Graaff‑Reinet: Dis oor meer as net die naam
Kan 'n 240-jaar-oue naam met een handtekening uitgewis word?
Graaff‑Reinet is een van Suid‑Afrika se mees geskiedkundig waardige en kultuurrykste dorpe. Dis nie 'n mening nie. Dis 'n feit.
Die dorp is in 1786 gestig en na die Kaapse goewerneur, Cornelis Jacob van de Graaff en sy vrou, Cornelia Reinet, vernoem. Meeste van ons weet ook dat dit tans die vierde‑oudste dorp in die land is. Die dorp se geskiedenis strek oor meer as 200 jaar en sluit sleutelgeleenthede en figure in wat die ontwikkeling van Suid‑Afrika se sosiale en politieke landskap beïnvloed het.
Die dorp huisves meer nasionale monumente as enige ander stad of dorp in die land, wat sy status as geskiedkundige skat versterk. Onder hierdie erfenisstrukture staan die NG Groot Kerk, 'n indrukwekkende kerkgebou wat die argitektoniese styl van Engeland se Salisbury‑katedraal weerspieël. Die sandsteen wat as boumateriaal gebruik is, kom uit Adendorp (sowat 8 km buite Graaff-Reinet) en weerspieël die streek se geologiese rykdom en versteende geskiedenis. Hierdie sandsteen gee die kerk sy kenmerkende kleur, tekstuur en duursaamheid, en is 'n regstreekse resultaat van plaaslike bronmateriaal wat verwerk is deur vakmanskap wat oor generasies ontwikkel is. Die kerkgebou dra dus die geskiedenis van gemeenskappe wat hier geleef en gevestig het, en bied 'n regstreekse aansluiting met die verlede wat ander dorpe nie maklik oor beskik nie. Dis een van die baie redes waarom mense eers in Kerkstraat, die hoofstraat, moet stop sodat hulle dié kerk kan afneem.
Naby die dorp lê die Camdeboo Nasionale Park, wat Graaff‑Reinet omring en waar besoekers die Vallei van Verlatenheid kan besigtig. Die natuurlike strukture, wat miljoene jare se geologiese ontwikkeling reflekteer, is 'n trekpleister vir baie toeriste wat die Karoo se wye landskappe wil ontdek, verstaan en waardeer.
Die dorp het ook ongeveer 220 erkende historiese geboue en monumente, meer as enige ander dorp in Suid‑Afrika, wat sy status as een van die land se mees betekenisvolle erfenisdorpe onderstreep. Die War Memorial, Anglo‑Boereoorlog Monument en Gideon Scheepers‑gedenkteken is maar net drie van die 220 wat jy kan besoek. Vanuit die toerisme- en ekonomiese bedryf se oogpunt beskou is dit duidelik dat die erfenis en natuurlike waarde van Graaff‑Reinet daarin gesetel is dat dit 'n belangrike Suid-Afrikaanse toerisme‑bestemming is.
Waarom dan die dorp se naam verander?
Naamsveranderinge en risiko
Onlangse regeringsbeslissings het egter 'n voorstel goedgekeur dat Graaff‑Reinet herdoop moet word na Robert Sobukwe Town, ter erkenning van die anti‑apartheid aktivis Robert Mangaliso Sobukwe, wat daar gebore is. Hierdie goedkeuring is deel van 'n reeks van 21 geografiese naamsveranderinge deur die minister van sport, kuns en kultuur Gayton McKenzie, wat nou in die Staatskoerant gepubliseer is.
Een van die mees kritieke bekommernisse is dat 'n naamverandering nie net 'n administratiewe verandering is nie, maar 'n potensiële bedreiging vir die ekonomiese en toeristiese‑invloede van die dorp. Graaff‑Reinet is nie net 'n naam op padborde van die volgende stilhouplek nie, dit is 'n handelsmerk wat reeds deur dekades van sake‑ en kultuurerfenis opgebou is. Om dit te verander beteken dat toerismemateriaal, digitale platforms, gidse en internasionale beskrywings ook hernu moet word. Hierdie proses se kostes word natuurlik nie net deur die plaaslike besighede en die gemeenskap gedra nie, dis ook die sake-eienaars en die toerisme-bedryf se verantwoordelikheid om seker te maak dat toeriste presies weet waar hulle geleë is – selfs al skuif hulle nie êrens heen nie. Dis 'n besondere uitdaging in 'n tyd waarin baie dorpe steeds ernstig sukkel met basiese infrastruktuur en ekonomiese stabiliteit.
Boonop toon navorsing en gesprekke met inwoners dat die meerderheid van die inwoners van Graaff‑Reinet nie die naamverandering wil hê nie en dat die bestaande naam 'n sentrale deel van hul samelewingsidentiteit is. In een studie het byna 84 persent van respondente aangedui dat hulle nie verkies dat die naam verander word nie, en dat die huidige naam waardeer word vir sy historiese betekenis eerder as om negatief beskou te word. Hierdie soort gemeenskapsverbintenis is nie iets wat met 'n enkele administratiewe besluit vervang moet word nie.
Graaff‑Reinet is nie alleen in hierdie debat nie. Ander plekke soos Oos-London, wat nou KuGompo City genoem word, het soortgelyke veranderinge ervaar as deel van die land se poging om koloniale en apartheid-era name te transformeer. Die South African Geographical Names Council (SAGNC) se amptelike data toon dat 1 505 geografiese name sedert die begin van die naamsveranderingsprosesse, verander of geregistreer is. Dit sluit dorpe, stede, riviere, berge, paaie, lughawens en ander geografiese kenmerke in.
Vanuit 'n breër konteks is dit duidelik dat naamsveranderinge deel is van 'n groter nasionale projek om die land se erfenis en kollektiewe identiteit te herstruktureer. Maar wat dikwels in hierdie prosesse ontbreek is die balans tussen die geskiedkundige waardering van bestaande name en die koste en implikasies van verandering. Dis nie hernuwing nie, dis vernietiging op verskillende vlakke.
Waarheen Nou?
Die debat oor die naam van Graaff‑Reinet moet oor meer as net erkenning en herdenking gaan. Dit moet die gemeenskapsstem, ekonomiese realiteite en die beskerming van 'n gevestigde toerisme‑merk insluit.
Die dorp se naam is meer as net 'n naam, dit verteenwoordig eeue se geskiedenis, verhale wat nog altyd vertel is, en 'n toerisme‑identiteit wat Suid‑Afrika met trots kan aanbied. As die dorp se naam verander, sal ek nie verbaas wees as die 220 erkende geskiedkundige geboue en monumente een-vir-een ook verwyder gaan word nie. Ek sal dink oor die nuwe naamlys vir Camdeboo Nasionale Park en Vallei van Verlatenheid. En ek sal ook begin wonder oor die beiteltjie wat daarin sal slaag om die sandsteen van die Groot Kerk stukkie-vir-stukkie af te kap.
Daar is meer as een manier om erkenning aan mense te gee en mense te vereer, maar om Graaff-Reinet se naam te verander is nie een daarvan nie.
Hilde Kruger is 'n grafiese en multimedia-ontwerper, skrywer en bemarker met 'n sterk fokus op strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling.
Nog artikels deur Hilde Kruger:
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
Bronne:
Graaff‑Reinet Tourism. (n.d.). About Graaff-Reinet. Graaff-Reinet Tourism. https://graaffreinet.co.za/about
Graaff‑Reinet Tourism. (n.d.). Monuments – Graaff-Reinet. https://graaffreinet.co.za/activities/monuments
SanParks. (n.d.). Cultural heritage – Camdeboo National Park. https://www.sanparks.org/parks/camdeboo/explore/cultural-heritage
Wikipedia. (2026). Camdeboo National Park. https://en.wikipedia.org/wiki/Camdeboo_National_Park
Wikipedia. (2026). Valley of Desolation (South Africa). https://en.wikipedia.org/wiki/Valley_of_Desolation
Wikipedia. (2026). Graaff-Reinet. https://en.wikipedia.org/wiki/Graaff-Reinet
Graaff-Reinet Advertiser. (2026, 29 Januarie). Graaff-Reinet set to become Robert Sobukwe Town following ministerial approval. https://www.graaffreinetadvertiser.com/News/Article/Local-News/graaff-reinet-set-to-become-robert-sobukwe-town-following-ministerial-approval-
Graaff-Reinet Advertiser. (2026, 3 Februarie). DA demands answers over Graaff-Reinet name change. https://www.graaffreinetadvertiser.com/News/Article/Local-News/da-demands-answers-over-graaff-reinet-name-change
Briefly. (2026). VF urges South Africans to ignore Graaff-Reinet name change. https://briefly.co.za/south-africa/235017-vf-urges-south-africans-ignore-graaff-reinet-change
BizNews. (2026). Graaff-Reinet residents reject name change proposal. https://www.biznews.com/news/graaff-reinet-residents-reject-name-change
Club of Mozambique. (2026). 85 towns in South Africa hit with name changes. Geraadpleeg op 10 Februarie 2026, van https://clubofmozambique.com/news/85-towns-in-south-africa-hit-with-name-changes
Wikipedia. (2026). South African Geographical Names Council. https://en.wikipedia.org/wiki/South_African_Geographical_Names_Council









