Repliek: "Ons geskiedenis het ons gevorm – ook ons kerkverband"
Hoofsekretaris van die Afrikanerbond, Jan Bosman, reageer op 'n artikel van Ds. Andre Bartlett.
In die 6 Junie 2025 uitgawe van OntLaer skryf Ds. Andre Bartlett oor Afrikaans100 en vra die vraag: Hoekom so verknog aan die verkeerde verjaardae? As deel van die agtergrond in die artikel word die Afrikanerverklaring van 22 April 2024 en sy doelwitte ook gekritiseer.
Die Verklaring is terloops in Afrikaans, Engels, Xhosa, Pedi, Zoeloe en Tswana beskikbaar. Omdat ek en die organisasie waarby ek betrokke is ondertekenaars is van die Verklaring en aktiewe deelnemers was aan die proses van die opstel daarvan, het ek gewik en weeg oor die wenslikheid van 'n reaksie.
Soveel grondwetlike onverdraagsames het al hulle mening uitgespreek en baie is reeds geskryf oor die Verklaring. Sommige wil eenvoudig nie insien dat Afrikaners 'n grondwetlike reg het en as gemeenskap die regte kan uitspreek en uitoefen nie. Andere beskou hulself as Afrikaners, maar slegs as en wanneer dit hulle pas. Andere kan nie gou genoeg afstand kry tussen hulself en om die Afrikanerbelang op die hart te dra nie.
Die geskiedenis praat steeds
As Afrikaners is ons geskiedenis belangrik en vorm dit een van die hoekstene van ons kulturele identiteit. Ek ken Ds Bartlett nie en het hom nog nie ontmoet nie. Ek verstaan dat sy kerklike bemoeienis dalk ander prioriteite vir hom bepaal. Ek het wel heelwat van sy kerklike kollegas ontmoet by van die vele gesprekke oor Afrikanerkwessies en ook in verskeie vergaderings met die ANC en die regering. Dalk sou Ds. Bartlett dan 'n ander en dieper begrip kon oorweeg in verband met die kwessies wat vir hom en vir ons belangrik is.
Ds. Bartlett het die geskiedenis van Afrikaans breedweg goed saamgevat en is heeltemal korrek met die aanname dat Afrikaans nie 'n witmanstaal is nie. Dit word ook nêrens deur enige van die Afrikanerorganisasies - waarvan ek bewus is - so gestel nie. Dit is ook om hierdie rede dat ons oor baie jare heen betrokke was by die saamstel van 'n oorhoofse Afrikaanse Taalraad wat Afrikaans se belange bevorder en op die hart dra. Dit doen ons saam met die breë Afrikaanse gemeenskap en in belang van Afrikaans.
Die Afrikanerverklaring fokus op 12 kernsake:
Afrikaners is 'n inheemse kultuurgemeenskap verbind aan Afrika.
Ons wil hier bly en tot die welstand van die land en al sy mense bydra.
Samewerking is in die belang van almal se vryheid, veiligheid en voorspoed.
Ons bou om in Suid-Afrika te bly.
Kulturele vryheid is ʼn voorwaarde vir demokratiese vryheid.
Ons onderskryf die gelykwaardigheid van alle gemeenskappe.
Die verlede moenie ons almal se toekoms vernietig nie.
Die Grondwet erken die strewe na grondgebied.
Ons onderskryf eenheid in verskeidenheid.
Dit is vir ons nodig om inspraak by die owerheid te kry.
Ons wil bydra tot die ekonomiese bemagtiging van alle Suid-Afrikaners.
Ons wil 'n kultuurverdrag met die regering sluit om hierdie sake vas te stel.
Verskillende organisasies werk op verskillende terreine met 'n eie fokus om sommige van hierdie sake te bevorder. Ek glo meeste Afrikaners kan met meeste van die kernsake hierbo assosieer. Hiermee verklaar Afrikaner organisasies wel hulle diepe verbintenis tot die land en sy mense. Dit is nie 'n poging om te verdeel of om eksklusief te wees nie.
Dit is egter ironies dat Ds. Bartlett homself aan die einde van die artikel beskryf as 'n “lid van die uitvoerende komitee van die Defend Our Democracy-beweging en 'n afgetrede predikant van die NG Kerk.”
Met die stigting van Defend our Democracy is dit beskou as 'n samekoms van individue uit verskillende agtergronde en organisasies wat noue bande met die ANC het, asook ANC-veterane. Niks het intussen hieraan verander nie. Sou Defend our Democracy ook proaktiewe inisiatiewe kritiseer wat ander kultuurgroepe in die land na aan die hart lê? Tradisionele leiers word deur die Grondwet erken en kry selfs amptelike befondsing. Niemand kla daaroor nie, maar wel wanneer Afrikaners op 'n geformaliseerde wyse uiting gee aan frustrasies en dit so verwoord.
Wat kerkverband betref…
Die ironie is egter dat Ds. Bartlett homself ook duidelik uitdruk as 'n afgetrede predikant van die NG Kerk. Dit verdien tog verdere aandag. Die Afrikaanse Susterkerke, soos die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), die Nederduitsch Hervormde Kerk (NHK), en die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA), sowel as die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) deel 'n gemeenskaplike Calvinistiese erfenis, maar verskil in hul benaderings tot kerkeenheid. Hierdie verskille spruit uit geskiedkundige, kulturele en teologiese faktore, maar die soeke na kerkeenheid bly 'n komplekse uitdaging, met wisselende grade van sukses in pogings om gemeenskaplike gronde te vind. Ds. Bartlett vind dit egter voldoende om Afrikaners wat hulself tuis vind in hul geskiedenis en Europese verlede te kritiseer, maar dit is wel goed genoeg vir kerke en hul geskiedenis. Is dit nie maar 'n bietjie soos die pot wat die ketel verwyt omdat hy swart is nie? Ons laat ons nie uit oor kerksake nie, maar verwelkom wel die kerk se menings en deelname in kwessies wat sy lidmate wat ook Afrikaners is, raak.
Ds. Bartlett leef dalk in 'n idealistiese omgewing en het daarom die luuksheid om vanuit die hoogtes te preek. Vir Afrikaners wat meer pragmaties en realisties is en wat elke dag gemoeid is met die uitdagings van ander Afrikaners is dit 'n ander saak.
Die pas aangekondigde Nasionale Dialoog van President Cyril Ramaphosa erken die diversiteit van Suid-Afrika. Dit is 'n belangrike vertrekpunt vir die kulturele, taal en geloofsverskeidenheid van die land. Ons sal wel die uitdaging van die Nasionale Dialoog aanvaar om saam te soek na 'n gemeenskaplike visie vir Suid-Afrika en ook meewerk aan wat dit beteken om 'n Suid-Afrikaner te wees. Daarmee doen ek egter nie afstand van Afrikanerskap nie.
Trouens, ons moet die omstandighede help skep waarin ek beide 'n volwaardige Suid-Afrikaner en Afrikaner kan wees wat in Afrikaans kan kommunikeer en waarin ons ons kinders kan onderrig. Eers dan kan daar werklik gepraat word van eenheid deur diversiteit. Die oplossing lê beslis nie in kulturele assimilasie en afstanddoening van 'n gemeenskap se geskiedenis nie.
Dit sou kulturele selfmoord wees.
Nog artikels oor Afrikaans100:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
Wil jy stukke soos dié direk in jou inboks ontvang en ons werk ondersteun? Teken hieronder in:
Dankie vir dié repliek.
Ek sit graag die gesprek voort.