Geskiedenisbrokkies met OntLaer: John Macbride, die Boere-Ier
Die interessante verhaal van John Macbride
Vir my was dit nog altyd aangrypend om presies op die plek te staan waar 'n geskiedkundige gebeurtenis plaasgevind het. Dan leef ek my behoorlik in die geskiedenis in. Die ysterkruis wat opgerig is waar John McBride in 1916 met die Paasopstand in Ierland tereggestel is, is so 'n plek. MacBride, die Boere-Ier.
MacBride is in 1868 in Westport, Ierland, gebore. Teen 1895 vestig hy hom in Johannesburg in die Zuid-Afrikaansche Republiek as monsternemer by die Langlaagte-goudmyn.
Ierse nasionaliste kan nogal vurig anti-Brits wees. Dit wek dus geen verbasing nie dat MacBride help om op 1 Oktober 1899 'n “Ierse Brigade” onder die Witwatersrandse mynwerkers op te rig. Hulle doel is om die Boere in die dreigende oorlog teen Brittanje te ondersteun. MacBride word as majoor in bevel van die “1ste Ierse Brigade” van 40 man aangestel.
Die “Ierse Brigade” opereer in die eerste maande van die Anglo-Boereoorlog aan die Natalse front. Op 15 Desember veg hulle onder genl. Louis Botha in die Slag van Colenso teen die 5de (Ierse) Brigade van genl.maj. Hart. MacBride se perd word tydens die slag onder hom doodgeskiet.
Nadat lord Roberts Johannesburg op 31 Mei 1900 ingeneem het, hou MacBride-hulle al vegtend die pad vir die Boereterugtog na Pretoria oop.
Die meeste buitelandse vrywilligers het ná die Britse besetting van Pretoria op 5 Junie 1900 verkas. MacBride en sy brigade het nog saam met die Transvaalse magte ooswaarts geretireer, en in Oktober via Lourenço Marques (vandag Maputo) huiswaarts gekeer.
MacBride het in Parys, Frankryk, gaan skuil om nie in die Brits-beheerde Ierland moeilikheid te kry nie. In 1905 is hy toegelaat om na Dublin terug te keer. Hier het hy noue bande gesmee met die Ierse Separatistiese Beweging wat onafhanklik van Brittanje wou wees.
Die Ierse separatiste het van die Eerste Wêreldoorlog gesê: “Brittanje se verleentheid is Ierland se geleentheid.” Toe die Ierse Opstand op Paasmaandag 24 April 1916 uitbreek, was MacBride tweede in bevel van die opstandelinge by Jacob’s Cookie Factory in Dublin.
Maar binne ses dae – nog vinniger as die Afrikanerrebellie van 1914 – is die opstand onderdruk, en die leiers in Kilmainham-tronk in Dublin gesmyt. Daar is 14 van hulle tussen 3 en 12 Mei 1916 een ná die ander in die ontspanningsvierkant van die tronk deur 'n vuurpeloton tereggestel.
Op 5 Mei was dit MacBride se beurt. Hy het voor die vuurpeloton stelling ingeneem en geweier om geblinddoek te word. Ongeduldig het hy gebulder: “I have looked down the muzzles of too many guns in the South African War to fear death and now please carry out your sentence.”
Daar het ek en ons seun Nicolaas in Julie 2017 in die ontspanningsvierkant van Kilmainham-tronk gestaan – by die ysterkruis waar Sean MacBride gestaan het toe hy tereggestel is.
Die Boere het MacBride as 'n dapper man met groot morele krag beskou. In Ierland het hy 'n martelaar vir die Ierse bevryding geword.
MacBride was getroud met die aantreklike Maud Gonne, 'n Ierse rewolusionêre, vrouestemregaktivis en aktrise. Ironies genoeg was hul seun, Seán, as stigterslid van Amnestie Internasionaal en verskeie ander organisasies, 'n doring in die vlees van die Suid-Afrikaanse apartheidregering.
Prof. Fransjohan Pretorius is 'n kenner van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, met 'n fokus op die Anglo-Boereoorlog. Volg sy werk hier.
Nog artikels deur prof. Fransjohan Pretorius:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in: