracy Union 'n toespraak in Engels gelewer, waar hy oor ons debat reflekteer en Hayek se argumente aanraak.
Die probleem met konserwatisme
Een probleem met konserwatisme, soos Hayek dit ïdentifiseer, is dat dit 'n doelwitlose ideologie is sonder 'n duidelike visie. Trouens, dit het die merkwaardige neiging om in sy omgewing te vervaag, soos 'n verkleurmannetjie wat onwillig van kleur verander. Gevolglik kan konserwatisme baie verskillende dinge beteken, afhangend van waar jy is. In Wes-Europa stem konserwatiewes toenemend ooreen met vryemark-liberalisme en Verligtingwaardes, want dit pas by Europese tradisie. In ou kommunistiese lande ondersteun konserwatiewes weer gesentraliseerde regering, kollektivisme en welvaartsherverdeling want sulke dinge vorm die “tradisie” daar.
Hierdie aanpasbaarheid verklaar ook hoe konserwatiewes soms idees begin omarm wat hul intellektuele voorgangers eens fel verwerp het. Tog laat dit konserwatiewes stuurloos en sonder 'n vaste rigting. Wat is die volgende morele revolusie op die horison? Sal konserwatiewes weer radikale idees en tegnologieë teenstaan, net om later te besef dat die radikale idees tog reg was? Konserwatiewes het 'n talent om die verlede suksesvol te bewaar, maar sonder progressiewe kragte wat bereid is om hulle saam te trek, weet hulle nie waarheen om te gaan nie. Trouens, hulle verkies om te bly waar hulle is.
“It has […] invariably been the fate of conservatism to be dragged along a path not of its own choosing. The tug of war between conservatives and progressives can only affect the speed, not the direction, of contemporary developments. But, though there is a need for a "brake on the vehicle of progress," I personally cannot be content with simply helping to apply the brake. What the liberal must ask, first of all, is not how fast or how far we should move, but where we should move.”
In sy stryd teen die bekoring van kollektivisme en sentrale beplanning het Hayek dikwels saamgestaan met politieke konserwatiewes wat Anglo‑Saksiese tradisies van ekonomiese liberalisme en vryhandel verdedig het. Tog het Hayek daarop aangedring dat liberalisme geensins 'n konserwatiewe ideologie is nie. Markte is tog ontwrigtende en destabilisende kragte wat konstante verandering dryf. Soos die Oostenrykse ekonoom Joseph Schumpeter opgemerk het, kan innovasie net deur kreatiewe vernietiging ontstaan deur die meedoënlose ontwringing van gevestigde industrieë en konvensionele praktyke.
Net soos Hayek, glo ek in grenslose groei, eksperimente en innovasie. Verder is ek ongeduldig (waarskynlik selfs meer as Hayek). Ek is gretig om dinge op te skud en verandering te sien aandryf, want daar is net te veel vermybare lyding en onderdrukking in die wêreld wat ons nie kan ignoreer nie.
Kulturele chauvinisme
'n Verdere probleem wanneer konserwatiewes die Verligting se fakkel oorneem, is die inherente spanning met een van konserwatisme se grondbeginsels, naamlik universaliteit. De Wever verdedig die Verligting hoofsaaklik omdat hy glo dit is deel van “ons” Europese erfenis, en omdat dit organies uit Christenskap gegroei het. Hierdie weergawe van die geskiedenis is egter foutief. In werklikheid het die Katolieke Kerk en ander Christelike owerhede die Verligting ten sterkste beveg. Dit het omtrent twee eeue geneem voordat hulle uiteindelik hulle nederlaag kon erken en oorgegaan het na liberale demokrasie en sekularisme. Byna al die groot denke van die Verligting het op een of ander punt op die Index Librorum Prohibitorum beland, wat wetenskaplike vooruitgang soos heliosentrisme, kiemteorie en evolusie teenstaan het.
Boonop, as Christenskap werklik die hoender was wat die eier van die Verligting uitgebroei het, hoekom het dit dan byna 2000 jaar geneem om gebore te word? Vanuit die idee dat die Verligting 'n Christelike herkoms het, is daar net 'n klein sprong na chauvinistiese denke, synde dat ander kulture eenvoudig onvereenselwigbaar is met die Verligting. Maar as die Verligting vir iets gestaan het, was dit universalisme. Die wetenskap, vryheid en demokrasie behoort aan die hele mensdom, nie net van een godsdiens of stam nie. Om dus die Verligting vir Europa toe te eien, dreig om hierdie universalistiese beginsels te beperk tot eksklusiewe kulturele eiendom.
Samewerking is nodig
Dit beteken nie dat konserwatiewes soos Bart De Wever my vyand is nie. In my boek voer ek aan dat progressiewes en konserwatiewes eintlik mekaar nodig het. Sonder konserwatiewes wat af en toe die rem trap, sou progressiewes te vinnig beweeg en dinge vernietig. Maar sonder progressiewes wat drome van radikale nuwe toekomste droom, sou niks ooit verander nie.
Wat betref my, sal ek aanhou om 'n voorstander te wees vir 'n radikaal beter wêreld, en ek is trots om deel te wees van die opkomende progressiewe beweging.
Bly ingeskakel vir die vertaling van my boek!
Dr. Maarten Boudry is 'n Belgiese filosoof verbonde aan die Universiteit Ghent.
Volg vir Maarten se Substack hier:
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: