Geskiedenisbrokkies met OntLaer: Die Krysgevangeneming en Ontsnapping van Winston Churchill
Roem en faam, wolhaar en al.
Op 15 November 1899 is Winston Churchill tydens die Anglo-Boereoorlog krygsgevange geneem. 'n Maand later het die ontembare Engelsman uit Pretoria ontsnap.
As 24-jarige korrespondent van die Morning Post het Churchill na die oorlogstoneel in Suid-Afrika gekom. Aan die Natalse front vergesel hy op 15 November 1899 kaptein Haldane en 164 man op 'n verkenningstog met 'n gepantserde trein van Estcourt in die rigting van Colenso.
Op die terugtog, suid van Chieveley-stasie en teen 'n afdraande, vuur die Boere met twee kanonne op die trein. Soos verwag, gee die masjinis stoom, en jaag om die draai in rotsblokke vas wat genl. Louis Botha met die Krugersdorp- en Wakkerstroomkommando’s op die spoor geplaas het. Die drie trokke voor die lokomotief ontspoor.
Die avontuurlustige Churchill neem onder 'n haelbui van koeëls en bomme die leiding oor by kapt. Haldane. Met die uiterste inspanning sorg hy dat die lokomotief uiteindelik die ontspoorde trokke uit die pad stamp, en daar gaan die trein. Van die Dublin Fusiliers en Durban Light Infantrymen wat langs die trein hardloop, raak agter, en word krygsgevange geneem. Churchill spring van die trein af om weer te gaan veg. 'n Boer te perd rig sy geweer op hom, en hy het geen ander keuse as om te hêndsop nie.
Daar was later verskeie aanspraakmakers daarop dat hulle Churchill gevange geneem het. Danie Theron het egter alle onsekerheid uit die weg geruim deur in 'n telegram aan staatsekretaris F.W. Reitz te meld dat dit vk. Sarel Oosthuizen was. Churchill dring vergeefs daarop aan om vrygelaat te word. Hy beweer dat hy 'n ongewapende oorlogskorrespondent is. Hy swyg dat hy sy Mauserpistool tydens die geveg in die trein vergeet het.
Die krygsgevange Britse offisiere word in die Staatsmodelschool op die hoek van Van der Walt- en Skinnerstraat in Pretoria aangehou. Vandag nog is daar 'n kaart wat hulle van Ladysmith geteken het teen een van die mure. Al gou beplan Churchill om te ontsnap. Die aand van 12 Desember is dit sulke tyd. Met die wagte 'n bietjie laks, wip hy oor die muur tot in 'n tuin langsaan en stap rustig by die hekkie uit in Skinnerstraat.
Hy steek die Apiesrivier by 'n brug oor (dis 'n wolhaarstorie “that he swam the mighty Apies”). Nadat hy 'n paar uur al langs die Delagoabaaispoorweg gestap het, spring hy op 'n stadig bewegende trein, rigting Lourenço Marques (vandag Maputo). Later in die nag spring Churchill af uit vrees dat die Boere die trein sal deursoek. Met sy geluk stap hy die volgende aand toevallig reguit na die huis van 'n Britse bestuurder van 'n steenkoolmyn. Dié versteek hom 'n paar dae lank in 'n mynskag, waarna hy weer sonder kaartjie tussen wolbale 'n trein na Lourenço Marques haal.
In Durban gekom, word hy soos 'n held verwelkom. Hy sluit by die South African Light Horse aan, en in Januarie 1900 bevind hy hom as luitenant en korrespondent weer aan die Natalse front. Hierdie insident, soos vertel in sy boek London to Ladysmith via Pretoria, het hom op die pad na roem geplaas – uiteindelik as Britse eerste minister.
Nog artikels deur Fransjohan Pretorius:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.