Drie hoera’s vir die Afrikaner-middelklas
'n Lansie te breek vir die Afrikaner-middelklas.
In Suid-Afrika is daar, myns insiens altans, 'n oordrewe klem op sekere groepe ten koste van ander groepe. Ek weet wat jy dink, maar lees gerus aan.
Meeste politieke partye en burgerlike organisasies rig al hul aandag op die armes, waarvan daar uiteraard miljoene is. Sowat 'n derde van die land se mense leef van een of meer regeringstoelaag en miljoene in huise wat deur die staat verskaf is. Dit maak polities en moreel sin vir politici en invloedrykes (of net rykes) om hul gewetes te salf deur die armes minstens retories voorop te stel. Selfs al is daar miljoene arm wegblyers op elke hedendaagse stemdag, help hulle steeds die ANC om in die algemeen en op verskeie regeringsvlakke in beheer te bly.
Andersyds is daar in Afrikaner- (en veral regse) kringe weer 'n beheptheid met boere en veral die veiligheidsituasie en grondgrype op die platteland. Ons hoor gereeld hoe hul veiligheid en welstand geprioritiseer moet word want hulle verseker voedselsekerheid. Daar is immers ook 'n emosionele komponent hier betrokke, aangesien Afrikaners in den breë 'n spontane, hartstogtelike en geskiedkundige liefde vir plase, grond, en die platteland en sy mense koester.
My doel met hierdie artikel is om bloot ekonomiese waarhede en broodnodige konteks aan hierdie skynbare eenogigheid te verleen. Ek wil ook die onontbeerlike rol van veral die stedelike Afrikaner-middelklas uitlig want, wel, niemand anders doen dit nie. Dit is immers 'n groep wat tot 'n groot mate die ekonomie aan die gang hou deur middel van hul belasting, vaardighede en werkskepping. Ek is ook nie 'n buitestaander-wat-inloer nie. Ek is deel van hierdie groep en ken hul angs, hul uitdagings en hul bydraes.
Om 'n paar heilige koeie te slag
Ofskoon landbou inderdaad belangrik is vir die land, maak dit tans 'n weglaatbaar klein deel van die Suid-Afrikaanse bruto binnelandse produk (BBP) uit. Minder as 3% om presies te wees. Kom ons wees eerlik: Boerdery is 'n besigheid en die gewone ekonomiese reëls van vraag en aanbod geld. Boere produseer wat vir hulle winsgewend is en nie bloot (en gratis) om honger mae te voer en onnodige werk te skep nie. Landbou maak, weens onder andere tegnologiese vooruitgang en stygende insetkostes, op regstreekse en indirekte wyses 'n dalende en betreklik klein deel (minder as 20%) van die werksmag in Suid-Afrika uit. Werkskepping is ook nie hoekom meeste pleitbesorgers hulle so hard vir Afrikaner-boere beywer nie.
'n Massiewe segment van die produkte wat boere produseer, word ook uitgevoer. Dit beteken meer geld vir hulle en die staat. Dis goed so. Indien die geld reg aangewend word, baat dit die breër samelewing. Behalwe vir belasting, doen boere opsluit ook baie vir landelike opheffing.
Tog is grond en die meegaande geriewe (soos huise) en boerdery dikwels tussen geslagte oorgedra en dit het menigte hedendaagse boere ryk gemaak sonder die moeite en opoffering van vroeëre geslagte. Ek en meeste ander Afrikaners het nooit grond geërf nie en moes op ander (waarskynlik meer moeisame) maniere 'n bestaan maak en self meeste van ons bates aanskaf. Baie van ons is die eerste of tweede middelklasgeslag in ons families.
Oor na die armes. Armoede is 'n komplekse verskynsel wat dikwels deur politici vir hul eie gewin uitgebuit en vereenvoudig word. Apartheid, kolonialisme en kapitalisme is gerieflike sondebokke – nie sonder meriete nie, maar so eenvoudig is dit nooit nie. Die armes en veral werkloses het boonop groot politieke nut vir politici. Die moderne welsynstaat in Suid-Afrika en elders het 'n groot groep afhanklikes geskep wat deur die staat onderhou (beheer?) en retories bejammer moet word.
In der waarheid het die armes nie werklike nut vir die ekonomie en land nie. Hul produktiwiteit is laag, hulle betaal weinig of geen belasting nie en is eerder verbruikers van belasting. Toelaes keer juis miljoene van hulle (kinders en pensioentrekkers uiteraard uitgesluit) om te werk om sodoende in hul eie behoeftes te begin voorsien. Ek salueer die arm werkendes wat elke dag vroeg opstaan en ver reis om op 'n eerlike manier min geld te verdien. Dit is ook só dat baie van hulle bloot werk toe gaan om te dros, lyf weg te steek en by hul werkgewers te steel. Suid-Afrika betaal 'n duur prys vir die netto-effek van toelaes en mense wat voorregte as regte sien.
Een van die skreiendste aanklagte en ironieë in post-Apartheid Suid-Afrika is dat die ANC die armes met leuens vertroetel terwyl hulle hul onderwys en ander dienste verongeluk en hulle dan in haglike omstandighede sonder vooruitsigte los. Harde waarhede seëvier dus in die praktyk. Ek wag nog dat 'n politikus vir die armes vertel wat hulle moet doen om suksesvol te wees, eerder as wat hulle (alweer) vir die armes gaan doen.
Die vergete Afrikaner-middelklas
Terwyl daar 'n stigma aan veral Afrikaner-boere kleef omdat hulle as rassisties en begunstig beskou word, is dit nie “sexy” om oor stedelike Afrikaners te praat nie. Ons is te prosaïes. Boere mag dalk enersyds verguis word deur rasbehepte, linkse politici, maar hulle het andersyds 'n bykans fanatiese steunbasis onder segmente van die publiek, burgerlike samelewing en ander politici. Die armes word allerweë openlik gekoester terwyl hulle in wese as niks anders as stemvee of 'n speelbal beskou word nie. Daar word net van ons as middelklas-stedelinge verwag om hard te werk en leer, ons uitdagings stoïsyns te hanteer, ons kinders op te voed, werk te skep en getrou ons belasting te betaal. Met ander woorde, om soos die tipiese middelklas op te tree. Daar is 'n standaard vir ons wat skynbaar net nooit vir die armes geld nie.
Ek gaan nie voorgee dat ons in absolute hel lewe nie, maar ons het net soveel (indien nie meer nie) uitdagings as boere terwyl ons werklik aspireer om meer as net arm te wees. Afrikaners is ook grootliks 'n verstedelikte groep en lank nie meer oorwegend plattelands of boere nie. Trouens, Afrikaner-boere is 'n klein subsegment van die groter groep. 'n Aansienlike deel van die land se klein belastingsbasis wat inkomstebelasting (een van die vernaamste vorme van belasting) betaal, is middelklas-Afrikaners wat in stedelike omgewings woon. 'n Beduidende deel betaal tewens maatskappybelasting.
Ons is die ingenieurs wat allerlei infrastruktuur ontwerp, onderwysers wat skole aan die gang hou en daardeur die middelklas laat voortleef, groot rolspelers in die dienste- en vervaardigingsektore – die werklike enjins van die ekonomie – die prokureurs, die akademici, die bestuurders, die bouers, ambagslui en so gaan die lys aan. Ons is in stede, woongebiede en dorpe dikwels die hart van die klein- en middelslagondernemings en die kern van die verbruikers van dienste en goedere. Ons is dikwels die rede hoekom baie armes darem nog kan werk.
Ons risiko’s en probleme is veelsydig en uniek. Ondanks ons uitmuntende vaardighede, werksetiek en gebiedende meriete, word baie Afrikaners weens transformasie nie bevorder nie word nie, kan nie ander werk kry nie en sukkel om weer te werk as afleggings plaasvind. Ons is veelal diegene wat afdelings en maatskappye onder groot druk en sonder dank aan die gang hou. 'n Groeiende menigte van ons werk vir oorsese maatskappye omdat dit die enigste uitweg kort van emigrasie is. Anders as die swart middelklas, is die Afrikaner-middelklas lankal 'n gerealiseerde een wat nou onder druk verkeer. Dit beteken ons is middelklas, nie danksy duur staatsindiensneming nie, maar weens verwerfde vaardighede en kwalifikasies. As ons deur die kleurslagboom gekeer word om te werk of vorder, word ons enigste bate ondermyn of verbeur. Ons het nie grond om te verkoop nie.
Met alle respek aan die armes, stem stedelike middelklas-Afrikaners ook nie vir partye wat hul lot gaan vererger nie. As jy regtig ernstig is oor werk en om jou persoonlike potensiaal en dié van jou kinders te verwesenlik, gaan jy dit nie regkry deur vir die ANC, MK of EFF te stem nie. Ondanks hierdie weiering, leef ons in baie gevalle met die gevolge van die armes se stemkeuses saam. En as jou ambisie net so ver soos jou volgende toelaag-uitbetaling strek, is dit al wat jy te wagte in die lewe kan wees. Die staat kan jou nie verder daarmee help nie.
Ons het ook met diensleweringsprobleme te kampe en stygende insetkostes soos krag en water plaas druk op winsmarges en beleërde huishoudings. Sommige Afrikaners is weliswaar die eienaars en bestuurders van groter ondernemings wat wel 'n plan kan maak om hierdie uitdagings te bowe te kom, maar vir die hordes kleiner ondernemings in Afrikaner-besit is dit veel moeiliker en duurder om te oorkom. Misdaad is daarbenewens en by uitstek 'n reuse kopseer in stedelike gebiede en behalwe vir bykomende veiligheidsmaatreëls, is dit gewoonlik middelklas-Afrikaners wat patrollie ry en dit op ander maniere bekamp.
En tog word daar op innoverende en verskeie maniere planne gemaak. Dit is juis hoekom ek hierdie lansie namens hierdie groep mense breek. Hulle kla wel, maar beur terselfdertyd voort terwyl niemand hul moeite en uitdagings werklik raaksien of waardeer nie. Ander groepe soos wit Engelssprekendes en die Indiër-gemeenskap se bydraes moet nie geringskat word nie, maar in die lengte en breedte van Suid-Afrika het niemand dieselfde impak as Afrikaners in stede en dorpe nie.
Dis nie dat boere 'n geringe bydrae tot die land lewer of dat hul situasie nie aandag verg nie. Droogtes, veiligheidsvraagstukke en onbillike persepsies is slegs sommige van hul wesenlike uitdagings. Daar is egter 'n oorgroot klem in Afrikaner- en landbougeledere op boere se lot terwyl die meeste Afrikaners nie boere is nie. Ons produseer in wese als van waarde in hierdie land. Selfs ten aansien van kos, speel ons 'n sleutelrol in die waardeketting as verspreiders, verwerkers, verkopers en uiteindelik ook verbruikers. Verder subsidieer ons die armes deur die staat se toelaes te finansier en werk te verskaf in 'n land waar tweederdes van die bevolking reeds verstedelik is. Vir boere, die armes en die land is ons onontbeerlik.
Dis tyd dat dit erken word en dat Afrikaner-boere net soveel erns met ons maak as wat ons met hulle het. Laastens beteken staatsaalmoese niks vir armoedeverligting sonder opheffing tot selfstandigheid nie.
Dr. Brink is 'n sakekonsultant, entrepreneur en ontleder van die Paarl.
Nog artikels deur Eugene Brink:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.