Geskiedenisbrokkies met OntLaer: Boere-Offisiere - 'n Turksvy vir die navorser
Was almal se voorvader 'n boere-offisier?
'n Enorme turksvy vir navorser èn nasate is die verwarring rondom Boere-offisiere in die Anglo-Boereoorlog. Dis begryplik dat nasate 'n foutiewe rang aan hul voorouer toeken, of hom selfs 'n offisier maak terwyl hy nie een was nie, want so was die trotse oorlewering.
Maar daar is ook 'n ánder probleem. Dis burgers wat tydens die oorlog daarop aanspraak gemaak het dat hulle wettige offisiere was – en dit waarskynlik só aan hul nageslag vertel het.
Ingrid Winterbach het haar roman Niggie gebaseer op insidente in Deneys Reitz se Commando, waar hy teen Augustus 1901 verskeie “small private bands” in die suidwes-Vrystaat teëgekom het, “remnants of larger forces that had dwindled away under the misfortunes of war”.
Reitz het 'n veldkornet Botha raakgeloop wat oor twee korporaals en ses burgers bevel gevoer het.
Dit was eenvoudig nie die bedoeling van die Boereleërleiding nie. Korporaalskappe in die guerrillafase van tot 15 man, ja, wat wag vir bevel om op 'n gegewe plek te versamel sodat die byeengekome kommando 'n geïsoleerde Britse kolonne kan aanval. Maar nie behoorlik verkose of aangestelde offisiere wat oor klein groepies bevel voer nie.
Reeds vroeg in die oorlog was daar probleme. In Januarie 1900 het kmdt.genl. Piet Joubert 'n einde probeer maak aan die gebruik wat kommandante, veldkornette en assistentveldkornette gehad het om ander tydelik in hul plek aan te stel, aangesien die waarnemendes soms weer ander persone tydelik in húl plek aangestel het.
Vóór kmdt.genl. Louis Botha se herorganisasie in Oos-Transvaal in September en Oktober 1900 het 'n hekelkoerantjie op kommando met die oormaat offisiere en onderoffisiere gespot. In September 1900 skryf die redakteur dat daar in Middelburg 'n veldkornetskap is wat bestaan uit 17 veldkornette, 41 korporaals en twee manskappe.
Na regte behoort 'n veldkornetskap in die guerrillafase te bestaan het uit 100 tot 200 man, met korporaalskappe onder hom, elk met nie meer as 15 man nie.
In Januarie 1901 het kmdt. N. Grobler van Standerton probleme ondervind met 'n burger van bykans 70 jaar, ene W.J. Dietrichsen, wat hom met drie manskappe onder hom as veldkornet voorgedoen het en geweier het om van sy rang afstand te doen. 'n Maand later het ook burger Roland Schikkerling naby Middelburg in sy dagboek geskryf van 'n offisier met minder as 12 man onder hom wat weier om sy rang prys te gee.
Maar andersom het ook gebeur. 'n Kollega by Unisa was sielsongelukkig omdat 'n senior kollega van ons sy aanspraak dat sy oupagrootjie 'n generaal was, as onsin afgemaak het. Nadat albei kollegas oorlede is, het ek tragies genoeg vasgestel daar wás so 'n generaal.
So, wat maak die navorser en die nasate hiervan? Jy bevind jou in 'n doolhof met menige aansprake op offisierskap, toe al, en tans. Geen wonder Jacques Malan se selfopgelegde taak in 1990, om 'n boek oor die Boere-offisiere van die Anglo-Boereoorlog te skryf, was 'n bykans onmoontlike onderneming nie.
Ons gaan nie duskant die sipresse al die antwoorde hê nie. Maar as u inligting oor u familie het, hoor ek graag daarvan.
Prof. Fransjohan Pretorius is 'n kenner van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, met 'n fokus op die Anglo-Boereoorlog. Volg sy werk hier.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.