Die Tydlose Stryd om Kreatiewe Eienaarskap
Van hamburgers en ruitveërs tot algoritmes.
Baie van ons weet dat McDonald’s oorspronklik in 1940 deur die broers Richard en Maurice McDonald begin is en bekend geword het vir die ontwikkeling van 'n eenvoudige, maar revolusionêre kitskos-opdienstelsel.
Ray Kroc, 'n verkoopsman, het die potensiaal raakgesien en die broers in 1961 vir 2,7 miljoen dollar uitgekoop, deur middel van 'n mondelinge ooreenkoms geskoei op 'n 1%-tantième wat nooit nagekom is nie. As deel van die ooreenkoms is die broers boonop verbied om nuwe restaurante te open of die McDonald-naam te gebruik.
'n Ander soortgelyke storie is dié van Robert Kearns, die Amerikaanse ingenieur wat in die 1960’s die onderbroke ruitveër geskep het. Hy het later sy lewe daaraan toegewy om dié uitvinding te beskerm, deur teen Ford en ander motorvervaardigers te baklei, omdat hulle sy uitvinding gebruik het sonder om hom daarvoor te vergoed.
Hierdie twee verhale toon duidelik dat die uitbuiting van mense se idees nie 'n hedendaagse probleem is nie, maar 'n patroon wat deur die onlangse geskiedenis herhaal. In albei gevalle het skeppers met oorspronklike, baanbrekende idees nie oor dieselfde mag, regskennis of sake-infrastruktuur beskik as diegene wat die idees uitgebou en gemonetiseer het nie. Dit bewys weereens dat 'n goeie idee op sy eie nie goed genoeg is nie en dat beskerming, kontrakte en mag dikwels bepaal wie uiteindelik die vrugte daarvan sal kan pluk.
In die huidige tydsgewrig van digitale media, platforms en algoritmes is die bestaansreg en beskerming van kreatiewe werk onder groter druk as ooit tevore. Tradisionele kuns en biografiese narratiewe het lank reeds getoon dat artistieke eienaarskap nie bloot 'n estetiese of ekonomiese kwessie is nie, maar 'n diepgaande regs- én morele stryd oor kreatiewe agentskap, outeurskap en die reg op geskiedkundige erkenning.
Tans staar ons 'n nuwe era van digitale generatiewe kuns in die oë, en kan ons selfs kunsmatige intelligensie (KI) as die nuwe Ray Kroc begin sien.
Die waarheid agter die oë: Hoe Margaret haar reputasie teruggevind het
Margaret Keane (1927–2022) was 'n Amerikaanse kunstenaar wat bekend is vir haar ikoniese figure met groot, uitdrukkingryke oë. In die 1950’s en 60’s het haar destydse man, Walter Keane, as die kultuur-ikoon van hierdie werk na vore getree terwyl hy in werklikheid Margaret se junswerkte openlik as sy eie toegeëien het.
Ná hul egskeiding het Margaret vir Walter gedagvaar, en beweer dat sy die werklike skepper is van die “big eyes”-skilderye en dat Walter haar reputasie en inkomste gesteel het. In 'n vonnis het die hof 'n retoriese paint-off gereël, waarin albei partye gevra is om skilderye in die ikoniese styl van “big eyes” in die hof te voltooi. Margaret het sonder enige huiwering haar skildery voltooi, waarop Walter geweier het en sy “seer skouer” as verskoning gebruik het. Die hof het Margaret Keane erken as die kuns-eienaar en ten gunste van skadevergoeding beslis.
Die kompleksiteit van die Keane-sake lê in die vraag oor wie die kreatiewe opset en uitvoering werklik oor beskik het en hoe hierdie kreatiewe beskikking deur kopiereg en publieke reputasie versterk word. Hierdie saak het nooit net oor die tegniese herskepping gegaan nie, maar oor die erkenning van werklike kreatiewe eienaarskap: Wie skep die werk en wie het die reg om dit aan die mark en die publiek te bied?
Wanneer handelsmerke en geskiedkundige waarhede bots
In teenstelling met 'n kunsregte-stryd is McDonald’s se regsverlede oor die jare gekenmerk deur handelsmerk- en handelspraktyksake. Die 2016-film The Founder dramatiseer die verhaal van Ray Kroc, wat die McDonald-broers se eenvoudige hamburger-winkel in 'n wêreldwye korporasie omskep het. Die film fokus op die morele en etiese konflik rondom wie die stigter van McDonald’s regtig was en hoe winste en eienaarskap verdeel is.
Daar is egter nie 'n groot hofsaak rakende die oorspronklike verhale van The Founder in terme van kopiereg of biografiese lisensie regte nie. Die mees relevante regsprobleme vir McDonald’s was tradisionele handelsmerk-konflikte, soos byvoorbeeld McDonald’s se suksesvolle en mislukte pogings om teen ander ondernemings se gebruik van verwante name of handelsmerke op te tree. Die dramatiese voorstelling van die saak, eerder as 'n formele regsgeding, beklemtoon 'n kernprobleem in ons kultuur: Wie besit die reg om die narratiewe te bepaal wat die openbare indruk kan vorm? In hierdie geval wys dit hoe 'n korporatiewe groei-verhaal in 'n Hollywood-biografie dramaties vertel kan word, selfs al strook dit nie met die geskiedkundige feite nie.
Met die opkoms van generatiewe KI-tegnologieë soos Midjourney en Stable Diffusion het nuwe regsuitdagings ontstaan wat kreatiewe eienaarskap bevraagteken. In die saak Andersen v Stability AI Ltd het 'n groep illustreerders aangevoer dat die ontwikkelaars van groot KI-modelle hul oorspronklike werk gebruik het om die modelle sonder toestemming, erkenning of vergoeding af te rig. Hierdie saak beklemtoon hoe KI-modelle groot hoeveelhede digitale data van korporasies versamel om nuwe beeldmateriaal te genereer wat stilisties en visueel sterk verwant is aan bestaande skeppings.
Groot media-instansies het nuwe hofsake teen KI-ontwikkelaars begin, waaronder Disney en Universal se aanklag teen Midjourney, weens die vermeende reproduksie van bekende geanimeerde karakters soos Darth Vader en die Minions, sonder lisensie of toestemming. Hierdie eietydse twis bots regstreeks met geskiedkundige raamwerke rondom kunsskeppende eienaarskap. Waar Margaret Keane se saak 'n persoonlike artistieke eienaarskap beliggaam het, gaan die KI-regsraamwerk oor tegnologie wat byna onbeperkte kreatiewe weergawes kan genereer deur reeds bestaande werk as deel van sy leerdata te gebruik. Die kernvraag is dan: Is KI se gebruik van bestaande werk 'n vorm van kreatiewe transformasie, of dis net 'n nuwe vorm van plagiaat? Akademiese literatuur soos “AI Art is Theft: Labour, Extraction, and Exploitation” argumenteer dat KI-gegenereerde kuns eintlik berus op 'n vorm van digitale arbeid sonder behoorlike vergoeding van die oorspronklike skeppers.
Hierdie verskeie verhale toon 'n duidelike en tydlose patroon: kreatiewe en baanbrekende idees is dikwels kwesbaar vir uitbuiting, veral wanneer die skeppers nie oor die mag, kontrakte of infrastruktuur beskik om hul werk te beskerm nie. Waar Keane se saak 'n kwessie van individuele artistieke agentskap en identiteit was, en McDonald’s se regsvoorbeelde weer handelsmerk en narratiewe beheer betref, staar ons nou 'n era van tegnologie-gedrewe skeppings in die gesig wat regte en pligte radikaal heromskryf.
Die kernvraag bly steeds tersaaklik: Wie het die reg om narratiewe te bepaal, eienaarskap te beskerm en erkenning te gee? En hoe kan regsraamwerke en morele norme met die vinnig veranderende tegnologiese landskap tred hou? Die debat gaan nie net oor of 'n KI-gegenereerde beeld “nuut” genoeg is om kopiereg te verdien nie, maar eerder hoe die samelewing kreatiewe werk waardeer, beskerm en beloon in 'n era waar data, algoritmes en menslike kreatiwiteit mekaar gelyktydig beïnvloed.
Die geskiedenis herinner ons daaraan dat idees en kreatiwiteit nie net beskerm moet word nie, maar ook dat magsbalanse en regshulpmiddels krities daarvoor is om die regmatige skeppers te laat floreer, want idees begin dinge, ambisie bou dinge, maar kontrakte besluit wie wen.
Hilde Kruger is 'n grafiese en multimedia-ontwerper, skrywer en bemarker met 'n sterk fokus op strategiese konseptualisering en handelsmerkontwikkeling. Vandag is sy die eienaar van ‘n kreatiewe eenmansaak en werk met verskeie organisasies en instansies.
Nog artikels deur Hilde Kruger
Volg OntLaer Facebook en LinkedIn vir ons jongste artikels, potgooi-gesprekke en redaksiebriewe asook bydraes en insigte van skrywers regoor ons netwerk.
INTEKEN OPSIES:
Wil jy stukke soos die direk in jou inboks ontvang – weekliks of daagliks – en terselfdertyd ons werk ondersteun? Kies hieronder jou voorkeur.
Bronnelys:
Andersen v. Stability AI Ltd. – Loeb & Loeb LLP
https://www.loeb.com/en/insights/publications/2023/11/andersen-v-stability-ai-ltd
Sid & Marty Krofft Television Productions Inc. v. McDonald’s Corp. – Ninth Circuit.
https://en.wikipedia.org/wiki/Sid_%26_Marty_Krofft_Television_Productions_Inc._v._McDonald
Goetze (2024). AI Art is Theft.
https://arxiv.org/abs/2401.06178
Lee, Cooper, & Grimmelmann (2023). Talkin’ ‘Bout AI Generation.
https://arxiv.org/abs/2309.08133
Generative AI Is A Crisis For Copyright Law, 2025
https://www.forbes.com/sites/hessiejones/2025/04/03/generative-ai-is-a-crisis-for-copyright-law









