Geskiedenisbrokkies met OntLaer: Militêre Attachés In Die Anglo-Boereoorlog
Buitelandse belangstelling oor Boer en Brit.
Die Anglo-Boereoorlog is met belangstelling in militêre kringe in die buitewêreld gevolg.
Ten einde die militêre situasie in Suid-Afrika te ontleed en tot eie voordeel te benut, het verskeie neutrale regerings gevolglik met toestemming van die Britse en Boereregerings militêre attachés met pen in die hand hierheen gestuur. Hulle is verbied om by die onderskeie gevegsmagte se besluitneming betrokke te raak.
Ses militêre attachés het einde November 1899 in Kaapstad geland om die Britse magte te vergesel. Hulle was maj. A.G.L. d’Amade (Frankryk), maj. D.A. Gentilini (Italië), lt.kol. P.A. Stakhovitch (Rusland), en kapts. A. von Lüttwitz (Duitsland), S.L’H. Slocum (VSA) en R. Trimmel (Oostenryk). In Desember het hulle na die Natalse front vertrek, waar majs. A. Bey (Turkye), Don Estaban y Larzabal (Spanje) en H. Hiraoka (Japan) by hulle aangesluit het.
'n Paar militêre attachés het die Boeremagte vergesel. Hier het hulle meer vryheid van beweging geniet as hul kollegas by die Britte, en selfs krygsrade bygewoon. Lt.kol. V.J. Romeko-Gurko van Rusland het die hoogste rang onder hulle beklee.
Kapt. M.G. Demange en lt. R. Raoul-Duval het Frankryk verteenwoordig, kapt. Carl Reichmann die VSA, kapt. J. Allum Noorweë, kapt. J.H. Ram en lt. L.W.J.K. Thomson die Koninklike Nederlandse leër, en lte. C.J. Asselbergs en M.J. Nix die Koninklike Nederlands-Indiese leër.
Opvallend was daar dus vier Nederlanders by die Boere, maar geen Nederlander by die Britse magte nie. Praat van 'n pro-Boer-onderrok wat uithang!
Soos die Britse bevelvoerder, lord Roberts, het die militêre attachés gereken dat die Britse besetting van Pretoria op 5 Junie 1900 die einde van die oorlog beteken het, en dat slegs 'n paar opruimingsaksies nodig was.
Die militêre attachés by die Boeremagte het gevolglik die Boere ná die Slag van Bergendal (21-27 Augustus 1900) verlaat. Dis jammer, want hul verslae sou waardevolle inligting oor die Boere-optrede in die guerrillafase – die laaste twee jaar van die oorlog – verskaf het.
Een attaché het nie teruggekeer nie – lt. Nix, wat op 31 Maart 1900 dodelik in die rug by die Slag van Sannaspos gewond is en in Bloemfontein gesterf het.
Die navorser kan heelwat put uit die verslae van die militêre attachés by die Boeremagte. Sonder uitsondering is die burgers se gebrek aan militêre dissipline vir hulle verbysterend. Ram het aangedui dat 'n gesagsbegrip glad nie of byna glad nie bestaan het nie. Dissipline, soos dit in die Europese leërs bekend was, het ontbreek. Reichmann het geskryf dat die wette om dissipline af te dwing, wel bestaan het, maar dat dit nie van die begin af, toe dit nog goed gegaan het, toegepas is nie, en dat daar nie gewaag kon word om hierdie beleid te verander toe die oorlogsgety gekeer het nie. Hy het bygevoeg: “Having complied with the law calling him into the field, [the burgher] yielded cooperation, not obedience.”
Ander nuttige aspekte waarna die militêre attachés gekyk het, was byvoorbeeld die Boere se gewere, laers, en hul godsdiens. Reichmann het ietwat oordrewe verklaar dat “a deep, sincere religious sentiment permeated the whole nation.”
Sommige van die verslae is gepubliseer – uiters leesbare stof!
Prof. Fransjohan Pretorius is 'n kenner van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, met 'n fokus op die Anglo-Boereoorlog. Volg sy werk hier.
Nog artikels op OntLaer:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.